Jeremia 1:4-10
Datum: 21 Augustus 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Onthou jy nog dat dit verlede Sondag Vrouesondag was in De Eike? En soos dit ons gebruik is, het ons ‘n slag ‘n ander gesig op die preekstoel gehad. Ek hoef julle seker nie te herinner daaraan dat Janine Williams van Sarepta by ons kom kuier het nie, want oral waar ek die week beweeg het, het mense oor haar gepraat. Ek besef net weer hoe graag julle altyd na haar luister as sy die Woord van die Here vir ons bring. Ek praat agterna met iemand oor verlede Sondag, en die persoon merk toe op dat Janine so ‘n besonder keurige manier het om met woorde om te gaan. Dit voel asof elke woord wat sy sê, versigtig in haar voorbereiding oorweeg het, en of elke woord net op sy presies regte plek val. Dis een van die redes waarom ek self so graag na haar luister. Maar dis natuurlik nie al rede nie. Want Janine het ook ‘n wonderlike gawe om die Woord te ontsluit, en dit elke keer nuut te maak.
Verlede Sondagoggend was haar skriflesing Psalm 78:1-8, en haar tema was “Vertel aan die generasies die roemryke dade van die Here.” Die Here het ons almal uit Psalm 78 opnuut daaraan herinner dat elkeen van ons stories het, wat ons nie mag verswyg nie. Ons het almal soos ons hier sit, ‘n geskiedenis saam met die Here. Ons kom ‘n lang pad saam met Hom, en ons mag dit nie vir onsself hou nie. Ons het die verantwoordelikheid om daaroor te praat, veral ook met ons kinders en ons kleinkinders, sodat die volgende geslag ook van kleinsaf kan leer dat mens die Here kan vertrou en volg.
- “Ag Here my God, ek kan nie...”
Maar nou kom dit nie altyd vir ons so maklik nie. Trouens, jy mag dalk self ook gevoel het dat dit alles net baie makliker gesê as gedaan is. En dis dalk ook presies hoekom jy nog nooit regtig sover gekom het nie, en elke keer daarvan terugdeins. As ek nou moet eerlik wees, voel ek net regtig nie opgewasse daarvoor nie. En daarom het jy dalk ook Sondagoggend een van twee goed gedoen: Of jy het net daar en dan vergeet van die hele storie, en besluit die preek was nie vir jou nie, of anders het jy dalk effe beswaard huis toe gegaan met hierdie las op jou skouers. Ons weet ons moet praat – maar hoe gaan ons dit regkry? Waar gaan ons die regte woorde vandaan kry?
Vanoggend hoor ons iemand anders se storie, en dit mag jou dalk verras dat die profeet Jeremia se storie ook maar nie veel anders begin as joune nie. Dalk help dit as jy hier lees dat dit presies Jeremia se reaksie ook is, as hy hoor dat die Here hom roep om sy profeet te gaan wees. Wat doen Jeremia? Hy deins onmiddellik terug en teken beswaar aan: Ek kan nie Here! sê hy. U het duidelik vergeet dat ek nog heeltemal te jonk en onbekwaam is daarvoor.
En ironies genoeg, sou enige Jood wat destyds na Jeremia se argument geluister het, hom na alle waarskynlikheid net daar en dan gelyk gegee het. Want net mooi niemand sou destyds na ‘n jong mannetjie luister wat nog nie behoorlik droog agter die ore is nie. Na alles was die Jode se reël dat geen priester in die openbaar mag optree voordat hy nie ten minste dertig jaar oud was nie. Hmmm, jy is reg, Jeremia! Jy kwalifiseer beslis nie vir hierdie taak waarvoor die Here jou roep nie.
Maar miskien het Jeremia net vir ‘n oomblik bietjie vergeet met Wie hy praat. Want die profeet hoef nie sy ID vir die Here te wys sodat God kan sien hoe jonk en onbekwaam hy is nie – Die waarheid is dat die Here hom van lank voor sy geboorte af ken. Hy weet presies hoe oud is Jeremia, en Hy ken hom deur en deur. Hy weet verder ook van elkeen van sy tekortkomings sonder dat Jeremia dit eers hoef te noem.
En dis natuurlik van elkeen van ons ook waar! God ken jou, en as Hy met ‘n opdrag na jou toe kom soos verlede Sondag, gaan dit jou niks help om vir Hom ‘n lysie voor te hou van al jou tekortkominge nie. Want geen verskoning diskwalifiseer jou vir God se opdrag nie. Want dit waarvan jy in Jeremia 1 lees, is nie sommer net ‘n impulsiewe plan van God, ‘n opdrag wat Hy sommer op die ingewing van die oomblik voor Jeremia se deur kom lê nie. Nee, Jeremia moet leer dat hy deel van God se plan was, van lank voor sy geboorte af. En presies dieselfde is van jou waar! Vergeet dus maar van daardie verskonings. Voor jou ma nog eers geweet het dat jy op pad was, het God al van jou geweet. Hy het ‘n plan vir jou lewe gehad. Hy het presies geweet waar jy moet inpas in sy koninkryk, en waar Hy jou wil gebruik, sodat Hy vir jou met die regte gawes kon maak. Moenie jy nou vir Hom kom sê jy kan nie.
- Magteloosheid diskwalifiseer jou nie!
