Markus 7:1-13

Datum: 2 September 2018

Prediker: Hannes Burger

Dit was ‘n uitbundige, vrolike dag. En soos die optog gevorder het, het die skare net al meer uitbundig geword. Eers was dit hoofsaaklik die kinders wat so ‘n bietjie uitgehaak het, maar mettertyd het die grootmense ook begin boomtakke voor die donkie op die pad gooi en saam sing. Die mense het mekaar begin aansteek, en soos dit mos maar met sulke geleenthede gebeur, het die groep net het al groter geword, en kort voor lank kon jy wie-weet-waar hoor hoe hulle die profesie van Sagaria 9 luidkeels dreunsing. “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!”

En ek is seker as ek die dag daar was, sou ek sekerlik saamgesing het. Want dit was net daardie soort dag. En ek sou vir seker ‘n lied in my hart gehad het. Na alles was hierdie die eerste teken dat die mense begin verstaan. Dat hulle eindelik erken dat Jesus deur God gestuur is, as verlosser van sy mense. En hoe verder die optog gevorder het, hoe groter het die opgewondenheid steeds gegroei. Later het mense van hulle klere begin uittrek en dit voor die donkie op die pad gegooi, sodat hy daarop kon loop. “Loof die Koning” het hulle gesing. Natuurlik het die klompie Fariseërs tussen hulle nie daarvan gehou nie - maar jy kon hulle amper nie hoor nie. Buitendien wie steur hom nou aan hulle op só ‘n dag?

Wat begin het as Jesus wat maar net bloot die stad binnegekom het, het ‘n triomfoptog geword. Jesus word letterlik op die hande die stad ingedra. En dan gebeur daar skielik iets wat die hele dag vir jou bederf. Skielik, net soos julle in die stad begin indaal, trek iets jou aandag, soos jy daar saam loop en sing. En dit vee die glimlag van jou gesig af. Want jy sien met ‘n skok daar loop trane oor die Here se wange. Die meeste mense kom dit nie eens agter nie, maar dis vir jou soos ‘n emmer koue water. En net daar besef jy skielik daar is fout – groot fout. Jesus ervaar die dag heeltemal anders as die ander mense daar. Jesus weet dis alles eintlik net ‘n enorme, tragiese misverstand.

  1. Die gevaar van beter weet in jou Godsdiensbeoefening.

Want jy sien, daardie skare mense om Jesus was oortuig daarvan dat hulle wéét. Dat hulle selfs beter as God weet. Hulle weet presies wat hulle nodig het, presies wat God moet doen om hulle gelukkig te maak. Hulle wéét...

Daarom huil Jesus. Jesus huil oor die stad en sy hardkoppige mense, wat so seker is hulle is reg, en net halstarrig weier om te luister na wat God vra, en dit net te gehoorsaam. Jesus huil oor mense wat net só seker was die eintlike geloofs-"issue" is dat jy op die regte manier jou hande moet was voor ete. Dat dít is wat God eintlik wil hê. En die goed wat Hy regtig vra, liefde en barmhartigheid en oorgawe, is vir hulle ‘n bysaak.

Maar ek en jy weet vandag hulle was verkeerd. In God se oë begin ons reinheid nie by ons hande nie. Want vir God is dit nie in die eerste plek die uiterlike goed wat tel nie. God is min gepla of die vuilheid van sondaars op straat dalk aan jou hande kon afgegee het, sodat jy daarvan ritueel gereinig moet word. By God geld héél ander prioriteite. Maar dis presies wat die mense van Jerusalem nie wil weet nie. Dit gaan by hulle verby, want hulle stel nie regtig belang in wat vir God belangrik is nie. Daarom huil Jesus oor Jerusalem. Hy huil oor mense wat hulle doodbekommer oor skoon hande, maar eintlik niks gepla is oor wat God regtig wil hê nie.

Terloops, jy mag maar jou hande was voor ete – dis glad nie waaroor hierdie gedeelte gaan nie. Dit gaan hier eerder oor ‘n oneindig groter gevaar  – ‘n gevaar so groot dat dit Jesus letterlik tot trane dryf. En dis die gevaar dat jy dalk kan dink jy kan maar die reëls maak oor hoe jy God kan dien, op jou eie voorwaardes. Dat jy in die gekkeparadys lewe dat jou saak met God reg is, terwyl jy eintlik nooit luister na Gód en nooit vra na sy wil nie. Dat jy nie eens na God se Seun luister, as Hy Hom na jou toe stuur nie.

Jesus illustreer dit aan die hand van ‘n gebruik van die Jode. Hulle het dit die "Korban" genoem. Onthou, daar was destyds geen pensioenplanne nie. As jy te oud is om te werk, moes jy maar net soort van doodgaan – tensy jou kinders vir jou sorg. Maar natuurlik het God se wet gevra dat jy vir jou ouers moet sorg. Maar nie al die Jode wou hulle swaarverdiende geld op hulle bejaarde ouers blaas nie. Toe dink hulle ‘n skuiwergat uit. As jy net 'n groot genoeg offer by die tempel bring en genoeg geld vir die kerk gee, kon jy sê: Jammer Pa en Ma, ek kan julle ongelukkig nie help nie. Al vergaan julle ook van ellende. Sien, ek het alles vir die Here gegee. Dit was 'n offer aan die Here...

