1 Kor. 12: 1-11
Datum: 27 Januarie 2019 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
Paulus begin vandag hier in 1 Korintiërs 12 sy gesprek by die grootste wonder denkbaar. Vergeet van die piramiedes en die hangende tuine van Babilon. Al sewe daardie goed is maar mensgemaak en dis hoekom net een van hulle nog bestaan. Vergeet van die Niagara watervalle en Tafelberg. Daardie natuurlike wonders kan wel jou asem wegslaan, maar hierdie wonderwerk is oneindig groter as dit.
Die grootste wonder denkbaar is dat God kies om binne-in ons te bly. Dis die een wonder wat vir ons te groot is om te bedink. Dat die almagtige God kies om binne-in die brose erdekruik wat Hy self uit stof te maak het, te kom woon, maak net geen sin nie. Dis klaar te groot om te verstaan. En dat Hy daarmee dan kies om deel van ons daaglikse bestaan te word sodat ons nooit weer aan onsself oorgelaat sal wees nie... Dalk sou ek dit kon verstaan as dit is omdat ons so oulik en toegewyd is. Maar dit was ons nog nooit nie. Dis alles net onverdiende genade...
Daardie dag voor Jesus hemel toe is, het Hy belowe Hy sal ons nie as weeskinders agterlaat nie. Hy gaan die Heilige Gees stuur, en op Pinksterdag het dit gebeur. Die Gees is oor ons as gelowiges uitgestort soos ‘n reënbui. Ons is deurdrenk deur die teenwooordigheid van God! Jesus het ons inderdaad nie alleen gelaat nie, want na Pinkster lewe die Gees in elke gelowige – die grootste wonder denkbaar!
- Hoe kan ek seker wees die Heilige Gees woon in my?
Maar dalk wonder jy vanoggend of dit van jou ook waar is. Dalk het jy ook iewers ander kerke hoor sê dat jy darem sekere tekens moet sien, en bo-natuurlike ervarings moet hê, voordat jy seker kan wees dat die Gees in jou woon. Maar kom ons leen nie vanoggend ons ore uit nie. Kom ons vra eerder vir Paulus: in wie woon die Heilige Gees nou eintlik? As jy dit vir Paulus vra, is sy antwoord eenvoudig: Die Heilige Gees woon in daardie persoon wat kan sê: "Jesus is die Here". Dis so eenvoudig. Want jy kan dít net sê as die Gees dit vir jou moontlik maak. En nooit anders nie. As iemand kan sê: “Jesus is die Here!” kan jy vir seker weet dat die Gees in hom bly. Dís die toets. As jy wonder of die Heilige Gees regtig in jóú bly, vra jouself of jy regtig kan sê: "Jesus is die Here!"?
Natuurlik bedoel die Bybel nie sommer leë woorde nie. Dat jy dit sommer so ligtelik moet sê nie. Nee, dis wanneer hierdie woorde jou belydenis is, en jy kan sê: "Jesus is die Here", en dis die waarheid. Jesus IS Here en Koning van jou hart, Hy is in beheer van jou hele lewe en jy behoort totaal en al aan Hom - dán kan jy maar weet: dis net die werk van die Heilige Gees. As jy regtig kan sê: Jesus is die Here!” woon die Gees in jou.
Maar voor ons verder gaan, kom ons verstom ons eers bietjie daaraan. Dink na oor die onuitspreeklike wonder daarvan. Want hierdie Heilige Gees wat in jou woon, is niemand anders as God self nie. Dis God self wat deur sy Gees binne-in ons mense kom woon. Dis God self wat binne-in jou woon...
- Die inwoning van die Gees het sekere implikasies
Dis seker net vanselfsprekend dat iets só ongelóóflik ingrypends jou lewe sal verander. Ek meen, jy kan tog nie dink God kan in jou kom woon, en jou lewe sal maar net so aangaan soos altyd nie. Dat jy maar rustig kan voortleef net soos al die jare wat die ou mens jou lewe beheer het nie. Dit is tog totaal ondenkbaar. Dis tog onmoontlik dat iemand wat deur God regeer word, en iemand wat deur Satan regeer word, dieselfde sal lyk!
Daarom gáán jou lewe anders wees as die Gees van God in jou woon. Ewe skielik sal jy agterkom dat dit vir jou moontlik raak om aan sy Woord gehoorsaam te wees, en tot sy eer te lewe. Wanneer die Here binne-in jou woon, gaan jy anders na sy ander kinders begin kyk. Jy gaan regtig deel van sy gemeente raak, sê Korintiërs 12. Jy sal nie langer op die rand van die kerk kan bly staan en so min as moontlik betrokke probeer wees nie. As Jesus jou Here is; as die Gees jou lewe beheer, maak Hy jou deel van sy gemeente, waar jy jou volle gewig sal moet ingooi.
