Matteus 13:31–33; Openbaring 21:1–5
Datum: 27 Julie 2025 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Janse van Rensburg
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar
Daar is min dinge so stil en tog so kragtig soos ’n saadjie wat groei. Daar is geen ophef nie. Dit gebeur onder die grond, uit sig, in stilte – maar die uitkoms is wonderlik: ’n groot boom waar voëls nesmaak, ’n klein bietjie suurdeeg werk op dieselfde manier deur deeg te laat rys en verander. Só werk God se Koninkryk, sê Jesus. Dit begin nie met mag of geweld nie, maar met iets kleins, eenvoudig, amper onsigbaar – en tog, met tyd, verander dit alles. In ons gedeelte in Matteus 13 vertel Jesus twee kort gelykenisse – net vier verse lank – en hulle vat die groot misterie van God se Koninkryk vas in die beeld van 'n saadjie en 'n bietjie suurdeeg. En dan, asof Johannes die slot van die Koninkryksverhaal sien, vertel hy van ’n visioen wat hy gehad het deur te begin met die woorde: "Ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien..."
Jesus sê die Koninkryk is soos ‘n mosterdsaadjie – die kleinste van al die saadjies. Dit is ‘n klein begin, maar die saadjie word ‘n groot boom waarin voëls kom nesmaak. Die Koninkryk van God groei, is verwelkomend en sluit in. En dit begin klein – dalk in jou huis, by jou tafel, met ‘n eenvoudige daad van omgee of liefde. Die impak word mettertyd hemelsgroot.
Die tweede beeld is suurdeeg in ‘n groot hoeveelheid meel. Suurdeeg is iets kleins, selfs onsigbaar, maar dit beïnvloed die hele deeg. Dit is ‘n beeld van hoe die Koninkryk werk: nie van buite af met mag of geweld nie, maar van binne af – in mense se harte, in verhoudings, in waardes wat verander.
Ons lewe in ’n tyd waar mense onmiddellike resultate soek, belangrik wil wees en gesien wil wees. Maar God werk anders. Hy werk stadig en diep. Soms wonder jy dalk: maak my geloof ‘n verskil? Raak my liefde regtig ander mense? Maar Jesus sê: hou aan om die suurdeeg in te werk. Moenie moed verloor as jy nie onmiddellik resultate sien nie. Die Heilige Gees is besig om te werk. Die Koninkryk is besig om ‘n verskil te maak. God is aan die werk – selfs wanneer ons dit nie sien nie.
Dan, vertel Openbaring vir ons die slot van die Koninkryksverhaal. Dis belangrik dat ons die saadjie van Matteus 13 en die boom van Openbaring 21 saam vashou. Want in die middel van die lewe – tussen die reeds en die nog nie – is dit maklik om moed te verloor. Openbaring 21 gee ons ‘n visie om aan vas te hou. Dit is God wat alles nuut maak, nie ons nie. Nie ons krag of prestasie nie, maar Sy getrouheid. Wat beteken dit alles vir jou en my vandag? Ons leef nou in die tyd tussen die plant van die saadjie en die volle bloei van die boom. Dit beteken ons vertrou op God se tempo, nie ons eie nie. Ons hou aan bid, hou aan dien, hou aan droom – nie omdat ons altyd resultate sien nie, maar omdat ons weet God is aan die werk.
Ons is geroep om deel te wees van daardie proses – om koninkryksmense te wees wat, al is dit in klein maniere, lewe bring, liefde saai, vrede maak, geregtigheid nastreef. En ons doen dit met die wete: God is besig om alles nuut te maak.

