1 Samuel 3

Datum: 14 Januarie 2024 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Hierdie afgelope week lees ek weer die roepingsverhaal van Samuel, een van die reuse van die Ou Testament. Die aangrypende verhaal van ‘n klein seuntjie wat meer verstaan het van wat die Here van ons vra, as die geestelike leier van sy tyd. Want aan die een kant was Samuel nog so jonk dat hy voorgesê moes word hoe om op die stem van die Here te reageer. En aan die ander kant is hierdie gebeurtenis ‘n nuwe begin vir die volk van die Here.

 

Maar eintlik moes ek die week maar glimlag toe ek weer Samuel se reaksie op die roepstem van die Here lees. Ek weet mos gemeentes onthou dikwels later hulle dominees aan die gewoontes wat kenmerkend aan hulle was – en ons het maar almal sulke goed. En heel waarskynlik sal mense sê, as hulle oor ‘n paar jaar my nog onthou: Ja, dis mos die dominee wat altyd gesê het: “Praat maar, Here, want u dienskneg en u diensmeisie luister...” Ek kan myself nie help nie, want dis vir my een van die mees aangrypende oomblikke in die hele Bybel.  Wanneer hierdie klein seuntjie in die stilte en die donkerte van die nag, met net die flikkerende lampe in die tempel, homself oopstel vir die Woord van die Here. Onvoorwaardelik. Al het hy geen idee wat die Here van hom gaan vra, of watter eise dit aan hom gaan stel nie. Tog sê hy net: “Praat maar...”

 

En so lui hierdie woorde inderdaad ‘n nuwe hoofstuk vir God se mense in. Want bietjie later staan daar van Samuel in die laaste twee verse van hoofstuk 3: Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie. Die hele Israel van noord tot suid het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here.”

 

Ongelukkig is Samuel in ‘n slegte tyd gebore. ‘n Baie donker tyd – en nie net omdat die tempel se ligte maar baie dofweg gebrand het nie. Nee, dit was donker tye as ons lees dat die Bybel vir ons sê dat die stem van die Here toe al vir sommer baie jare al nie meer in Israel gehoor is nie. Kan jy jou ore glo? Dis dan God se volk dié, sy mense wat elke week tempel toe gaan om Hom te gaan aanbid – en tog hoor hulle nie die Here nie. Anders as die seuntjie die aand in die tempel was hulle horende doof. God hét met hulle gepraat – maar hulle het niks gehoor nie. Doodeenvoudig omdat Hy nie regtig deel van hulle lewe was nie. Hulle noem hulleself gelowiges, maar eintlik het hulle geen erg aan Hom nie, en doen hulle geen moeite om sy wil te hoor nie. Hulle lewe só ver van Hom af dat Hy geen faktor in hulle lewe is nie. En so het sy stem stil geraak onder hulle.

 

Selfs in die kerk. Eli is hulle Hoëpriester en hy werk elke dag vir die Here binne-in die tempel maar selfs hy het ook doof geraak vir die Here se stem. En moenie verbaas wees daaroor nie, want ons weet mos die Here praat nie met jou as jy nie regtig geïnteresseerd is nie. Dis erg, maar selfs die hoëpriester is nie regtig geïnteresseerd in wat die Here wil sê nie…

 

En dan verskyn Samuel op die toneel. En daardie donker nag in die tempel breek daar in Samuel ‘n nuwe dag deur in die verhouding tussen God en sy mense. Een enkele mannetjie maak die verskil! Samuel lui ‘n nuwe era in. ‘n Era waar die stem van God weer gehoor word. Skielik is daar weer ‘n betroubare profeet in die land. Iemand met wie die Here praat, wat weet wat die Here wil, en dit vir die mense kan leer. Die geestelike duisternis wat so lank soos ‘n donker kombers oor die land hang begin lig, en die lig breek deur. Net oor een klein seuntjie as leerling-priester in die tempel intrek… Een seuntjie wat sê: Praat maar, Here...

 

Dis waarvoor ek en jy sy kinders is. Dis God se droom vir jou lewe hier aan die begin van die nuwe jaar. Vergeet maar ‘n oomblik van al die ander Nuwejaars voornemens, God se droom vir ons lewe is dat ek en jy in 2024 só naby aan die Here sal lewe, so oorgegee, dat jy lig sal bring in hierdie donker wêreld. Dat jy so in die voetspore van Jesus sal lewe, dat jy sy stem sal hoor en sy wil sal ken, en so ‘n nuwe era sal inlei by die kantoor, by die skool, in die koshuis. Sodat ons regtig ‘n verskil sal maak.

 

  1. Samuel se storie

Soos Samuel. En wat ‘n wonderlike verhaal is die storie van Samuel nie. Jy onthou mos nog hoe sy ma hom van die Here afgebid het toe sy al lank kinderloos was, en hoe ongelooflik bly sy was oor klein Samuel. En hoedat sy hom as baie klein seuntjie (kommentare sê waarskynlik nie baie ouer as drie jaar nie) by die tempel afgegee het. Maar eintlik is al daardie inligting irrelevant. Want eintlik hoef jy net één ding van Samuel te weet, en dit staan al hier in die heel eerste vers.