En ons doen dit, as ons mekaar daar begin dien. Dis waarvoor ons hier is, deel van Kuilsrivier- De Eike is: ons is hier om mekaar te dien. Nie een van ons is belangrik nie. Nie een van ons is hier om gedien te word nie. Ons is hier om te géé, nie om te ontvang nie. Eers as jy dít verstaan, begin jy verstaan wat dit is om deel van die kerk van Jesus te wees. Jy is net hier om God en almal hier rondom jou te dien.
En om jou te help om dit so effektief moontlik te doen, het God vir ons geskenke uitgedeel. Vir elkeen van ons. Want dis mos wat hier in vers 7 staan: "Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal."
Hier staan dat God verskillende gawes uitgedeel het, maar ook dat Hy dit aan elkeen gegee het. Hy het geen enkele kind van Hom oorgeslaan nie. Het jy dit gehoor? God het ook nie vir jóú oorgeslaan nie. Ook aan jou het God minstens een gawe gegee om in sy gemeente te gebruik. Miskien het jy geen idee wát nie - maar dit vat dit nie weg nie. En al het jy hierdie geskenk nog nooit toegeien en benut nie, verander ook niks daaraan nie. God het vir jóú 'n gawe gegee soos Hy wou. Hy, wat jou beter ken as enigiemand anders, wat jou gemaak het, het vir jou presies die regte gawe gegee.
En dis nie al nie. Want weet jy, Hy het hierdie unieke, geestelike gawe met 'n baie spesifieke doel vir jou gegee: Hy het dit ter wille van sy gemeente vir jou gegee. Sodat jy dit in sy gemeente sou terugploeg. Dit was God se plan. So het Hy in sy alwysheid vir sy gemeente voorsien in alles wat dit nodig sal hê. Hy het dit vir sy kinders gegee. Vir óns!
Natuurlik hoef jy jou gawes nie net in die kerk te benut nie. Jy kan dit op baie ander maniere ook benut. As jou gawe is om te onderrig, kan jy dalk 'n goeie onderwyser of dosent ook wees. As jou gawe is om te bemoedig, is jy dalk 'n sielkundige, of as dit is om te organiseer, het jy dalk 'n wonderlike bestuurspos iewers. En so kan ons aangaan. En dis nie verkeerd nie - jy mag dit maar so gebruik! Maar as jy dit nie iewers in die gemeente inploeg nie, het jy hierdie gawe gekaap. Dan beroof jy God se gemeente van 'n gawe waarmee dit gedien behoort te word.
Ek weet nie waar die idee vandaan gekom het dat 'n mens aan die Here kan behoort, en dan maar net 'n passasier in die kerk kan wees, wat daar gedien moet word nie. Ek lees niks hiervan in Korintiërs 12 nie. God het vir jou ‘n gawe gegee sodat dit by sy gemeente kan uitkom. Nie net ter wille van jouself, om dit daar buite te benut, maar nooit hier nie.
Die Nagmaalsformulier herinner ons vanoggend dat God ons nie net deur hierdie tekens opnuut aan Hom bind nie, maar ook dat Hy ons hierdeur opnuut aan mekaar verbind. Van ons een groot familie maak. Sodat ons by mekaar betrokke kan raak; mekaar kan begin dien.
- Gaan 2019 anders wees?
Ons het 2019 begin met die woorde van Sagaria 4: Maak net ‘n begin. Al is dit net ‘n klein dingetjie. God sal groot, verrassende goed daarmee maak in sy gemeente. Maar om deel daarvan te raak, sal jy jou gawes moet begin teruggee. Op die een of ander manier, iewers in hierdie groot gemeente, betrokke moet begin raak en begin teruggee. Hou op vir my vertel jy weet nie waar nie. Want dit sou beteken dat die Gees in jou nie vir jou wil wys nie, en dis tog onsin. Maar dalk is die eerste stap om uit te vind wat die gawe is wat God vir jou gegee het. En dis nie so moeilik soos wat dit klink nie. Want gelukkig ken jy mos die Een wat die gawe gegee het baie goed. Jy hoef Hom ook nie ver te gaan soek nie - Hy bly dan binne-in jou. Vra Hom net. En luister dan met wa-wyd oop ore.
