Rut.3:1-5; 4:13 - 17

Datum: 7 November 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Morkel

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Die lewende Here is elke dag van ons lewens met ons onderweg. Somtyds hou hierdie reis met die Here vir ons goeie tye in: gelukkige oomblikke, goeie uitkomste, sukses en voorspoed. Dan is dit maklik(er) vir ons om die teenwoordigheid van die Here in ons lewe raak te sien, makliker om te sê: die Here is goed! Makliker om van die goedheid van die Here te getuig. Somtyds hou hierdie reis met die Here vir ons minder goeie tye(slegte tye) in: teenspoed, terugslae, mislukkings, siekte en dood. Dan is dit vir ons moeiliker om die teenwoordigheid van die Here in ons lewens raak te sien. Dan vra ons: Waar is die Here dan nou? Is Hy nog met my, met ons?

 

Rut 3 en 4 help ons om in ons “onderweg wees met die Here” ons geloof te behou, help ons om te bly vashou aan die Here se teenwoordigheid, om te bly vashou aan die woorde van Hebr.13:5: “God self het gesê: Ek sal jou nooit verlaat nie nie, jou nooit in die steek laat nie.” Kom ons kyk na die optrede van die hooffigure in hierdie gedeelte. Naomi en haar man, Elimelek het as gevolg van hongersnood Juda verlaat en in Moab gaan bly. Hul twee seuns, Maglon en Kiljon, het met twee Moabitiese vrouens Rut en Orpa, getrou. Eers het Elimelek gesterf en daarna ook die twee seuns. Naomi sou moed kon verloor na al hierdie teenspoed, sy sou in sak en as kon gaan sit, sy sou die Here kon blameer en die Moabitiese gode begin aanhang. Maar wat doen sy? Naomi neem die geloofstap om terug te keer na Juda, sy neem ook sorg vir haar skoondogter, Rut wat saammet haar na Juda terugkeer. Sy het die geloof(smoed) om in v.3 vir Rut te sê: “smeer geurige olie aan en trek jou beste klere aan en gaan kruip by Boas se voete in”

 

Rut sou kon dink “hierdie Israeliete het net slegte geluk vir my gebring”, sy sou in Moab kon agterbly en vir haar ‘n Moabitiese man kry. Maar Rut kies om by haar skoonma te bly en haar te versorg, sy is bereid om in Boas se graanland are te gaan optel, sy het die geloof(smoed) om vir Boas in v.9 te sê “U is my losser, neem my onder u beskerming!”

Boas sou ewe-eens negatief kon optree, hy sou byvoorbeeld die Moabitiese vrou van sy graanlande kon verjaag, hy sou Rut kon wegstuur toe hy agterkom sy lê by sy voete. Maar nee, Boas gee sy werkers opdrag om meer are te laat val, hy gee vir Rut water en kos en stuur haar met 26 kg gars huis toe. Boas het die geloof(smoed) om die lossingsproses op die regte manier deur te voer en hy trou uiteindelik met Rut en sorg so dat Rut en Naomi versorg is. Wat ons moet raaksien, is dat hierdie drie nie gaan lê het nie, nie toegelaat het dat die omstandighede hulle onderkry nie. Nee, hulle het kop gehou, hulle het die geloof behou ongeag die omstandighede. Hulle het die regte ding gedoen het, hulle het geloof en geloofsmoed aan die dag gelê. Geloof is nie passief nie, geloof is nie om niks te doen nie - Gods water oor Gods akker te laat loop nie. Geloof is nie om hande gevou te sit en te verwag die Here sal dinge laat gebeur nie. Geloof handel, gaan oor tot aksie soos Naomi, Rut en Boas tot aksie oorgegaan het. Geloof gaan oor tot dade - geloofsdade!

