Matt 6:9-13 en Kol 1:13-20
Datum: 6 Julie 2025
Prediker: Johan Janse van Rensburg
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Vriende soos ons nou weer herinner is. Ons is in koninkrykstyd. Daarom het ek gedink sou dit gepas wees om vir die volgende paar weke ‘n mini reeks te hê oor God se koninkryk. Met hierdie reeks gaan ons saam dink oor wat dit beteken om te “Lewe in God se Koninkryk”. Tydens Pinkster en die afgelope paar Sondae het ons duidelik gehoor dat ons as gelowiges sonder twyfel geroep word om anders te leef – nou al. Vandag gaan ons stil staan by die tema: Die Koning regeer nou. Voordat ons kyk na wat dit beteken wil ek eers begin met die vraag.
As iemand jou vandag vra: "Waar is God se Koninkryk?" – wat sal jy antwoord? Vir baie van ons kom die gedagte op dat wanneer daar oor die Koninkryk van God gepraat word praat die Bybel van die hemel. Die interessante ding is ons dink aan die hemel as ‘n ver weg plek. ‘n Plek vir na die dood. Of dit laat ons miskien dink aan die dag wanneer Jesus terugkeer en alles herstel. Die Koninkryk of die Hemel word ‘n ver weg plek vir die verre toekoms. Maar is dit regtig wat Jesus ons leer oor die Koninkryk? Jesus leer iets anders. In Matteus 6 leer Hy sy dissipels om te bid: “Laat u koninkryk kom, laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.” Dis nie net ’n gebed vir eendag nie – dit is ’n uitnodiging om nou al te leef as burgers van God se koninkryk. Dit is die verklaring dat God reeds besig is om te regeer – nie net in ’n verre hemel nie, maar in die hier en nou. Jesus self is die Koning, en waar Hy regeer, daar breek die koninkryk deur.
Kom ons lees Matteus 6
Die Onse Vader-gebed vorm deel van die hele bergrede. Die Bergrede is Jesus se grootste en belangrikste preek gewees. Matteus 6:1-18 is die hoogtepunt van die bergrede, met die Ons Vader-gebed (Pater Noster) as die middelpunt daarvan. Vriende die Onse Vader is die kern van dit wat Jesus ons leer oor ‘n lewe in die Koninkryk
As mens na die gebed kyk sien mens dit bestaan uit twee dele – die sogenaamde “U”-bede (waar God en sy heerskappy sentraal staan) en die “ons”-bede (waar menslike behoeftes en afhanklikheid navore kom). Vandag fokus ons spesifiek op die een van die belangrikste “U”-bede: “Laat U Naam geheilig word, laat U koninkryk kom, laat U wil geskied…” – alles begin by God.
As Jesus sy dissipels leer om te bid: “Laat u koninkryk kom, laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.” Is dit nie net ’n gebed vir eendag nie – dit is ’n uitnodiging om nou al as burgers van God se koninkryk te leef . Dit is die verklaring dat God reeds besig is om te regeer – nie net in ’n verre hemel nie, maar in die hier en nou. Ons bely daardeur dat Jesus self die Koning is, en waar Hy regeer, daar breek die koninkryk deur.
Maar wat beteken dit dat God se Koninkryk gekom het? In Kolossense 1:13-14 lees ons iets kragtigs: “Hy het ons uit die mag van die duisternis gered en ons oorgebring in die koninkryk van sy geliefde Seun.” Dit is ’n dramatiese en hoopvolle uitspraak. Dit beteken dat God se koninkryk nie net ’n toekomstige belofte is nie – dit is reeds ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges lewe. Ons is oorgeplaas, oorgedra, uit die duisternis van sonde en vrees na die lig van Christus se liefde en heerskappy.
