Jakobus 5:13 - 20

Datum: 26 September 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Morkel

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Ek het onlangs deelgeneem aan ‘n aanlyn-kursus oor gebed. Die aanbieder het aan die begin vir ons gevra om elkeen op ‘n stukkie papier ‘n skets te maak van hoe ons gebed sien. Ek gaan nou nie my tekening vir julle wys nie! Dink vir so ‘n paar oomblikke: Hoe sal jou skets lyk? Hoe sal jy gebed in ‘n prentjie voorstel? Gebed was ‘n baie belangrike saak vir Jakobus. Hy skryf reeds in die eerste verse van sy brief oor gebed en sluit sy brief ook af deur breedvoerig oor gebed te skryf. In hierdie slotgedeelte van die brief noem Jakobus lidmate wat in verskillende omstandighede/situasies is en sê dan ook hoedat vir elke groep gebid moet word of teenoor hulle opgetree moet word.

 

Die eerste groep in die gemeente wat hy noem, is mense wat swaarkry. Jakobus praat eintlik van gelowiges wat swaargekry het as gevolg van hulle geloof. Skrifverklaarders sê die swaarkry kan op enige vorm van swaarkry dui. Ook op swaarkry wat ons lidmate vandag ervaar. Swaarkry soos om finansieël swaar te kry, siek te wees, in die hospitaal te wees,

alleen of eensaam te wees, in ‘n geloofskrisis te wees. Ook die swaarkry wat Covid-19 in die wêreld gebring het: lewensomstandighede wat drasties verander het, ‘n lewensmaat of familielid wat weke/maande in die hospitaal is of gesterf het sonder dat jy kon by wees. Jakobus sê vir diesulkes “jy moet bid.” Moenie dat jou swaarkry maak dat jy jou oë van die Here afhaal nie, moenie in jou swaarkry jou rug op die Here draai nie. Jakobus se raad is: bid, praat met die Here, soek die aangesig van die Here op as jy swaarkry. In vanoggend se teksgedeelte wys Jakobus telkens vir ons dat ons vir mekaar moet bid. Daarom wil ek ook oor die swaarkry van gelowiges sê: Ons moet bid vir diegene onder ons wat swaarkry. Ons moet by die Here intree vir mense wat ons weet wat swaarky. Iemand skryf hieroor: Maak gebruik van die smeekgebede wat in die Psalms voorkom. Bid hierdie Psalms - of dit vir jouself is of vir ander.

 

Jakobus sê tweedens: “as iemand opgeruimd is, moet hy lofliedere sing”. Die Blye Boodskap vertaal “opgeruimd wees” met: goed, gelukkig voel. Die lewe bestaan nie net uit swaarkry nie. Ons beleef ook oomblikke/tye van blydskap, vreugde. Daar is ook dinge wat ons bly maak: sukses, goeie nuus, ons vriende, familie, vakansies. Dit kan maklik gebeur maklik dat ons hierdie tye so geniet, so opgaan in dié dinge wat ons blymaak, dat ons ons oë van die Here afhaal, dat ons van Hom vergeet! Jakobus herinner ons, gee vir ons hierdie gepaste “reminder”. Ons moet in ons gelukkige tye lofliedere sing! Ons moet ons vreugde, ons “blywees” met die Here deel, ons moet vir die Here die eer gee vir die goeie tye wat Hy ons toedeel - selfs al is dit net in ‘n skietgebed in daardie oomblik. Dit is byvoorbeeld hoekom ons aan die begin van ‘n erediens ‘n loflied sing. Ons gee ons blydskap te kenne om saam in die teenwoordigheid van die Here te wees. Ek neem ek aan dit is ook hoekom sommige sportsterre/rugbyspelers ‘n kruis maak of met hul vinger na die hemel wys as hulle ‘n drie gedruk het - om aan die Here eer en erkenning te gee. Laat ons meer daarop ingestel wees om as ons opgewek/bly is aan die Here die eer te gee. Dalk oor ons kinders, ons kleinkinders, ‘n mooi sonsopkoms, die natuurskoon. Dat ons nie mense sal wees wat net in nood bid nie!

 

Jakobus wy ‘n groot gedeelte aan hoe gelowiges moet optree as iemand siek is. Hy sê as iemand siek is, moet die ouderlinge vir die persoon gaan bid, hom/haar met olie salf en die naam van die Here aanroep. En die persoon sal gesond word. Hoe moet ons vandag hierdie verse verstaan? Is ons ongehoorsaam omdat ons nie olie uitdeel aan die blokleiers om die siekes te besoek en hulle met olie te salf nie? Ek wil iets sê oor hoe olie destyds gesien is. Olie is in daardie tyd as ‘n geneesmiddel gebruik. Voorts is olie ook in verband gebring met die Ou Testamentiese gebruik dat ‘n koning met olie gesalf is as hy as koning ingelyf is. As iemand met olie gesalf is, het dit ook iets van dié betekenis gedra: die Here is hierby betrokke is, die Here se seën is hierby, die Here gee genesing. Buiten dat olie ‘n genees-middel was, het die olie hulle dus ook ten diepste daaraan herinner dat die Here in die genesingsproses betrokke is.