 

Hy het die Here toegewyd gedien. Op hierdie stadium was Eli al oud en half-blind, en eerlikwaar nie veel gepla nie. Daarom het Samuel meeste van sy priesterlike take oorgeneem. So byvoorbeeld moes die priester sorg dat die heilige lampe nooit uitgaan nie, en Eli se oplossing was om Samuel in die tempel te laat slaap, sodat hy die lampe kon oppas, en die ander heilige voorwerpe soos die ark, waar die Here Homself vroeër openbaar het. Maar wat, dit was so lank terug dat Eli belangstelling verloor het, en nie meer daar op die Here gewag het nie. Dit was Samuel wat toegewyd as deurwagter die tempel saans toegesluit en bedags tempelgangers verwelkom het. Samuel het fluks gewerk, maar belangriker nog, sê vers 1, hy het die Here gedien, daar in die tempel.

 

Dis ‘n geweldige kontras wat die Bybel teken tussen hierdie jong kind, en die erns waarmee hy die Here dien, en hoe die Here hom seën, en teenoor hom die ongeërgdheid van die blinde ou Hoëpriester, wat soos die res van die volk eenvoudig by die Here verby lewe!

 

  1. Maar toe gebeur daar iets…

En toe gebeur dit. Totaal onverwags in die middel van die nag. Iets waarna die hele land al vir dekades smag, maar wat niemand sien kom het nie. Samuel lê weer op sy gewone plek in die tempel, en toe hoor hy in die middel van die nag die stem. Nie een keer nie, maar dríé maal! Dis eintlik so tragies dat Eli aanvanklik ook nie eens vermoed het wat gaan aan nie. Hy weet nie wat om te maak met Samuel se storie nie. Maar teen die derde keer het Samuel darem geweet om nie weer op te spring en na Eli toe te hardloop nie. Hy het net daar in die donker tempel neergeval en gebid: Praat maar, Here!

 

En so kry die seuntjie daardie nag ‘n verskriklike moeilike opdrag. Ek wonder hoeveel het hy daardie nag verder geslaap. Maar daardie nag het God vir Samuel aangeraak. Daar het iets geweldigs in sy lewe gebeur. God het van Samuel die leerder-priestertjie Samuel, die profeet gemaak. Die nuwe era het begin, want God het vir Hom iemand gekies met wie Hy kon praat, en vir wie Hy opdragte kon gee…

 

  1. En toe die dag breek…

Maar eers moes hy hierdie bitter moelike opdrag uitvoer. Toe dit uiteindelik dag word, het Samuel nie kans gesien om vir Eli te gaan sê wat die Here gesê het nie. Die nuut aangestelde profeet gaan kruip toe eerder weg by die tempeldeure, en hou hom daar besig met die gewone, alledaagse goedjies. Enigiets eerder as om gehoorsaam te wees en te doen wat die Here van hom gevra het! Professor Hennie Rossouw, een van my dosente, sê in ‘n preek oor hierdie gedeelte: “Die nuwe profeet het toe eerder ‘n koster geword.” Enigiets, solank hy net nie hoef te doen waarvoor die Here hom die vorige aand aangestel het nie…

 

En intussen wag Eli verniet. Want Samuel sien nie kans om vir hom te sê wat die Here se boodskap was nie. En ek verstaan dit! Want Samuel was jonk. Hoe kon hy met só ‘n boodskap na ou oom Eli toe gaan, vir wie hy na alle waarskynlikheid soveel respek gehad het? Hoe kon hy dít vir hom, van alle mense, gaan sê? Ek verstaan dit. Maar dit vat nie weg dat Samuel ongehoorsaam was nie. Hy mág nie stil gebly het nie. Dis nie waarvoor God Hom geroep, en met hom gepraat het nie. Stilbly en wegkruip is nie ‘n opsie vir die profeet van God nie.

 

En dis op dié punt wat die verhaal my ongemaklik maak. Want hoe lank wag God nie al vir jou om regtig aan jou roeping te begin beantwoord nie? Om die nuwe era te begin inlei in jou omgewing? God het jou immers nie geroep om soos ‘n verkleurmannetjie te verdwyn in jou omgewing nie. Daar buite wag ‘n wêreld wat besig is om verlore te gaan, sonder hoop, sonder vrede en blydskap, en intussen kruip jy weg. Jy hou jou besig met al die allerdaagse goedjies. Dalk goeie goed, wat ook jou werk is. Maar jy staan nie uit nie. Jy maak soos Samuel.

 

Dis tyd. Ons staan op die drumpel van 2024. Dis tyd dat ons nader aan die Here begin lewe, sodat ons sy stem kan hoor. Dis tyd dat jy in die stilte van die nag waar net God jou kan hoor vir Hom sê, by Hom pleit: Praat maar Here. Ek luister. Dis tyd dat ons ophou hardloop en tot stilstand kom. Niemand gaan dit vir jou reël nie.

 

Dalk is dit hoekom ons geestelike lewe die meeste van die tyd vir ons so frustreer. Dis so onbevredigend, want jy weet nie regtig wie jy is en waarheen jy op pad is nie. Jy sit op die rand van jou bed in die donker en hoor die stem wat roep. Dis tyd om tot stilstand te kom. En die roepstem van God te hoor. Die stem wat jou roep, jou uitdaag om in sy voetspore te begin leef, om uit te gaan en sy profeet te gaan wees. God wag dat jy ‘n nuwe era begin inlei in die donker wêreld daarbuite. Maar eers moet jy jouself regtig oopstel vir Hom, en weer naby aan Hom begin lewe. Hy roep vanoggend jou naam...

 

AMEN