Genesis 2:15-17; 3:1-7
Datum: 1 Maart 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
Die uniekheid van Genesis 1-3:
Die naam van die boek sê dit al klaar alles. Genesis. Dit kom van ‘n Griekse woord wat beteken “Ontstaan”. Want hierdie Bybelboek vertel ons waar dit alles begin het. Dalk sê die Jode se naam vir hierdie boek dit selfs nog beter. Hulle noem die “Beresît” – “In die Begin”. Want dis die verhaal van “in die begin”. Dit vertel ‘n verhaal wat hom eeue gelede afspeel, lank voordat die mens eers skrif uitgedink het, toe verhale saans langs die kosvure van geslag tot geslag oorgedra is - van pa na seun, wat dit weer eendag vir sy eie kinders sou vertel. Soos jy darem self kan dink, het niemand destyds met ‘n notaboek reggesit en aantekeninge gemaak of met sy selfoon fotos geneem toe God die aarde gemaak het, of toe die eerste mense in die tuin rondgeloop het nie.
En dít moet ek en jy vandag in gedagte hou, as ons Genesis oopmaak en daaruit begin lees. Dit help nie jy lees dit asof dit ‘n ooggetuieverslag is wat in die koerant verskyn of wat in ‘n geskiedenisboek staan nie. Dit help nie jy lees dit soos ‘n wetenskaplike handboek wat vir jou presies wil verduidelik wat God gedoen het toe Hy die wêreld geskep het, vir ingeval jy dit ook wil probeer nie. Nee, Genesis 1-3 is eintlik ‘n gedig. En jy moet dit lees soos ‘n gedig. En in ‘n gedig ontleed jy nie elke detailtjie letterlik nie. Jy vra nie wat se doringboom langs die pad gestaan het, en hoekom die wa juis daar verbygery het nie. Dis irrelevant. Jy vra wat is dit wat die digter vir my wil sê. Jy vra na die boodskap van die gedig. En dis presies wat jy in Genesis 1-3 ook moet doen.
Dis ‘n gedig, en jy moet dit soos ‘n gedig lees! Maar nou moet jy mooi verstaan: die feit dat dit ‘n gedig is, maak dit nie daarom minder waar nie. Om die waarheid te sê van die grootste waarhede in die geskiedenis is juis in gedigte gesê. Maar wat dit wel beteken, is dat jy dit tog net anders moet benader. En moet vra: Wat wil die Gees vir ons hieruit sê? Waarom het die Gees hierdie verhaal vir ons bewaar laat bly, om dit in 2020 te kan lees?
- God stel aan die mens perke:
En wat is dit dan, wat Genesis 3 vir ons sê? Wel, die eerste belangrike ding wat jy moet weet oor die ontstaan van alle dinge, is dat God die Skepper van alles is. Hy het alles geskep, dit alles baie goed gemaak. Die chaos en hartseer in ons wêreld kom nie van God af nie. As Hy self na die skepping sê: Dit is alles baie goed, dan wás dit baie goed. Tweedens, juis omdat Hy die Skepper van alles is, bly Hy ook vir ewig die Eienaar daarvan. Dis aan Hom wat ons in alle opsigte verantwoording verskuldig bly. Want so bevoorreg soos die mens is dat God hierdie wonderlike blyplek aan hom toevertrou het, word hy nooit die baas van Eden nie.
En ‘n derde ding wat Genesis ons vertel, is dat God die mens anders as die res van die skepping gemaak het. Die mens was van die begin af uniek in die skepping, want net God het net die mens gemaak om in ‘n verhouding met God te kan lewe. Maar hierdie verhouding met ons Skepper is net moontlik as ons die Here as God bly erken. As ons afhanklik van Hom bly, naby aan Hom lewe, en dit wys deurdat ons gehoorsaam is aan dit wat Hy van ons vra, sal Hy wat ons geskep het, ons Vader wees en vir ons sorg.
En dis net daar wat die fout toe inkom. Want daar was iemand wat nie ingenome was met God se goeie skepping nie. Iemand wat dolgraag alles wou verongeluk, En dis net hier wat Satan toe sy opening sien en sy mespunt inkry. Hy weet baie goed wat die situasie is, maar kyk hoe listig kom vra hy vir Eva: Is dit waar dat God julle verbied het om van die vrugte te eet? Dis darem regtig onnodig. Buitendien, Eva, besef jy seker hoekom Hy dit doen. Dis natuurlik omdat Hy bang is jy weet dan net soveel soos Hy. Hy probeer jou onder hou, en dis waarom Hy nie eerlik is met jou nie. Hy weet baie goed dat jy net soos God sal wees as jy dit eet. As jy dit eet, sal jy self god raak...”
En so sit hy die mens aan die dink. En ewe skielik lyk die verbode vrug vir die mens baie aantreklik... Want dis na alles van die begin af ten diepste wat die mens die graagste wil hê. Hy wil eintlik self god wees, onafhanklik wees. Sodat hy sy eie baas kan wees. En so oortree die mens die een reël wat God vir hom gestel het...
