Hand.8:26-40

Datum: 2 Mei 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Morkel

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Ek het in die laaste tyd die gewoonte aangeleer om as ek na ’n fliek of sepie kyk, ek dit deur die bril van die draaiboekskrywer of regisseur doen. Ek besef dit is nie reg nie, maar ek betrap myself dat ek voortdurend vrae vra soos: Hoekom is hierdie intrige ingebring? Hoekom word hierdie gedeelte so uitgerek? Kry mens regtig sulke gemene mense in die gewone lewe? Ek hoop nie ek plant nou ’n gedagte in julle koppe en julle begin dit ook te doen nie! Toe ek vanoggend se gedeelte oor Filippus en die Etiopiër lees, het ek weer bogenoemde gedoen. Tog dink ek nie dit is verkeerd as mens dit doen as jy die Bybel lees nie. Miskien moet ons juis die Bybel so lees? Ek het vrae gevra soos: Hoekom is hierdie gebeure in die Bybel opgeneem? Wat wil God deur die gedeelte vir ons van Homself, van ons, sê?

 

Die eerste wat mens opval, is dat God se hand, God se beskikking agter dit is wat hier gebeur. God het dit wat in hierdie verse afspeel, haarfyn uitgewerk. God is die Draaiboek-skrywer, die Regisseur van hierdie gebeure! Kom ons kyk na die gedeelte van naderby. Eerstens, die plek waar die gebeure afspeel, die décor, is ‘n vreemde opset: Dit is ‘n stil of eensame pad tussen Jerusalem na Gasa. Een kommentaar sê dit is ‘n “deserted and desert road”, dit is dus ‘n eensame, verlate woestynpad. Verder sê die Here vir Filippus hy moet op die middag daarheen gaan. Op die hitte van die dag, die tyd waarop niemand gereis het of oppad gegaan het nie. Die eerste karakter is Filippus. Hy is een van die sewe diakens wat in Hand.6 aangewys is om die apostels by te staan in hul werk. Ons weet dat na die steniging van Stefanus, daar ‘n groot vervolging van die gelowiges in Jerusalem los gebreek het.So het dit gebeur dat Filippus uitgewyk het na Samaria en daar die Evangelie verkondig het. Die tweede karakter is die Etiopiër. Hy is ‘n man uit Afrika, vanaf Etiopië, suid van Egipte - na alle waarskynlikheid ‘n swartman. Hy is ‘n hooggeplaaste in die regering, in beheer van die geldsake van die koningin van Etiopië. Mens sou kon sê hy is die minister van finansies. Hy is dus ‘n welgestelde, ryk man. Voorts staan hier dat hy ‘n ontmande was en Deut.23:1 sê hy mag hy nie deel van die gemeente van die Here wees nie. Hy is godsdienstig of Godvresend en het al die pad van Etiopië na Jerusalem gereis.

 

Die toneel self: Hierdie man is oppad terug na Etiopië, teleurgesteld omdat hy niks in Jerusalem gevind het nie. (Iemand het uitgewerk dit is 3 200 km. van Jerusalem en dit sou 10 maande neem om met ’n wa te reis!) Die Here stuur vir Filippus na hierdie eensame pad tussen Jerusalem en Gasa. Daar vind Filippus die Etiopiër op sy wa, besig om uit Jes.53:7-8 te lees. Filippus sluit by die gedeelte uit Jes.53 aan en verduidelik aan hom dat Jesus die verwagte Messias van die Ou Testament is. Hy verkondig die Evangelie van Jesus aan die Etiopiër en begelei die man tot geloof.

 

Ek het gesê die eerste opmerking wat ek wil maak, is dat ons God se hand, God se beskikking agter hierdie gebeure sien. God het agter die skerms hierdie ontmoeting bewerk. God het het beskik dat die Etiopiër op die regte tyd op die regte plek is. God het die grond, die hart van die Etiopiër voorberei, ontvanklik gemaak vir die boodskap van verlossing. God het beskik dat die Etiopiër uit Jes.53 lees, waarby Filippus kon aansluit. God het Filippus op daardie oomblik na die Etiopiër gestuur en Filippus gebruik om die swartman uit Afrika na die Here te lei.

