Lukas 16: 1-13

Datum: 22 September 2019

Prediker: Hannes Burger

Elke gemeente weet later presies watter deel van die Bybel hulle dominee die meeste aanspreek. Die een dominee is in sy element as hy oor die Psalms kan preek, en die ander een gaan draai baie graag by Jesaja Of Romeine. Van myself het Johan baie jare gelede al gesê dat elke teks uit die Bybel waaruit ek preek, my gunsteling is. Daar is nou maar eenmaal net te veel teksgedeeltes uit die Bybel wat my opgewonde maak - ek sou regtig sukkel om vanoggend een te kies wat my die heel naaste aan die hart lê.

 

Maar aan die ander kant is dit ook baie waar dat dit julle seker ook al teen hierdie tyd geen geheim is, dat ek ‘n baie besonder sagte plekkie vir Jesus gelykenisse het nie. Dis nou al twintig jaar gelede wat ek eenkeer ‘n boek daaroor geskryf het, en daardie selfde jaar het ek die Pinksterreeks daaroor gewy. Nie dat ek van julle sou verwag om dit nog te onthou nie – maar dit wys darem net hoe mal ek is oor Jesus se gelykenisse.

 

Daarom staan ons in De Eike baie gereeld stil by een van Jesus se gelykenisse. En elke keer bly dit vir my wonderlik om te sien hoe Jesus die eenvoudigste, mees alledaagse beelde gebruik om die diepsinnigste waarhede van die koninkryk aan ons oor te dra. Selfs vandag nog, twintig eeue later, kan ons meeste van Jesus se beelde baie maklik verstaan. Ons ken van slagoffers wat langs die pad vir dood agtergelaat word, en selfs ons stadsjapies ken van skape wat wegdwaal en gesoek moet word. En van kosbare goed wat wegraak sodat jy die hele huis moet omkeer om dit te vind. Ons verstaan ook almal van kinders wat sê hulle sal help en dit dan net glad nie doen nie. Dis alledaagse, gewone goed wat ons kan verstaan.

 

Maar daar is tog één gelykenis waarmee ons regtig sukkel. Ons lees dit, en ons kry dit nie regtig klein nie. Want as ons heir lees, klink dit dan vir ons so half asof Jesus hier korrupsie goedpraat. Asof Hy die oneerlike bestuuder aanprys vir sy oneerlikheid. En daarmee sukkel ons. Veral vir ons as Suid-Afrikaners is dit eenvoudig onverstaanbaar...

 

  1. Jesus praat nie korrupsie goed nie.

So miskien moet ons begin deur net kategories te stel: Jesus praat hoegenaamd nie hier op einige manier korrupsie goed nie. Enigeen wat so sê, maak regtig ‘n moedswillige afleiding, want in die eerste plek is dit tog duidelik hoegenaamd nie waaroor dit hier gaan nie, en in die tweede plek strook dit glad nie met wat die res van die Bybel oor integriteit en eerlikheid sê nie. So dít kan jy sommer dadelik baie mooi verstaan: dis glad nie die punt wat Jesus hier maak nie!

 

Nee, ek is bevrees Jesus se gelykenis is nie so oppervlakkig nie. Jy sal regtig bietjie meer moeite as dit moet doen as jy eil verstaan wat Jesus hier vir ons wil sê. Jy sal eenvoudig net dieper moet kyk.

 

  1. Die boodskap

So kom ons dink bietjie na, oor wat hier met hierdie bestuurder van Jesus se verhaal gebeur. Wat het gebeur in sy lewe, daardie dag toe hy voor die baas moes gaan staan om vir hom verslag te gee van wat hy met die baas se geld gemaak het? Dit was ‘n krisis in sy lewe, en daardie krisis het daardie dag alles verander – niks sou daarna ooit weer dieselfde wees nie. Voor daardie dag het hy vas geglo jy moet net genoeg geld hê, dan is jou toekoms verseker. Maak nie regtig baie saak hie jy dit in die hande kry en wie jy in die proses benadeel nie. Enige manier was goed genoeg, solank jy net genoeg geld kon bymekaarmaak. En toe val die bodem die dag uit. Sy baas roep hom in. Hy moest as’t ware voor die Zondo–kommissie verskyn om te verduidelik. En hierdie krisis dwing hierdie man om sy hele lewe te herevalueer. Hy moes nuut leer dink oor alles.

 

Skielik gaan sy oë oop. En besef hy hoe min geld eintlik werd is. Want as die mat onder hom uitgeruk word, stort sy hele kaarthuis in duie. Hy weet hy het eintlik nou heeltemal niks oor nie. Skielik verstaan hy vir die eerste keer in sy lewe hoe waardeloos is geld, en hoe dom is dit om jou lewe daarom te bou. Skielik verstaan hy iets wat die ou mense al vir hom kon gesê het: dat niemand so arm is soos die ou wat net geld het nie. Hulle het al verstaan dat jy niks daarvan kan saamvat met jou nie, omdat ‘n doodskleed nie sakke het nie. En dat geld nie geluk of gesondheid kan koop nie.

