Datum: 7 Desember 2025 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Janse van Rensburg
Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar
Dt is die tweede Sondag van Advent. Die Sondag van Vrede. Maar hoe ironies is dit nie? Hierdie tyd van die jaar voel dikwels glad nie rustig nie. Die wêreld rondom ons voel gebroke, onseker, onrustig.Tog steek ons die Adventskrans se Vredeskerse aan – ’n klein liggie, maar ’n groot belofte: Jesus is die Koning wat Vrede bring.
Jesaja 9:5–6 is geskryf in ’n tyd van groot duisternis. Die volk was bedreig deur vyande. Die regering was korrup. Mense was bang en het bekommerd na die toekoms gekyk. Dan sê Jesaja: “’n Seun is vir ons gebore… Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.”
Jesaja sê nie: “Hou bietjie uit, dit sal gou beter gaan nie.” Sy boodskap is: “God self kom. Vrede kom nie van mense af nie – dit kom van God af.”
Wat is die vrede waarvan Advent praat?
Die Bybel se begrip van vrede, is veel meer as net stilte of die afwesigheid van konflik. Dit beteken: Heelheid, herstel, regverdigheid, harmonie, heel word met God én met ander, dit is die teenwoordigheid van God wat orde bring waar chaos was.
Jesus bring drie groot vorme van vrede
(1) Vrede met God
Toe die engele in Lukas 2 sing:
“Vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het,” verkondig hulle dat Jesus gebore is om die muur tussen God en mens af te breek. Ons is nie meer vyande van God nie – ons word kinders van God.
(2) Vrede in onsself
Jesus sê in Johannes 14:27:
“Vrede laat Ek vir julle na… nie soos die wêreld gee nie.”
Jesus se vrede maak nie jou lewe skielik maklik nie, maar dit bring rustigheid in jou hart, selfs al is die wêreld stormagtig. Dink aan die dissipels in die boot – die vrede het nie gekom toe die storm stil geword het nie; dit het gekom toe Jesus in die boot was.
(3) Vrede met ander mense
Vrede werk altyd horisontaal. Waar Jesus kom, word verhoudings herstel. Advent vra ons: Is daar iemand met wie ek vrede moet maak? Het ek onuitgesproke woorde, opgeboude irritasies, of hardheid? Kan ek hierdie Advent iemand anders se vrede wees?
Hierdie profetie oor Jesus wys vir ons dat vrede nie net ’n afwesigheid van konflik is nie, maar ’n dieper, goddelike rus wat van God self kom. Hierdie vrede is ’n geskenk wat ons ontvang – ’n belofte dat God se koninkryk uiteindelik alles sal herstel.
Maar vrede is nie net ’n passiewe ervaring nie. Vrede is ook iets aktief. Dit is iets wat ons moet bring en bou in ons wêreld, in ons gemeenskappe, en selfs in ons eie harte. Net soos die profeet sê dat die “Vredevors” kom, word ons ook genooi om sy werk voort te sit. Om vrede te maak beteken om te lig waar daar net donkerte is, om liefde te bring waar daar konflik is, en om versoening te bewerk waar daar skeiding is.