Natuurlik hoef jy nie meer vandag elke keer jou hande te was as jy van die dorp af kom nie. Maar tog wonder ek wat Jesus vanoggend vir De Eike sou sê. Of Hy so oor ons sou kyk en sê: "Mooi so. Ek kan sien julle wéét wat vir julle vrede nodig is. Julle lewe naby aan die Here, en soek in alles sy wil." Ek hoop so. Ek hoop daar sou nie dalk ook vanoggend trane in sy oë sou wees as Hy sy kop skud en sê: Ai, De Eike, De Eike. Ek het vir julle sóveel gegee. ‘n Wonderlike gemeente om aan te behoort. En kyk hoe mooi sorg Ek vir julle. En tog dink jy nog altyd jy weet beter as Ek. Tog is jy nog altyd so seker jy weet wat vir jou vrede nodig is...

  1. Jesus se reaksie op die Fariseërs se rituele.

Hulle sê Markus 7 is die hoofstuk in die Nuwe Testament wat die meeste soos die profete van die Ou Testament klink. Want hulle het ook heeltyd vir die volk gesê: God vra nie van jou om soos ‘n gelowige te lyk nie. Hy vra nie allerhande uiterlike rituele nie. Al was jy ook die vel van jou hande af sal dit niks help nie. Niks help, as jy nie doen wat God vra nie. Niks sal help, as jy nog nie jou lewe aan God gegee het as ‘n lewende offer, sodat jou hele lewe aan die Here behoort nie. Dis al wat Hy vra, al wat regtig vrede gee. Of jy jou lewe aan die Here gegee het. Hom die alleen-koning van jou lewe gemaak het.

Dís Godsdiens. Godsdiens is méér as om net die regte dingetjies te doen. Soos hande was. Of kerk toe gaan. Of 'n dankoffer gee. Natuurlik moet ons dit doen, want God vra dit, maar ware Godsdiens begin by totale oorgawe. Selfs vir Jesus se dissipels was hierdie boodskap van Jesus radikaal. Want ons raak só vasgevang in óns manier van God dien. Sodat ons sukkel om te luister wanneer Hy praat.

En selfs ek en jy wat ná Pinkster lewe, en in wie God se Gees woon, verstaan nog altyd so min. Ons behóórt vir seker te weet wat vir ons vrede nodig is, maar die verkeerde goed bly vir ons tog so belangrik, dat ons skoon vergeet om na God se wil te vra...

Hoeveel verstaan jy al van Markus 7? Hoeveel verstaan jy van ‘n Godsdiens wat nie gaan oor wat ek dink nodig is vir my vrede nie, maar wat gaan oor God en oor die wil van God? Hoeveel verstaan ek van ‘n lewe waarvan God die onbetwisbare Koning is? Of wil ek Hom dien, maar darem nog altyd in beheer bly ook? Dan vrees ek ween Jesus vanoggend ook oor jou, net soos oor die mense van Jerusalem...

  1. Ware Godsdiens impliseer volkome oorgawe.

Godsdiens is nie om self te besluit wat die beste manier is om by God uit te kom, en dan met alle krag te spook om dit te probeer regkry nie. Dit help nie jy besluit: Ek moet net genoeg in die kerk kom, of genoeg gee vir die armes, of my hande ywerig genoeg was as ek van die dorp af kom, en God sal wel tevrede wees nie. Dit help niks nie. Dis nie wat God vra nie! En jy sal nooit so vrede ken met God nie!

Godsdiens is om Gód se plan vir jou vrede te aanvaar. En daardie plan het 'n Naam. Sy Naam is Jesus Christus. En as jy nog altyd sukkel om dit te verstaan, nooi die Here jou om vanoggend jou oë wyd oop te maak. Kom kyk God se demonstrasie hier by die doopfont. Kyk bietjie mooi na hierdie babatjies. Onthou, hulle het nie gevra om hier te wees nie, en het dit ook op geen manier verdien nie. Hulle verstaan nie eens enigiets hiervan nie. Maar in die doop kan jy sien hoe God se plan werk. Kyk maar, die babatjie ontvang dit net. Dit word oor hom uitgegiet.

Dit sal nie jou harde werk vir die Here en sy kerk, of jou toewyding, of jou goeie gedrag wees, wat die ware lewe vir jou sal laat oopgaan nie. Dit sal eers gebeur as jy leer om te ontvang. As jy leer om vir God te sê: Here, giet ook so u genade oor my lewe. Ek is ook een maal gedoop, en toe het U dit op my naam vir my ook belowe. Neem dan nou my lewe, en maak dit nuut. Wees die onbetwiste Koning daaroor.

Dán eers, begin jy regtig die Here dien.

AMEN