Hoor mooi die woorde: “Hy het ons gered… Hy het ons oorgebring…” Hierdie is nie eendag-woorde nie; dit is vandag-woorde. Waar Christus se liefde en waarheid heers, daar is die Koninkryk van God. Daarom is die Koninkryk nie bloot ’n geografiese plek nie – dit is enige plek waar Christus Koning is. Dit is sigbaar waar mense begin leef volgens God se hart en wil: met geregtigheid, vrede, nederigheid, liefde, en diensbaarheid. Wanneer iemand vergewe in plaas van vergeld, wanneer ons integriteit kies bo gemak, wanneer ’n gesin saam aanbid en dien – daar en dan kom die Koninkryk. Dit is wat Jesus ons wil leer deur die Onse Vader gebed.
As Jesus die dissipels leer hoe om te bid begin Hy met die woorde: “So moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is.” Jesus gebruik hier `n unieke beskrywing vir God: die woord Abba. In meeste Afrikaans vertalings word dit vertaal as “Vader”. Dit is ook `n meer formele manier waarmee ons vaderfigure aanspreek. Jesus het iets anders in gedagte. Om dit nader te vertaal aan hoe Jesus dit bedoel, sou mens dit kon vertaal met “Pappa”. Hierdie liefdevolle en intieme verwysing na God as “Pappa” impliseer iets dieper: `n kinderlike vertroue. Wat Jesus eintlik hier doen is om die dissipels te help om op `n ander manier aan God te dink. Ons Vader wat in die Hemel is ‘n totaal ander verstaan van God. Ons God wil op ‘n persoonike vlak by ons betrokke wees. Ons God wil in `n besonder intieme verhouding met ons staan, Hy wil hê dat ons kinderlik op Hom moet vertrou, nie net in terme van ons behoeftes nie, maar verval vir hoe ons die lewe aanpak.
Jesus leer ons dan om te bid: “Laat u Naam geheilig word.” Om God se naam te heilig, is nie net om aan God die erkenning te gee wat God verdien nie. Om God se naam te heilig is om God te eer deur gehoorsaamheid. Deur Hom werklik te volg. Deur werklik vir Hom te leef. En juis daardeur te help om sy Koninkryk meer sigbaar te maak. Vriende om as volgeling van Jesus te leef is nie so eenvoudig nie. Want die eer van God is op die spel in die manier hoe volgelinge van Jesus optree en leef.
Om God se naam te heilig, gaan oor meer as om met respek oor Hom te praat. Dis om Hom te eer deur hoe ons leef.
Dit is so God se naam ontheilig word wanneer sy mense verkeerd oor Hom praat – maar dit gebeur nog meer, wanneer mense, en veral gelowiges leef op ’n manier wat ander laat dink God is irrelevant eer ons God nie.. Ons gedrag is ’n getuienis van wie ons dink God is. Daarom is hierdie bede ’n oproep tot gehoorsaamheid: “Laat ons so leef dat mense op grond van ons lewens U Naam sal heilig.”
Ewe skielik is daar ‘n ander sy tot die ou bekende. ‘n Dieper deel aan die Onse Vader. Ewe skielik raak dit duidelik hoekom Jesus gekies het om herdie gebed te gebruik toe Hy sy dissipels wou leer hoe om te bid.
Wanneer Jesus ons leer bid “Laat U Koninkryk kom”, is dit nie ’n neutrale gebed nie – dit is ’n transformerende uitnodiging. Jy bid nie net: “Here, doen iets in die wêreld” nie, jy bid ook: “Here, begin by my.” Hierdie gebed vra ’n oop hart. Dit is ’n manier om te erken dat ons eie wil nie altyd saamstem met God s’n nie, en dat ons bereid is om ons harte en lewens aan Hom te onderwerp.
Dis maklik om God se Koninkryk te soek “daar buite” – in die politiek, in die wêreld, in die kultuur. Maar hierdie gebed vra iets anders, dit bring dinge naby: God wil heers in jou denke, jou emosies, jou keuses, jou drome, jou vrese. As jy sê “Laat u wil geskied”, dan beteken dit: jy gee jouself oor, jy laat los jou eie heerserskap, en jy gee oor aan God se plan. Die Koninkryksgebed is nie passief nie – dit vorm jou. Dit leer jou om nuut te dink oor jou lewe, jou werk, jou verhoudings met mense, jou tydsbestuur. Wanneer jy bid: “Laat u koninkryk kom,” vra jy vir die Here om jou ’n aktiewe deelnemer te maak in die vestiging van sy heerskappy in jou wêreld.