 

As Jakobus sê die ouderlinge moet vir die sieke bid en met olie salf, sê hy inderwaarheid vir hulle: gebruik die geneesmiddel en bid. Gebruik medisyne en vertrou die Here vir genesing. Vir ons sal hierdie woorde vandag beteken: bid vir die sieke, vertrou die Here vir genesing plus neem medikasie. Bid plus gaan dokter toe. Bid plus gaan vir die operasie. Bid dat die Here jou sal beskerm teen die Covid 19 virus plus neem die inenting (en dra die masker en ontsmet gereeld jou hande). Dié twee staan nie teenoor mekaar nie. God is ten diepste die Beskikker/Gewer van genesing.

 

Die volgende woorde van Jakobus is: Bely julle sonde eerlik teenoor mekaar en bid vir

mekaar sodat julle gesond kan word. Mense moet asseblief nie van hierdie woorde aflei dat mens siek word omdat jy gesondig het nie. En as jy jou sonde bely, sal jy gesondword nie. As siekte die direkte gevolg van sonde was, sou nie een van ons vanoggend in die kerk wees nie, maar sou almal dodelik siek gewees het! Ons moet hierdie woorde van Jakobus so sien: In die Bybelse tyd het mense nie so duidelike onderskeid gemaak tussen fisiese en geestelike ongesteldheid soos ons vandag nie. As Jakobus van siekte praat, sluit hy ook dinge in soos slegte of gebroke verhoudings in die gemeente, onvrede, onmin tussen gelowiges, mense wat siek is van spanning, onderlinge konflik, stress, die skade wat verbittering, afguns en liefdeloosheid aanrig. Jakobus praat dus kollektief. Hy sê vir die gemeente: julle is siek oor al die onderlinge ongerymdhede in julle midde.

 

En dan gaan hy verder. Bely hierdie dinge teenoor mekaar, maak vrede, vergewe mekaar,

klaar dinge tussen julle uit, bring dit wat die onderliggende spanning skep, aan die lig. En julle sal gesond word. Daar sal genesing vir julle as geloofsgemeenskap kom. Julle sal as gemeente, as liggaam van Christus, heling ervaar! Dit werk vandag nog steeds so. ‘n Geloofsgemeenskap kan nie onderliggende ongelukkigheid of ongerymdhede onder die mat invee nie. Dit sal nie weggaan nie. Genesing lê langs die weg van uitpraat, van die erkenning van verkeerde optredes teenoor mekaar, van om mekaar te vergewe. En dan daarna as ‘n gemeenskap wat genees is, die pad vorentoe saam te stap. Jakobus gee vir ons die voorbeeld van hoedat die Here Elia se gebede verhoor het. Hy sê “Elia was ‘n mens netsoos ons”. Hy bedoel daarmee die Here verhoor nie net die gebede van sekeres nie, supergelowiges nie. Die Here verhoor “mense soos ons” - alle mense - se gebede! Die gebed van die gelowige het ‘n kragtige uitwerking, sê Jakobus. Ons kan gerus dit wat Jakobus hier doen, ook meer doen. Om gebedsverhorings met mekaar te deel, om vir mekaar te vertel van wonderwerke, uitkomste, ingrype van die Here. So versterk ons mekaar

se geloof soos Jakobus doen deur ons te herinner aan hoedat die Here Elia se gebede verhoor het!

 

Jakobus sluit af deur die uiterste geval te noem wat met ‘n lidmaat kan gebeur. Hy sê as ‘n lidmaat afdwaal, wegstap uit die kring van die gelowiges, sy rug keer op die Here en sy gemeente(en ons weet tog dit gebeur soms), kan ons nie maar ons hande in onskuld was nie. Ons kan nie maar die skouers optrek en sê: dit is nou maar sy keuse nie. Jakobus sê so iemand “moet teruggebring word!” Jakobus sê nie hoe ons dit moet doen nie. As ons egter in aanmerking neem wat hy in die vorige verse vir ons uitwys, sal dit beteken dat ons in die eerste plek vir so iemand sal bid. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. Ons moet vir die Here vra om die afgedwaalde terug te bring. Ons sal egter ook onsself vir die Here moet aanbied as die Here dalk vir ons wil gebruik om die persoon terug te bring. Ons

sal moet bereidwees om die instrument in die Here se hand te wees om na die afgedwaalde uit te reik en hom/haar terug te bring. Ook op dié manier kom daar heling vir die gemeente as liggaam van Christus.

AMEN