1 Kor. 15:19-26
Datum: 17 April 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Watter nut het die opstanding vir ons?
- Eerstens het Jesus deur sy opstanding die dood oorwin, en so kon ons deel kry aan die versoening wat hy vir ons bewerk het;
- Tweedens werk daardie selfde opstandingskrag ook deur ons, om ons in staat te stel om ‘n nuwe lewe tot eer van God te lewe;
- Derdens waarborg dit ons, dat die dood ons ook nie eendag sal kan vashou nie, maar dat ons ook sal opstaan en vir ewig saam met God sal lewe.
Stel jou ‘n oomblik daardie groepie voor wat die Sondagoggend net voor sonop die pad begraafplaas toe gevat het. Hulle is almal gebroke. Stadig en sleepvoet stap hulle aan, gedreineer deur alles wat hulle die afgelope paar dae ervaar het. As hulle enigsins op daardie stadium kon terugdink, sou hulle nie kon glo dis net drie dae gelede wat hulle nog almal om die tafel gesit het saam met Jesus en saam die Paasmaal geniet het nie. Dit het eerder soos weke, soos maande gevoel...
Want intussen is hulle lewens totaal omgekeer. Alles het verander. Hulle moes magteloos staan en toekyk hoe Jesus onregverdig verhoor word, en uiteindelik wreed mishandel en gekruisig word. Hulle het waarskynlik daardie Vrydagmiddag ‘n sug van verligting geslaak toe Hy die laaste asem in die donker uitblaas, en soos die Jode se gebruik was, het hulle daardie selfde aand voor sononder nog sy gebroke liggaam gaan wegbêre in ‘n ander man se graf. Dit was Vrydagaand. Saterdag was die Sabbat, en kon hulle niks doen nie. Net die magdom vrae het hulle besig gehou. Hulle kon nie verstaan nie. Hoekom? Hoekom moes alles só eindig? Na alles wat Jesus hulle geleer het, was daar nou niks van oor nie.
Maar daar het nog een laaste taak gewag. Een laaste ritueel voordat alles oor was. Hulle moes volgens die gebruik van die Jode sy lyk gaan behandel vir die begrafnis, want daar was nie Vrydagaand daarvoor tyd nie, en geen Jood sal sulke werk op die Sabbat doen nie. Toe staan hulle daardie Sondagoggend soos een man vroeg op en nou is hulle dou voor dag op pad na die rotsgraf van Josef van Arimatea, met die reuse klip daarvoor waarmee die Romeine die graf geseël het.
Nie een het eers gewonder waar Maria Magdalena dan is nie. Tot sy uitasem van voor af aangehardloop kom. Met ‘n ongelóóflike storie. Die swaar klip was al weggerol toe sy daar aankom, het sy hulle vertel. En die engel wat daarop sit, het haar vertel dat Jesus opgestaan het – so al asof hy dink sy moes dit darem regtig self geweet het. Maar Jesus se volgelinge kon dit nie glo nie.
Dalk was Maria maar bietjie oorstuur van al die ontsteltenis van die afgelope naweek, en nou sien sy allerhande goed, het hulle gedink. Laat ons liewer self gaan kyk.
Maar twee van die manne was net té haastig om vir die res te wag. Johannes en Petrus het vooruit gehardloop. Johannes was nogal eerste daar, maar toe hy by die graf kom, het hy teruggedeins. Hy kon homself nie so ver bring om in te gaan nie. Maar Petrus het nie so ‘n probleem gehad nie. Hy het ingestorm. En dit was waar. Die graf was leeg... Hulle het “gesien en geglo” sê Johannes, maar hulle het “nog nie verstaan nie”. Miskien is Markus se weergawe akkurater. In sy dramatiese korter einde sê hy: “Hulle het weggehardloop terwyl hulle bewe van die skrik”.
- Ons en die Paasmôre.
Miskien is dit waar óns ook vanoggend moet begin, as ons saam is om na te dink oor die wonder van die opstanding – miskien moet ons ook ‘n oomblik in totale verwondering vassteek, verbysterd oor iets wat geen presedent ken en niemand nog ooit van gehoor het nie. Verwonderd oor iets wat só groot is, dat ons nie woorde daarvoor het nie, omdat ons niks daarvan verstaan nie.
Want dit wat daardie Paasmôre in die tuingraf van Josef van Arimatea gebeur het, was absoluut uniek. Daar het nog nooit in die geskiedenis enigiets so totaal ingrypend gebeur nie. Niks wat al naastenby soveel lewens ingrypend verander het, soos hierdie wonderlike, onverstaanbare gebeurtenis van die Paasmôre nie. Want op daardie Paasmôre het God die wrede, tiranieke houvas van die dood oor ons eindelik gebreek. Die ware lewe begin vir elkeen van ons op die Paasmôre.
