Amos 7:7-17

Datum: 14 Julie 2019

Prediker: Hannes Burger

Onthou jy nog die dag toe jy uitpasseer het? Jy weet mos, daai dag toe jy die toets moes aflê om ‘n bestuurderslisensie te kan kry. Dis soveel jare gelede, maar ek onthou vandag nog daardie kol op my maag waarmee ek daardie oggend opgestaan het. Ek het geweet al my vriende het voor my die toets gedop met die eerste probeerslag. En ek het geweet as ek daardie maer, klein verkeerskonstabel kry, kan ek maar los. Dan het ek verloor nog voor ek begin het. Dit was soos Skeinat op die Hoër Graad, net erger. Ek is soos ‘n lam ter slagting verkeerskantoor toe. En raai net, toe kry ek die ander konstabel – die een wat regtig nie maer was nie. En so het my storie toe goed geeïndig.

 

Maar dit beteken nog altyd nie dis lekker om getoets te word nie. Dis dié dat ek vandag nog nagmerries kry daaroor. Want dit is nie lekker om getoets te word nie. Nie eens ‘n bloedtoets nie. Maar nou ja, gelukkig raak ‘n mens ouer, en ek hoop regtig daar wag na sestig minder toetse. Want ek is regtig nie lus daarvoor nie.

 

Maar nou het ek vir jou slegte nuus. Al is jou skoolloopbaan lankal verby, en het jy al ‘n lisensie. Want daar is een plek waar ons oor en oor getoets word. En daardie plek is ongelukkig hier. In die kerk. Ja, jy is nie hier in die kerk veilg daarvan nie. Want elke week as jy na die Tien Gebooie luister, wat God vir ons gegee het dat ons onsself daaraan moet meet, word jy weer getoets. Nou natuurlik sal meeste van ons moet erken dat ons dit nie regtig doen nie. Dis eerder ons kansie in die erediens om bietjie af te skakel, want eintlik is ons mos goed genoeg. Ons lewe is in orde net soos ons is. Ons is seker die Here is tevrede met ons; ons kan die toets maar laat verbygaan, en aangaan met ons lewe.

 

Maar nou moet ek jou ongelukkig vanoggend verinner aan dit wat Jakobus daaroor sê. Hy sê reguit dis dwaas om dit te doen. Net ‘n regte domkop (of ‘n tiener) sien homself soggens in die spieël, hoe onversorg en deurmekaar sy hare lyk, en draai dan net om en gaan aan met sy lewe asof alles reg is. Net ‘n dwaas, sê Jakobus. Enigiemand met verstand weet hoe belangrik dit is om getoets te word – selfs al is dit beslis nie lekker nie. Dis nodig.

  1. Dis toetstyd vir God se mense

En dis waar Amos 7 inkom. Want dis toetstyd vir Jerusalem, sê Amos. Daar staan ‘n man op die muur van die stad, en hy het ‘n skietlood in die hand. Hy is daar om die stad te toets.

 

Nou is ‘n skietlood nie iets wat ons elke dag sien nie. Ek weet nie eens of jy weet wat dit is en hoe dit lyk nie. Dis basies iets wat bouers gebruik. Dis net ‘n stukkie lood aan ‘n tou, en ‘n bouer laat dit langs die pas geboude muur afhang, om te kyk of dit loodreg gebou is. Natuurlik hang daardie stukkie lood altyd regaf. En wys dadelik baie duidelik vir die bouer of die muur regop gebou is of nie.

 

Maar weet jy wat val my op aan Amos 7? Hierdie man staan nie op die mure van die wêreld nie. Hy is nie besig om húlle mure te toets nie – hy weet sommer klaar hulle mure is alles krom en skeef! Nee, hierdie man is nie vanoggend in die eerste plek in húlle geïnteresseerd nie. Hy staan glad nie op die mure van die wêreld nie - hy staan op die mure van God se stad. Die toets is vir ons, wat gelowiges is, ons wat aan God behoort. Hy toets die bouwerk van God se mense...

 

Nou kyk, dit sal regtig nie veel help jy sit my op ‘n muur met die skietlood nie. Ek weet nie eens of ‘n skietlood ‘n bo- en ‘n onderkant het, en hoe ‘n muur moet lyk nie. Maar God wéét. Soos ‘n goeie bouer, weet Hy presies wat Hy wil hê van ons lewe. Hy weet presies hoe ons lewe sal lyk as ons onder beheer van sy Gees lewe, en as ons in sy koninkryk deel. Hy vra ‘n baie spesifieke lewensstyl van ons en dis wat Hy vanoggend by jou kom soek. En natuurlik kan jy nie Hom vandag ‘n rat voor die oë probeer draai nie. ‘n Slegte bouer kan dalk nog met ‘n bietjie ekstra pleister hier of daar sy knoeiery probeer wegsteek sodat niemand dit kan agterkom nie. Maar ek en jy kan dit nie met God doen nie. Hy wéét. Hy weet hoe moet die muur van ons lewe lyk, en Hy is nooit tevrede met brouwerk nie.