En kyk bietjie eerlik na jouself. Ek is seker jy weet klaar watter gawes en talente die Here vir jou gegee het. Jy weet mos of jy baie lief is vir kindertjies, maar nie met ouer mense kan werk nie, en of jy glad nie baie goed met mense is nie, maar uitstekend met syfers kan werk. En of jy dalk iemand is met visie vir die gemeente, of iemand wat op die een of ander praktiese terrein kan help. Jy ken mos jouself! Vra nou net die Gees om jou te wys waar jy, met jou unieke gawes en jou unieke vaardighede en geaardheid, jou deel kan begin doen.
Elke dag wat jy wag, is ‘n dag wat jy nie beantwoord aan die doel waarmee God jou hier geplaas het nie. Moet dan nie wag nie. Vir niks nie. God hét vir jou 'n geskenk gegee. Begin dit gebruik vir die doel waarvoor die Here dit gegee het. Ploeg dit terug in sy gemeente.
AMEN
NAGMAALSFORMULIER
Die laaste aand wat Jesus voor sy kruisiging by sy dissipels was, het Hy die Nagmaal ingestel. Hulle was besig om die Pasga te vier, wat hulle moes herinner hoe wonderlik God sy kinders uit Egipte verlos het. Maar Jesus toe al geweet dat Hy die volgende dag gekruisig sou word. Daarom het Hy die Nagmaal ingestel. Toe Hy die brood neem en uitdeel, het Hy afgewyk van die Jode se gebruik, en gesê: “Dit is my liggaam. Dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Net so het Hy die beker wyn geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaraan dink, tot my gedagtenis.”
Dis ook hoekom ons vanoggend die Nagmaal vier. Dis omdat óns van geboorte af slawe van die sonde was. Ons sou almal hel toe gaan, maar God was te lief vir ons om dit toe te laat. Daarom het Hy Iemand anders vir ons sonde laat betaal. Daardie Iemand was sy eie Seun, Jesus Christus.
As ons die Nagmaal geniet, onthou ons dan dat Jesus aan die kruis vir ons gesterf het, sodat ons vry kan wees en kan lewe, en eendag hemel toe kan gaan. Dis waaraan hierdie tekens ons herinner. Dit herhinner ons daaraan, hoe lief God ons het, en hoe wonderlik Hy ons verlos het, sodat ons sy kinders kan wees. Hierdie broodjies herhinner ons aan sy liggaam wat vir ons gebreek is, en die wyn aan sy bloed wat vir ons gestort is.
Maar dis nie al wat gebeur as ons die Nagmaal vier nie. Daar gebeur ook iets anders, as ons dit so saam geniet. Daar gebeur ‘n wonderwerk. Omdat ons almal dieselfde broodjies eet en van dieselfde sap drink, bind die Nagmaal ons saam. Hier aan die tafel van die Here word ons broers en susters, deel van God se groot gesin. Die Nagmaal maak van ons een groot familie.
Maar die Nagmaal bind ons nie net aan mekaar nie; dit bind ons ook weer aan die Here. Dit help ons om vir Hom te lewe, sodat Hy ons Koning kan wees. Verder maak dit ook ons geloof sterk, sodat ons meer tot sy eer sal lewe.
Daarby herinner dit ons daaraan dat Hy weer kom. Eendag gaan ons in die hemel weer so aansit, as Jesus weer gekom het, en almal saam fees vier. Natuurlik weet ons nie wanneer dit gaan wees nie, maar ons weet dit kan enige oomblik wees, en daarom moet ons reg wees as Hy weer kom.
Die Nagmaal is bedoel vir hulle wat glo in die Here. Wat weet dat hulle nie volmaak is nie, maar juis die Here nodig het. Net mense wie se Koning Jesus regtig is, mag aan die tafel aansit.
In die Nagmaal vier ons dat God ons só lief het, dat Hy vir ons sy eie Seun gegee het, sodat Jesus aan die kruis vir al ons sonde betaal het. Dit help ons om nou met nuwe ywer vir Hom te gaan lewe.
Instelling van die tekens
“Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van ons Here Jesus Christus. Neem dit, eet dit, dink daaraan en glo dat sy liggaam gebreek is tot ‘n volkome versoening vir al ons sondes.”
“Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus. Neem dit, drink dit, dink daaraan en glo dat sy bloed gestort is tot ‘n volkome versoening vir al ons sondes.”
Danksegging
“Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Daar staan immers geskrywe:
“Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.”
Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.