Gen 15:7-12; 17-18, Gen 17:6-12; 24-27

Datum: 7 Mei 2023 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar

  1. Inleiding. God se genade is onbeskryflik groot. God se liefde is eindeloos. God se omgee en sorg is onmeetbaar. Dit is ons God wat ons in die Bybel ontmoet. En heeltyd bly ons bewus van God as die handelende. God wat die inisiatief neem. God wat ten spyte van sy kinders se afdwaal-paaie, nukke en grille, steeds bemoeienis maak. Daarom is hierdie gedeelte van Genesis onbegryplik en staan ons net weer in verwondering dat God bereid is om in Sy liefde na ons oor te buig en Hom oor ons te ontferm. Ons lees van God wat ‘n verbintenis maak met Abraham en sy nageslag.. ‘n Verbintenis wat ons insluit. En dit is ’n blywende verbintenis: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. En as bevestiging van hierdie verbintenis sal alle mans die teken dra. Selfs babaseuns wat agt dae oud is, ontvang die teken.

 

  1. Teken en Betekenis. Die teken, naamlik die besnydenis, beteken dat God ‘n verbintenis maak met Sy volk. Abraham het die teken op ‘n laat ouderdom ontvang, so ook Ismael op dertien jarige ouderdom. Isak, Abraham en Sara se seun het ook die teken agt dae na geboorte ontvang alhoewel Isak op daardie ouderdom nog nie die betekenis van die teken kon verstaan of in God kon glo nie. Maar Abraham het ‘n pad van geloof en vertroue saam met God gestap. En Abraham het daardie geloofskennis en betekenis van die verbintenis aan sy gesin en familie oorgedra. God wou hê dat Sy volk ‘n teken dra dat hulle anders is as ander mense. Maar hierdie teken verander in die Nuwe Testament.

 

  1. Die teken verander maar nie die betekenis nie. In die Nuwe Testament wil God nog steeds hê Sy kinders moet gemerk word. Maar nou is dit nie meer nodig dat bloed moet vloei, of dat ons meer diere hoef te offer nie want Jesus, die Lam van God, sterf aan die kruis en word as’t ware geslag en geoffer vir al ons sonde. En omdat bloed nie meer nodig is nie, het God besluit ons moet dit nou met water doen. Soos water mens skoon maak as jy vuil is, was Jesus ons skoon van ons vuilheid. Lees gerus Kol. 2:11-12, Handelinge 15 en ook Matteus 28:19 wat vir ons ‘n aanduiding gee dat die doop nou die besnydenis vervang het.

 

4.         Slot. Wat sê die Here vir ons vanoggend? Soos Abraham van ouds moet ouers met hulle kinders gaan sit en hulle verduidelik wat dit beteken om gedoop te wees. Dat hulle die teken ontvang het toe hulle nog nie verstaan het nie. Vertel hulle dat die doop nie ‘n ek-maak-die-keuse verbintenis is nie. Die verbintenis is God se keuse, nie die mens s’n nie. Die doop is die inlywing in die verbintenis en die nagmaal die in-blywing in die verbintenis. Amen.