Lukas 21:4-38
Datum: 2 Desember 2018 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
Verlede week het ek by die Kinderkerk hier agter in die konsistorie ‘n draai gemaak. Dit was hulle Kersles, en ons het tog te lekker gesels oor die wonder van Kersfees, en die nag in Betlehem. En baie lekker saam gesing ook. Maar daar was nog ‘n ander item op hulle program ook: hulle kry ‘n kans om al die moeilike vrae te vra waaroor hulle wonder, en waarvoor julle as ouers by die huis lyk my nie altyd antwoorde het nie. En nou is dit nogal regtig interessant om te hoor wat in hulle koppe aangaan. Anders as ons grootmense wat dikwels sulke ingewikkelde vrae vrae vra oor komplekse kwessies gaan dit in die kinderkerk oor die basiese waarhede. Soos: Waar kom God vandaan? En die afgelope week se vraag: Hoe weet ons dat ons geloof in Jesus die regte een is, as daar so baie ander gelowe is?
Dis nogal ‘n moeiliker vraag as wat jy dalk dink. Want Christenskap is na alles nie ‘n logiese optelsom nie. Ek en jy het nie destyds geGoogle en navorsing gedoen oor al die verskillende opsies, en toe besluit dat ons die Here wil dien nie. Ons bely dat Hy ons gekies het, en dat die Heilige Gees ons harte oopgesluit het vir sy Woord. Hy het ons nader getrek en ons sy kinders gemaak. Hy het ons gekies, nie ons vir Hom nie. Die hele saak was nooit in ons hande nie. Dit was nooit ‘n rasionele besluit, soos wanneer jy ‘n nuwe kar wil koop of besluit waar jy wil gaan vakansie hou nie.
Nou hoe weet ons dan, dat ons wel op die regte plek geeïndig het? Gelukkig vir my en jou, het Paulus ook een keer daaroor gewonder. En kan ons sy antwoord in 1 Tessalonisense 2 lees: die beste bewys vir die waarheid van die evangelie is die verskil wat dit in gelowiges se lewens maak. Jy kan daardie verskil nie verklaar nie. Dis eenvoudig bo-natuurlik. Daar is net één logiese verklaring daarvoor, en dit is dat God dit self bewerk het, dat Hy self jou lewe verander het. Jou getuienis is die beste bewys vir die waarheid van die Evangelie!
Daarby kom die unieke van die Here van die Bybel, dat Hy ‘n God is wat mens verras. Ons dien ‘n God wat nuwe, onverwagse goed doen! Onthou jy nog dat ons ‘n week of twee gelede verstom gestaan het oor die kreatiwiteit van God? Hy doen die totaal onverwagse. Hy het dit al gedoen in die skepping, maar Hy doen dit eintlik dwarsdeur die Bybel. Julle weet teen die tyd dat een van my gunsteling-gedeeltes in die Bybel Jesaja 43 is, waar God in soveel woorde belowe: “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan al op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom...”
En dis presies wat kort daarna gebeur ook: Een mooi oggend laat God die vreemde koning opstaan met die blink plan om die Jode terug te stuur huis toe. In ‘n oogwink, verander hulle totale lewe. God het iets wat niemand eens gewaag het om te droom nie. Iets totaal nuuts! En natuurlik stop dit nie daar nie. Want net soos Hy ook ingegryp het in die slawehuis in Egipte, so het Hy ook duisende jare later ingegryp in die stal in Betlehem. Niemand het daardie jaar voor die tyd die aantal inkopiedae afgetel na daardie eerste Kersfees toe nie. Dit het gebeur toe hulle dit die minste verwag het. Hulle het die nag rustig gaan slaap net soos enige ander nag, en in die middel van die nag wakker geskrik toe die heerlikheid van God die velde om hulle soos daglig verlig het.
Want dis hoe God werk. Jy kan nie voorspel wat Hy volgende gaan doen nie. Jy kan nie vooraf weet waar en hoe Hy uitkoms gaan gee nie. Hy is ‘n God wat ons telkens weer verras. En nou moet jy mooi verstaan, dit stop ook nie op Kersdag nie. Want dis wat Jesus vanoggend vir ons hier in Lukas 21 sê, waar sy openbare loopbaan end se kant toe staan. Hier kom bevestig Jesus dat die proses net voortgaan... Ons God bly tot die einde toe Een wat ons verras....
- Daar wag vir die kerk ‘n baie deurmekaar tyd, sê Hy.
Nie dat dit sulke vreeslike goeie nuus is, wat Jesus vir sy gehoor bring nie. Want in ‘n neutedop sê Hy vir hulle: Die mat sal binnekort onder julle uitgeruk word. Alles waarin julle jul sekuriteit stel, gaan in ‘n oogwink van julle weggeneem word. Die stad wat julle geglo het nooit ingeneem sal word nie, gaan verwoes word, en die tempel wat vir altyd sou staan, gaan met die grond gelyk gemaak word.
