Jona 1:1 - 5; 1:17; 2:10; 3:1 - 6; 4:1 - 3; 9 – 12.

Datum: 30 Mei 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Morkel

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Die boek Jona het my nogaltyd fassineer. Hoekom, weet ek nie! Dalk omdat ek heimlik simpatie met Jona het? Dalk omdat Jona so tipies menslik is en ek myself in Jona herken? Dalk omdat ons reeds hier in die Ou Testament so duidelik sien wie God is?

 

Jona het uit die bloute die opdrag van die Here gekry: “Maak klaar, gaan na die stad

Ninevé toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.” En wat doen Jona? Jona weier botweg om die Here te gehoorsaam, hy steek vierspoor vas soos ‘n donkie. Hy gaan verder: hy weier nie alleen nie, hy probeer sover moontlik wegkom van die opdrag van die Here. Hy gaan na Joppe en vat ‘n skip na Tarsis aan die Spaanse kus, so vêr moontlik in

‘n westelike rigting in die destyds bekende wêreld, terwyl Ninevé oos van Israel lê!

 

Die groot vraag, vriende, is natuurlik: Hoekom het Jona geweier om die Here te gehoor-saam? Hy is immers ‘n profeet? 2 Kon.14:25 werp so bietjie lig op hierdie vraag. Daar staan Jona was die profeet in die hofhouding van Jerobeam II van Israel. Mens kan jou indink dat so ‘n pos ‘n groot invloed op Jona se denke sou hê. Jona se werksomgewing is immers die koningshuis en sy personeel; Jona is omring deur mense vir wie dit gaan om die regering, die bewaring van die belange van die volk Israel; Jona werk in die sentrum, die hartklop van die hoofkantoor van Israel! Die woorde in 4:2 help ons verder om te verstaan hoekom Jona gevlug het. In hierdie verse sê Jona vir die Here dat toe hy nog in sy land was, hy reeds geweet het “die Here is ‘n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde.” Jona het diep in sy hart geweet die Here gaan genadig teenoor die Assiriërs wees! En hy wou dit ten alle koste voorkom!

 

Die beeld wat Jona dus van God gehad het, of soos ons sal sê, Jona se Godsbeeld, was dat

God die God van Israel is en nie ook van ander volkere nie. God is die nasionale God van Israel. Ons, Israel, is die volk van God, die enigste volk van God - finish en klaar - en hy wat Jona is, sal sorg dat dit so bly! Daarom sit Jona soveel kilometers moontlik tussen homself en Ninevé! So julle verstaan hoe geskok Jona sou wees toe die Here hierdie opdrag vir hom gee? Nog nooit het ‘n profeet van Israel die opdrag gekry om vir ‘n ander volk te gaan preek nie. Hoor ek reg, Here? Ek, Jona, Ninevé toe? Moet ek vir ons aartsvyande, die Assirieërs, in hul hoofstad gaan preek? Wat gaan die mense sê, wat gaan koning Jerobeam sê? Jona weier dus die opdrag van die Here omdat dit indruis teen sy siening wie God is, bots met sy

Godsbeeld!

 

Jona daar gelaat, vriende, hoe dink jy oor God? Hoe lyk die beeld wat jy met verloop van tyd van God geskep het? Hoe lyk die God wat jy aanbid? Is ons nie baie soos Jona nie? Reageer ons nie dikwels op dieselfde manier as Jona nie? Ons skep in ons gedagtes vir ons ‘n beeld van hoe die Here is, hoe die Here behoort te wees, en as die Here nie daarvolgens optree nie, volg ons ons eie kop! Ons het (soos Jona) ‘n Godsbeeld, ‘n beeld van God wat ons pas, wat my toelaat om met my lewe aan te gaan soos ek wil, al sê die Bybel anders. ‘n Godsbeeld wat nie omgee as my lewe gaan om my eie koninkryk, my eie verryking en my eie gemak nie, terwyl God se koninkryk aan die kortste end trek?  ‘n Godsbeeld wat sy oë sluit, of dan ander pad kyk vir my lou-warm, afgeskeepte geloofslewe? Ons gehoorsaam net die Here as dit ons pas. Ons ignoreer die wil van die Here as dit bots met ons eie wil. Ons leef onder die vaandel van Christenskap, maar skik ons lewe na ons gemak. Ons klim op ons skip na ons Tarsis al weet ons die Here se wil is Ninevé!

 

Tweede punt: Ons ken almal die verhaal van Jona. Hoedat Jona op die skip is oppad Tarsis toe, hoedat die Here ‘n storm op die see laat opkom het, Jona oorboord gegooi is, ‘n groot vis Jona ingesluk en weer op die Here se bevel uitgespoeg het. Wat gebeur dan? Het die Here toe vir Jona afgeskryf? Nee, die Here het sy opdrag aan Jona om in Ninevé te gaan preek, herhaal. Jona gaan preek “Nog net veertig dae en die stad Ninevé word verwoes!”

Iemand sê “die kortste preek in mense heugenis!”. Dan sê die Bybel die mense in Ninevé het in God geglo en die koning het ‘n tydperk van vas en berou uitgeroep. En dan staan daar: En toe God sien hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle gaan bring.