- Die “onmoontlike moontlikheid”.
Teoloë noem dit die “onmoontlike moontlikheid”. Dit is eintlik ondenkbaar dat die ooit gebeur het. Dit moes nooit gebeur het nie. Hoekom sou die mens vir sy stories geval het? Terwyl alles dan so volmaak is! Die mens was letterlik salig gelukkig, en het alles gehad wat hy kon begeer. Hoekom op dees aarde leen hy sy ore uit en plaas alles op die spel, en laat in die proses so die eindelose ellende oor ons almal los? Hoekom sou die mens kies om die deur oop te maak vir geweld en oorloë vir natuurrampe en epidemies, waarvan die een brander na die ander die wêreld oorspoel, soos nou weer met hierdie Corona-virus. Hoekom het Adam en Eva nie maar net gehoorsaam gebly en die Satan weggejaag soos Jesus met hom in die woestyn gedoen het nie?
Ek weet nie. Maar die onmoontlike moontlikheid het gebeur. Want onthou, dis juis wat die mens so uniek maak in God se skepping. Hy was die enigste wese wat God van die begin af gemaak het sodat hy kon kies. Hy kon kies om in ‘n verhouding met God te staan, wat geen marionet kan doen nie. Maar toe misbruik die mens hierdie vryheid. En hy kies ellendig, tragies en heeltemal verkeerd!
Aan die een kant wil ek net al magteloos woedend raak vir daardie eerste mense. Tot ek weer besef: wie is ek en jy om vir Adam en Eva te verkwalik? Wat doen ons anders? Ons staan ook in ‘n verhouding met God, wat ons jaloers behoort te koester en beskerm. En hoeveel keer op ‘n dag doen ons presies wat hulle gedoen het? Hoeveel keer kies ons weer en weer verkeerd? Presies net soos hulle...
- En nou kruip Adam en Eva vir God weg...
En dis dan hoekom ons vir Adam en Eva kry waar hulle wegkruip in die tuin. Hulle lyk nou bietjie anders, want hulle het nou nie meer hulle Adamsgewade aan nie. Want selfs dit wat mooi was, het nou lelik geraak. Dis eintlik so ‘n tragiese prentjie, want waarmee is hulle twee nou eintlik besig? Wat op aarde is meer futiel, as om vir God agter ‘n boom te probeer wegkruip?
En tog weereens, moet ek jou vra: is dit nie presies wat die mensdom vandag nog na al die eeue steeds probeer doen nie. Is dit nie wat jy ook doen as jy die laken oor jou kop trek wanneer jy die kerkklok op ‘n Sondag hoor lui, sodat jy tog net nie God se Woord hoef te gaan hoor nie? Is die mensdom nie op presies hierdie oomblik in hulle hordes aan die wegkruip in die inkopiesentrums nie? En as my en jou Bybel stof lê en vergader op ons bedkassie, wat anders doen ons, as om te probeer wegkruip vir God, sodat Hy ons tog net nie kan konfronteer nie?
Gelukkig eindig die storie darem nie daar nie. Dit was die tyd wat die aandwindjie begin opkom, sê die Bybel. ‘n Wonderlike tyd in daardie deel van die wêreld. Presies die tyd wanneer die aandwindjie lafenis begin bring in daardie snikhete wêreld van die uitputting van die dag. Presies net toe, kom die stem, en net daar leer ons nog iets nuuts van God. God openbaar Homself aan ons as die Roepende. Hy kan nie sy oë sluit vir wat gebeur het nie. Hy kan nie maak of dit maar reg is, dat die mens Hom so skandelik verraai het nie. Maar dit beteken nie dat Hy die mens prysgee nie. Hy kom soek sy kinders op...
En so roep God. Dwarsdeur die Bybel. Hy roep ouens waar hulle in die woestyn wegkruip omdat hulle droogemaak het in Egipte, en Hy roep ouens wat moedeloos onder besembosse lê en wegkruip vir die wêreld. Hy roep vissers langs hul skuite, en belastingwerkers in hulle kantore. Hy roep vir Jona in die middel van die see, en hy roep ‘n gebroke dissipel wat hom drie keer verloën het, om hom weer aan te stel. En een dag in die kerk, het Hy ook jóú naam laat uitroep hier by die doopvont. Want dis wat God doen – Hy roep ons terug, waar ons ook al gedwaal het. En as jy mooi luister vandag, en stil genoeg raak sal jy bewus daarvan raak dat Hy ook nog steeds vir jou roep.
Want God wil nie die mens prysgee nie. Hy wil nie sy kinders laat gaan nie. “Ek kan hoor my Heiland roep my” het die ou hallelujaliedjie gesing. God het nog niks verander nie. En as jy iewers vandag fyn luister sal jy hoor. Hy roep jou...
AMEN