Hebr.13:1-8
Datum: 1 September 2019 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Morkel
Gasvryheid beteken letterlik: liefde vir die vreemdeling. Ons ken die woord xenophobia wat vreemdeling-vrees of vreemdeling-haat beteken – vrees/haat vir die vreemdeling(e). Dieselfde stamwoord word vir gasvryheid gebruik: philoxenos - liefde of vriendelikheid teenoor die vreemdeling. Tussen hakies: sekere tale het dieselfde woord vir vreemdeling en vyand. Dit het my maar net laat dink dat die Bybel nie alleen praat van gasvryheid - liefde vir die vreemdeling - nie, maar ook liefde vir die vyand!
Ons is bewus daarvan dat daar in die O.T. heelwat verwysings na gasvryheid is. Daar bestaan nie in Hebreeus ‘n woord vir gasvryheid nie. Die verklaring hiervoor is dat dit vir die Israeliete so vanselfsprekend was om gasvry te wees, so voor die handliggend, dat daar nie ‘n woord voor nodig was nie! Israel moes liefde teenoor die vreemdelinge - gasvryheid - bewys. Die profete roep op heelparty plekke die volk op tot liefde teenoor vreemdelinge, hulle spreek ook oordeel oor die volk uit wanneer hulle nie gasvry teenoor vreemdelinge was nie. Na die oproep tot gasvryheid, kom daar dikwels die woorde by “julle was self vreemdelinge in Egipte”. Die klassieke gedeelte van gasvryheid in die Bybel is natuurlik Gen.18, waar Abraham en Sara 3 besoekers ontvang, vir hulle kos aanbied en hul huis om te vertoef.
In die N.T vind ons ook verwysings na gasvryheid. Mens sou begin deur te sê, God word in die N.T geteken as ‘n gasvrye, vrygewige, barmhartige God. Van die gelykenisse van Jesus roep gelowiges op tot gasvryheid. Mens dink hier aan Luk.10 - die gelykenis van die barmhartige(gasvrye?) Samaritaan; Luk.11 waar die man in die middel van die nag 3 brode gaan leen by sy vriend; Luk. 14 waar die armes, kleupeles en verlamdes na die maaltyd genooi word. Ok die bekende Mat.25:35: Want toe Ek honger was, het julle vir My kos gegee; toe Ek dors was, het julle vir My iets gegee om te drink; toe Ek ‘n hawelose vreemdeling was, het julle My in julle huise ontvang; toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle vir my klere gegee; toe Ek siek was, het julle na My omgesien; toe Ek in die tronk was, het julle My opgesoek. Kom ek lees ook weer ons teksvers: Moenie nalaat om gasvry te wees nie. Deur gasvry te wees, het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele gehuisves! ‘n verwysing na Abraham wat die prototipe van gasvryheid geword het.
Ons wat na die N.T.- tyd leef, het ‘n verdere motivering om gasvry te wees: Eerstens het Jesus Christus tydens sy lewe op aarde vir ons die voorbeeld gestel. Jesus het deurgaans uitgereik na alle mense, alle mense laat voel dat hulle waarde het, alle mense liefgehad, was gasvry teenoor alle mense. Daarby sê Rom.5:5 “Hy het sy liefde in ons harte uitgestort deur die H.G. wat Hy aan ons gegee het.” Die gelowige het die H.G. ontvang, die H.G woon in die kind van God, die liefde van God woon in die kind van God! Die gelowige, sou mens kon sê, behoort nie anders te kan as om gasvry te wees nie! Ons behoort nie anders te kan as om die liefde van God in ons uit te leef teenoor ander nie.
Hoe moet die gelowige gasvryheid uitleef?
Gasvryheid in die vroeë Christelike kerk.
Dit was ‘n wêreld waarin dikwels gereis is. Daar was herberge waarin reisigers kon tuisgaan. Gelowiges het meestal nie geld gehad om in herberge tuis te gaan nie. Daarby het herberge ‘n reputasie gehad wat gemaak het dat gelowiges nie daar sou tuis voel nie. In die lig hiervan was gelowiges en rondreisende predikers afhanklik van medegelowiges om hul huise vir hulle oop te stel,. Gelowiges het dus vir vreemde gelowiges en predikers veiligheid, kos en slaapplek gebied. Prakties het die gebruik ook dié voordeel gehad dat gelowiges die geleentheid gehad om mekaar se geloof te versterk, saam die Here te dien en te aanbid. Daar het destyds die spreekwoord bestaan: gasvryheid maak van ‘n vreemdeling ‘n vriend!
Ek het so ‘n paar jaar gelede die ervaring van gasvryheid gehad toe ek saam met die sendeling Danie Murray in Mosambiek was. Ons het vanaf Mosambiek met sy motor teruggery tot in Kuilsrivier. Dit het gemaak dat ons 4 aande na mekaar by mense moes oornag. In die meeste gevalle was dit sendelinge met wie Danie die oornag gereël het. Ons het elke aand donker by mense aangekom, aandete gekry en by die mense geslaap. Die volgende more het ons ontbyt geëet en daarna weer vertrek. Dit was wonderlike gasvryheid van medegelowiges wat ek my lewe lank sal onthou.
Hoe lyk, hoe behoort gasvryheid vandag te lyk?
