Joh. 15:5

Datum: 1 Januarie 2023 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

Daar is seker nie iemand in De Eike wat nie die teks ken wat ons vanoggend gelees het nie. Want hoeveel preke het jy nie al daaroor gehoor nie? En selfs dit is nog nie al nie. Die feit is dat Johannes 15 net vir ons só bekend klink, want dis mos ons wêreld waarvan die Bybel hier praat. Die wêreld van wingerde en druiwe. Kyk net om jou – alles herinner jou daaraan, veral dié tyd van die jaar. Maar dan is daar natuurlik nog iets. Dis natuurlik die teksvers waarop ons gemeente se missie gebaseer is – en as dit jou dalk bietjie ontgaan het, is die eerste Sondag van die Nuwe Jaar ‘n uitstekende geleentheid om jou weer ‘n slag daaraan te herinner.

 

Ons gemeente se missie klink so:

 

“As Wingerd van God bely ons:

                              - God het ons geplant

                             - God versorg ons

                             - Ons is in alles van Hom afhanklik

                    en onderneem ons om vrug te dra deur:

                             - in Hom te bly en te groei

                             - vir mekaar te sorg

                              - en in ons omgewing en verder hulp en hoop te bring.”

 

Maar nou wonder jy dalk watter verskil so ‘n missie nou regtig in ‘n gemeente maak? Hoekom sou ‘n gemeente ‘n missie wou hê? Ek moet erken, ek het self nogal aanvanklik daaroor gewonder. Na alles het ons mos die Bybel. Is dit dan nie genoeg nie? Het ons regtig in die gemeente ‘n missie nodig? Maar mettertyd het ek tog al beter verstaan. Dis is belangrik, dat ons vir mekaar kan sê wie ons is en hoekom ons hier is. Waaroor gaan dit nou eintlik in De Eike? ‘n Belangrike vraag, want wat ons hierop antwoord, gaan bepaal wat ons doen – ook in hierdie nuwe jaar gaan doen, en hoe ons dit gaan benader!

 

En toe begin ek verstaan: hierdie missie is nie maar net woorde op papier, of dalk iewers teen ‘n muur nie. Hierdie is ‘n belydenis. ‘n Verklaring van wie ons is. Hierdie missie identifiseer ons, bind ons saam. Dis wie ons is, en as ons as gemeente onsself daarmee te vereenselwig, verbind De Eike hom om dit nie net te glo nie, maar dit inderdaad ook te wéés. Dis wie ons is en wie ons wil wees. En dis hoe ons lewe. As enigiemand ons sou vra: wie is ons nou eintlik? is dít in ‘n neutedop ons antwoord: Ons is die wingerd van God wat Hy in hierdie deel van Kuilsrivier geplant het en versorg. Ons is afhanklik van Hom en die kern van ons lewe, die heel belangrikste ding van alles, is om vir Hom vrug te dra.

Maar “Papier is geduldig”, het die ou mense altyd gesê. Net bloot deur die perfekte missie op papier te hê, maak nog nie van ons die gemeente wat die Here wil hê ons moet wees nie...

 

  1. Die Nuwe jaar gee ons die kans om terug te kyk...

Daarom moet ons op die eerste dag van hierdie nuwe jaar net nog een keer weer terugkyk oor 2022. Amper soos hulle op die TV met die sport doen. Vandag is die dag waarop ons die hoogtepunte en die laagtepunte van 2022 weer ‘n slag kan besoek. En nou is daar natuurlik baie fasette van die afgelope jaar waaroor jy sou kon besin. Oor jou werk, byvoorbeeld. Het jy gevorder in jou beroep en hoe het dit gegaan met jou besigheid? Jy kan nadink oor jou gesondheid, en die minder aangename verrassings wat jy dalk in 2022 beleef het. Dit sou ook baie goed wees as jy by hierdie geleentheid ook weer ‘n slag ook jou verhoudings in oënskou neem, en besin oor jou huwelik en jou verhouding met jou kinders en jou vriende.

 

Dalk is jy maar bly dat ek nie vandag soos die Sportkanaal op die TV ‘n video-opname kan speel om jou aan al jou blapse in 2022 te herinner nie. ‘n Mens se lewe werk mos heel anders. Jy het nie jou lewe op video nie. Dit maak dit nogal baie moeilik om 2022 objektief te evalueer. Veral ook omdat ons mense mos meesters is om te rasionaliseer en verskonings uit te dink. Daarby is dit harde werk om oor 2022 terug te dink, en ons het nie eintlik vandag daarvoor krag nie. En so is die kans skraal dat jy regtig ‘n duidelike prentjie van jouself in 2022 sal kry. Daarom nooi ek jou om eerder vandag net stil te word en die Here te vra, om vanoggend my geestesoë oop te maak en my ‘n ware beeld van my lewe in 2022 te gee.

