Openbaring 1: 4-8

Datum: 24 April 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

  1. INLEIDING

Hoop is ’n goeie ding. Dalk die beste van alle dinge. En geen goeie ding gaan ooit dood nie. ’n Aanhaling uit die film “The Shawshank Redemption”, my persoonlike gunsteling van alle tye. Die film speel af in ’n tronk waar die tronk - hoof en bewaarders genadeloos hierdie misdadigers hanteer. Die held word lewenslank onskuldig opgesluit en besef dat die lewe agter tralies vir ewig gaan wees. Hy is neerslagtig en depressief want hy kan nie sy onskuld bewys nie, want almal is onskuldig in die tronk gestop.

 

Met tyd word die held vriende met die leier van ’n sekere groep gevangenes en skielik gaan daar ’n nuwe wêreld in die tronk vir hom oop. ’n Geheim word aan hom openbaar. ’n Geheim wat hom elke dag hoop gee om, te midde van die swaarkry agter tralies, kop te hou en logies te dink. Daar is ’n groep gevangenes wat eintlik die binne-werke van die tronk beheer. Hulle gebruik kodes en tekens en geheime taal waarmee hulle met mekaar kommunikeer sonder dat die wagte besef wat besig is om voor hulle oë te gebeur. Enigiets voor die son kan van buite-af ingesmokkel word terwyl jy in die tronk is. In die wassery, die biblioteek, op die terrein waar hulle onder die wakende oë van die wagte basketbal speel, in die skoffel-lande, oral kommunikeer die manne in ‘n gekodeerde taal terwyl die wagte nie ’n benul het wat onder hulle neuse gebeur nie. Niemand kan die kodes ontsyfer nie behalwe hulle wat dit gebruik.

 

Skielik is daar hoop vir die held om elke dag op te staan en saam met die mede-gevangenes die wagte en veral die offisier in bevel, se wreedaardigheid te trotseer. Hy beleef ’n vryheid te midde van die aanslae teen hom. Hy ervaar hoop terwyl die omstandighede binne die tronk ondraaglik en sleg is, want die held weet iets wat die wagte onbewus van is. Ten spyte van die teenslae en ongekende haglike omstandighede weet die hero dat daar uitkoms is. Elke brutale hou deur die offisier in bevel se knuppel is makliker om te hanteer want dit is ’n herinnering aan die nuwe vryheid wat op hom wag. Elke vernederende opmerking van die hoof van die tronk hoor hy nie meer nie, want hoop laat hom glimlag. Wat ’n onbeskryflike film.

 

  1. OP DIE EILAND PATMOS IS DAAR OOK ’N GEVANGENE

Daardie gevangene is Johannes. Tydens sy laaste jare word Johannes na die eiland Patmos, in die Mediterreense See, verban waar hy op die uiteinde as ’n ouman sterf. Sy vyande wou hom stilmaak. Die Romeinse Regering het al hoe meer agterdogtig teenoor Christene geword en wou nie toelaat dat hierdie vreemde geloof oral deur die Ryk versprei word nie. Johannes was veroordeel en het die res van sy lewe op die eiland Patmos deurgebring. Maar Johannes se mond kon nie gesnoer word nie. Hy skryf die Boek Openbaring as woord van troos aan lydende en vervolgde Christene dwarsoor die Romeinse Ryk (Meer spesifiek die sewe gemeentes in Klein-Asië) Die gelowiges kry swaar onder die Romeine. Mense wil moed verloor. Hoe kan God help? Wanneer kom die einde van die wêreld?

God stuur ’n boodskap. Hy wil sy kinders troos en bemoedig. Hy gee hoop. Hy maak die toekoms oop. Hy is in beheer. Die toekoms is in sy hande. Rome moet dit hoor; so ook enige mag of gesag in vandag se wêreld.

