Lukas 2:25-40
Datum: 10 Desember 2017
Prediker: Hannes Burger
Hierdie afgelope week gaan soek ek een oggend vroeg by ‘n winkelsentrum hier ‘n kersgeskenk wat ek moes koop. Vroegoggend, voor die gedrang te erg raak. Ek moes wag dat hulle die winkels oopsluit. Maar voordat die vertrapping kon begin was ek al weer terug tuis. Baie in my skik met myself. Mission accomplished! Nou moet ek nog net vir my vrou ‘n geskenk koop. As iemand ‘n idee het, kan hulle my gerus Whatsapp. Verder hoop ek sien die winkels my eers in 2018 weer. Want winkelsentrums is nagmerrieplekke dié tyd van die jaar. Dit voel my almal is daar.
Eers terug by die huis begin ek wonder: Hoekom is almal so mal oor Kersfees? Ek verstaan dit natuurlik nog van Christene. Maar die res...? Almal is gaande oor die “Christmas spirit”, daardie gees van welwillendheid wat veronderstel is om hierdie tyd van die jaar te heers. Selfs die TV wys elke aand ‘n “Kersfees”-fliek. Wel die soort Kersfeesfieks waarin die Here se Naam nooit eers genoem word nie, maar toe maar... En ons stad lyk soos ‘n groot kersboom met al die pragtige liggies. Almal is vrolik en wens jou net voor die voet ‘n “Merrie Krismis” toe.
Jy sien hulle natuurlik nie so mal gaan oor Goeie Vrydag nie, en meeste mense weet nie eers wanneer Hemelvaartdag is nie. Nou hoekom dan hierdie histerie oor Kersfees? Ek vrees dit wys maar net weer vir ons hoe alles vir mense net om hulleself draai. Hulle hou van Kersfees, oor wat hulle alles daaruit kan kry. En jy kan nogal baie uit die kersseisoen kry.
Om mee te begin is dit mos oestyd as jy besigheid doen. Jy moet die maand genoeg geld in om te vergoed vir al die maer maande. En die res van ons kan ‘n slag see toe gaan en lekker saam kuier met almal wat jy lanklaas gesien het – dalk gaan selfs jou kleinkinders daar wees. Want gelukkig moet die baas jou ‘n week of wat vakansie gee, want alles maak mos nou toe. Daarby is mens nooit te oud om ‘n kersboom te geniet, en dalk selfs ‘n geskenkie of wat ook nie. Maar wag net ‘n oomblik. As jy regtig eerlik moet wees, draai al hierdie redes eintlik maar net om onsself...
Natuurlik is dieselfde nie waar van Goeie Vrydag nie. Paasnaweek is anders. Dit daag jou uit. Dit konfronteer jou met die kruis, en daarmee met jou eie sondigheid en verlorenheid. Daarom is daar net eenvoudig geen “Merry merry” langs die kruis nie. Selfs die erediens wat ons die Vrydagoggend hou, en die Stil Saterdag wat daarop volg, is somber en donker. Dit bring natuurlik vir ons wat glo, sy eie soort vreugde, want ons weet dis juis ter wille van ons wat Hy daar hang. Maar dis nou eenmaal nie die soort vreugde wat die wêreld sal verstaan nie.
- Kersfees reken hulle, is ‘n ander saak.
Dalk verstaan jy dit nog beter as jy ‘n oomblik dink aan die eerste prentjie wat in jou kop verskyn as jy aan Goeie Vrydag dink. Jy sien Jesus aan die kruis, verwronge in sy lyding, omring van sy treurende volgelinge. En die eerste prentjie in jou kop as jy die woord Kersfees hoor? Waarskynlik ‘n babatjie in ‘n krip, omring van sy trotse ouers en ‘n paar engele in die agtergrond. Dis vir seker ‘n eindeloos mooier prentjie, want wie van ons hou nie van klein babatjies nie?
Dieselfde geld vir die liedjies wat ons sing - wie hou nie van kersliedjies nie? Want nou sing jy nie oor ‘n hoof bedek met wonde nie – kerstyd kan jy sing oor herders op die ope velde wat die nuus hoor dat God ons eindeloos liefhet. Jy stap vrolik die kerk uit – huppelend en sing-sing huis toe, as jy enigsins nog kan, want ons Heiland is gebore... Ons is mal oor Kersfees, want dis so ‘n heerlike, vrolike fees.
