Johannes 12:20-37

Datum: 2 April 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

  1. Die groot kontras

As jy daardie eerste Goeie Vrydag in die donkerte langs die kruis op Golgota gestaan het saam met Jesus se ander volgelinge, sou dit die laaste woord wees wat by jou sou opgekom het. Vir geen oomblik sou jy kon dink daardie verskriklik aaklige toneel is eintlik Jesus se verhoging nie. Dit lyk veel eerder na presies die teenoorgestelde. Na die oomblik van sy diepste vernedering. Dit is die verskriklike laagtepunt van sy pad. Golgota en die kruis is vir seker nie die plek van triomf nie.

 

En dis presies wat jy ook vanoggend rondom jou sien, hier in die kerkgebou. Dis die mees morbiede prentjie wat jy ooit in ‘n erediens gaan beleef. Selfs die dominee het sy mees sombere klere aan, en niks wat jy hier sien, vrolik enigsins die dag op nie. Al wat jy hier voor sien is die tekens wat getuig van ‘n gebroke liggaam en bloed wat gevloei het. Eintlik is dit selfs erger as ‘n begrafnis, want by ‘n troosdiens praat ons oor die lewe, oor die wonder van die hemel wat God vir sy kinders gee. En vandag sien ons geen teken daarvan nie. Vandag is dit net donker.

 

En tog is dit nie heeltemal die prentjie wat Johannes 12 vir ons vanoggend kom teken nie. Wanneer jy dit hierdie die minste verwag, kom verras Jesus jou weereens totaal. Want Jesus waarsku hier sy volgelinge oor dit wat die Paasnaweek voorlê. Maar in plaas daarvan dat Hy praat oor die verskrikking en die aakligheid daarvan, in plaas daarvan dat hy iets sê van die groot vernedering en lyding wat wag aan die kruis, sê Jesus: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word” sê Jesus vir sy dissipels. En dit laat ons viervoet vassteek. Kan dit regtig wees hoe Jesus praat oor die gebeure van Goeie Vrydag? Noem Hy dit regtig sy verheerliking? Kan dit regtig wees hoe Jesus daaroor dink? Ek meen, “verheerliking” sou seker die heel laaste woord wees wat ons daarvoor sou wou gebruik. Hoe kan hierdie wrede marteling sy verheerliking wees?

 

  1. Die koringkorrel

En dan verduidelik Jesus vir ons aan die hand van die beeld van ‘n koringkorrel. ‘n Eenvoudinge, praktiese beeld. Want almal ken ‘n koringkorrel. Hy is maar klein en onbeduidend. Hy is eintlik niks werd nie. Bêre hom iewers op ‘n rak en hy gaan vir niemand enigiets beteken nie. ‘n Mossie kan dalk net daar in die verbygang oppik, en selfs dan gaan hy ook nie eintlik die mossie vol maak nie.

 

Jy kan selfs dink dat ‘n koringkorrel eintlik waardeloos is. Maar die rede daarvoor is eenvoudig. Want jy sien, die Here het hom nie gemaak om iewers op die rak te lê nie. ‘n Heel koringkorrel beantwoord nie aan sy bestaansdoel nie. Maar gooi daardie korrel in die grond, waar dit vergaan, en kyk net- daar gebeur ‘n wonderwerk! Daar spruit lewe uit daardie korrel, en dit produseer soveel korrels, dat jy ‘n brood kan bak wat baie mense kos gee van die meel wat dit voortbring.

 

‘n Koringkorrel is ‘n stukkie eindelose potensiaal. Daar lê ’n krag in hom opgesluit – maar dis ‘n krag wat alleen na vore kom as die koringkorrel vergaan. Dis net as die korrel sterwe, wat hy lewe voortbring. Wat hy baie mense kan voed.

 

Julle verstaan mos dit, sê Jesus vir sy dissipels. Dan moet julle ook kan verstaan wat nou hierdie Paasnaweek gaan gebeur. Want dis waarvoor Ek gekom het. Ek het juis gekom vir hierdie uur. Wat in hierdie komende Paasnaweek wag die grootste konfrontasie wat die wêreld nog ooit geken het. Vir die eerste keer sedert die sondeval het die tyd gekom om die duisternis en die dood in sy spore te stuit, sodat dit weer lig kan word in God se wêreld en sy kinders weer in hoop kan lewe. Dit was al die pad God se plan, en dis waarvoor Hy My na die wêreld toe gestuur het, waarvoor Ek mens geword het, sê Jesus.