 

Daarby help dit ook nie jy protesteer nie. Natuurlik weet ons almal dat nie sommer enige ou natuurlik die reg het om bo-op ‘n pasgeboude muur te klim met ‘n skietlood nie. Dis iets wat net die eienaar van die gebou mag doen. Hy mag aandring op bouwerk van ‘n hoë gehalte, want hy betaal na alles vir die bouery. Dis syne. En presies net so, het God alle reg om vanoggend ons lewens te kom toets, want Hy het duur daarvoor betaal. Hy het ons duur gekoop, en daarom kan Hy met reg die bouwerk aan ons lewensmure kom toets..

  1. Die probleem

Die uiteinde van Amos se storie het jy seker sien kom. Ja, die mure van Jerusalem dop toe die toets. Jou ongeoefende oog sou dit dalk nie raakgesien het nie. In die verbystap sou die muur dalk vir jou piekfyn gelyk het. Want weet jy, daar was nie op die oog af so baie verkeerd in God se mense se lewe nie. Hulle was dan so godsdienstig, en dit het eintlik gelyk asof daar baie goed was wat hulle eintlik heeltemal reg gedoen het.

 

Maar die probleem met die toets is: jy kan nie daarvoor “spot” nie. Dit help niks jy doen net sekere goed reg en die res is verkeerd nie.  Jy kan nie God net in sekere opsigte dien, soos dit jou pas en soos jy kans sien, en dan kan jy maar rustig verder lewe soos jy eintlik maar lus is nie. Die Godsdiens wat die Here vra, is méér as om Sondag in die kerk te wees, méér as om net vreeslik vroom te lyk en die regte geluide te maak vir almal wat jou nie eintlik so goed ken nie.

 

Vir God is elke oomblik van die week net so belangrik soos Sondag, en jou lewe binne-in jou eie huis is net soos belangrik soos jou getuienis daarbuite. God vra nie van jou ‘n enkele kompartementjie van jou lewe nie. Hy vra jou hele lewe. Hy het na alles vir jou ook die Gees gegee om jou hele lewe te verander, sodat jy elke oomblik die vrug van die Gees sal dra.

  1. En nou..?

‘n Skietlood is eintlik ‘n lelike ding. As die messelaar geweet het die bouer gaan vanaand met sy skietlood op die muur verskyn, sou hy seker heeldag aansienlik versigtiger gebou het, en seker gemaak het alles is perfek. Want niemand is mos lus om jou bouwerk weer af te breek nie. Maar die messelaar weet dit nie vooraf nie. En as hy weer kyk is die skietlood ewe skielik net dáár, op die muur...

 

God se skietlood kom nie op jóú uitnodiging nie. Hy is ewe skielik net daar. En vanoggend is hy hier. Jy kan hom ignoreer en jou oë vir hom sluit, maar jy kan hom nie vermy nie. Net soos die mense van Jerusalem, het jy alle kanse gehad. Jy is gedoop, voordat jy nog eens daarvan bewus was. Tóé het God al bevestig dat Jesus klaar alles gedoen het wat vir jou nuwe lewe nodig is. En toe jy die dag besluit het om Hom te volg, het Hy self sy Gees binne-in jou gegee om jou te lei. En so bly Hy nog altyd, elke dag, met jou besig.

 

Toe ons mekaar nog laas gesien het, het ons saam Pinkster gehou. Ons het weer saam die bergrede beleef, en gehoor hoe Jesus ons vertel van God se nuwe era, van die koninkryk wat gekom het, en waarvan ons deel kan wees. Wat het toe daarvan geword? Of het dit lankal weer versand, verdwyn in die chaos van ons lewe van elke dag? En wat dit erger maak, is dat die Pinkster die hoeveelste kans is wat jy in jou lewe gekry het, om regtig deel van sy koninkryk te word, en die Gees regtig toe te laat om jou nuut te maak en tot sy eer te begin lewe. Maar het jy dit gedoen? Watter soort bouwerk het jy in die maand wat sedertdien verloop het, gedoen? Slaag jóú lewe vanoggend die toets van God se skietlood?

 

Vandag is weer ‘n nuwe begin. Vandag begin die nuwe semester in die kerk, die tweede helfde van 2019. En natuurlik is niemand van ons vandag lus vir afbreek en oor begin nie. Maar in God se Naam, net ‘n absolute dwaas sou voortgaan om selfs nog een dag verder op skewe mure te probeer voortbou. As dit al ooit regtig tyd was vir ‘n nuwe begin, is dit nóú. Vandag nog.

AMEN