Josua 3:1 – 17
Datum: 1 November 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Morkel
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Dit is interessant om in tydskrifte en koerante te lees en op die televisie en oor die radio te hoor wat mense oor die kerk te sê het. Dit sal dalk ook goedwees dat ons van tyd tot tyd vir onsself sal afvra: Wat is die kerk? Wat beteken dit vir my om aan die kerk te behoort? Ons sou vanoggend die vraag ook aan die doopouers kon vra: Wat is die kerk vir jou? Hoekom wil jy jou kind deur die doop by die kerk laat inlyf? Is dit dalk soos die formulier vra “maar net uit bygelowigheid of gewoonte of om die kind ‘n naam te gee?” Ons sou ook vir die skool-verlaters kon vra: Wat was die kerk vir jou sedert jy verlede jaar belydenis van geloof afgelê het? Hoe sien jy die rol van die kerk in jou lewe noudat jy die skool gaan verlaat en die volwassene lewe betree?
Ek wil ‘n paar opmerkings aan die hand van Jos.3 maak omtrent wie ons as kerk is. Die eerste opmerking: In Eks.20:1 sê die Here “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.” En in v.10 lees ons “Hieraan sal julle weet dat die lewende God tussen julle is en dat Hy die inwoners van die Beloofde Land sekerlik sal verdryf om vir julle plek te maak.”
AMEN
Vir ons beteken dit die volgende: Soos God vir Israel uit die slawerny van Egipte verlos het, so het Hy ons deur Jesus Christus van die slawerny van die sonde verlos. Soos God vir Israel ‘n nuwe lewe in die Beloofde Land gegee het, so het Hy ook vir ons(sy kinders) die nuwe lewe in Christus gegee. En soos God vir Israel eers deur Moses, en nou deur Josua gelei het, so het Hy vir ons die H.G. gegee om ons in hierdie nuwe lewe te lei. Julle sien, ons is as kerk is in die eerste plek mense wat verlos is, bevry is van die mag of die greep van die sonde, mense wat ‘n nuwe lewe in Christus ontvang het.
Daarom leef ons anders as die wêreldling. Ons laat die slawerny van die sonde agter, ons keer ons rug op die sonde, ons leef hierdie nuwe lewe! Doen ons dit, vriende? Doen ons dit om die spreekwoordelike Jordaan oor te steek en die nuwe lewe wat Christus vir ons gegee het, te leef, vir onsself moet toe-eien? Doopouers, julle het die verantwoordelikheid om julle kinders te begelei in die ontdekking van die nuwe lewe in Christus! Skoolverlaters, hou vas aan die nuwe lewe in Christus, weerstaan die versoeking om terug te keer na die lewe waaruit jy verlos is.
Die tweede opmerking: Ons moet onthou die ark was die simbool van die teenwoordigheid van God. In v.15 lees ons “Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater
kom, het die water wat afloop, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan.” Die eerste gedeelte van die vers sê: “Gedurende die hele oestyd is die Jordaan gewoonlik vol, oor al sy oewers.” Dit was nie die enigste bewys of enigste gebeure wat vir die Israeliete moes herinner dat die Almagtige God by hulle is nie. So was ook die deurtog deur die Rietsee,
die wolkkolom in die dag en die vuurkolom in die nag in die woestyn, die manna en die kwartels, die kere wat die Here vir hulle water gegee het.
Dit is die tweede opmerking: Ons as kerk, as gelowiges, leef in die teenwoordigheid van die Almagtige God. Geleerdes sê vir ons die boek Josua is geskryf in die tyd toe die volk Israel in ballingskap in Babel was. Die Israeliete was in Babilon gestroop van alles wat vir hulle kosbaar was. Hulle het hul land, hul koning, hul tempel verloor. Hulle het gesien hoe die afgode rondom hulle aanbid word, hoedat die Babiloniërs floreer, in voorspoed leef. En hulle het begin twyfel, begin wonder oor hul God, die God van Israel. Hulle het begin vra “Is Hy (ons God) nog by ons teenwoordig? Hoekom gaan dit dan so sleg met ons?” Dit is toe dat die verhaal van die intog in die Beloofde land vir die Israeliete in Babilon gelees is, aan hulle kinders vertel is! So is Israel deur die intog-verhaal herinner aan wie hulle God is. Hulle God is die Almagtige, lewende God! Hierdie God van Israel is steeds by hulle, met hulle!