 

Dalk verloor ons somtyds perspektief op die lewe, raak ons moedeloos, voel ons nutteloos? Dalk wonder ons soms wat doen ek eintlik hier op aarde? Wat is ek werd, wat beteken ek vir ander? Dalk het die Covid 19-tyd ook vir jou moedeloos gemaak en met vrae gelaat? Hand.8 kom sê vanoggend vir ons: Ons is nie uitgelewer aan die noodlot of toeval nie. God is die groot Draaiboekskrywer, die Regisseur van ons lewens. God is en bly agter die skerms aan die werk. God is, soos ons bely, die Skepper en Onderhouer van ons lewens. God is en bly in beheer van ons lewens: Hy weet wie jy is, Hy weet waar jy is, Hy weet wat jy doen! God bring ook oor ons pad geleenthede waar ons instrumente in sy hand kan wees.

 

Dit wat ons tot dusver gesê het, mag maak dat ons fatalisties oor die lewe dink. Dat ons dink, as God dan nou alles doen, kan ek mos nou maar arms vou en terugsit? Dat ons sê, as God dan die draaiboek skryf, het ek mos nie enige sê in my lewe nie? Maar kom ons kyk ook na die volgende: Die Here gee aan Filippus die opdrag om na die pad tussen Jerusalem en Gasa te gaan. En dan sê die volgende vers “Filippus het toe klaargemaak en gegaan.” Die Here sê in v.29 vir Filippus “Gaan loop saam met die man” en dan sê die volgende vers: “Filippus het daarheen gehardloop.” Hoor julle wat word van Filippus gesê? Filippus gehoor-saam die Here, is dadelik gewillig om te doen wat die Here vra. Filippus is beskikbaar, gereed tot diens aan die Here, hy is ‘n instrument in God se hand om die Etiopiër na die Here te lei. Ons sal nooit die Raadsplan van God honderd persent verstaan nie, maar ook uit hierdie gedeelte is dit duidelik dat God sy kinders inskakel, gebruik as instrumente, in diens neem in die ontplooiing van sy wil op aarde. Daarom bring hierdie gedeelte ook vrae na ons soos: Hoor ek as die Here met my praat? Ken ek die stem van die Here? Ken ek die leiding van die Heilige Gees soos Filippus hier? En dan verder: Gehoorsaam ek die Here? (Filippus het gehardloop!) Is ek gereed om te reageer op dit wat ek van die Here hoor? Is ek beskikbaar om deur die Here gebruik te word? Dink vir ‘n oomblik aan die Etiopiër wat(sê v.39) met blydskap sy reis voortgesit het. God het Filippus se gehoorsaamheid ingeskakel in sy beskikking om ‘n verteenwoordiger van Hom in Etiopië te hê!

 

Ek wil ook iets sê oor die vreemdheid van die Here se opdrag aan Filippus.  Filippus word gestuur na die vreemde opset van iemand op ‘n wa op ‘n eensame pad wat sit en Bybellees. Iemand wat van buite die Jode in Jerusalem en Judea afkomstig is, iemand uit Afrika. Filippus word gestuur na iemand van ‘n ander ras, ‘n ontmande - wat in die Ou Testament onwelkom in die gemeente was, ‘n vasgeloopte, teleurgestelde mens. As ek Filippus was, sou ek waarskynlik gedink het: Ek weet darem nie so mooi nie, op die hitte van die dag op die verlate pad tussen Gasa en Jerusalem? Hoor ek reg? Maar God se genade is ook vir hierdie man. God se genade is onbeperk, vir alle mense. Laat ons tog nie God wil beperk in ons denke oor watter tonele Hy in ons lewens mag inskryf nie! Laat ons nie God wil voorskryf teenoor wie, waar en wanneer Hy ons kan gebruik nie. Laat ons met ‘n oop gemoed luister, ontvanklik wees, na wie die Here ons stuur. Dalk het die Here vir jou ‘n opdrag wat ook buite jou gemaksone lê, dalk stuur die Here ook vir jou na ‘n randfiguur wat jy al afgeskryf het. Dalk is jou opdrag ook om te gaan na iemand wat teleurgestel is deur die kerk, seergekry het in die kerk, ‘n vasgeloopte mens, ‘n soekende mens soos die Etiopiër. Onthou dan: God se genade is vir almal!

 

‘n Laaste toneel speel in Hand.8 voordat die gordyne sak. Filippus doop die Etiopiër. Hierdie man ontvang die teken van God se genade, God se liefde: die doop! Hy kom tuis binne die gemeente van die Here. Hy word gedoop as teken dat hy nou deel is, ingelyf is by God se nuwe kerk vir alle mense! Hannes doop vanoggend kinders. Daarmee sê die Here ook vir hierdie kinders, julle is ook begenadigdes. Julle ontvang die teken wat getuig dat my liefde en genade ook vir julle is. Julle is, in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, deel van my gemeente!

AMEN