Rigters 4:1 - 7

Datum: 15 November 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Morkel

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

Ek was die afgelope week deel van ‘n Bybelstudiegroep waar ons onder andere gepraat het oor die sondige natuur van die mens. Deur die sondeval het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word. Ons is van aard uit sondig. Luister net hier: Psalm 51:7 sê: Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het. Die Doopformulier sê: Bely julle dat, hoewel julle as sondaars in die wêreld gekom het en daarom onder die oordeel van God staan… Die eerste hoofstukke van Rigters begin almal met die woorde “die Israeliete het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here”(2:11; 3:7; 3:12; 4:1; 6:1). Soek jy nog verdere bewyse dat ons grondig sondig is? Wat van jou eie lewe? Herhaal dieselfde refrein van Rigters hom nie ook in ons eie lewens nie? “En Johan Morkel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here!” Het ons nie almal hierdie voortdurende, voortslepende stryd teen die sonde nie? En so ook ons kinders(doopouers kan ook maar kennis neem). Met geboorte staan ons met hierdie wonder -werk van die Here in ons arms, en ons dink hy of sy is die ene onskuld, daar is geen kwaad in hom/haar nie. Maar as hulle groter word, hul eie wil begin wys, tantrumsbegin gooi en tieners word, dan verander ons gou van opinie!

 

Israel se sonde word by die naam genoem. Ons lees Israel het die Baäls en die Astartes van die plaaslike volke aanbid, het verdrae met volke gesluit waarteen die Here hulle uitdruklik verbied het en die Israelitiese mans het vir hulle Kanaänitiese vrouens gevat, ondertrou. Mens sou dit wat Israel gedoen het, kon saamvat: Israel het die verbond verbreek  - God en hul verhouding met God het nie die eerste plek in hule lewens ingeneem nie. My en jou verbondsbreuk is nie so in die oopte, so in die openbaar soos dié van Israel nie. Dit beteken egter nie dat ons engeltjies is nie, dit beteken selfs nie dat ons noodwendig beter vaar as Israel nie, dat ons sondige natuur nie ook voortdurend sy vrug - sonde - in ons lewens voort-bring nie! Kom ons word elkeen vir ‘n paar oomblikke stil by homself/haarself. Kom ons antwoord aan onsself: Wat in my lewe is “verkeerd in die oë van die Here?” Vir Israel was dit afgode, verdrae met ander volke, ondertrou met heidense vroue. Wat is dit in my lewe? Wat is dit wat my telkens weer in die geloof laat struikel? Wat sou in my lewensverhaal geskryf staan as my lewe opgeskryf sou word soos dié van Israel?

 

Ons lees in v.3 “Israel het tot die Here geroep om hulp”. Ook hierdie patroon herhaal homself in die Rigterboek. Israel doen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle ly onder die gevolge van die sonde – hulle word onderdruk deur ‘n ander volk. En dan roep hulle na die Here om uitkoms! En die Here gee vir hulle ‘n rigter, ‘n verlosser. Die Here gee vir hulle weer ‘n kans! So volg die rigters die een na die ander: Otniël, Ehud, Samgar, Deborah en Barak, Gideon en so gaan dit aan. So het dit voort gegaan totdat God die volmaakte, die ewige Verlosser voorsien het. Totdat God Hom na wie die O.T.-gelowiges vooruit gekyk het en na wie ek en jy terug kyk, die Verlosser met ‘n Hoofletter, Jesus Christus na die aarde gekom het! God het sy eie Seun, Jesus Christus in die volheid van die tyd aarde toe gestuur het om aan die kruis op Golgota te sterf vir die verlossing van ons sondes.

 

Soos Israel telkens na die Here geroep het om hulp en die Here vir hulle ‘n nuwe rigter gegee het, soos Israel telkens die geleentheid gegee is om weer te begin, nuut te begin, oor te begin, so gee die Here ook vir ons telkens ‘n geleentheid om weer te begin, om skoon te begin. God gee vir ons vergewing van sondes deur die bloed van Jesus Christus! Ons het vanoggend ook weer so ‘n geleentheid om dit waaroor ons sopas nagedink het, die kere waar ons die afgelope week die Here gefaal het, dit wat ons gedoen het wat verkeerd was in sy oë, na die Here te bring. Ons doen dit in die woorde van Lied 239:3. Kom ons luister na die woorde van Lied 239:3 en beaam dit in ons harte. Sondevergiffenis: As ons ons sonde voor die Here erken en bly, vergewe die Here ons!

 

Soos Israel se lewe vir ons ‘n demonstrasie is van “wat verkeerd was in die oë van die Here”, so is Debora se lewe vir ons ‘n voorbeeld van ‘n gelowige wat reg lewe voor die Here. In v.6 sê Debora vir Barak: “Die Here, die God van Israel, beveel jou”. Debora het geluister, gehoor wat die Here vir haar gesê het. Sy was ‘n gelowige wat ‘n boodskap van die Here ontvang het. Kom ons vra vanoggend vir onsself: Luister ek na die Here, na sy Woord? Doen ek moeite om die Here te hoor? Bybel te lees, stiltetyd te hou, saam met ander na die Woord te luister? Doopouers, ons praat hier oor die voorbeeld wat Debora was: Lidmate vertel dikwels vir my watter onuitwisbare indruk dit op hulle gemaak het dat hulle as kinders hul ouers gesien en gehoor het Bybel lees en bid.

 

‘n Tweede opmerking oor Debora. Sy het vir Barak gaan sê wat sy by die Here gehoor het! Debora het nie alleen die Here gehoor nie, sy het die Here ook gehoorsaam. Sy was bereid om die boodskap van die Here aan Barak oor te dra. Dit moes vir haar moeilik gewees het om vir Barak te sê hy moet gaan veg teen die oormag van koning Jabin van Kanaän met die 900 ysterstrydwaens. Sy kon dalk dink: Het ek reg gehoor? Ek gaan nie gewild wees nie. Maar Debora het die Here gehoorsaam. Nou kom ons weer by onsself: Ons het soveel geleenthede waar ons die Woord van die Here hoor! Is ons bereid om te leef volgens die Woord wat ons hoor? Om te gaan doen wat ons gehoor het? Om selfs in ‘n moeilike situasie te bly staan, te bly leef by dit wat ons weet die wil van die Here is? Doopouers: Kinders kom gou agter of hul ouers mense is wat leef volgens die Woord van die Here en of hulle net hoorders is.

 

Ek wil ‘n laaste opmerking oor Debora maak. Ons lees ook in hierdie gedeelte dat sy

‘n profetes was, dat mense hulle geskille na haar gebring het en sy vir hulle uitspraak gegee het. Sy word in Rigt.5 “‘n moeder van Israel” genoem. Die Here het vir Debora die gawe van leierskap(om leiding te neem) gegee, die gawe van profesie, die gawe van wysheid om te kan onderskei in geskille. En Debora het hierde gawes gebruik. Sy het die Here en sy koninkryk gedien, sy het die gawes wat sy van die here ontvang het, tot beswil van die volk van die Here aangewend. En ek en jy, vriende? Dien ons die Here en ons medemens met dit wat ons van Hom ontvang het? Neem ons die plek in wat die Here vir elkeen van ons in sy kerk, in sy koninkryk het? Wend ons die gawe(s) wat ons van die Here ontvang het, aan tot beswil van sy kerk, mekaar, en die eer van God aan?

AMEN