Dalk voel jy vanoggend ook soos die Israeliete in Babilon? Mense is deur die Covid 19 pandemie ontredderd gelaat, mense is onseker oor wat die toekoms(die sg. nuwe normaal) vir ons inhou. Baie het hul bron van inkomste gedeeltelik verloor, ander het alles verloor. Mense het hul geliefdes in hierdie tyd aan die dood afgestaan, sommige kon selfs nie by hulle wees om afskeid te neem nie. Dan is daar nog ander faktore ook soos die gebeure in Senekal die afgelope tyd, die brande in die Vrystaat, plaasmoorde(hierdie week in Viljoens-kroon), die ekonomie wat op sy knieë is. Die verhaal van Israel se intog in die Beloofde Land wil ook vanoggend vir ons, soos vir die moedelose Israeliete in Babilon, herinner aan die Almag van die lewende God! Die verhaal sê vir ons: dieselfde Almagtige God is steeds by julle, het julle nie verlaat nie. Ons as N.T.-gelowiges het nog die verdere getuienis van Jesus se opstanding uit die dood, Jesus se oorwinning oor die sonde, die dood en die Bose, Jesus se belofte in Mat.26:19 “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld!”
Die Woord van God herinner ons vanoggend weer daaraan. Ons is mense wat leef in die teenwoordigheid van die Almagtige God. Die Woord van God herinner ons vanoggend weer daaraan: Ons is mense wat leef in die teenwoordigheid van die Almagtige God. Ons as gelowiges moet mekaar hiermee help. Of dit is wanneer ons saam kuier, of wanneer ons as kleingroep of Bybelstudiegroep saamkom, of dat ons dit vir Hannes stuur om in die weeklikse e-nuus te sit. Ons moet die ervaring van die Almag van God met mekaar deel!
Gebede wat die Here verhoor het, die ingrype van God in ons lewens, uitkomste wat Hy gegee het. Dit hoef nie altyd iets opspraakwekkends te wees, iets wat die voorblaaie van koerante sal haal nie! God se Almag is dikwels(meestal?) te sien en te ervaar in die kleine, in die ervaring van dat dit wat nou gebeur het, net die Here kan wees! Ervarings wat onomwonde getuig van God se ingrype soos die ophoop van die water van die Jordaan. Ook klein wonderwerke is groot. Doopouers. begelei julle kind(kinders) in die wete dat die Almagtige God altyd by ons is. Skoolverlaters, soos wat daar baie vyande op die Israeliete in die Beloofde Land gewag het, so is daar vele “vyande” wat vir jou lê en wag op die pad vorentoe. Wees verseker, die Almagtige God is met jou!
‘n Laaste opmerking oor wie ons as kerk is: Ons sê vir mekaar ons leef in die teenwoordig-heid van die Almagtige, lewende God. Nou is die vraag: Wat moet ons doen? Wat word van ons as kerk(gelowiges) verwag? Wat het Israel gedoen? Die Israeliete het nie die onbeken-de land in eie krag of na eie goeddunke of met hul eie planne(brug gebou?) ingegaan nie. Hulle het die Here vertrou toe Hy gesê het as die priesters se voete die water raak, sal die water begin opdam. Hulle het geglo dit wat God deur Josua vir hulle gesê het, sal gebeur,
Hulle het die Here vertrou.
Van ons as kerk in 2020 word dieselfde gevra. Van ons as kerk, as mense wat verlos is van die sonde en ‘n nuwe lewe in Christus ontvang het, wat oppad is met die Almagtige God, word gevra/verwag om die Here op sy Woord te neem. Ons moet die Here te vertrou, die Here, sy Woord gehoorsaam! Die Woord van God is ook ons rigsnoer, ons padkaart, ons GPS. Dit is waartoe die Woord ons oproep. Vertrou die Here, elke dag. Vertrou die Here ook as jy soos die Israeliete voor ‘n krisis staan. Vertrou die Here ook as jy soos die Israeliete nuwe grense moet oorsteek. Grense soos om in die “nuwe normaal” te leef, soos om die skoolbanke agter te laat, soos om ‘n baba te moet grootmaak! Laat ons die Here bly vertrou! Dit was tog ook die slagspreuk van die Hervorming “Terug na die Woord!”