Markus 1:21-31
Datum: 16 Januarie 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Verlede week het ons Maarten Luther hoor sê dat die belangrikste gebeurtenis waarvan die Evangelies vertel, die doop van Jesus is. Dis die oomblik waarop die gang van die geskiedenis verander het, toe Jesus na vore tree en sy aardse bediening begin. Dis toe wat God self Jesus as’t ware aan ons voorstel. Met twee aanhalings uit die Ou Testament. Eers uit ‘n kroningspsalm, waarmee Hy bevestig dat Jesus die Koning van Konings is. En dan uit Jesaja 53 dat Jesus ‘n totaal andersoortige Koning is, wat gekom het om te ly, en ons met God te kom versoen.
Op die ou end moet jy so half vir Luther gelyk gee. Jesus se doop is inderdaad ‘n hoogtepunt wat ons asem ‘n klein bietjie wegslaan. Maar jou ook so half laat wonder het. Wat kom nou, na só ‘n verhaal? Waar gaan Jesus nou begin met die taak waarvoor Hy gekom het? Wat gaan Jesus nou eerste doen?
Soos enige leraar wat met sy bediening begin, was die eerste ding wat Jesus gedoen het, om sy intreepreek te lewer. Nou moet ek eerlik wees, proefpreke is selde waffers. Vandag voel ek nogal bietjie ongemaklik as ek weer na my proefpreek gaan kyk. Weet jy, ek dink ek was nogal destyds met goeie rede so op my senuwees daarvoor. Want ‘n mens is darem nog bitter groen as jy jou proefpreek moet lewer. Kan jy glo, ek self het destyds altyd so kort as moontlik probeer preek. Maar moenie té spyt wees dat julle my nie eerder destyds geken het nie, want ek moet sê, dit was destyds omtrent onmoontlik om my te volg. Ek moet erken, my eerste preek was regtig nie juis aardskuddend nie.
Maar hierdie eerste preek waarvan Markus 1 vertel, is ‘n ander storie. Die preek waarmee Jesus sy aardse bediening begin – jy kan maar amper sê, Jesus se intreepreek, het mense regop laat sit.
- Die verhaal tot hier toe
Jy moet onthou, niemand het toe nog eintlik vir Jesus geken nie. Dalk het ‘n paar mense in Nasaret al geweet van Josef die timmerman en sy vrou Maria se seun. Maar hier in Kapernaum, net enkele kilometer van Nasaret af, was Hy nog heeltemal onbekend.
Maar iets het wel die hele Kapernaum in rep en roer gehad. Die hele dorpie het gegons oor 'n half wild profeet wat homself "Die Boodskapper van God” noem, “wat die Paaie vir die Here kom reguit maak". Sy naam was Johannes, en hy het heeltyd gepraat van Iemand wat aan die kom is. "Bekeer julle en laat julle doop as teken daarvan dat julle gereed is vir sy koms", sê hy oor en oor, en mense stroom na hom toe. En hy leer hulle en doop hulle in die water van die rivier.
Eendag, toe Johannes weer daar langs die Jordaan die mense staan en leer, bly hy skielik stil. En wys na die jong man wat daar verbyloop, en sê: "Daar is die Lam van God!" 'n Paar dae later was dieselfde jong man terug, en het Johannes Hom in die Jordaan gedoop, en dis toe wat die hemel bokant Hom oopgaan. Almal het verstom staan en kyk hoe die Heilige Gees soos 'n duif op Hom neerdaal. En die Stem soos 'n donderslag wat sê: "Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My."
En al wat Jesus toe sê was: "Die tyd het aangebreek, en die Koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die Evangelie". En terwyl almal nog wonder waarvan praat Hy, verdwyn Hy vir 40 dae die woestyn in.
- Nou is almal in die sinagoge bymekaar vir die intreepreek
En nou is Hy vandag terug, in Kapernaum. Destyds het hulle volwasse Jode genooi om die preekbeurt daar waar te neem. Vandag het hulle Jesus gevra. Die sinagoge was volgepak. Want na daardie dramatiese dag by die rivier het niemand nog oor enigiets anders gepraat as die onbekende prediker, en sy eienaardige aankondiging, nie.
Niemand van hulle was teleurgestel nie. Want sien, Jesus het anders oor die Bybel gepraat as die manier wat hulle geken het. In plaas van die langdradige, vervelige preke van die Skrifgeleerdes, kon jy sien Jesus praat met gesag oor die Bybel. Jy kan sien Hy weet waarvan Hy praat, en die mense het aan sy lippe gehang. Daar is 'n dringendheid wat hierdie mense nog nooit gehoor het nie. Daarby was sy boodskap vars en nuut. Niemand het voor Johannes gewaag om so iets te sê nie. Die tyd is hier, sê Jesus nou. Die eeue van wag is verby. Julle is bevoorreg, want God se Koninkryk het naby aan julle gekom. God se genade?tyd is hier...
Johannes die Doper het wel ook so iets gesê maar Jesus kom sê dit met gesag. Want Johannes het dit nog maar véraf sien kom. En Jesus sê dis hier, ‘n werklikheid, sy teenwoordigheid lui ‘n nuwe era in. Die lig het deurgebreek. Dis nou die nuwe era van die Koningskap van God. In Jesus, is God se Koninkryk nou hier.