- Of is dit?
Of is dit? Is dit waar? Is Kersfees regtig so ‘n ongekwalifiseerde jolifikasie soos dit my lyk almal glo? Of praat die Bybel dalk van ‘n totaal ander Kersfees?
Ons kan seker nie instaan vir hoe die wêreld dink oor Kersfees nie – maar in die kerk moet ons onsself afvra, hoe lyk die ideale helder Somerkersfees waarvoor ons vra? Wat is “’n geseënde Kersfees”? Dis vir seker meer as hierdie sentimentele partytjie wat niks aan enigiemand verander nie, behalwe vir die skade wat dit aan ons begrotings doen, sodat ons almal eintlik heimlik bietjie verlig is as dit verby is en ons agterna kan opruim en herstel?
Ons in die kerk kan nie maar net stilstaan by Lukas 2 se pragtige prentjie van die babatjie in die krip en die herders op die ope velde nie, en daarmee volstaan asof dit alles sê oor Kersfees nie. Ons moet ook die res van Lukas 2 lees. Ons moet ook Simeon se voorspelling hoor, van die swaard wat deur Maria se siel sou gaan. Ons moet Kersfees onthou wat Johannes daaroor skrywe: dat die Seun van God na sy eiendom toe gekom het, maar dat sy eie mense Hom nie wou aanvaar nie. Kortom: ons kan nie regtig Kersfees vier sonder dat die skadu van die kruis ook op die een of ander manier daaroor val nie...
- Simon
As iemand dit verstaan het, lyk my was dit die ou profeet Simeon. Die Heilige Gees het sy oë oopgemaak, en hy het verstaan dat hier iets geweldigs gebeur het. Hier is baie meer op die spel as ‘n lekker somervakansie. Hy het verstaan dat die babatjie verdeeltheid sou bring, want Hy sou alle mense voor ‘n keuse stel. Jy kan nooit wegdraai van die krip af sonder dat jy gekies het nie. Al kies jy ook om die babatjie te ignoreer en te volstaan met ‘n selfsugtige Kersfees. Maar kies die gaan jy kies. “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word. So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, ’n swaard sal deur jou siel gaan.”
Dis die radikaliteit van hierdie Seuntjie. Hy is ‘n waterskeiding. Van die oomblik wat Hy sy eerste skree in die donker stal gegee het, is dit vir niemand meer ‘n opsie om God te dien op jou eie voorwaardes nie. Simeon het die stuk radikaliteit in hierdie babatjie raakgesien. By Jesus is dit alles of niks. Hy gaan voluit vir ons. En daarom verwag Hy dit ook van sy volgelinge. Vir Hom is “amper” nie goed genoeg nie.
Maar Simeon sê dit nie met ‘n beswaarde stem, soos een wat iewers ‘n doodsklok hoor lui nie. Hy sê dit asemloos verwonderd oor die wonder dat God se kind uit liefde na ons wêreld toe gekom het. Hy kan net God prys en jubel, want hy verstaan watter verskil hierdie babatjie kom maak: Hy is die weg waarlangs God kies om ons te verlos.
Wat sê dit vir ons? Moet ons dan liewer nie Kersfees geniet nie, die liggies afsit en en eerder ons somberste klere aantrek vir Kersfees, en dan heeltyd so sedig en beswaard moontlik wees? Asseblief tog nie! Gaan eerder en gaan jubel saam met Simeon en die engele, en vier die wonderlikste gebeurtenis ooit met oorgawe!
Maak onthou net: Jy verstaan mos Kersfees. Verstaan dan dat Kersfees nie oor jouself gaan nie. Want dit gaan Kersfees oor gee. Dis wat die engelelied die nag vir die herders sê: God het vir julle ‘n Verlosser gegee. Laat jou lewe in hierdie Kerstyd resoneer met die loflied van die engele. Laat jou lewe ‘n kerslied raak. Begin gee.
Nie daardie mooi geskenkies onder die boom nie. Maar iets eindeloos groter en belangriker: gee jouself. Geen jouself vir God, daar langs die krip. En gee jouself weg vir hulle om jou. Want Kersfees gaan nie oor jou nie. En hoe meer jy gee, hoe meer raak dit regtig Kersfees in jou lewe.
AMEN