Johannes 3 : 16 – 21 en Johannes 13 : 34 en 35

Datum: 3 Augustus 2025 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

DIE HART VAN DIE EVANGELIE

Daar is drie elemente wat krities noodsaaklik is vir enige verhouding om te werk. Maak nie saak of dit die verhouding met jou pasmaat is of dalk die verhouding binne jou vriendekring of familie en binne gesinsverband nie.

Drie elemente is nodig en jy kan gerus vanoggend jou verhoudings daarvolgens bekyk en jouself afvra of daardie drie elemente teenwoordig is binne jou huwelik of tussen jou vriende en familie.

  • Die eerste element is liefde. Is liefde teenwoordig binne hierdie verhouding. Kyk ons met sagte oë na mekaar? Is jy oortuig daarvan dat liefde teenwoordig is?
  • Voel ek veilig binne hierdie verhouding?
  • Respekteer ons die grense waarbinne hierdie verhouding funksioneer?

Al drie hierdie elemente is onlosmaaklik deel van die Here se verhouding met ons, Sy kinders. Ons beleef Sy onmeetbare liefde teenoor ons.  Ons is veilig onder SY handpalms en daar is grense om ons te beskerm.

Vanoggend gaan ons stilstaan by liefde.

Die Bybel is 'n liefdesverhaal van begin tot einde – God se liefde vir die mensdom. Maar ons leen ons ore uit aan die wêreld. Hoeveel keer kan ons na dieselfde leuen luister voordat ons dit begin glo? Ons kyk in die spieël en begin twyfel. Here ons wil nie meer na die wêreld se leuens luister nie.

Ons is vanoggend hier saam om die WAARHEID te hoor. Die waarheid is dat ek my hemelse Vader se kind is. Die waarheid is dat ek Hom trots maak en dat hy oor my glimlag. Die waarheid is dat ek na die beeld van ’n perfekte Koning gemaak is (Genesis 1:27). Die waarheid is dat God na my kyk en niks aan my wil verander nie. Hy het my gemaak in SY hemelse fabriek. Die Waarheid is dat Hy my innig liefhet, selfs wanneer ek nie goed genoeg is volgens die wêreld nie. Ons behoort nie aan die leuens nie, ons behoort aan God.

En dit is die WAARHEID. Hy het ons innig lief. En Johannes 3:16 is die kern van hierdie liefdesverhaal: God se liefde is nie abstrak nie, maar prakties en opofferend. En dan hoor ons In Johannes 13 gee Jesus aan sy dissipels 'n nuwe opdrag – nie net om lief te hê nie, maar om lief te hê soos Hý liefhet.

  1. GOD SE LIEFDE: DIE BEGINPUNT
  • Onvoorwaardelike liefde: God het die wêreld liefgehad – nie net die goeie mense nie, maar almal. Hierdie liefde het nie gewag op 'n reaksie van ons kant af nie.
  • Opofferende liefde: God gee sy enigste Seun. Liefde wat nie gee nie, is nie ware liefde nie.
  • Reddingsdoel: Die doel van God se liefde is redding, nie veroordeling nie – sodat mense nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê.

Ons leef in ’n wêreld wat liefde meet in verdienste. Maar God se liefde is radikaal anders. Hy het ons eerste lief. Wanneer God se liefde grondvat in jou lewe en jy kies om volgens die waarheid te handel, begin jy in die Lig lewe. Die Waarheid is dan jou kompas. Dan begin verhoudings vir jou saak maak.

Sy liefde breek deur al jou mure sodat jy nie onaangeraak bly nie. God is liefde vir jou, is jou asemhaling. Jy behoort aan in lewe en in sterwe aan die Here. In hierdie wete is dit nie moeilik om Jesus liefde weg te gee nie.

JESUS SE OPDRAG: ’N NUWE STANDAARD VAN LIEFDE. ’N NUWE GEBOD – MAAR NIE 'N NUWE GEWOONTE OF IDEE NIE

Waarom noem Jesus dit “nuut”? Die opdrag om lief te hê was daar al in die Ou Testament.  Maar wat nuut is, is die maatstaf van daardie liefde: "Soos Ek julle liefgehad het..."

  • “Soos Ek julle liefgehad het”: Dit beteken selfopofferende, diensbare, vergifnisvolle liefde.

Hy het sy dissipels liefgehad ten spyte van hul swakhede – selfs Judas, wat Hom sou verraai. Hierdie liefde is nie bloot emosie nie; dit is ’n daad van wil, van keuse, van genade.

  • Getuienis aan die wêreld: Die wêreld sal weet ons is Sy dissipels nie deur kerklidmaatskap of kennis nie, maar deur hoe ons mekaar liefhet.

As die kerk nie bekend is vir liefde nie, het ons die kern van Jesus se opdrag gemis.

SLOT: LIEFDE WAT DIE SPIEËL IS VAN GOD SE HART

Ons is geroep om God se liefde nie net te ontvang nie, maar dit aan ander te wys – daardie liefde wat die wêreld verander, verhoudings genees en harte aan Christus verbind.

Vra jouself:

  • Hoe reflekteer my liefde God se liefde?
  • Is ek bereid om lief te hê soos Jesus?
  • Wat sou gebeur as elke gelowige werklik so liefhet?

AMEN