 

Om te verhoed dat hulle haglike omstandighede vererger word, skryf Johannes hierdie boek in ’n geheime kodetaal wat as apokaliptiek bekend staan. Hy skryf die boek in ’n taal wat slegs deur die Christene in die Romeinse Ryk verstaan word. Die maghebbers en onderdrukkers kan nie die kloutjie by die oor bring nie. Die gelowiges kry swaar onder die Romeine. Mense wil moed verloor. Hoe kan God help? Wanneer kom die einde van die wêreld?

In hierdie opsig stem die geheime  kodetaal ooreen met die gevangenes s’n in Shawshank Redemption. Dit is gevul met simbole, tekens en taal wat vandag nog vir baie mense onverstaanbaar is. Vir buitestaanders is dit ’n geheime kode. Maar vir die bevoorregte binnekring, vir hulle wat in staat is om die kode te ontsyfer, is dit die geheime taal met die blye nuus. Dit is die goeie nuus. Dit is die hoop vir hulle wat sonder hoop was.

 

Maar ons leef nie aan die einde van die eerste eeu nie. Eintlik is ons ook buitestaanders. Ons het nie die woordeboek of vermoë om hierdie kode met  ryk en komplekse betekenis te ontsyfer nie. Dit is waarom baie mense huiwerig is om die Boek Openbaring te begin lees. Openbaring bly vir baie mense ’n onopgeloste misterie. So dink baie van ons. Maar die kode kan gekraak (ontsyfer) word.

 

  1. DIE KODE KAN GEKRAAK (ONTSYFER) WORD

Ons het die sleutel in hand waarmee hierdie kode ontsyfer kan word. Ons het die sleutel tot die deur wat ons tot binne-in die leefwêreld van die eerste eeuse vervolgde Christene kan neem. Die Boek Openbaring is nie ’n waarskuwing op ’n vreesaanjaende toekoms wat vir ons voorlê nie. Die Boek Openbaring is ’n woord van troos op ’n wonderlike toekoms wat vir ons voorlê. Dit is boek propvol hoop in ‘n hopelose wêreld.

Die sleutel om hierdie kode te kraak, om hierdie kode te ontsyfer, is vanoggend voor die hand liggend. Hier in die inleiding van hierdie wonderlike raaiselagtige boek staan dit geskryf:  Openbaring1:5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!

Alhoewel Johannes die toekoms-gordyn vir ons op ’n skrefie wil hy ook ons aandag vestig op Jesus. Jesus se lewe, dood en opstanding. Johannes wil vir ons sê dat Jesus se lyding, dood en opstanding meer betekenisvol is as wat ons ooit kan dink. Dit was meer as net ’n teregstelling deur die gewetenlose brutale Romeine. Johannes skryf dat Jesus se lyding, dood en opstanding ’n positiewe uitkoms vir ons as Christene het.

Alhoewel die eerste eeuse Christene verskriklike lyding onder die Romeine beleef het, was die geveg verby. God het alreeds al die magte van die wêreld vernietig: sonde, dood en boosheid is platgevee.

Die magtige Romeine was reeds in ’n hoek vasgepen. Alles wat die wêreld vernietig en verniel, en Christene van God af wegtrek, is tot niet gemaak. Die dood en opstanding van Jesus het al hierdie vyande vernietig. Johannes se openbaring lig die gordyn. Die venster is oopgemaak. Ewige lewe word openbaar gemaak.

Wat het Johannes se openbaring vir die mense gewys? Die Lam wie se bloed gestort is vir die wêreld sit nou triomfantlik op Sy hemelse troon.

Openbaring1:8“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Jesus Christus is die sleutel waarmee die boek ontsluit word. Jesus Christus maak dit op twee maniere moontlik:

Eerstens om die misterie van die Boek Openbaring te ontsluit , maar ook,

Om die kode van ons eie lewe met al sy misterie, pyn en verwarring te kraak.

