Spreuke 8:1–4, 22–31
Datum: 15 Junie 2025 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar
- Inleiding. Dit is Vadersdag en my gebed is: “Dat ons, ons hemelse Vader in die lewens van vaders en vaderfigure sal sien. Want daar is soveel stemme en soveel dinge. Wie kan ons vandag nog glo? Wie is reg, en wie is verkeerd? Hoeveel keer het ons nie al iets gehoor of gelees en gewonder: “Is dit waarheid of is dit fop-nuus?” Maar te midde van hierdie geraas roep daar 'n stem wat anders is – ’n stem van wysheid, ’n stem wat nie net kennis bring nie, maar lewe gee. En almal het tot hierdie wysheid toegang.
- Wysheid roep tot almal – (Spreuke 8:1–4). Die eerste vier verse van Spreuke 8 wys vir ons dat wysheid nie verborge is nie. Wysheid is deursigtig. Sy roep – openlik, hardop, op openbare plekke. En tot wie roep sy? Tot almal, van die begin af!
- Christus – wysheid van die begin af – (Spreuke 8:22–26). In hierdie verse hoor ons haar stem, ons luister na wysheid se getuienis, klokhelder en duidelik sonder enige verwarring. Wysheid praat oor haar oorsprong – voor die skepping, by God. In die lig van die Nuwe Testament kan ons hierdie “Wysheid” verstaan as ’n voorafskaduwing van Jesus Christus, die Woord wat in die begin by God was (Joh. 1:1)
- Christus se vreugde in die skepping en in mense – (Spreuke 8:27–31). Ons sien iets besonders hier: Christus (as Wysheid) was teenwoordig in die skepping, maar meer nog – Hy het vreugde gevind in die mensdom. Hy was nie bloot ’n toeskouer nie – Hy het Hom verlustig in wat God geskep het.
- Slot. Spreuke 8 roep ons om na wysheid te luister – maar uiteindelik roep dit ons om na Jesus Christus te luister en na hom te draai, die een wat van die begin af by die Vader was, wat die wêreld met vreugde gesien het, en wat na ons roep om Hom te volg. Die uitnodiging is nie net tot wysheid nie – dis ’n uitnodiging tot ’n verhouding met Christus self.

