Matteus 5:1–12

Datum: 13 Julie 2025 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Janse van Rensburg

“Vir ‘n Video van die preek kliek hier om dit te kyk”

Vriende ons het verlede week met ‘n mini reeks begin oor die Koninkryk van God. Ons is op die oomblik in die kerk jaar in Koninkryks tyd. Die langste seisoen in die Kerkjaar. Dit is juis in die tyd wat die fokus draai na wat dit beteken om volgelinge van Jesus te wees. Ons het verlede week stil gestaan by die tema Die Koning regeer nou. Die Onse Vader het ons gehelp om te besef dat ons die Koning van die heelal dien. Maar ons moet ons nie misgis nie. Ons Koning is nie ver weg nie en sy Koninkryk is nie vir eendag nie. Hy is by elkeen een van ons se lewens persoonlik betrokke en Sy koninkryk is nou hier.

 

Wanneer Jesus ons leer bid “Laat U Koninkryk kom”, is dit nie ’n neutrale gebed nie – dit is ’n transformerende uitnodiging. Jy bid nie net: “Here, doen iets in die wêreld” nie, jy bid ook: “Here, begin by my.” Hierdie gebed vra ’n oop hart. Dit is ’n manier om te erken dat ons eie wil nie altyd saamstem met God s’n nie, en dat ons bereid is om ons harte en lewens aan Hom te onderwerp. Dis ’n lewenswyse. Dis ’n daaglikse oorgawe. Dis ’n innerlike besluit om nie net te glo in Jesus nie, maar Hom te volg as Koning. Wanneer jy bid: “Laat u koninkryk kom,” vra jy vir die Here om jou ’n aktiewe deelnemer te maak in die vestiging van sy heerskappy in jou wêreld.

 

Vanoggend gaan ons kyk na hoe lyk mense wat in God se koninkryk leef. Hoe is hulle veronderstel om te leef? In Jesus se oë is hulle anders as die res van die mensdom. Kom ons lees Matteus 5:1–12

 

As iemand jou vra: “Wat maak ’n mens geseënd?” – wat sal jy antwoord? Dalk dink jy aan sukses, goeie gesondheid, ’n veilige huis, kinders wat floreer, of ’n goeie pensioen. Dis wat die wêreld dikwels vir ons sê: Jy is geseënd as jy bo uitkom, as dinge goed gaan, as jy vooruit boer.

 

Maar dan kom Jesus, en Hy keer alles om. In Matteus 5, aan die begin van sy eerste groot preek, begin Hy met ’n radikale verklaring met nege seënbede: “Geseënd is die afhanklikes... geseënd is dié wat treur... geseënd is die sagmoediges...” Hy beskryf ’n totaal ander soort mens – mense wat nie noodwendig in beheer is nie, maar wat afhanklik is van God. Mense wat anders dink en anders leef. Dan sê Hy dit is die mense van God se Koninkryk.

 

 

In ’n wêreld wat sukses, mag, selfvertroue en onafhanklikheid prys, klink Jesus se woorde soos ’n vreemd taal.  Jesus sê geseënd is:

 

Die afhanklikes – nie die selfversekerdes nie

 

Die wat treur – nie die oppervlakkig gelukkiges nie

 

Die sagmoediges – nie die aggressiewe en luidrugtiges nie

 

Die wat honger en dors na geregtigheid – nie die wat alles reeds het nie

 

Die barmhartiges – nie die harde en veroordelendes nie

 

Die rein van hart – nie die skynheiliges nie

 

Die vredemakers – nie die konflikstokers nie

 

Die vervolgdes ter wille van geregtigheid – nie die suksesvolstes nie

 

Dit is die omgekeerde van alles wat die wêreld sê belangrik is. Hierdie mense is nie aan die bokant van die sosiale leer nie. Hulle is die nederiges, die kwesbares, die stilles in ’n lawaaierige wêreld. En tog sê Jesus: “Hulle is die mense van die Koninkryk.” Dit daag die kultuur van sy tyd én ons tyd uit.

 

Ek dink dit is ook baie belangrik dat ons vir mekaar die volgende sê: Jesus begin sy bergrede nie met ’n lys opdragte nie, maar met ’n beskrywing van die mense wat reeds aan God behoort – nie op grond van hul prestasie nie, maar hul afhanklikheid. Hierdie "saligsprekinge" is nie net ’n etiese ideaal nie, maar ’n teologiese portret van die mense wat alreeds die nuwe lewe in God se Koninkryk begin leef het.  Hy sê dit is hulle wat geseënd is - wat in God se guns leef, en deel het aan sy Koninkryk.

 

In Matteus 4:17 kondig Jesus aan: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Met ander woorde: die koninkryk is reeds besig om deur te breek in die wêreld deur Jesus se teenwoordigheid – maar dit is ook nog nie volledig nie. Dit is die kreatiewe spanning van die Koninkryk: die “alreeds” en die “nog nie”.

 

In hierdie konteks kom die saligsprekinge as ’n soort manifesto: hier is hoe die mense van daardie nuwe wêreld lyk. Hulle leef nou al volgens die waardes van die wêreld wat kom – en daarom is hulle geseënd. Nie omdat hulle alles reg het nie, maar omdat God hulle genadig is en deur sy teenwoordigheid in hul swakheid werk.

Vriende hier het ons te doen met ’n ander soort seën.

Die Griekse woord wat hier vir “geseënd” gebruik word, is makarios – dit beteken diep vreugde, volheid van lewe, innerlike geluk. Maar dit is nie gebaseer op omstandighede nie. Dis nie die seën van gemak of voorspoed nie, maar die seën van God se teenwoordigheid en guns, selfs te midde van moeilike omstandighede.