Kom ek begin deur te sê mense maak vandag allerhande besware. Ons leef in gevaarlike tye, dit is onveilig. Ons kan dit nie bekostig nie, ons het nie tyd daarvoor nie, ons leef in ‘n tyd wat elkeen vir hom-/haarself sorg, hulle moet maar self sien kom klaar. Tog, vriende, staan die opdrag tot gasvryheid steeds in die Bybel! Ons sal steeds onsself moet afvra: Hoe lyk ons gasvryheid? Hoe kan ek, ons as gemeente vandag gasvry wees? Kom ons kyk na verskillende fasette van ons kerkwees. Ons eredienste: Alle mense behoort welkom te voel in ons eredenste, mense behoort gegroet te word, tuis te voel, dit sluit alle mense in, ongeag wie hulle is. As ‘n vreemdeling anders is as die meerderheid van ons, behoort ons ekstra moeite te maak om hulle tuis en welkom te laat voel. Kom ek hoor: Is hier besoekers, vreemdelinge vanoggend in die erediens? Het ons julle tuis laat voel? Het ons julle gegroet? Gasvryheid is sekerlik nie net beperk tot die erediens nie. Ons is as gelowiges elke dag blootgestel, ons leef en beweeg tussen vreemdelinge. Ek skuur skouers met ‘n inkommer by die werk, iemand trek langs my in my straat in, ek kry te make met ander op straat, by funksies, in die aftree-oord, sit langs my in openbare vervoer. Hoe ervaar hulle my? Bly ek veilig in my gemaksone? Behou ek my veilige afstand? Of groet ek hulle? Het ek hulle lief? Is ek vriendelik teenoor hulle met die liefde van die Here wat in my hart is? Die kerkraad behoort ook iets in plek te hê wat uitdrukking gee aan die gasvryheid van die gemeente(ons kan nie net volstaan met oom Pietie nie – hoe goed hy ookal is!). Ons sal lidmate moet toerus of ten minste attend maak daarop dat ons as gemeente vreemdelinge liefde moet laat ervaar. Hulle moet omarm voel, tuis voel, ervaar dat ons regtig belangstel in hulle, dat hulle waardevol vir ons is!
Dit is belangrik om kennis te neem dat daar nie net gasvryheid van ons verwag word teenoor medegelowiges nie. Ek lees die volgende legende van Abraham. Abraham het ‘n ou man vir ete genooi. Nadat hulle geeët het, het die ou man Abraham vir sy gasvryheid bedank. Abraham het geantwoord dat hy nie vir hom moes bedank nie, maar vir God wat al hierdie dinge as ‘n gawe gegee het. Die ou man het egter geantwoord: Waarom moet ek God bedank as ek my eie gode het? Daarna het die ou man ‘n afgodsbeeld van hout uitgehaal, dit op die vloer geplaas en dit gedank. Toe Abraham dit sien, was hy hoogs ontsteld: Hy het die ou man gegryp en by die tent uitgegooi. Hy het homself verwyt dat hy gasvryheid aan die man betoon het. Net voordat die ou man buite Abraham se gesigsveld was, het Abraham ‘n stem gehoor. Ja Here, het Abraham gevra. Die Here sê toe vir Abraham: Ek beskerm en versorg al vir 80 jaar lank die ou man wat jy sopas uitgegooi het. Deur alles het Ek hom gedra, al het hy die afgod die dank daarvoor gegee. Alhoewel hy nie van beter weet nie, weet jy van beter, Abraham. Gaan soek die ou man, roep hom terug en laat hom welkom voel. Jy moet almal met gasvryheid bedien, selfs dié wat nie verstaan dat daar net een God is nie! Abraham vir God gehoorsaam ....
As ek kyk na voorbeelde in die Bybel waar mense gasvryheid(vreemdelingsliefde) aan ander bewys het, is hulle elke keer in die proses deur die Here geseën. Abraham en Sara. Hulle het die 3 vreemdelinge gasvry ontvang, en ontvang daarmee die belofte van die Here van ‘n nageslag! Die weduwee van Sarfat. Sy het gasvryheid aan Elia betoon deur die broodjie wat sy met haar laaste deeg gebak het, met Elia te deel. Die Here gee die wonder dat die deeg nie opraak nie en so is daar kos vir haar en haar seun. As haar seun sterf, gebruik die Here Elia om die seun weer lewend te maak. Die Emmausgangers. Die 2 manne gesels vriendelik met die Persoon wat by hulle aansluit. Hulle nooi Hom na hulle huis, bied vir Hom brood en hul huis aan vir die nag. Later blyk dit dat dit die opgestane Jesus is wat by hule was.
Dikwels gebeur dit dat deur ons lewe oop te stel vir ander, ons dit ook oopstel vir die Here en vir die werk van die Here in ons. Ons ontvang die genade en seën van die Here wat ons nie voorsien het nie - en wat ook nie ons bedoeling was nie. Onverwagte, onverdiende seën! Ek het op hierdie ou Keltiese lied afgekom:
We saw a stranger yesterday,
We put food in the eating place,
Drink in the drinking place,
Music in the listening place,
And with the sacred Name of the triune God
He blessed our house,
our cattle and our dear ones.
And the lark says in her song:
Often, often, often goes the Christ
in the stranger’s guise
Chris gaan vanoggend die sakrament van die Doop aan 2 baba’s bedien. Miskien moet ek tog vir die ouers sê – en ook vir elkeen wat gedoop is en verbondsouers is. Reeds in die Doop reik die Here in liefde na ons uit. Reeds in die Doop ervaar ons die Here se gasvryheid! Reeds in die Doop kom stop, vertoef die Here by die dopeling; maak die Here hom/haar deel van sy familie, sy kind! Gee die Here herberg aan die kleine kindjie! Aanbid ons nie ‘n gasvrye God nie?