Genesis 37:1-4; 12-28
Datum: 9 Augustus 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Stel jouself vanoggend vir een oomblik in Josef se skoene. Binne ‘n paar uur is sy hele lewe op sy kop omgekeer. Hy was nog altyd sy pa se gunsteling, die witbroodjie wat net nie ‘n voet verkeerd kan sit nie en gruwelik voorgetrek is. En nou is hy daaruit geruk, gestroop van sy spoggerige jas. En nadat hy ‘n tydjie onder in ‘n droë put deurgebring het, is hy as slaaf verkoop aan ‘n wilde bende slawehandelaars. En nou word hy saamgesleep na ‘n ver land waar hy self nog nooit was nie, en niks weet van die mense en die kultuur daar nie. Jakob se spog-seun het die bodem geslaan, en op die oomblik is daar vir Josef nou nie eens ‘n greintjie lig voor in die donker tonnel nie. Dis letterlik nag vir Josef.
Ons ken hierdie verhaal al van destyds se Kinderbybel af, maar as jy ‘n oomblik gaan stilsit en dink oor wat hier gebeur, besef jy eers watter verskriklike storie hierdie is, en wat hierdie jong kind deurmaak. Toe die broers Josef se spoggerige jas van hom afruk, het hulle hom in een oomblik getroop van alles wat bekend was, en alles wat vir hom sekuriteit gee.
- Josef se jas.
Want dis juis met daardie jas wat al die moeilikheid begin het. As jy die storie lees, is dit half moeilik om te glo dat Jakob met sy eie geskiedenis, in daardie slaggat getrap het. In Andréw Lloyd Webber se blyspel slaan hy die spyker op die kop as hy sê: Jakob wou vir die hele wêreld wys hoe lief hy sy seun het, wat seker nie verkeerd is nie, maar die manier waarop hy dit gewys het, was ongelukkig baie verkeerd. Jakob het geen geheim gemaak daarvan dat sy een seun vir hom eindeloos belangriker as die ander elf was nie. Namens Josef se broers sê Webber: “We’re great guys but no-one seems to notice...”
Dis ‘n baie besonderse jas wat Jakob vir sy gunsteling-seun gegee het. Nie omdat dit so bont was, soos ons aanvanklik gedink het nie, maar omdat dit ‘n baie luukse jas was. Dit was die soort jas wat ‘n koninklike sou dra, volgens 2 Samuel 13. Waarvoor jy nou seker nie vir Josef sou kon kwaad wees nie, maar ‘n mens kry tog die gevoel dat Jakob se voortrekkery bietjie na Josef se kop toe gegaan het. Josef se nuusdraery by sy pa, as hy heel tyd sy broers verkla, maak ons al baie ongemaklik. Geen wonder sy broers was nie mal oor hom nie. Maar dan lees ons hoe Josef hom verlekker in die drome as hy dit oorvertel, en dit het later selfs vir Jakob dwars in die krop gesteek. ‘n Mens kry al meer die gevoel Josef was ‘n bra arrogante mannetjie. En die laaste strooi is dalk as hy sy broers in die veld gaan opsoek met sy koninklike gewaad aan.
Maar nou het alles verander. Die koninklike jas wat sy pa hom gegee het om hom te onderskei is alreeds geskeur en bemors met bloed op pad terug na sy pa toe, as ‘n valse bewysstuk. En Josef is op pad Egipte toe waar ‘n nuwe lewe as slaaf wag. Jy kan sê dat Josef saam met sy kleed gestroop is van alles. Hy is getroop van sy bevoorregte status, gestroop van die sekuriteit van sy pa se liefde, en gestroop van alles wat tot dusver vir hom saak gemaak het. Die bodem het inderdaad totaal uit Josef se lewe uitgeval...
- Hoeveel verstaan Josef?
Hoeveel dink jy verstaan Josef hiervan? Ek bedoel, hy het nog laas die drome ontvang, en in Josef se wêreld het mense baie waarde aan drome geheg. Dit was basies hoe God toe met hulle gekommunikeer het. Maar hoekom sou God hom inlig dat Hy ‘n baie spesiale plan met hom het, en dan laat God toe dat dit met hom gebeur? Hoe moet hy dít verstaan? Heel waarskynlik het Josef van die dag af wat hy daardie drome gehad het, elke dag verwag dat daar ‘n engel by Jakob se tent sou opdaag om hom as koning te kom salf. Hy kon nie wag om sy broers se gesigte te sien as hulle besef dat dit nou waar geword het, en dat hulle regtig voor hom moes kniel nie.