  1. ‘N BETER VERSTAAN VAN ONS EIE LEWENS

Dit is nie altyd maklik om te glo nie. Daar is baie magte werksaam en daar is baie twyfel by gelowiges wat swaar kry. God kom raak ons egter aan. Sy boodskap laat ons onthou dat ons nie alleen is nie.

Ons lewens in hierdie wêreld lyk baie keer deurmekaar en flenters. Ons lewens is gevul met onsekerheid, lyding en dood. ’n Onverwagse hoogs aansteeklike siekte verpletter ons lewensdrome en planne. ’n Afleggingsbrief tydens ’n belowende loopbaan slaan die deur in ons gesigte toe. Die tuimelende aandelemark stuit ons aftree-drome en planne. ’n Dierbare vriend sterf in ’n motorongeluk. In ’n oogwink word Pedrie Wannenburg, die oud-Springbok van sy gesin af weggeruk tydens ’n motorongeluk. Verlies is moeilik om te verwerk.

Ja vriende en dan word ons ook aanhoudend daaraan herinner dat ons onsuksesvol is. Skril en sarkastiese stemmetjies, nors gesigte, afbrekende kritiek breek ons selfbeeld tot in die grond af.  Ons kan identifiseer met Johannes daar op die eiland Patmos en al die eerste eeuse Christene wat verniel en onderdruk was vir die eenvoudige rede: Hulle het in Jesus geglo. Ons smag na trooswoorde. Is daar enige s’n in hierdie malligheid?

Dan word die kode deur middel van vandag se teks ontsluit. Die gordyn word te midde van ons pyn, angs, verlies en onsekerheid op ’n skrefie oopgetrek. Die venster word oopgemaak.  Dit wat in die ewige lewe gebeur word aan ons ge-openbaar.

Openbaring1:7Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag.

Ja, dit is seker! In ’n wêreld waar onderdrukking en lyding deel is van ons alledaagse lewe, waar vrees en onsekerheid hoogty vier en ons lewens flenters laat, waar alles sinneloos blyk te wees word die raaisel opgelos. Uiteindelik word die kode gekraak. Christus triomfeer. Op Goeie Vrydag het God alles wat ons van Sy liefde skei vernietig. Al die lyding, pyn, smart, onsekerheid en onderdrukking is maar net tekens van ’n oorlog wat alreeds gewen is. Die kode is gekraak en ons sien dinge wat onsigbaar is vir die wêreld. Die kode is gekraak en ons kommunikeer in tekens met mekaar terwyl die wagte in hierdie bose wêreld geen benul het wat ons hoop gee nie. Ons sien nou dinge wat onsigbaar is vir die wêreld. Water uit ’n doopbak wat op ’n baba se koppie val in die naam van die Vader, die Seun en Heilige Gees. Brood word gebreek. Wyn word in ’n beker gegooi. Dit is my liggaam gebreek vir julle. Dit is my bloed gestort vir julle. ’n Hand word uitgereik na iemand in nood. ’n Glimlag word gedeel. Genade en vrede vir julle.....Sonde word vergewe. Gebede word ons asemhaling van ons christelike geloof. Tyd en gawes word vrylik uitgedeel. Kos word gemaak vir ’n persoon wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het. Trane word afgevee. Hartseermense word vasgehou.

 

SLOT

Ons beleërde en verbitterde wêreld, sowel as ons wagte wat dink ons is dwase, vir wie dit klink asof ons doelloos kommunikeer, het ’n deur vir ons wawyd oopgelaat. Iemand het vergeet om daardie deur van hoop toe te maak. Maar vir ons, vir wie die kode ontsyfer is, ons wat die Weg, die Waarheid en die Lewe ken, - ons weet wat is besig om te gebeur. Ons weet die beste is nog op pad. Ons gaan hemel toe! Dit is ’n openbaring. Dit is goeie nuus. Dit is wat gebeur wanneer jy die kode ontsyfer het. Dit is hoop. Hoop is ’n goeie ding. Dalk die beste van alle dinge. En geen goeie dinge gaan ooit dood nie.

AMEN