Johannes 12: 1-8
Datum: 3 April 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
- Inleiding. Het daar al dinge in jou lewe gebeur wat jy glad nie verwag het nie? Soos ons sal sê: “ Ek het dit nie sien kom nie! Ek was uitgeboul want dit was so onverwags. Die afgelope week het ek so gevoel.
‘n Glansaand waartydens akteurs en aktrises beloon word vir hulle toewyding en harde werk het ontaard in ‘n onsmaaklike geleentheid. 27 Maart 2022 gaan in die Oscar-geskiedenis vir die verkeerde redes onthou word. Dit was die aand toe Will Smith die seremoniemeester Chris Rock ‘n taaiklap gegee het en met krutaal die glansaand bederf het. Onverwags het Will Smith se klap ‘n demper op die spoggeleentheid geplaas. Dit wat veronderstel was om ‘n heerlike aandjie uit te wees verander toe in ‘n spanningsvolle geleentheid. Ek onthou ook so geleentheid waarheen vriende genooi was om heerlik saam te kuier en saam te eet. By hierdie kuier-geleentheid het daar ook onverwagse dinge gebeur.
- Onverwags gebeur die onverwagte. Een van die vroue wat die ete bygewoon het, het van die etenstafel af opgestaan en onverwags ‘n groot hoeveelheid duur parfuum gaan haal en Jesus se voete gesalf. Heel onverwags! Want sien, vroue het nie mans gesalf nie. Gewoonlik was dit mans wat mans gesalf het. Maar hier steur Maria haarself nie aan die kulturele gebruike en reëls van daardie tyd nie. Sy doen wat reg is in haar eie oë. Haar Leermeester en Jesus se hart klop in haar binneste. Sy betoon deur hierdie handeling haar liefde en toewyding aan Jesus. Ongeag die koste – ongeveer ’n jaar se salaris- laat Maria haar hare sak en salf sy vir Jesus waarna sy met haar hare Jesus se voete afdroog. Maria staal haar teen die negatiwiteit en afbrekende opmerkings en doen wat gedoen moet word. Onverwags en onbeskryflik.
Maar daar sal altyd ’n pretbederwer wees. Iemand wat soos Will Smith die aand op sy kop wil draai. Iemand wat altyd negatiewe opmerkings sal maak en nie moeite ontsien om onmin te saai en neerhalend na goeie werke te verwys nie. Binne die kerk sien ons dit ook raak.
By daardie ete was dit Judas se beurt. Die dissipel wat die beursie gedra het. Maria se parfuum kon verkoop, en die geld aan behoeftige mense uitgedeel word. Nou vermors Maria duur nardusolie op Jesus se voete! Wanneer ek na Judas kyk dan wonder ek waar het dinge verkeerd gegaan want.....,
Judas het die beste pastor gehad.
Judas het die beste leier gehad.
Judas het die beste adviseur gehad.
Judas het die beste berader gehad.
Tog maak Judas droog.
Die probleem is nie die leierskap of die gemeente wat besoek word nie. Wanneer mens se karakter en gesindheid nie verander nie, wanneer mens se kliphart nie met ’n hart van vleis (Esegiel 36:26) vervang word nie, sal dit altyd dieselfde bly. Jesus se hart klop nie in Judas se binneste nie.
Onverwags staan Jesus in vir Maria. Die behoefte van die armes is nie vanaand op die agenda nie. Dit maak hulle nie minder belangrik nie, maar dit is nie vanaand op die sakelys nie. Judas word in die bek geruk want vanaand is Jesus se aand. Jesus word gesalf vir sy begrafnis.
Nog n onverwagse wending. Ek wonder of die gaste verder wou kuier. Ek vermoed dat die atmosfeer met ’n mes gesny kon word. Dalk was daar ’n ongemaklike stilte wat geheers het. Eers Maria se vrygewigheid terwyl sy haarself nie aan kulturele reëls en gebruike steur nie. Toe Judas met sy ongevraagde opmerking en dan Jesus wat oor Sy begrafnis praat. Wie wil by so ’n ete teenwoordig wees? Ek sou my servet netjies opvou en myself verskoon het.