Want die eintlike punt wat Jeremia moes snap, is dat sy onvermoë op geen manier ‘n diskwalifikasie is nie. Inteendeel! Dis juis sy heel belangrikste kwalifikasie! Jeremia moet hier leer dat sy onvermoë irrelevant is. In stede daarvan dat dit jou verskoon, kwalifiseer dit jou juis vir hierdie werk! Want God het nie talentvolle mense nodig, welsprekendes en uitsonderlikes, sodat Hy deur hulle kan werk nie. Hulle is meeste van die tyd eerder in sy pad, want hulle verstaan nog nie dat dit eintlik Hy is wat werk, en dat ek net die instrument is wat Hy gebruik nie. God wil juis vir jou gebruik. Hy weet hoe onbeholpe jy somtyds kan wees, hoe jou woorde soms opdroog en jou kennis van die Bybel soms skandalig ontoereikend is. Hy weet dit alles! Maar Hy wil jou gebruik. Van voor jou geboorte af al, het Hy ‘n plan met jou.
En dan moet jy mooi kyk: God hef ook nêrens Jeremia se onbekwaamheid op nie: Hy swaai nie ‘n towerstaffie en ewe skielik is Jeremia hierdie super-profeet wat tot alles in staat is nie. Inteendeel. Jeremia bly Jeremia. Hy bly te jonk, en hy bly maar onbeholpe as hy sy woord moet doen. En ja, hy bly maar bang vir die koning en vir die volk wat regtig nie wil hoor wat hy te sê het nie. God kom verander nie Jeremia nie, want Hy wil hom juis gebruik net soos hy is. Hy wil jou ook nie ‘n vreemdeling vir jou eie gesin maak nie – dan sou hy mos seker ‘n geleerde teoloog van buite af gestuur het wat sy storie dalk baie bekwaam sou kon kom vertel. Maar dis nie sy plan nie. Nee, God wil vir jou gebruik. Wat jou kinders ken en vertrou. Met al jou swakhede en sterk punte.
Maar bo alles kom leer die Here vir Jeremia dat hy maar kan ontspan. Hy hoef hom nie in ‘n ander bloedgroep in te stres oor God se opdrag nie – want die Here vat end-uit volle verantwoordelikheid daarvoor. God verseker vir Jeremia dat Hy self in beheer gaan bly. As jy dink Ek stuur jou weg met ‘n onmoontlike taak en laat jou aan jouself oor ken jy My nog glad nie, Jeremia, sê die Here. Jy gaan nooit op jou eie die opdrag moet uitvoer wat Ek vir jou gee nie. So hou op bekommerd wees! Ek sal die woorde in jou mond lê. En daarom hoef jy ook vir niemand bang te wees nie, want jy gaan nooit alleen wees nie. Ek gaan elke tree van die pad in beheer bly!
- Maar God vat ook volle verantwoordelikheid.
Maar dan laat God ook vir geen oomblik vir Jeremia onder enige illusie oor die omvang van sy taak nie. Dis nie altyd maklik om ‘n profeet te wees nie. Van Jeremia sou dit vra dat hy baie reguit sou praat oor God se wil, met mense wat dit eintlik nie wou hoor nie. Hopelik sal jou getuienis jou nooit onder in ‘n put laat beland soos wat met Jeremia gebeur het nie, maar jy kan dalk ook teenstand ervaar. Mense sal nie altyd jou storie wil hoor nie, veral as dit nie strook met hulle eie stories nie. En moenie verbaas wees daaroor nie, want ook hier belowe die Here nêrens vir sy profeet dat daar ‘n massa-bekering op sy getuienis sal volg nie. Dit gaan soms vir hom voel soos Esegiël gesê het, asof hy op skerpioene sit. Daar is geen waarborg dat dit maklik sal wees om ‘n getuie vir die Here te wees, om ‘n profeet te wees nie.
Maar op die ou end het jy die belofte van die Here, dat as jy doen wat Hy van jou vra, jy nooit alleen sal wees nie. Hy sal daar wees vir jou om jou te bewaar en jou te red. Hy sal jou soos ‘n vestingstad met ‘n hoë muur maak, teen wie niemand enigiets kan uitrig nie. “Hulle sal jou nie oorweldig nie, want Ek is by jou sê die Here. Ek sal jou red...”
Slot: Wat sien jy, Jeremia?
Dis die versekering wat die onseker profeet kry. Maar daar stop die verhaal nie. Want dan stuur die Here vir Jeremia sy eerste gesig. Wat sien jy? vra die Here. ‘n Amandeltak, sê Jeremia. Nou moet jy verstaan dat die amandelboom vir die Jode baie besonders was, want dit was die eerste boom in hulle wêreld waarvan die bloeisels die komende Lente aangekondig het. Terwyl al die bome nog in hulle winterslaap vasgevang is, is die amandelboom een oggend oortrek van bloeisels. Daarom het hulle dit die “Wakkerboom” genoem. Die boom wat wys dat hier ‘n nuwe era aan die kom is, dat die koue winter verby is, en dat die nuwe seisoen hier is.
En daarmee sê God vir sy profeet: Dis tyd, Jeremia. Die tyd van die winterslaap is verby. Dis tyd dat jy begin beantwoord aan die roeping waarmee die Here jou geroep het voordat jy nog eers gebore was. Dis tyd dat jy uitgaan en vir die wêreld gaan vertel dat die nuwe seisoen aangebreek het, Vertel jou storie. Want God se nuwe tyd is hier.
AMEN