Johannes 20:1-9

Datum: 9 April 2023 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

  1. INLEIDING

Ons het vanoggend ons Sonsopkomsdiens begin in die donker ure, afwagtend vir die son se strale wat die nuwe dag gaan aankondig. Eintlik het ons daar gesit met die hartseer oor die verlies van 'n geliefde, met 'n leegheid en eensaamheid soos geen ander nie. Dit is waar Paasfees moet begin, want dit is in die duisternis waar die Groot Nuus van Paasfees, ons ontmoet.

 

  1. VIND JY DIT OOK VREEMD?

Is dit nie vreemd dat Maria Magdalena, toe dit nog donker was daardie Sondagmôre, by die graf van Jesus opdaag en anders reageer as wat ons verwag het nie? Vandat Jesus die sewe bose geeste uit haar gedryf het daar in die vissersdorpie Magdala langs die see van Galilea, het sy vir Jesus gevolg. Maria Magdalena was een van Jesus se reisgenote. Maria het eerstehands gehoor en gesien terwyl Jesus besig was in Sy bediening. Nogtans blyk dit dat sy nie geluister het nie.  Want hier in die donker uur in haar lewe besef sy nie wat gebeur het nie. Sy sien dat die steen weggerol is en sy word angsbevange.

Sy het gehardloop om vir Petrus en die ander dissipel te sê dat die graf leeg is, nie dat Jesus opgestaan ??het nie, maar dat die graf leeg was! Volgens haar is Jesus se liggaam gesteel. In daardie tyd was vroue se getuienis nie as geloofwaardig geag nie.

Petrus en die geliefde dissipel Johannes moet self gaan seker maak. Daarom hardloop hulle na die graf om self te kyk.

Die geliefde dissipel het eerste by die graf aangekom maar dit was Petrus, met sy robuuste persoonlikheid, wat eerste by die graf ingaan.

Die doek wat om Jesus se kop was, was eenkant afsonderlik opgerol. As Jesus se liggaam gesteel was, sou die linne, wat met duur mirre en aalwyn deurweek was, ook weg gewees het. Daar sou ook nie tyd gemors word om die linne netjies op te rol nie. Dit is Petrus wat dit eerste sien.

Die geliefde dissipel het dit tweede gesien en geglo. Johannes glo dus, want Jesus het dit reeds vóór sy dood oor Homself gesê, en die Skrif het Johannes verder oortuig toe hy die leë graf sien. Daarmee maak Johannes dit vir ons ook moontlik om die boodskap van die opstanding te glo, sonder dat ons dit fisies ervaar het. Vir elkeen van ons – vir wie dit nie moontlik is om die leë graf te sien nie, ook nie die Here Jesus se fisiese verskyning te kon ervaar nie, ook nie ons vinger in die spykermerke in sy hande te kon steek en ons hand in sy sy te kon druk nie – is dit moontlik om in die waarheid daarvan te glo.

  1. JOHANNES ROEP SY LESERS OP TOT GELOOF

 

Miskien is dit die rede waarom Johannes sy lesers tot geloof roep. Johannes roep sy hoorders om te glo. En die oproep is om te glo dat Jesus Christus waarlik die Seun van God is! In ons duisternis, in tye soos waarin Petrus, Johannes en Maria hulleself bevind het, kan ons vashou aan Jesus die opgestane Here. Dit is onverdunde liefde deur  God aan ons.

 

Eintlik het Paasfees lank gelede begin met 'n almagtige en ewige God wat aanhou om ons almal lief te hê, selfs te midde van ons duisternis. Paasfees het vir ons voortgeduur toe ons die donker ure van Goeie Vrydag in die gesig gestaar het, en dit het uitgebars in misterie en grootsheid toe God die Vader sy Seun verheerlik het deur hom groot te maak om die oorwinnaar oor die dood en die graf te wees.  Paasfees is inderdaad die onbeskryflike waarheid dat ons genadige God Sy Seun gestuur het as die antwoord op ons gebrokenheid, ons sondigheid, ons menswees.

 

En vir dit alles kan ons wat vanoggend hier bymekaar is, altyd so dankbaar wees. Elkeen van ons wat vanoggend hier sit of inluister het al ons oomblikke van duisternis gehad, ons oomblikke van pyn, ons tye van gebrokenheid toe ons hoop flenters geslaan en ons drome vernietig is, en ons gelaat is met wat gelyk het na 'n onbeweeglike klip.

 

Ons het gehoor hoe die dokter woorde sê wat ons nie wou hoor nie; ons was besorg oor woorde van ons eggenoot, ons kinders, ons vriende. Ons het gesien hoe ‘n florerende besigheid tot as verander, en ons is deur die dood self aangerand. En die klip het swaarder geword en ons verwagtinge vir die lewe nog dieper begrawe.

 

Pyn gebeur wel. Ons kan nie pyn systap nie. Dit is deel van die lewe. Soms is dit so moeilik om 'n nuwe oggend in die gesig te staar. Ons dink dat dit te veel is om te hanteer. Ons lewens word oorval met dinge wat spanning op ons plaas. En tog, ten spyte van dit alles, sien ons genadige God ons deur. Hy vergeet nie van ons nie. Hy sien ons raak, daar waar ons agter die klippe van ons eie harte wegkruip. En stil-stil kom sit Hy ‘n Sondag voor ons hart se deur neer. Ons hoef net rondom te ons te kyk na diegene langs ons, om 'n Paasfees storie te sien. Ook ons eie Paasfeesstorie.

 

Ek is nou lank genoeg hier en het saam met baie van julle krisistye beleef, moeilike hartseertye. En ek het gesien hoe julle vashou aan die opstandingshoop wat ons hierdie Paasoggend vier. Sommige van julle sal julleself herken en onthou dat julle hierdie woorde vir my gesê het, "Ek weet nie wat ek sou gedoen het sonder God en sy Seun om my deur te help nie." "Wat op aarde doen daardie mense wat geen geloof het om aan vas te hou nie?"

 

“Ek het net geweet dat die Here daar by my is en my met sy liefde omring.” “Ek het nog nooit so baie gebid soos in die laaste paar maande nie.” En een laaste een het ek verlede week weer gehoor, "Jy weet wanneer jy my ouderdom bereik, sê hulle dit is die goue jare, maar vir my voel dit asof al wat ek tans doen is om na die begrafnisse van my vriende te gaan. Ek sou dit nooit kon hanteer sonder geloof in die opstanding van Jesus nie."

 

Dit is waaroor Paasfees gaan. Paasfees gaan oor geloof. Paasfees gaan oor hoop. Paasfees gaan oor die versekering dat Jesus Christus inderdaad vir ons sondes gesterf, en ons vrygemaak het. En ek weet ook nie hoe diegene wat geen geloof het daarsonder kan klaarkom nie. Ek weet net nie.

 

  1. SLOT

En so, terwyl ons hier bymekaar is op hierdie Paasoggend, wil ek jou herinner aan ‘n Skrifgedeelte wat verder gaan as die opstanding van Jesus Christus. Hierdie Skrifgedeelte is vir ons bedoel, dit handel oor ons beloofde opstanding.  In Johannes 5:24 sê Jesus: "Dit verseker ek julle: Wie luister na wat ek sê, en in Hom glo wat my gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.

 

Ons het reeds die ewige lewe en dit is nie deur ons eie toedoen nie.

Liewe vriende Jesus het opgestaan.

 

Amen