En dis ongelukkig die ongemaklikheid aan die Josef-verhaal. Net soos ons nie kon verstaan dat God vir Jakob, die aarts-bedrieër, kies om sy verbond voort te dra en sy beloftes te erf nie, net so kan ons nie glo dat God hierdie arrogante mannetjie met die spoggerige jas kies om die draer van sy beloftes en die voorvader van sy volk te wees nie. Want ons hou eintlik nie van Josef nie. Hy is duidelik ‘n arrogante, self-gesentreerde mannetjie. ‘n Bedorwe brokkie.
Anders sou hy vir seker nie daardie koningskleed aangetrek het vir die reis na Dotan toe om sy broers te gaan besoek nie.
Maar nou is dit alles geskiedenis. In minder as ‘n dag is hy gestroop van alles. Al die drome, al die ideale is verby. Hy is op pad na Egipte toe, as ‘n slaaf. En om weer vir Lloyd Webber aan te haal, “it wouldn’t be a picnic, he could tell...”
Hoekom laat God dit gebeur? Hoekom kies Hy iemand wat Hy as ‘n instrument wil gebruik, en dan laat Hy toe dat so iets met hom gebeur, dan laat hy hierdie klomp broers toe om ‘n streep te trek deur sy plan met Josef, om alles net doodeenvoudig ongedaan te maak? God kon dit mos verhoed het. Hoekom het Hy dit dan toegelaat? Ek dink nie daar waar Josef, vasgebind aan die kamele van die Midianiete deur die woestyn hardloop, verstaan hy enigiets daarvan nie...
- Josef sou veel later natuurlik wel verstaan.
Natuurlik ken jy van kindsbeen af die hele storie. En jy weet dat daar ‘n dag, véél later, sou kom wat Josef wel sou verstaan. Maar teen daardie tyd was dit ‘n totaal ander Josef. Wat met oneindig meer wysheid kon terugkyk en die hele prentjie kon sien. Maar daarby wil ek nie vandag stilstaan nie, want dan steel ek Johan se teks van volgende week. Maar die punt is, ek en jy weet dit, omdat ons die res van die storie ken. Maar Josef weet dit nog nie hier nie. Josef verstaan nog nie dat dit alles deel is van God se plan, en dat die Here daarheen op pad is met hom nie.
Voordat dit waar kon word, was daar eers hierdie nagmerrie-rit deur die woestyn. En moes hy eers as ‘n slaaf verkoop word. Hy, die draer van God se belofte, word ‘n slaaf, ‘n huiskneg vir ‘n ander. Word vals beskuldig en in die tronk gegooi. Ja, die pad sou inderdaad vir Josef nog heelwat meer opdraend en donker raak, voordat dit beter sou begin gaan. Voordat hy enigsins sou kon begin verstaan.
Slot
Maar met die insig waarmee ons vandag die storie lees, weet ek en jy, dat die Josef van Kanäan nie vir God bruikbaar was nie. Daarvoor was hy eintlik nog net hopeloos te vol van homself, en solank alles vir jou net om jouself draai, kan God jou nie gebruik nie, en kan sy plan vir jou lewe nie waar word nie. Jy moet eers vry kom. Jy moet eers gestroop raak van alles wat jou terughou, en dis party keer ‘n uiters pynlike proses. Josef se spoggerige jas was eintlik nie net ‘n simbool van hoe belangrik hy in sy pa se lewe was nie, maar ook van hoe belangrik hy nog vir homself was. Eers as hy gestroop was daarvan, kon hy nou aan sy lewensdoel begin beantwoord.
En jy? Ons is nou almal ingeskryf vir ‘n leerskool wat vir ons almal minder of meer pynlik is. Dalk verstaan jy ook niks van die pad wat God nou met jou loop nie. Dalk maak dit vir jou niks sin nie. Is dit net swaar en seer. Maar wie weet, dalk is God besig om jou nóú te louter, te vorm, sodat jy vir Hom werklik bruikbaar kan wees. Sodat jy regtig aan jou lewensdoel kan begin beantwoord, en so ware geluk kan smaak. Wie weet, dalk gaan jy ook eendag terugkyk en besef dat hierdie smeltkroes die mees betekenisvolle tyd van jou lewe is... Daarom moet ons net aanhou vertrou. Aanhou sy hand vashou. Want Hy het ‘n plan met jou...
AMEN