Hosea 1:1 - 12

Datum: 28 Julie 2019

Prediker: Johan Morkel

Wat is die vreemdste opdragte vir jou wat die Here aan mense in die Bybel gegee het?  Die Here se opdrag aan Abraham om sy seun Isak te offer, te slag?  Noag om ‘n groot boot op droë grond te bou?  Jona om sy Woord aan die vyande van Israel, die Assiriërs, te gaan verkondig?  Petrus om op die water te loop?  Of dalk die opdrag wat die Here aan Hosea gee om vir hom ‘n prostituut as vrou te neem?  Ek stel my voor hoedat Hosea vir hom ‘n prostituut gaan soek het, dalk op die strate van Samaria, dalk onder die tempelprostitute.  Ek sien hoedat Hosea met Gomer en haar buite-egtelike kinders terugstap pastorie toe, hoedat die nuwe predikantsvrou die gemeente aan die praat gesit het -  mevrou-dominee-Hosea, die prostituut-pastoriemoeder!

 

Hoekom sou God hierdie vreemde opdrag aan Hosea gee?  V.2 antwoord, “Want die land is besig om te hoereer, om heeltemal ontrou aan God te word”.  Hosea en Gomer se huwelik moes simbolies wees van die verhouding tussen die Here en Israel.  Beide die huwelik en die verhouding met God is ‘n verbond, is eksklusief - sluit ander partye uit, eis onverdeelde trou van mekaar.  God is die jaloerse God wat nie sy volk(N.T. bruid) met ander deel nie.  Hosea se huwelik moes die afbeelding (demonstrasie) wees van die gebroke verhouding tussen God en sy volk.  Die Here wou dat Israel in Hosea en Gomer se die huwelik hulself sien.  Aan die eenkant moes die volk sien hoedat Hosea vir Gomer lief bly ten spyte van haar ontrou, haar nie verwerp nie, ‘n man vir haar bly, ‘n pa vir haar kinders bly, bly omgee vir sy ontroue vrou!  Hierdeur wou die Here aan Israel demonstreer dat Hy as Verbondsgod vir hulle liefbly ten spyte van hul ontrou, getrou bly aan sy kant van die verbond, sy volk bly versorg en omgee, vir hulle ‘n God bly wees!

 

Aan die anderkant moes die volk sien hoedat Gomer ontrou is aan haar man, die huweliksband verbreek en ontheilig, eintlik al ontrouer aan Hosea word.  Van die eerste kind word gesê “sy het vir Hosea ‘n kind in die lewe gebring”, van die tweede en derde staan daar net “sy het swanger geword en ‘n kind gekry”.  Die woorde “van Hosea” ontbreek.  Die wou dat Israel in Gomer hulself sou sien.  Hulle moes sien “Ons is soos Gomer ons is ontrou aan die Here, ons verbreek telkens weer die verbond, ander liefdes, afgode is vir ons belangriker as God, ook ons is toenemend ontrou aan die Here”!  Die huwelik tussen Hosea en Gomer is ‘n spieël wat ook vanoggend vir ons opgehou word.  Ook ons moet vanoggend in Hosea se gedrag die Here sien, die onvoorwaardelike liefde van die Here vir ons sien, die getrouheid van die Here ten spyte van ons ontrouheid.  Ook ons moet in Gomer se optrede onsself sien, ons ontrouheid aan die Here, ons verbondbreuk, ons sonde.

 

Die vraag is: Waarin was Israel ontrou aan die Here?  Wat het hulle verkeerd gedoen?  Skrifverklaar-ders sê Israel het hulle lewens gekompartementaliseer - in kompartemente verdeel.  Terwyl Israel steeds hul verbondsverpligtinge nagekom het, hul godsdiens beoefen het, het hulle terselfdertyd die armes en behoeftiges uitgebuit, nagelaat om hierdie mense te te versorg, hul vertroue vir hul voortbestaan op militêre mag en politieke vernuf  geplaas ipv op die Here, die afgode van die heidennasies agternageloop, klippilare vir Baäl deur die land opgerig en die vrugbaarheids-godin Astarté besoek om hulself te verseker van goeie oeste en ‘n nageslag.

 

Is dit nie iets wat ook baie maklik vandag gebeur nie?  Ons verdeel ons lewens in kompartemente.  ‘n Deel van my lewe behoort wel aan die Here.  Ek gaan steeds deur as ‘n kerkmens, ek woon eredienste by, ek behoort aan ‘n Bybelstudiegroep, ek bring ook my kant met ander meelewing: kerkraadsdiens, deelname aan die basaar, gee bydraes.  Maar dan is daar ook ander kompartemente van my lewe wat aan myself behoort, waar ek op die troon sit, waar God en sy gebod uitgehou word, waar plesier en jolyt die toon aangee, waar geld en goed en besittings my God is, waar populariteit, eie belang, status, die gode is voor wie ek buig, waar ek reëls buig en waardes vertrap voor die god van materalisme en voorspoed.