 

Kom ons pas dit toe. Eerstens is hier ‘n boodskap vir ons ten opsigte van ons daaglikse onderweg-wees met die lewende Here. Dink vir ‘n oomblik hoe maklik ons geloof onaktief, passief word! Ons leef asof ons met ons belydenisaflegging arriveer het, die eindstreep van die geloof bereik het, ons plek in die hemel bespreek en beveilig is. Ons leef asof ons nie nodig het om enige verdere geloof te openbaar nie, geloofsdade te doen nie. Wie so dink, se geloof sal selde tot aksie oorgaan. Wie so dink se lewe sal selde getuig van geloofsvertroue op die Here se voorsiening, van daaglikse afhanklikheid van die Here, van ‘n lewe van “onderweg wees met die Here!”  In Naomi, Rut en Boas se lewens sien ons hoedat geloof gestalte kry(sigbaar word) in die gewone, die alledaagse. My geloof word sigbaar in hoe ek teenoor ander mense optree, in my gesindheid teenoor ander, in my omgee vir ander, in die moeite wat ek doen vir mense wat my lewenspad kruis. Geloof gaan oor in dade, geloof roep om aksie!

 

Ons teksgedeelte vertel ons van ‘n tyd waarin dit minder goed, swaar, gegaan het met Naomi en Rut. Ons gaan ook deur moeilike tye in ons lewens. Tye waar daar baie struikel-blokke en opdraendes op ons lewenspad is. Tye van krisis op krisis, terugslag op terugslag. Ons dink maar ook aan die Covid 19 pandemie en sy nagevolge. Sulke ervarings kan maak dat ons moedeloos word, handdoek wil ingooi, moed opgee, vrae begin vra oor God en God se teenwoordigheid by ons. Ook vir sulke omstandighede gee die optrede van Naomi, Rut en Boas vir ons leiding! Ons sien in moeilike omstandighede is die Here steeds daar vir jou. Ons sien die Here kan vertrou word in die alledaagse, die gewone, elke dag! Ons sien die waarheid van Hebr.13:5 is: “God self het gesê: Ek sal jou nooit verlaat nie nie, jou nooit in die steek laat nie.” Geloof is siende die Onsienlike!

 

Die belangrikste vraag is natuurlik wat ons van God uit hierdie gedeelte leer? Dit is opvallend dat die Here se naam selde in die gedeelte voorkom. Ons lees nie frases soos God het ingegryp, God het voorsien, God het uitkoms gegee nie. Tog het God. God is regdeur hierdie gebeure teenwoordig, werksaam, betrokke. Mens kan sê God is voortdurend agter die skerms aan die werk. God is onder die radar betrokke in wat hier afspeel, God het deur die alledaagse, die gewone voorsien, gesorg, beskik, gewerk. Dit is immers ten diepste die rede  -  die enigste rede  -  hoekom ons die Here kan vertrou en bly vertrou. Hoekom ons ook in moeilike tye, kan weet die lewende God is daar vir ons soos Hy daar was vir Naomi, vir Rut en vir Boas. Die Here is die getroue God. Die Here is die God wat gesê het: Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. Hy hou ons heeltyd vas! In werklikheid is ons in ‘n veel beter posisie as die O.T-gelowiges. Die kind wat die Here vir Boas en Rut gegee het, is Obed genoem. Obed was die voorvader van Dawid. En uit die nageslag van Dawid is Jesus Christus gebore. Ons (Ver)losser, Hy wat beloof het Hy is met ons tot aan die einde van die wêreld. Hy wat sy Gees vir ons gestuur het om by ons te wees!

 

Ons kinders moet van jongsaf by ons ouers hoor en sien ons as gesin leef elke dag in afhanklikheid van die Here. Die Here help ons, kom ons verder tegemoed. Hy het vir ons sy Woord gegee, Hy het vir ons sy Gees gegee. Maar Hy het ook vir ons die sakramente van die Nagmaal en die Doop gegee. Deur die Doop kom verseker die Here ons vanoggend weer: Ek is julle God en die God van julle kinders. Ek kom bevestig met die Doop vanoggend weer aan julle Ek sal onderweg met julle bly regdeur jul lewe. Ek kom skryf my Drie-enige naam deur die teken van die Doop op jul kinders se voorkoppe.

Amen