Maar dis net die begin: daarna wag groot internasionale krisisse. Die een bloedige stryd na die ander. Die mens se selfsug en eiegeregtigheid wat so lank gesmeul het, gaan openlik uitbars en ons wêreld begin verteer. Oral waar jy kom, gaan jy hoor van konflik en oorlog. Die orde gaan oral onvergegooi word deur opstande en moeilikheid, en asof dit nie erg genoeg is nie, wag daar ook groot natuurrampe en katastrofes; ook die hele natuur gaan in chaos wees. Met goed soos aardverwarming en besoedeling gaan die natuur net al meer onvoorspelbaar word. Die een ramp na die ander gaan die mensdom tref.
En asof dit nie erg genoeg is nie, gaan die druk op die kerk net toeneem. Die kerk gaan erge vervolging tegemoet, sê Jesus. En as hy nie sy sin kry deur fisiese vervolging nie, gaan die duiwel subtieler tegnieke gebruik. Hy gaan mense deur hebsug en materialisme verlei, sodat hulle afkoel en wegraak van die Here af. Hy gaan hulle heel week so hard laat werk dat hulle nie meer Sondag krag het vir die Here of vir sy kerk nie. En so gaan hulle net wegraak langs die pad.
Daarvan gaan baie mense aflei dat die wederkoms nou hier is. Jy gaan dit kort-kort hoor, sê Jesus. Maar ignoreer dit, want mense wat so sê, vergeet dat ons ‘n God dien wat die totaal onverwagse doen, en hulle gaan tevergeefs probeer voorspel wat hy gaan doen. Al wat hulle gaan regkry, is om baie te mislei en die kerk se getuienis baie skade aan te doen. Presies net soos wat ons nou onlangs weer met die millennium-wending ervaar het...
- En in hierdie chaos, het God se Seun ingekom...
Dis ‘n verskriklike donker prentjie van Lukas 21 teken. ‘n Prentjie van chaos, wat jou selfs kan laat begin wonder watter sin dit het om in die spulletjie Kersfees te vier. Lukas 21 teken vir ons wolke wat net al donkerder saampak. Is dit regtig al wat Jesus vir ons agtergelaat het op aarde? Is daar dan geen sprankie lig nie? Is dit regtig al waarop Jesus ons in sy laaste leerrede op aarde wil voorberei?
- Wat sê Jesus vir ons?
En dit bring my nou by presies die punt wat ek graag vanoggend met julle wil deel. Want daar is twee ligpunte in hierdie gedeelte wat jy nie hier moet miskyk nie. Die eerste hiervan wat jy moet hoor, sê Jesus in vers 33: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde nooit”
In die chaos van hierdie lewe staan Jesus se woorde soos ‘n rots waaraan jy jou lewe kan anker. Die res is onseker. Jy kan onmoontlik nie jou lewe daarop bou nie. Maar die woorde van Jesus is soos ‘n rots. Die storms van die lewe kan dit nie roer nie. En as jy dalk hier aan die begin van Adventtyd op ‘n donker plek is, en dit voel vir jou asof alles deurmekaar is en jy op niks kan peil trek nie, kom sê Jesus vanoggend vir jou: Jy moet weet dat nie een van God se woorde sal verby gaan nie. Daar is geen vervaldatum op enigeen van God se beloftes nie.
As Hy belowe het dat Hy jou end-uit sal vashou, dan sál Hy. Moenie daaraan twyfel nie. Hy sal daar wees vir sy kinders, en Hy sal sy kerk bewaar tot die einde toe, maak nie saak hoe donker dit om ons word nie.
En dan, is die tweede plek, kom gee Jesus in vers 36 vir ons die geheim om te oorlewe in hierdie deurmekaarspul: Lewe naby aan God. En as jy naby aan die Here lewe, kan jy maar weet dat Hy self vir jou die krag sal gee wat jy in elke situasie nodig het om behoue te kan bly, sodat ons uiteindelik die vervulling van sy belofte uit sy hand kan ontvang!
Want Hy is die getroue God wat ons telkens verras. Daarom kan ek en jy Kersfees vier. Want daar was ‘n nag toe die lied van die engele totaal onverwags weerklink het oor die velde buite Betlehem. Daardie nag het hulle gesing dat aan God al die eer behoort, en dat hy vir ons in hierdie Seuntjie in die krip ‘n nuwe era van vrede laat aanbreek het, vir elkeen in wie Hy ‘n welbehae het. En dit mag ek en jy vandag vir onsself toe-eien. Onthou jy daardie vrede wat Jesus onder-in die boot laat lê en slaap het terwyl die branders bo-oor die boot breek? Die bo-natuurlike vrede wat net God kan gee? In hierdie babatjie wil God dit ook vir my en jou gee.
Kom ons laat dit dan ons gebed wees, in hierdie drie weke wat voor Kersfees oor is. Moenie jou so laat inslurp deur die chaos van die wêreld se manier van Kersfees vier, dat jy vergeet om baie laag aan God se voete dít van Hom te kom bid nie: Gee Here, u vrede oor ons, in hierdie kersgety! Mag dit ook jou deel wees in hierdie Adventtyd.
AMEN