 

Jesus sê nie: “Geseënd is dié wat alles reg kry” of “alles agter mekaar het” nie. Hy sê: “Geseënd is dié wat nederig is, wat afhanklik van God is, wat vrede maak, wat reg laat geskied, selfs al kos dit hulle.” Dis ’n koninkryk wat van binne af werk – waar die hart belangriker is as status. Waar karakter meer tel as sukses.

 

Dit bring ons by die vraag: Wie is die regte burgers van God se Koninkryk? Hoe lyk hulle? As ons na die Saligsprekinge kyk, sien ons ’n duidelike patroon. Die mense van die Koninkryk word nie geken aan hul besittings of hul krag nie, maar aan hul karakter.

 

Die mense van die Koninkryk is anders. Elke saligspreek begin met ’n verrassende kombinasie: mense wat gewoonlik nie as “geseënd” sou beskryf nie, word hier geprys. Dis mense wat klein voel, mense wat ly, mense wat vredemakers is. Mense wat nie die wêreld se maniere volg nie.

 

“Afhanklikes” – mense wat weet hulle het God nodig.

 

“Treurendes” – mense wat eerlik is oor verlies en gebrokenheid.

 

“Sagmoediges” – mense wat nie geweld kies nie, maar sag en ferm optree.

 

“Hongeres na geregtigheid” – mense wat uitsien na reg en regverdigheid, selfs as dit teen hul eie belang indruis.

 

Dis nie maklik om so te leef nie – maar dis vrugbaar. Die mense van die Koninkryk is mense wat deur God se Gees gevorm word. Hulle dra lig, nie omdat hulle perfek is nie, maar omdat hulle afhanklik is van God.

 

Die mense van die Koninkryk is nie superheiliges nie – hulle is gewondes wat genade ontvang het. Hulle leef in teenstelling met die wêreld se waardes, want hulle hoop is in ’n ander Koning gevestig. In die gedeelte direk na hierdie een Matteus 5:13-16 sê Jesus koninkryksmense is die "sout van die aarde" en "lig vir die wêreld". Daardeur probeer Hy wys hoe koninkryksmense ’n transformerende teenwoordigheid in die wêreld is. Maar hierdie sout en lig vloei nie uit hulle eie krag nie – dit vloei uit die feit dat Christus in hulle werk.

 

In 2 Korintiërs 12:9 sê Paulus: “My genade is vir jou genoeg, want my krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Dié wat hul eie krag oorgee en op God staatmaak, begin om werklik sterk en geseënd te wees – want hulle is oop vir die werk van die Gees.

 

Dis belangrik om te sien: hierdie seën beteken nie jy sal nie swaarkry nie. Inteendeel, die laaste saligspreking sê: “Geseënd is dié wat vervolg word.” Om in die Koninkryk te leef beteken jy gaan soms bots met die wêreld. Maar jy dra in jou die vrede en die vreugde van God self – en dít is ware seën.

 

Jesus sê daar is ‘n koste aan anders wees.  Om anders te wees, is nie opsioneel vir die mense van die Koninkryk nie. Dis hul identiteit. Hulle behoort aan ’n ander Koning – een wat ’n kroon van dorings gedra het voordat Hy weer met heerlikheid gekroon is.

 

Vriende, hierdie woorde is nie net ’n ideaal vir “geestelike reuses” nie. Dis ’n roeping aan elkeen wat onder die heerskappy van Jesus wil leef. En die goeie nuus is – jy hoef dit nie op jou eie reg te kry nie. Die Gees van God werk in jou om jou meer en meer te vorm na hierdie karakter.

 

Die koninkryk begin hier, in jou hart

Jesus het nie met wette en bevele begin nie – Hy het met mense begin. Met karakter. Met ’n nuwe manier van leef en dink. Die mense van die Koninkryk lyk anders – nie omdat hulle probeer goed wees nie, maar omdat hulle oorgegee het aan ’n goeie Koning.

 

Vriende die gedeelte nooi ons uit: Word wat jy reeds is. Die saligsprekinge is nie ’n program vir selfverbetering nie. Dis nie ’n “to-do list” nie. Dis ’n beskrywing van ’n nuwe menswees – en ’n uitnodiging om daarin in te groei. Die goeie nuus is: jy hoef nie so te wees om aanvaar te word nie; jy is aanvaar, en daarom word jy so. Deur die genade van God en die werk van die Heilige Gees, word jy al hoe meer gevorm na hierdie beeld: ’n koninkryksmens, andersdenkend, diep geseënd.

Vriende, mense van die Koninkryk is soos sout en lig. Hulle gee smaak, en hulle bring lig — nie deur mag nie, maar deur ’n lewe van karakter wat getuig van God se teenwoordigheid.

 

Jou kring en leefwêreld het nie nog mense nodig wat net soos almal is nie. Dit het mense nodig wat anders dink. Anders leef. Koninkryksmense. Mense soos jy.

 

Mag jy, in ’n wêreld wat raserig is, een wees wat stil genoeg is om God te hoor.

In ’n wêreld van selfbevordering, een wees wat sagmoedig dien.

In ’n wêreld vol onreg, een wees wat honger en dors na geregtigheid.

In ’n wêreld van verdeeldheid, een wees wat vrede maak.

In ’n wêreld vol vrees, een wees wat dapper liefhet.

 

Want jy is geseënd – nie omdat die wêreld jou prys nie, maar omdat God jou Koning is.