Efes. 4: 25- 5: 2
Datum: 8 Augustus 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
DIE PRAKTYK VAN CHRISTENSKAP – 11de Sondag in Koninkrykstyd
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Hierdie twee Sondae wat ek aan diens is, gaan ons bietjie saam stilstaan by Efesiërs 4 en 5. Nou teen hierdie tyd weet jy baie goed wat Efesiërs se bynaam is – dis bekend as Paulus se kerkbrief. As jy wonder oor die kerk, hoef jy net Efesiërs te lees. Dit vertel vir jou alles van die kerk wat jy behoort te weet – van waar die kerk vandaan kom tot wie ons nou is, en waarheen ons op pad is. Dit vertel van die wonder dat ek en jy uit genade geroep en gered is, omdat God ‘n plan met ons gehad het van die begin af. En hoe Hy ons deel an die kerk gemaak het, dis “huisgesin van God” waarin Hy alle grense tussen sy mense afgebreek het. In die kerk geld net een kwalifikasie: of jy glo dat Jesus Christus jou Here en Verlosser is. Enigiets anders is eintlik net bykomstig. Daarom moet ons werklik één wees in die kerk.
Dis so min of meer die eerste drie hoofstukke. En dan kom Paulus by Efesiërs 4, en die tweede deel van sy brief. Nou praat hy nie meer oor wie die kerk is en waar ons vandaan kom nie. Nou praat hy oor wat ons moet dóén in die kerk, hoe ons moet lewe, na alles wat God so totaal onverdiend vir ons gedoen het. Hierdie tweede deel van die brief het ook ‘n bynaam: dis bekend as “die huisreëls van die geloof”, want soos in elke gesin is daar ook reëls in God se groot gesin, hoe Hy verwag sy kinders moet lewe.
Maar nou is dit juis op hierdie punt wat baie kerkmense hom verkeerd verstaan. Want die klomp reëas hulle hier lees, lyk dit vir hulle asof Paulus hier vir ons ‘n klonp reëls deurgee – ‘n klomp wette wat iemand moet gehoorsaam, as hy in die hemel wil kom. Wat ongelukkig is daar baie mense in die kerk wat steeds lewe asof Christenskap net ‘n stel reëls is. Asof God vir ons ‘n stel reëls gegee het, en as jy hierdie wette alles gehoorsaam doen, sal jy wel eendag (hopelik) hemel toe gaan... Dis skokkend hoeveel keer jy dieselfde antwoord kry as jy mense vra of hulle eendag hemel toe gaan. Dan raak hulle om mee te begin, baie ongemaklik. Want jy sien, eintlik is hulle nie 100% seker nie. En dan begin hulle jou vertel, ja, ek hoop darem regtig so. Want eintlik probeer ek my hele lewe al baie hard om te lewe volgens die tien gebooie...
Kom ons sê sommer baie reguit vir mekaar: So sal jy nooit in die hemel kom nie. Jy kan nie vir jouself ‘n plek in die hemel verdien nie. Hoor bietjie wat het Paulus net twee hoofstukke voor hierdie een gesê: ”Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”
Hoor dit asseblief nou, vir eens en vir altyd: Daar is geen verdienste vir ‘n mens by God moontlik nie. Ons word uit genade gered, net omdat ons glo. As jy steeds deur die wet te doen, vir jou plek in die hemel probeer verdien, is jy niks anders as ‘n moderne Fariseër nie, want dis wat hulle ook tevergeefs probeer het. En jy is ook niks anders as die aanhanger van enige ander godsdiens wat jy pprobeer opnoem, wat punte probeer verdien met hulle eie gehoorsaamheid nie. Nee! sê Paulus. Ons word uit genade gered. God gee dit vir ons. Kom ons luister mooi wat sê Efesiës 4 en 5.
- Christenskap se vertrekpunt is ‘n verhouding met God.
Kom ons begin op die regte punt: kyk mooi waarmee begin Efesiërs 5:1: “Omdat julle kinders van God is...” sê hy. Byna soos die Tien Gebooie wat begin met die woorde: “Ek het julle klaar verlos” So wat Paulus hier vir ons uitspel, is nie die pad na die hemel toe, die weg van saligheid soos die ou mense gesê het nie, maar die praktyk van die lewe van iemand wat reeds aan God behoort. Pasulus skrywe hierdie vir mense wat reeds kinders van God is. En vir hulle herinner hy daaraan, dat Christenskap hoegenaamd nie gaan oor reëls nie. Nou waaroor gaan dit dan? Dit gaan oor ‘n verhouding. Die wese van Christenskap is kindskap.