 

Dit alles leer hierdie bestuurder in hierdie krisis in sy lewe. Hy leer ons toekoms lê nie in geld nie – dit lê in die eerste plek in menseverhoudinge. En dit gee hom ‘n nuwe fokus. Daarom huiwer hy nie ‘n oomblik om sy klandisie se skuld af te skryf, al beteken dit dat hy ‘n fortuin in die proses prysgee, want dis heel waarskynlik nie sy baas sy wins wat hy hier afskryf nie, maar sy eie bonusse waarmee hy sy sakke gevul het.

 

En so leer hy dan die eerste belangrike les. Ja, natuurlik is geld ‘n wonderlike ding, en regtig nogal baie gerieflik om te hê, maar as alles eers vir jou dáárom begin draai, raak geld jou baas. Dan begin jy glo in geld - glo dat jou bankrekening jou sekuriteit is, en nie ‘n liefdevolle Vader in die hemel wat selfs vir die mossies sorg nie. Dan raak jy ‘n dissipel van Mammon, en hy is ‘n wrede baas, wat alles van jou wegvat wat in jou lewe die moeite werd moes wees.

 

Hierdie bestuurder leer dat alles nie net om homself gaan nie, soos hy sy lewe lank gedink en gelewe het nie. God seën ons nie op stoflike gebied, met geld en goed, net ter wille van onsself nie. Nee, Hy seën jou om ‘n hoër rede as om net jouself te verryk. Jy moet leer wegkyk van jouself; jou oë oopmaak en ander se nood raaksien. God seën jou sodat jy ander kan seën.

 

Paulus sê dit so duidelik in 2 Korintiërs 9: Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Hoe selfgerig moet jy dan nou wees, om God se seën net vir jouself te vat, asof Hy dit net vir jouself gee, sodat jy net jouself daarmee kan verryk. As dit gebeur, het jy eintlik klaar alles verloor. Dan het jy self ‘n oneerlike bestuurder geword...

 

  1. Maar die boodskap lê dieper as dit.

Maar op die ou end end lê daar nog meer in hierdie gelykenis opgesluit as dit. Sy betekenis lê selfs nog dieper as dit. Want as jy dit die minste verwag, neem Jesus se storie ‘n verrassende nuwe wending, as Jesus hier skielik verwys na “die ewige wonings”. En skielik besef ons dat ons selfs nog wyer moet dink oor ons aardse bestaan, en die goed wat ons hier bymekaarmaak. Jesus se woorde verruim ons perspektiewe, en help ons verstaan dat dit nie net ons tydelike tenthuise van hierdie wêreld waarin ons vreemdelinge is, wat belangrik is nie.

 

En dis presies wat die dag ook met die bestuurder van ons gelykenis gebeur het: die oomblik toe sy oë oopgaan, en hy loskom uit die slagyster van Mammon, begin hy verder kyk. Besef hy skielik hoe tydelik alles is waaraan ons tog so verknog is, hoe uiters verganklik die materiële is, en hoe dom jy is as jy jou sekuriteit daarop bou. Besef hy daar is eindeloos belangriker dinge in die lewe as geld, want geld is uiters tydelik.

 

En dis dan wanneer Jesus ons wind uitslaan. Hoe tragies is dit, sê Hy, dat “die mense van die lig” so dom optree. Hoe tragies dat ons so sukkel om die les te verstaan wat omtrent elke bestuurder daarbuite in die wêreld lankal bemeester het. Enige sakeman daarbuite weet dat hy volkome gefokus in sy strewe moet wees, volkome verbind aan sy maatskappy en sy planne om wins te maak – dan alleen kan hy slaag. Ons moet ons kop in skaamte laat sak as ons dan kyk hoe min ywer en entoesiasme ons vir die koninrkyk van God het. Ons belangeloosheid vir die ewige waardes steek sleg af teen die passie waarmee hulle tydelike wêreldsgoed najaag. Onthou, Jesus praat hier met sy kerk - “sy dissipels” sê vers 1. Hoe kan dit wees, sê Hy dat ons waardes in die kerk so deurmekaar is, dat dit maak dat ons op die ou end so min besit van die “ware rykdom” wat Hy vir ons wil gee?

 

En so hou hierdie gelykenis jou tog op die ou end wakker. Maar nie omdat jy wonder wat dit tog kan beteken nie. Maar omdat dit jou konfronteer met die vraag waar jou hart regtig lê... En wat van jou passie vir die koninkryk geword het...

 

AMEN