Dit is maklik om Jesus te sien as ons Redder – die Een wat ons sonde vergewe en ons hemel toe vat. Dit is ook waar van Hom! Hy is ons Redder en Verlosser. Maar dit is nie die volle waarheid nie, dit is nie al nie. Kolossense 1:15-20 Kleur dit so mooi in: “Hy is die beeld van die onsienlike God… alles is deur Hom en tot Hom geskep… Hy hou alles in stand… Hy is die hoof van die liggaam, die kerk.”
Vriende dit is duidelik Jesus is nie net die Een wat kom red nie – Hy is die Een wat regeer. Sy gesag strek oor elke aspek van die skepping. Hy is die Koning van die heelal, en Hy vra nie net ’n plek op jou godsdienstige kalender nie – Hy vra jou hele lewe.
As Hy Koning is, beteken dit jy kan nie net vir Hom “ja” sê op Sondag, en Maandag weer jou eie koninkryk probeer bou nie. Sy gesag strek tot in elke fassette van jou lewe. Dit beteken jy begin jou vrae anders stel: Nie net “Wat werk vir my nie?”, maar “Wat wil my Koning hê?”
Om in God se Koninkryk te leef is nie altyd maklik nie. Dit is ’n lewe wat soms teen die stroom invaar. Jy kies dikwels om dinge anders te doen: jy hou op om te skinder al is dit “aanvaarbaar”; jy erken jou foute; jy weier om net jouself te dien, maar leef vir ander se welstand. Dis ’n pad van gehoorsaamheid – maar ook van vertroue. Vertroue dat God se wil goed is. Dat sy pad beter is as die wêreld se paaie. Die koninkryk vra jou om God se stem te leer ken – en Hom te volg selfs as dit jou iets kos. Vriende die wonderlike van ‘n lewe in die Koninkryk van God, of om te leef met die wete dat God nou regeer, is dat mens ook ’n diep vreugde ontdek. Want jy sien hoe God se teenwoordigheid en vrede jou lewe begin vul. Jy ontdek jy verloor nie iets wanneer jy onder Christus se heerskappy leef nie – jy vind alles wat jy werklik nodig het.
Die gebed “Laat U Koninkryk kom” is nie ’n vlugtige reël in die Onse Vader nie. Dis ’n lewenswyse. Dis ’n daaglikse oorgawe. Dis ’n innerlike besluit om nie net te glo in Christus nie, maar Hom te volg as Koning. Vandag se gedeelte kom vra die vraag: Leef jy asof ons Koning nou regeer? Laat jy toe dat sy wil jou rig? Is daar areas in jou lewe waar jy nog self regeer – dalk jou tyd, jou emosies, jou drome?
Mag jy vandag Jesus se uitnodiging hoor: “Kom na My toe. Ek is die Koning, laat my toe om ook jou lewe te regeer” Hy is nie ’n wrede heerser nie. Hy is ’n Koning wat self die kruis gedra het. Wat jou uit die duisternis verlos het – en jou oorgebring het na sy koninkryk van lig. Christus is jou Verlosser én Koning. Hy wil die hele skepping herstel – en Hy begin by jou.
Wanneer jy bid: “Laat U Koninkryk kom”, gee jy God toestemming om jou lewe te herskep. Jy buig jou knie voor ’n Koning wat nie kom met swaarde en geweld nie, maar met liefde, waarheid en genade. Laat hierdie gebed nie net woorde bly nie. Laat dit ’n leefwyse word. Laat God se Naam geheilig word in hoe jy optree. Laat Sy Koninkryk kom in jou werk en jou huis. Laat Sy wil geskied in elke besluit wat jy neem. En onthou: Jy bid nie alleen nie – jy bid saam met die liggaam van Christus reg oor die wêreld. Ons Vader Laat U Koninkryk kom, dit is ons roeping om nou al, hier, anders te leef. Amen.