- En tog is daar mense, sê Paulus, wat dit ontken.
Dit is wat vanoggend my asem wegslaan. Maar kan jy nou glo, vra Paulus, dat daar sowaar mense is wat verkies om dit te ontken. Daar is selfs vandag nog gelowiges wat dit afmaak, wat voorgee dat dit maar iets is wat mense uitgedink en versprei het om die kerk te mislei. Dis natuurlik niks nuuts nie – dit het al in die Bybel se tyd begin, toe die Jode geweet te vertel het dat die dissipels net die ligaam gesteel het.
Van ongelowiges sou jy dit dalk nog verwag, maar enige gelowige wat die opstanding loën, is ondenkbaar. Want as jy die opstanding ontken, ontken daarmee nie net daarmee nie ‘n fundamentele leerstelling van die kerk nie. Jy loën inderdaad die Here self. Want die Here van die Bybel is ‘n lewende Here. Ons aanbid ‘n lewende Here, en enigeen wat dit ontken, ken Hom glad nie. Om die opstanding van Jesus te loën, is eintlik om te kies om verlore te bly in jou sonde. Want sonder die opstanding op die Paasmôre, is Jesus dood, en is daar geen versoening, en geen vergiffenis nie.
Wie die opstanding loën, stroop sy eie geloof van enige krag en sin, want as Jesus in die graf gebly het, is hy net so dood soos enige afgod van hout of klip, en kan jy niks van Hom verwag nie. En daarvan maak Paulus geen geheim nie. Vir ‘n Christen om die opstanding te ontken, is opperste dwaasheid, sê hy.
- En ons?
En ons? Ons staan elke Sondag op en bely die hart van die Evangelie, dat ons glo in Jesus Christus, “wat gekruisig is, gesterwe het en begrawe is, maar wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode...” Ons glo dat Jesus die volmaakte Paaslam was, dat Hy aan die kruis ons met God versoen het, dat ek myself God se kind mag noem.
En die bewys daarvan dat God sy offer volkome aanvaar het, is dat God Hom vroeg daardie Sondagoggend weer opgewek het uit die dood. En so, in die woorde van Romeine 5, “soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal.” Sonder Goeie Vrydag is daar geen versoening nie. En sonder die Paasmôre het die kruis geen krag nie.
Dis mos presies wat Jesus daardie dag vir Lasarus se sussies gesê het: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.” En ons glo dit. Maar die groot vraag is: lééf ons regtig dit?
Dis ons belydenis. Maar nou is die vraag: Kan mense dit elke dag in jou lewe sien? Dat Satan sy mag oor jou verloor het; dat jy ‘n oorwinnaar oor die boosheid om ons is, ja, meer as oorwinnaar is deur Hom wat ons liefhet? God wil dieselfde wonderwerkende krag waarmee Hy vir Jesus uit die dood opgewek het, elke dag ook in jou laat werk, om vir jou die onmoontlike moontlik te maak, sodat jy geestelik sal groei, sodat jy regtig kan liefhê en dien, en sodat jy die vrug van die Gees kan dra sodat enigeen sal kan sien dat jy ‘n lerwende God dien?
Maar gebeur dit? Of ploeter ons maar steeds voort? Lyk ons eintlik nog maar net soos verlede jaar hierdie tyd, tien jaar terug, omdat daar geen fut in ons geestelike lewe is nie, omdat ons eintlik maar leef asof Jesus steeds in die graf lê, en alles eintlik ‘n holle leë leuen is?
Hulle sê dat die duidelikste bewys wat ons vandag het dat Jesus wel opgestaan het en lewe, is die verskil wat Hy in sy kinders se lewe maak. Die vrug wat die Gees dra, sodat hulle onbaatsugtig kan liefhê, net soos Hy. Sodat hulle hul eie belange op die agtergrond kan skuif en ander begin dien, net soos Hy. Sodat hulle nederig en vol deernis vir ander kan wees, net soos Hy. Dit het geen mens van nature nie. Net Hy kan dit doen – en Hy doen dit omdat Hy opgestaan het en lewe.
Ons bely dat Hy daardie Sondagoggend die graf leeg agtergelaat het en dat Hy lewe. Maar hoe sal die wêreld dit glo, as jy dit elke dag loën deur te lewe asof Hy dood is? Dis net as jy elke dag lewe in ‘n lewende verhouding met Hom; as jy die beheer van jou lewe aan Hom afgestaan het en die Heilige Gees elke dag toelaat om sy vrug in jou te dra, wat jy ‘n sprekende bewys word dat Hy opgestaan het en lewe. Anders beteken Paasmôre niks. Het dit gekom en gegaan, en jy lewe steeds asof die Here dood is. AMEN