Dit alles herinner ’n mens daaraan dat God dikwels onverwagte dinge met, vir en deur onverwagte mense doen. Mense het verwag dat die Messias soos koning Dawid sou lyk. Wat hulle in plaas daarvan gekry het, was ’n voormalige skrynwerker en rondgaande prediker. Die mense verwag ’n Ridder op die oorlogsperd maar Jesus ry op ’n donkie Jerusalem binne. Die skares wat Jesus ’n paar verse hierna verwelkom, het verwag dat Jesus die Romeine sou omvêrwerp. In plaas daarvan kruisig hulle Hom. Selfs sy volgelinge verwag dat sy kruisiging die einde van die verhaal sal wees – wat uiteindelik blyk net die begin te wees.
God tree gereeld na vore om die onverwagte met, vir en deur onverwagte mense te doen
As daar een ding is wat ons hierdie Sondag kan vra, is dit: “Wat kan ons van God verwag?” Om met mag en geweld die beheer in die Oekraïne oor te neem? Om ons gebede te verhoor soos ons dit wil hê? Om die regerende party uit die kussings te lig? Dalk moet ons eerder bereid wees dat God ons weer deur die onverwagte verras?
Ons kan ook vra waar God op onverwagte maniere in ons gemeenskap aan die werk is. Deur middel van die kleuterkerk sien ons werklik hoe kerk veronderstel is om te werk. Wanneer maatjies mekaar spontaan vashou terwyl hulle lof en eer aan Jesus bring. Wanneer hulle hul oor ’n maatjie ontferm wat nuut is in die groepie. Wanneer die Gees deur kinders werk en sodoende die ouers bereik. Of wanneer daar by die opelugdiens op Avalon vreemdelinge opdaag wat saam die Here aanbid en daarna tuis voel wanneer hulle iets te ete aangebied word. ’n Opelugdiens wat vir sommige mense ’n klip in die skoen is soos ek verstaan. Of wanneer ek ’n huweliksverrykingsprogram wil aanbied en die selgroep vir enkellopendes onverwags spontaan aanbied om die kos-voorbereiding te doen. Of wanneer ek nog ’n huwelikverrykingsprogram sal moet aanbied omrede ek paartjies hierdie keer moes wegwys.
Wanneer Raylene my onverwags bel en vertel dat sy en Deslin ’n baba verwag nadat sy ernstige gesondheidsprobleme beleef het. Vanoggend doop ons hulle seuntjie.
Wanneer mense heeltyd vra na waar De Eike se jongmense is en onverwags bel Jolandi my en maak ’n afspraak. En wanneer Gerhard en Jolandi by my kuier en ek net besef dat ons jonggetroude egpare in De Eike, onbeskryflike goeie ouers is.
Of wanneer Elmari ons Fondse-voorsitter die kerkraad inlig dat De Eike met ‘n positiewe bedrag die finansiële jaar afsluit.
Op die mees onverwagse tye kom die Here en Hy verras ons. Die nardusolie se geure word onverwags en wyd in De Eike versprei.
- Deur wie kan God volgende werk? Vriende kyk vir ’n oomblik die persoon langs jou in die oë. God staan ??op die punt om elkeen van julle op ’n verrassende manier te gebruik. Die Here vra dat ons na ons naaste sal omsien; Die Here vra van jou ’n luisterende oor; Die Here vra dat jy op sal te staan ??vir diegene wat minderbevoorreg is. Die Here vra van jou om die geure van nardusolie te versprei en voete te was. Wie weet? Wat ons wel weet, is dat God ons gereeld verras met waar Hy opdaag, wie Hy gebruik en wat Hy bereik.
- Slot. Kom ons soek spore van die onvoorspelbare God, die Een wat opdaag waar ons Hom die minste verwag, en altyd ten goede.
Kom ons bou ’n gemeenskap wat fokus op liefde, deernis en hoop. En kom ons onthou om nie pretbederwers te wees nie. Ons roeping is eenheid in Christus. Neem jou plek in langs Lasarus wat opgewek is uit die dood. Sit aan tafel saam met Jesus terwyl Maria die nardusolie op Jesus se voete uitgiet en hom voorberei op dit wat op pad is, en wag vir die onverwagse.
Amen.