En juis omdat jy ‘n kind van God, is Hy noodwendig jou Rolmodel, soos enige kind sy pa na-aap en soos hy lewe. Dit gaan dus nie oor koue reëls wat ons in elk geval nooit regtig volkome gehoorsaam gaan kry nie – nee Christenskap gaan oor ‘n praktiese, lewende voorbeeld! Psaulus se oproep is: God het dit alles vir julle gedoen, waarvan ons in die eerste drie hoofstukke gepraat het. Hy het julle uit genade syne gemaak. Paulus sê heel spesifiek: “God het ons gemaak wat ons nou is”. Ena s jy nou oorweldig is deur hierdie wete, lewe dan in sy voetspore. Volg sy voorbeeld en lewe in liefde...
- Dis praktiese navolging van sy Seun Jesus.
En in daardie opsig is ons eientlik baie gelukkig. Want God die Vader vra niks van ons wat ons nie prakties gedemonstreer gesien het in die lewe van Jesus Christus nie. As jy wil weet hoe God wil hê sy kinders nou moet lewe, kyk dan net na Jesus! Dit het nooit vir Hom oor Homself en sy eie voordeel gegaan nie. Hy het nooit sy eie eer gesoek en geheime agendas van sy eie gehad nie.Nee, as jy ‘n Rolmodel soek, kyk na sy nederige offer en sy toewyding wat aan ons die lewe besorg het! Kyk hoe Hy Homself weggegee het vir ons en om ons skuld te betaal, sodat ons kan lewe.
Dan spreek dit darem seker vanself. Want hoe kan jy hierna kyk en dan as volgeling van hierdie Dienskneg-Koning, steeds selfgerig en dislojaal bly wees? Dis tog totaal belaglik en onmoontlik. As jy hierdie Jesus dien, moet jy tog ook soos Hy, ‘n dienaar wees. Moet jy verstaan van terugstaan, van vredemaker wees. En so bepaal ons verhouding met Jesus dan ook ons verhoudinge met mekaar. So tree jy al meer soos Jesus op. In al jou verhoudinge. Skielik straal eerlikheid uit jou omgang met mense, kry jy reg om geduldig te wees met hulle wat anders dink as jy, en somtyds anders doen as jy ook. Skielik raak dit hoorbaar in die manier waarop jy praat. Jy hoef nie meer vieslike taal te gebruik om jou punt te maak nie, want dis na alles nie iets wat Jesus sou doen nie. Dieselfde sagtheid wat uit Jesus gestraal het wanneer Hy met jou werk, begin nou ook blyk uit die manier waarop jy met ander werk. Sodat mense op die ou end as ons eendag jou begrafnis hou, ook sal kan sê: Ek het Jesus in hom of haar gesien...
- Dis ‘n lewe in respek vir die Heilige Gees.
Wat jy is, is jy deur God die Vader en sy groot genade wat jou gered en jou sy kind gemaak het. Wat jy is, is jy deur die Seun wat vir jou aan die kruis betaal het om jou weer met God te versoen. En wat jy nou is en word, is aan die Heilige Gees te danke, wat in jou kom woon het, en die hele tyd werk om jou al meer soos jou groot Rolmodel, soos Jesus, te maak. Die Gees is na alles die rede hoekom jy jouself “kind van God” kan noem! Hy het jou as eiendom van God beseël. En dis nogal ‘n sterk woord. Dit beteken, daar hoef by jou geen twyfel te wees oor jou kindskap, en of jy eendag by God in die hemel sal wees nie. As jy glo in Jesus Christus as jou verlosser, dra jy God se seël. Jy sal hemel toe gaan.
En intussen is die Heilige Gees besig met sy restourasiewerk in jou, om jou weer die mens te maak wat God bedoel het jy moet wees, eerder as die karikatuur wat die sonde van jou gemaak het. Dis waarom Paulus ons oproep: Moenie Hom teenstaan nie! Moenie goed doen wat jy weet nie deel van God se plan vir jou is nie. As jy befoeterd is en skel en raas, bedroef jy die Gees. As jy ‘n wanverhouding het met goed, soos om te vat wat nie joune is nie, of so daaraan vas te klou dat jy nie maense help wat jou hulp nodig het nie, bedroef jy Hom... Na alles wat God vir ons geddoen het, behoort dit die laaste ding te wees wat ons wil doen, om God tleur te stel en te bedroef...
Om saam te vat: Efesiërs 4-6 is dus vir seker nie ‘n resep hoe jy dalk in die hemel kan uitkom nie. Wat dit is, is riglyne wat vir jou wys hoe ‘n kind van God naby aan sy Here kan lewe, sodat hy of sy die volheid van sy seën kan ervaar. Efesiërs 4 en 5 is hoe ek en jy as gelowiges behoort te lewe!
AMEN