 

Is dit nie wonderlik nie, vriende? Jona se onwilligheid om vanuit die staanspoor die Here te gehoorsaam, het nie verhoed dat die Here hom gebruik nie. Die Here gee vir Jona weer ‘n kans, gebruik jou waarlik op die ou end hierdie steekse profeet, die Here gee hom ‘n verdere geleentheid om te doen wat Hy vir hom gevra het. Dit is ons as gelowiges se behoud. Die Here skryf ook nie vir ons summier af nie. Die Here besluit nie as ons Hom gefaal het: jammer, dit is klaar met jou nie! Die Here vergewe ons deur Jesus Christus en gee my weer die geleentheid om Hom te gehoorsaam. Die Here gebruik my weer, gee weer vir my ‘n opdrag. Die Here maak weer van my, soos met Jona, ‘n voertuig van Sy genade na ander.

Die Here gebruik steeds vandag halstarrige en onvolmaakte gelowiges soos Jona, soos ons!

As dit nie so was nie, sou ek nooit predikant kon wees nie, sou ek dit nooit tot vandag gemaak het nie. Die Here slaan met ‘n krom stok ‘n reguit hou - ek dank die Here dat Hy my nooit afgeskryf het nie, maar my as ‘n krom stok geleenthede in sy diens bly gee het.

 

Dan kom ons by die twee opmerkings oor die God wat ons in Jona leer ken. Die Here het

‘n groot storm oor die see laat opkom en weer laat bedaar, ‘n groot vis gestuur het om Jona in te sluk en weer op die vasteland uit te spoeg, 'n komkommerplant laat opkom om vir Jona skaduwee te gee, 'n wurm gestuur om die komkommerplant af te vreet en ‘n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die God wat Jona, ek en jy aanbid, is die God aan wie letterlik alles ondergeskik is, die God wat in beheer van alles in die skepping is, die God

wie se mag oor almal en alles strek  -  van ‘n wurm tot ‘n groot vis, van die kleinste, nietigste tot die grootste. Die God wat ons aanbid is die Almagtige God! Dit is goed om te weet De Eike is in die hande van die Almagtige God! Dit is wonderlik om te weet ons is almal in die hande(die sorg) van die Almagtige God, Skepper van hemel en aarde(soos ons dit elke Sondag bely). Ons kan met klein, oënskynlik onbenullighede in ons lewe die Here vertrou.

Niks is vir Hom te klein, te nietig nie! Ons kan ook die groot dinge in ons lewe na die Here neem, niks is te veel gevra, te groot, vir Hom nie. Die Almagtige God sorg vir sy kinders, al is die dag van more onbekend, al ken ons nie die uitkoms van die Covid 19 pandemie nie, al weet ons nie wat die  toekoms(ook jou en my persoonlike toekoms) inhou nie, Ons het nie rede tot vrees of kommer nie - vertrou die Here!

 

Dit bring my by die tweede eienskap van God wat in die verhaal van Jona uitwys. Die Here sou die ongehoorsame Jona in ‘n oogwink van die aardbol kon vee, maar Hy het nie. Die Here sou Jona in die maag van die groot vis kon laat vergaan, maar Hy het nie. Die  Here sou sy oordeel oor die goddelose mense Ninevé kon uitspreek, maar Hy het nie. Die Here sou op die ou end sy rug op die ontevrede Jona kon draai, maar Hy het nie. Die Here het bemoeienis met Jona bly maak, hom bly opsoek, in gesprek met hom gebly. In die Nuwe Testament leer ons hierdie God ken as die God wat sy Seun, Jesus Christus na die aarde gestuur het om vir ons sondes aan die kruis te sterf en op te staan uit die dood. Die God wat

deur Jesus vir ons verlossing van sonde en die ewige lewe bewerk het. Die God wat sy Gees vir ons gestuur om vir altyd met ons te wees!

 

Ons God is nie net die Almagtige nie, maar ook die God van liefde en genade! Hierdie genadige God het uit genade ook elkeen van ons opgesoek, ons verlos, kinders van Hom gemaak. Hy het ook uit genade vanoggend deur die doop na klein Nelia uitgereik en vir haar gesê “Nelia, Ek wil ook jou God wees!” Hy sou ook by vele geleenthede al vir ons kon afskryf, maar Hy het nie! Hierdie God gee nie op ons op nie, Hy bly ons liefhê, Hy bly ons opsoek. Ek wil dan graag vanoggend weer vir jou uitnooi: Vra opnuut die Here om jou al die kere wat jy ‘n Jona op Hom getrek het, te vergewe. Ook as jy op hierdie oomblik nie is waar jy moet wees nie, as jy weet jy lewe buite die Here se wil, as jy oppad na Tarsis is terwyl jou opdrag Ninevé is. Sê saam met my vir die Here: Gebruik my Here, waar U wil, teenoor wie U wil en wanneer U wil!

 

Laastens: Die Jona-boek eindig sonder ‘n mooi afloop en einde. Jona is aan die einde van die boek ‘n knorrige, beswaarde en ontevrede mens. Wonder jy saam met my wat van Jona geword het?  Ek weet nie, die Bybel sê nie. Met die stomp einde van die Jona-verhaal, word die vraag wat ons oor Jona vra, in ons skoot geplaas. Dan is die vraag nie meer “Wat het van Jona geword nie”, maar “Wat word van jou? Wat is besig om van jou, jou lewe te word?”

Gaan skryf jy dan die slot van Jona met jou lewe.

AMEN