 

En dis al wat tel. Niks anders tel, as God se plan nie. Dit gaan om die eer en die wil van God... En sy wil is dat die mense wat Hy gemaak het, nie almal verlore moet gaan nie; dat hulle weer in ‘n wonderlike verhouding met Hom kan lewe, net soos in die begin. Dis die wil van God dat ons moet LEWE. En niks is so belangrik soos dit nie. Dit gaan alles net om die wil van God... Daarby is sy eer op die spel. God laat nie sy teëstaander triomfeer nie. Hy is God, en Jesus se verheerliking, se triomf, is Satan se doodsteek. Dis die begin van die einde vir hom en sy trawante.

 

  1. Die Koringkorrel en jy

En dan verander Jesus sy hele trant. Tot nou toe het Hy oor Homself gepraat. Hy is die koringkorrel wat op Goeie Vrydag moet sterf om reuse vrug te dra. Maar dan begin praat Jesus skielik oor jou. Jy kry twee soorte mense in die kerk, sê Hy. Twee soorte volgelinge. Aan die een kant kry jy dié wat die koringkorrel ten alle koste wil beskerm. Hulle sal enigiets doen om tog net nie die koringkorrel prys te gee nie. Maar dis omdat hulle nog nie God se wil verstaan nie. Want die lewe wat God gee, werk nie so nie. Ons reken as iets regtig vir jou belangrik is, moet jy dit so veilig moontlik met jou lewe bewaak. Maar in God se koninkryk werk dit andersom. In God se koninkryk moet jy prysgee om te kan wen. In God se koninkryk is dit juis die koringkorrel wat in die grond val en sterwe, wat lewe.

 

En dis presies wat die tweede soort volgeling doen. Hy het geleer om te laat gaan... en juis daarin lê vir ons die geheim van ware lewe. Want dis juis wanneer ons onsself weggee vir God, en sy wil vir ons belangriker raak as ons eie, wat die lewe vir ons begin blom, en wat ons regtig vrug begin dra. Jesus spel dit hier vir ons baie letterlik uit: Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.

 

Jy sien, God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur sodat Hy vir jou moet volg nie. God se wil is dat jy alles moet los en Hom volg. En die woordjie is alles.

 

Kyk vanoggend om jou. Alles is donker, selfs die dominee se klere. En ons harte is swaar binne-in ons omdat ons weet dat ons dit alles help veroorsaak het. Maar iewers diep binne-in ons weet ons ook dat die verhaal nie hier stop nie. Want die koringkorrel moes sterf, om lewe te kan bring. En ek en jy moet sterf, om regtig te kan begin lewe.

 

NAGMAALSFORMULIER

 

Die laaste aand wat Jesus voor sy kruisiging by sy dissipels was, het Hy die Nagmaal ingestel.  Hulle was besig om die Pasga te vier, toe Jesus skielik afwyk van die Jode se gebruik en vir hulle sê: “Dit is my liggaam. Dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Net so het Hy die beker wyn geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaraan dink, tot my gedagtenis.”

 

Dis ook hoekom ons die Nagmaal vier. Die tekens van die Nagmaal herinner ons daaraan dat Jesus aan die kruis vir ons gesterf het. Hulle herhinner ons hoe lief God ons het, en hoe wonderlik Hy ons verlos het, sodat ons sy kinders kan wees. Hierdie broodjies herhinner ons aan sy liggaam wat vir ons gebreek is, en die wyn aan sy bloed wat vir ons gestort is.

 

En so kom bind die nagmaal ons almal wat hierdie broodjies eet en die wyn drink saam. Dit maak ons broers en susters, God se een groot familie. Maar dit bind ons nie net aan mekaar nie; dit bind ons ook weer aan die Here. Sodat ons vir Hom kan gaan lewe.

 

Jy is welkom by die Nagmaal as jy glo in die Here. Al is jy nie volmaak, maar jy weet dat jy die Here nodig het.

 

In die Nagmaal vier ons dat God ons só lief het, dat Hy vir ons sy eie Seun gegee het, sodat Jesus aan die kruis vir al ons sonde betaal het. Dit help ons om nou met nuwe ywer vir Hom te gaan lewe.

 

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,

gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,

van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees en ‘n ewige lewe.

 

Gebed

 “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;

laat u koninkryk kom;

laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

Gee ons vandag ons daaglikse brood;

en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;

en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

Want aan U behoort die koninkryk en die krag, en die heerlikheid, tot in ewigheid

AMEN.

 

Instelling van die tekens

“Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van ons Here Jesus Christus. Neem dit, eet dit, dink daaraan en glo dat sy liggaam gebreek is tot ‘n volkome versoening vir al ons sondes.”

 

 “Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus. Neem dit, drink dit, dink daaraan en glo dat sy bloed gestort is tot ‘n volkome versoening vir al ons sondes.”

 

Die kers word uitgeblaas en almal verlaat in stilte die vertrek.