 

Hoe ernstig kan die afdwaling van Israel destyds, van my en jou vandag, nou regtig wees?  Hoe ernstig kan die Here wees oor die akkomodering van ander gode in Israel, in ons lewens?  Die erns waarin die Here dit beskou wat besig is om in Israel te gebeur, vind ons verder in die name wat Hy vir Hosea sê om aan sy kinders te gee.  Die eerste seun moes Jisreël genoem word.  Jisreël is waar die bloedbad wat met Isebel se dood gepaardgegaan het, afgespeel het.  Deur Jehu se toedoen is baie meer bloed vergiet as wat die Here hom beveel het.  In die naam Jisreël moes Israel hoor, as julle nie tot inkeer kom nie, wag God se oordeel op julle, wag daar bloedvergieting, wag daar ‘n Jisreël op julle.  Die tweede kind moes Lo-Rugama genoem word.  Lo-Rugama beteken Nie-ontferm, in Engels, Unloved.  In dié naam moes Israel hoor, “as julle nie tot inkeer kom nie, gaan God Hom nie langer oor julle ontferm nie, gaan God ophou om julle lief te hê, gaan julle onder die genade van God uitloop”.  Die derde kind moes Lo-Ammi genoem word.  Lo-Ammi beteken Nie-my-volk-nie.  Dit is verskriklik!  In Gen.17:7 sê die Verbondsgod: Ek sal julle God wees en ook die God van julle nageslag.  In Hosea 1:9 sê dieselfde God: Julle is nie my volk nie en Ek is nie julle God nie!  In die naam moes Israel hoor, as julle volhard met jul verbondverbreking, gaan God die band van die verbond deursny, gaan God ophou om julle God te wees, gaan julle nie langer Godsvolk wees nie!

 

Skrifverklaarders sê ons moet die geweldige erns van God in hierdie gedeelte hoor.  Die Here roep eerstens vir Israel deur die gebroke huwelik van Hosea en Gomer terug tot Hom.  Tweedens roep God Israel tot bekering deur die name van die kinders van Hosea en Gomer.  “Israel, breek van julle halfhartige diens aan My, keer terug na My, herstel die verbond, dit kan te laat word”!  Israel het nie gehoor gegee aan die oproep van die Here nie, hul hoofstad, Samaria is in 721 v C verwoes, die volk het tot ‘n val gekom en is is weggevoer in ballingskap.  En ek en jy, vriende?  Hoor ons die dodelike erns waarmee die Here ons terugroep na Hom?  Kom ons bely aan die eenkant voor die Here die beeld wat ons van Hom skep na ons smaak en dink dit is maar regso.  Dat ons van die Here ‘n God maak wat maar vrede moet maak met die afgode wat ons in ons lewens akkomodeer.  Kom ons bely die sondes waarvan ons nie wil breek nie, ons ontrouheid aan Hom en die verbond, dat ons die woorde “Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My” nie ernstig opneem nie.  Kom ons verklaar opnuut vanoggend aan die ander kant(in watter woorde jy dit ookal wil doen): “Here, ek keer terug na U!  Ek wil U onverdeeld lief, ek wil U liefhê met my hele hart en met my hele siel en met my hele verstand!  Ek wy my lewe opnuut aan U”!

 

Dit kan ook gebeur dat ons “gewoond” aan die Nagmaal word soos wat gebeur met iets wat mens dikwels doen, ook die erns van die Nagmaal nie besef nie. Ook die Nagmaal getuig van die erns van God wat ons in Hosea 1 vind.  Aan die eenkant van die erns van God se oordeel oor die sonde!   As jy wil weet hoe God oor sonde voel, kyk na die Nagmaaltekens!  Die tekens van die Nagmaal getuig immers dat God haat sonde, dat God sonde straf, dat God nie sy eie Seun ontsien het nie, dat God se oordeel op sy Seun, Jesus neergekom het, Jesus is “ge-jisreël is”,  -  sy bloed het gevloei aan die kruis(daarvan getuig die wyn),  sy liggaam is gebreek(daarvan getuig die brood).  Jesus was aan die kruis “lo rugama”, sonder Godsontferming, Jesus was “lo ammi”, nie my volk nie  -  My God, my God, waarom het U my verlaat?  Sien vanoggend as jy die brood en die wyn gebruik hoedat God se oordeel oor sonde op sy Seun, Jesus Christus neergekom het!  Jesus se se liggaam is gebreek en sy bloed het gevloei as prys vir ons sonde!

 

Aan die anderkant getuig die Nagmaal van die erns van God se liefde vir die mensdom!  Die Nagmaal getuig immers ook van hoe oneindig groot God se liefde vir die mens is.  Soos Hosea vir Gomer bly liefhet, bly God vir ons liefhê - veel meer as Hosea vir Gomer.  God het ons enduit liefgehad.  “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê”  Sien(proe) dan vanoggend as jy die brood en die wyn neem, God se liefde is groter as God se oordeel, God se genade is groter as God se toorn.

 

AMEN