 

Maar ek doen dit met huiwering. Want ek weet goed ek gaan nie hou van alles wat ek sien nie. Ek weet sommer by voorbaat daar is baie wat ek moet bely oor 2022, waarvoor ek vergiffenis moet vra. En ek weet ons kan aan 2022 niks meer verander nie. Dis verby. Die geleenthede wat God in 2022 oor jou pad gebring het, is onherroepelik verby. Al die kanse om jou ware kleure as Christen te wys, die kanse om iets vir iemand anders as jouself te beteken, om te wys dat jy dankbaar is dat jy aan God mag behoort – daardie kanse is alles verby. Soos sand tussen ons vingers.

 

2022 sal nooit weer wees nie. En net jy weet, of dit ‘n jaar was wat jy regtig naby aan die Here gebly het, en geestelik gegroei het. Net jy weet of jy lig gebring het in jou omgewing, deur die vrug wat jy gedra het, deur anders te wees in ons donker wêreld? Wat sou getuies vanoggend kon vertel, het hulle ooit die afgelope jaar die Here in ons lewe gesien?

 

En so bring hierdie oefening ons op ons knieë in belydenis. En as daar een ding is wat vir my glashelder daaruit blyk, is dat ek nie die nuwe jaar alleen kan probeer ingaan nie. En ek regtig dit wil lewe wat ek bely, wat ek glo ek in Jesus is, dan het ek die Here baie nodig in 2023. Ek gaan dit vir seker nie op my eie regkry nie. Een ding is baie seker: Ek het die Here eindeloos nodig in 2023...

 

  1. Maar eintlik moet ons nie vanoggend net terugkyk nie.

Maar kom ons vergeet nou eers bietjie vir 2022. Vandag is dit 2023. En ek glo regtig nie dat die Here wil hê ons moet vassteek by gister en by verlede jaar nie. Dis definitief ook nie wat Johannes 15 vandag vir ons wil sê nie. Nee, vandag roep die Here jou op om jou kop op te tel en vorentoe te kyk. En dis hoekom ek nou eers weer vir jou wil herinner aan hierdie een vers van Johannes 17. Vers 5, waar Jesus sê: “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.”  Het jy dit gehoor? Jesus sê nie hier: Sonder My gaan jy sukkel om in 2023 goeie vrug te dra nie.

 

Nee! Hier staan: “’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie...” En dis die geheim wat die nuwe jaar oopsluit. Sonder My. sê Jesus, kan julle géén vrug dra nie. GEEN vrug nie. Natuurlik kan ons baie verskillende goed in 2023 doen. Maar dis net as ons lewe deur die Gees beheer word, dat ons sal kan doen wat God van ons vra. Sonder Hom gaan die lewe van dankbaarheid, waartoe die Here jou roep vir jou totaal onmoontlik wees. Sonder Hom sal ons selfgerigte, selfsugtige mense bly, wat ons gedaan skarrel en tog ‘n nul op ‘n kontrak is vir die koninkryk. Sonder Hom kan julle niks doen nie. Julle sal terugkyk aan die einde van 2023 met die frustrasie dat nog ‘n jaar deur jou vingers geglip het. Nog ‘n jaar gemors is...

 

Maar nou wil Johannes 15 jou nie vanoggend moedeloos maak nie. Dit wil juis vir jou vergesigte oopmaak, vir jou vlerke gee. Want Johannes 15 kom verseker jou dat jy wel vrug kan dra in 2023. Méér as dit: dat jy soos vers 5 sê, baie vrug kan dra. Maar daarvoor sal daar iets moet gebeur in ons lewe.  En die antwoord is nie om meer van jouself vir die Here te gee nie, maar om jouself ongekwalifiseerd en totaal in sy hande te gee. Om afstand te doen van jouself en jou eie drome en planne vir 2023, en eerste van alles te kies vir koninkryk.

 

Natuurlik is dit radikaal. ‘n Geweldige waagstuk. Ek vermoed geen loot sou sy eie stok en wortelstelsel wou opgee om op die wingerd geënt te word nie. Maar ons weet dis al hoe hy vrug kan dra. Net so is daar ook net één manier waarop jy vanjaar vrug sal kan dra: dis as jy in Hom is, en Hy in jou. Dis al manier...

 

Dis die tyd van nuwejaarsvoornemens. Elke jaar besluit ons wat ons vanjaar gaan doen. Ons gaan minder eet en ophou rook. Ons gaan baie matig drink, en aangename mense wees om mee getroud te wees. Ons gaan betrokke raak en ‘n verskil maak. Alles wonderlike goed. En teen volgende week hierdie tyd alles water onder deur die brug. So vanjaar gaan ek nie ‘n lang lys maak van goed wat ek wil ophou doen nie. Dit werk duidelik in elk geval glad nie.

 

Vanjaar gaan ek net één ding doen. Ek gaan myself in die Here se hand gee, sodat Hy deur sy Gees al hierdie ander goed in my lewe kan doen. Want net so min soos ek dit kan regkry, net so vir seker kán Hy! Ek gaan die nuwe jaar op my knieë begin en op my knieë bly. ‘n Loot wat totaal ingeënt is op die stam. ‘n Loot wat in 2023 baie vrug dra...                                                                                        AMEN