Psalm 29

Datum: 10 Januarie 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

 Wanneer jy jou Bybel van voor af begin blaai, sal een van die heel eerste dinge waarvan jy daar lees, wees van die stem van God. Wat seker ook nie vreemd is nie, want dis na alles waaroor die Bybel gaan. Die Bybel is God se kommunikasie met ons. Jy sal verwag om sy stem daaruit te hoor. Daarom lees jy al in Genesis 1 van die woorde van God, en net daar verneem ons al uit die Bybel dat God se stem totaal uniek is. Daar is ‘n groot woord daarvoor in die teologie - hulle sê God se stem is “skeppingsmagtig”. Dit beteken, God hoef net iets te sê, en dit is so. Selfs wanneer Hy iets so wonderlik soos lig skep, of iets so omvattend soos die hemelruim, verg van Hom net een enkele woord. En daar was lig, en daar was die uitgebreide hemelruim wat wetenskaplikes eeue later steeds elke dag besig hou. Hulle bestudeer elke dag al die wonderlike detail daarvan, terwyl die res van ons eintlik bitter min daarvan weet, en ons net in sprakelose verwondering daaraan na die grootsheid daarvan kan verkyk.

 

Natuurlik is dit vir ons as mense ‘n baie vreemde konsep. Jy kan jou dit eintlik kwalik voorstel. Natuurlik weet ons wel baie goed van woorde. Ons is heeldag en aldag omring van woorde, totdat jy party keer ook seker nes ek net lus is en druk jou ore toe of glip weg en loop sit iewers in die Sederberge op ‘n klip, sodat jy net ‘n slag deur stilte omring kan word. Ons hoor elke dag van ons lewe derduisende woorde. Jy kan maar sê ons is al verby versadigingspunt met die goed.

 

Maar natuurlik het ek en jy darem ook al slim geraak. Ons weet al dat nie alle woorde dieselfde waarde het nie. Ons het baie vroeg in ons lewe al geleer dat mens jou nie aan alles kan steur wat jy hoor nie. Die ou mense het gepraat van "ydele woorde”, en dis ongelukkig die gedreun wat ons meeste van die tyd omring. Ek was alreeds ‘n senior burger toe ek geleer het daar bestaan ‘n woord daarvoor: hulle noem dit “fopnuus”. Maar eintlik weet ek dit my lewe lank al. En weet al baie jare dat ‘n mens nie jou ore moet uitleen nie, want meeste van die woorde wat soos bye om jou kop zoem, is eintlik maar net geluide, wat die wind dadelik weer wegwaai...

 

  1. God se woorde is anders

Maar nie God se woorde nie. God se woorde is anders. God gebruik nie leë, ydele woorde nie. Sy woorde is anders, want om mee te begin is dit ewig waar, sodat jy jou hele lewe daarop kan bou. Maar meer nog, God se woorde is skeppingsmagtig. Dit bring goed tot stand. God sê nooit maar iets net sodat dit tog nie moet stil wees nie. Dis nooit net leë woorde ter wille van woorde nie. God se woorde maak altyd ‘n verskil.

 

Maar nou sal jy ‘n fout maak as jy aflei dat God se woorde altyd die magtige dreuning is wat soos donderslae uitrol oor die aarde, en die lig bring wat die duisternis oor die skepping verdryf. Nee, die waarheid is dat God meeste van die tyd eintlik baie sag met ons praat, sodat sy stem baie maklik by jou sou kon verbygaan as jy nie fyn daarop ingestel is nie. ‘n Baie mooi voorbeeld hiervan wat ons in die Bybel kry is die slag wat Elia in die grot weggekruip het vir Agab. Terwyl ‘n orkaan die berg daarbuite uitmekaar skeur, sê die Bybel net in eenvoudige taal vir ons: In die sterk wind was die Here nie. Ook nie in die aardbewing, of in die verterende vuur wat daarop gevolg het nie. Maar toe die stilte op die berg neerdaal, was daar “’n fluistering in die windstilte”, en het Elia buitentoe gegaan om te luister wat die Here vir hom wou sê. En vandag nog, is dit meer dikwels in die stilte, as ons ‘n slag die TV en die selfone afgeskakel het, wat ons sy stem kan begin hoor...

 

Johan herinner my die afgelope week aan iets wat professor Danie Louw van die kweekskool vir ons gesê het. Hy het gesê dat die Here meeste van die tyd sag en vriendelik met ons praat; dis net wanneer ons nie luister nie, wat Hy soms nodig het om sy stem te verhef en dan baie hard met ons kan praat...

 

En dit bring my vanoggend by by die Psalm wat ons so pas saam gelees het. Want dis presies wat ons in Psalm 29 ook hoor.

 

Want Psalm 29 vertel ook van die heilige verskyning van die Here. In digterlike taal, natuurlik, want ‘n Psalm is immers ‘n gedig. Maar hierdie slag vertel dit nie van die fluisterstem wat Elia by die berg Horeb gehoor het nie. In Psalm 29 praat God hard, met ‘n wêreld wat duidelik nie geluister het nie en sy stem geïgnoreer het. Dit weerklink soos donderweer oor die waters, sê die Psalmdigter. Selfs die reuse sederbome teen die Libanon wat lyk asof hulle vir ewig sal bly staan, is nie daarteen bestand nie. Om die waarheid te sê, dit skud selfs die berge van die Libanon as Hy praat. Die hele natuur word daardeur tot stilstand geruk. God praat baie hard met die mense, so hard dat selfs die hemelinge wat in sy paleis toekyk, en verbysterd vir mekaar staan en sê: “Hoe geweldig!”