Ek wonder hoeveel het die mense van Kapernaum regtig verstaan? Wat het hulle daarvan verstaan dat God se koninkryk tot by hulle gevorder het? As Jode ken hulle wel die woorde, maar verstaan hulle dat alles nou verander het, dat hier ‘n totaal nuwe toekoms begin? Of was dit net té radikaal, té nuut, dat hulle verstand dit eenvoudig nie wou vát nie...? Ek wonder. Ek wonder selfs hoeveel daarvan ons regtig verstaan...
- Die Konfrontasie
Maar voor hulle rustig daaroor kon nadink, terwyl Jesus nog praat, bars die Satan in daardie gewyde oomblik by die deur in. Want al verstaan Kapernaum se mense dalk nog min, verstaan Satan wel deeglik... Hy weet baie goed wat dit beteken dat God se Koninkryk gekom het. En dit maak hom desperaat. Hy weet dis die begin van die einde vir hom. Sy tyd van duisternis is aan die verbygaan, want die lig is aan die deurbreek. En waar die Lig deurbreek, moet die duisternis wyk.
Desperaat probeer hy keer. Jesus het net ons pret kom bederf, sê hy. "Wat het ons met U te doen, Jesus?" vra hy. Met ander woorde: Hoekom kom pla jy ons? Hoekom los jy ons nie, om in vrede aan te gaan soos ons wil nie? Hy gaan selfs aan en sê: "Ek weet goed wie U is: U is die heilige van God!"
Maar Jesus weier dat hy hierdie oomblik kaap. En so speel die eerste rondte van ‘n stryd om lewe en dood hom die dag voor die mense van Kapernaum af – ‘n stryd om jóú lewe en dood. Die Prins van die Lig en die heerser van die duisternis staan teenoor mekaar soos twee ridders op die strydperk. Die stryd waarvoor Jesus aarde toe gekom het, het begin...
Maar alreeds, is Satan aan die verloor. Jesus laat hom nie eers verder praat nie. Hy jaag hom net uit die man uit. Want God se koninkryk het gekom, en Satan moet padgee. Daar is geen plek meer vir die duisternis en die sonde in ons wêreld nie. Die Lig duld nie die duisternis nie. En dis daar in die sinagogetjie in Kapernaum, waar die lig die eerste keer helder deurbreek.
Mense wonder soms of hierdie gedeelte nie beteken dat ons in die kerk ook só duiwels en demone moet uitdryf, soos party kerke inderdaad doen nie? Maar onthou toe hierdie gebeurtenis plaasgevind het, was Satan nog stert in die lug. Hy was in beheer, soos sedert die sondeval al. Maar dis nou heeltemal anders. Iets baie ingrypends het sedertdien gebeur. Satan se mag is gebreek. Hy voer nie meer die heerskappy oor ons nie; hy is ‘n verslane vyand! Hy kan ons bedrieg en probeer wegrokkel van God af, maar hy kan ons nooit weer in sy greep kry nie. Op Golgota het Jesus sy mag gebreek.
Na die diens gaan Jesus saam met Petrus huis toe, en gaan sit daar die konfrontasie met die duister voort. Jesus stap in waar Petrus se skoonma baie ernstig siek lê, met 'n geweldige hoë koors. Weer staan Jesus en die Satan teenoor mekaar. En weer is dit Jesus wat triomfeer. Hy steek sy hand na die siek vrou toe uit, en trek haar regop. En sy is gesond! God se Koninkryk is hier! En daar waar God Koning is, word die stukkende weer heel. Daar word die houvas wat die Duiwel op ons wêreld het gebreek.
Natuurlik was almal nie hieroor ewe bly nie. Herodus, weet ons, het Johannes se kop laat afkap. En van die mense van Kapernaum sê die Bybel: "Hulle was baie verbaas, en oral in Galilea het die mense in die hele omgewing oor Hom gepraat". Net dit. Hulle was verbaas, en hulle het gepraat. Hulle het gesien, maar nie geglo nie. Hulle het gesien, maar dit het nie hulle lewens verander nie. God se Koninkryk het gekom, en niks het verander in hulle lewe nie.
En jy? Watter verskil maak dit in jou lewe dat God se Koninkryk gekom het? Watter verskil maak dit dat jy weet dat Jesus regtig Koning is, dat Satan verloor het? Wat was anders die week, nadat ons verlede week herinner is daaraan dat Jesus die Koning is, wat die prys vir ons sonde kom betaal het? Dit beteken tog dat daar geen plek meer vir selfsug en haat, vir onmin, onsedelikheid en ontrou is nie.
Die vraag is net of mens dit in jou lewe kon sien en hoor die afgelope week? Of jou lewe daarvan getuig het dat die lig in hierdie gebroke, donker wêreld deurgebreek het? Of lyk jou lewe en jou verhoudings maar net so duister soos die wêreld s’n? Klink en lyk jy maar soos hulle? Probeer jy eintlik maar op twee stoele gelyk sit...?
Weet jy wat dit beteken, dat die koninkryk van God gekom het – of bly dit in jou geval ook maar 'n gepraat..?
AMEN