 

  1. Wat sê dit vir 2021?

En dis toe ek hier lees, wat ek so stadigaan iets begin verstaan het van wat die Here vir ons vandag deur hierdie Psalm wil sê. Want dis die storie van ons lewe op die oomblik hierdie. Ons lewe in 2021 te midde van ‘n kosmiese storm soos dié waarvan Psalm 29 praat. Die Here is op die oomblik besig om baie hard met ons wêreld te praat. Sy stem dreun deur hospitaalsale, waarin mense op suurstof lê en worstel teen ‘n siekte waarmee ons nie regtig raad het nie, wat reeds weer ‘n mortaliteitskoers van 80% bereik - wat beteken dat vandag een in elke vyf mense wat dit kry, daaraan beswyk. Die nagmerrie wat ons gedink het ons met die eerste golf verbygegaan het, het ons inderdaad nou bereik. En ek hoef nie vir jou statistieke aan te haal nie. Ek weet al te goed ‘n mens kry leuens, dan infame leuens, en dan statistieke. Maar weet jy, as jy al meer met families te doen kry, ook hier tussen ons, wat baie seer het, en baie bekommerd is oor hulle mense, dan kan jy nie meer ligtelik hieroor dink nie. Dis ‘n werklikheid. Die Here is besig om baie, baie hard met ons te praat....

 

Maar nou moet ek ongelukkig eerlik sê dat ek nie eintlik daarop massa-bekerings verwag nie. Want ons mensdom is nie juis bekend daarvoor dat ons luister en reageer wanneer God met ons praat nie. Gaan lees maar weer in die boek Openbaring, hoe die Here vir hulle weer en weer kans gee, maar al wat hulle doen, is om eerder te wens dat die berge hulle sal toeval, eerder as wat hulle na Hom sal luister...

 

  1. Die Boodskap vir God se kinders

Maar wat sê Psalm 29 dan vandag vir ons, wat kinders van die Here is? Ons hoor  immers dieselfde skrikwekkende stem wat dreun deur die wêreld as wat die ongelowige hoor. Ook ons kyk rondom ons en is ook getuies van die lyding onder ons. Watter verskil maak dit dan dat ons die Here ken en aan Hom behoort? Op watter manier is die hele ervaring van Covid 19 dan anders vir ons, wat die Here ken en wat die Here dien?

 

Wel, in die eerste plek is dit natuurlik waar dat God se stem nie net kom na die ongelowige wêreld daarbuite nie. Dit praat ook met ons. Met jóú. Dit kom ons ‘n slag wakker ruk uit ons sluimering waarin ons as kinders van die Here so maklik verval. Dit kom herinner ons ook weer Wie regtig in beheer is, en laat ons besef dat ons tog nie so slim of so magtig is soos wat ons gedink het nie. Dat ons nie al die antwoorde het nie. Na ons toe kom die stem, om ons uit te daag met die vraag: waar pas die Here in jou lewe in? Watter plek staan ons in ons lewe aan Hom af, of het ons dalk maar lou geword, meer op ons eie gerief ingestel as om regtig die Here met oorgawe te dien? Die stem van God is besig om met jóú ook te praat, en Hy praat baie hard, sodat ons dit ‘n slag baie goed kan hoor. Dis tyd dat ons terugkeer na die eenvoudige kernwaarheid van die Bybel: om God bo alles lief te hê, en ons naaste soos onsself. Om ons lewe weer af te gee in sy hande, te abdikeer van die troontjies wat ons so maklik weer bestyg.

 

God praat met jou. Watter plek neem Hy regtig in jou lewe in? Jy verstaan dat jy moontlik die volgende een kan wees wat agter ‘n suurstofmasker in die Intensiewe Sorg-eenheid lê. Is jy reg, wanneer Hy ook al vir jou kom haal?

 

Maar aan die ander kant is die stem tog ook nie vir God se kinders dieselfde as vir die wêreld nie. Want al praat die stem hoe hard, bly dit ons Vader se stem. En dit maak al die verskil. Dis waarom hierdie Psalm eindig op die noot wat jy in vers 11 sal hoor: “Die Here gee krag aan sy volk; die Here seën sy volk met oorvloed.”

 

In die storm, mag ek en jy weet dat ons ‘n Vader het wat in beheer is, en wat groter is as enige pandemie. Terwyl die storm daarbuite in al sy geweld woed, mag ons onthou dat ons gemerk is met sy naam op ons voorkoppe, sodat die chaos van die storm op geen stadium so groot sal raak, dat ons Vader ons in die storm sal verloor nie. As daar al ooit ‘n tyd was om te vertrou, is dit nou. As daar ooit ‘n tyd was om op jou knieë te staan, is dit nou. As daar ‘n tyd was om weer jou hand soos ‘n kindjie in Goid se hand te plaas, dan is dit vir seker nou. Want “hiervan is ek oortuig:” skrywe Paulus, “geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

 

In alles sal ons méér as oorwinnaars wees, deur Hom wat vir ons liefhet... as ons net onsself sover kan bring om regtig te luister terwyl Hy met ons praat.

 

AMEN