Eksodus 32:1-14
Datum: 11 Oktober 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Sê my, hoe dien ‘n mens regtig die Here? Toe ons mekaar laas gesien het, het ons gepraat oor die storie van die Jode se eerste opstand in die woestyn. Hulle was ontevrede omdat hulle nie genoeg kos gehad het nie. Maar God het hulle nie net toe net daar en dan weggejaag, terug slawehuis toe nie. Nee, God het Hom oor hulle ontferm en vir hulle kos gegee. En so het Hy dwarsdeur die hele woestyntog gedoen – ja, selfs nadat die volk later begin kla het dat hulle darem nou regtig moeg vir hierdie eentonige dieet is. Maar veral belangrik, het ons toe ook die Here se twee riglyne vir die nuwe pad vorentoe gehoor. As jy regtig naby aan die Here wil lewe, moet jy twee goed doen: Jy moet Hom onvoorwaardelik vertrou, en jy moet Hom onvoorwaardelik gehoorsaam.
Maar hoe dien ‘n mens regtig die Here? Hierdie is nie maar net ‘n akademiese vraag, waaroor ons die volgende halfuur kan besin nie. Dis ook glad nie soos die ander reëls waarmee ons daagliks gekonfronteer word, soos: Wat maak mens as jy na ‘n stopstraat toe kom? Of wanneer jou selfoon lui terwyl jy bestuur? Of so iets nie. Want eintlik maak ons sommer maklik normaalweg ons eie reëls, besluit ons vir die oomblik die reëls is vir ander ouens. Maar nie hierdie vraag nie. Hier het jy nie daardie luukse nie.
Hoe dien mens regtig die Here? Die antwoord is doodeenvoudig: Jy dien God soos Hy vra! Dit het ons tog al uit die Kinderbybel geleer, en in die Sondagskool, en in elkeen van honderde preke langs die pad. God duld nie kompromieë nie. Jy dien Hom soos Hy vra om gedien te word, en klaar.
Maar nou hou ons mense daarvan om dinge vir ons net ‘n bietjie geriefliker te maak. Die versoeking is altyd daar om dinge net so ‘n bietjie aan te pas - sodat dit darem nie vir my so erg ongerieflik is nie. Soos byvoorbeeld wanneer ek besluit oor my dankoffer. Ons weet wat vra die Here, maar wie gaan nou weet as ek die Here afskeep met my dankoffer? Ek weet mos darem die kerk gaan my nie daarvoor dagvaar nie. Of ‘n ander voorbeeld: Sê nou jy het die opsie om Sondagoggende net ‘n videotjie in jou pajamas te kyk... dis tog soveel geriefliker as om aan te trek en kerk toe te gaan soos die Here vra. Dit het grendeltyd ons mos geleer – dis net soveel makliker...
Maar weet jy, die vraag is mos nie wat vir jou werk of vir jou pas nie. Die vraag is wat God vra... En dis eintlik die belangrikste vraag in ons hele lewe: Wat wil God hê...?
- Stel jouself ‘n oomblik in die Jode se skoene
Dis so maklik om die Jode hier te veroordeel. Liewe land, Moses kan nie eens sy rug draai nie en kyk net wat vang hulle aan! Maar wag, kom verbeel jou jy was een van hulle. En jy weet Moses, julle leier, is weg en bly weg. Hy is die berg uit om met God te gaan praat, en jy weet daar kan baie goed gebeur teen die hange van ‘n vreemde berg. Sê nou maar hy kom net nooit weer terug nie? Sê nou maar hy het iewers by ‘n krans afgeval of iets? En wat dit erger maak, ons almal weet Moses en God is absoluut onafskeidbaar. En dit beteken dan, as Moses weg is, dan is God ook weg...
Dan is ons nie net sonder leier nie, ons is ook sonder God, sonder die Een wat ons nog elke keer beskerm het en vir ons gesorg het met kos en water. Dan is ons werklik alleen in hierdie eindelose wildernis, totaal uitgelewer aan die wrede woestyn!
Wat nou? Baie gou het die Jode erg paniekerig geraak. En elke dag wat Moses langer wegbly, raak die paniek net groter. Moses is weg en God saam met hom. Ons sal nou self ‘n plan moet maak! Ons sal nou maar self moet sorg, en vir onsself moet voorsien. En so dwing hulle toe vir Aäron om vir hulle ‘n goue kalf te maak.
- Toe maak hulle die goue kalf.
Dit was altyd vir my vreemd, dat mense vir wie God nog heeltyd sorg nou ewe skielik vir hulleself ‘n afgod maak, en dit nogal ‘n kalf van alle dinge? Hoe het hulle gedink gaan die beeld vir hulle sorg? Maar toe het ek op kweekskool gehoor die Jode het na alle waarskynlik nie hier vir hulleself ‘n nuwe afgod uitgedink en vir hulleself geskep het nie. Hulle plan was om God self deur hierdie beeld by hulle teenwoordig moet maak. Hulle wou nie ‘n nuwe god aanbid nie. Hulle wou God self aanbid, maar op hulle eie manier, soos mense destyds algemeen gedoen het.
Almal het vir hulle beelde van hul gode gemaak, sodat die god vir jou konkreet kan raak, en jy hom kan sien. Met ander woorde, jy aanbid nie regtig daardie stuk klip nie, maar jy aanbid jou god deur hom. En so kry jy natuurlik ook sommer ‘n mate van beheer oor hom. Nou kan hy nie meer net een mooi dag weggaan nie! En as jy hom nodig het, kan jy hom baie vinnig afstof en bid, en dan kan hy jou help.
Natuurlik weet jy dis presies wat God gesê het ons NIE moet doen nie. En hulle het ook die tweede gebod geken, en geweet God wil nie so aanbid word nie. God kom nooit in jou beheer nie. Hy wil nie aanbid word soos die nikswerd afgode van die Egiptenare en die ander volke nie. Hy word op sy eie terme aanbid. Jy moet Hom volkome vertrou en volkome gehoorsaam. Dis wat Hy vra.
- Daarom gooi Moses die kliptafels stukkend.
Dis hoekom Moses daardie twee kliptafels flenters gooi toe hy van die berg afkom. Ek het altyd gedink dit was ‘n woede-uitbarsting, maar hierdie is nie bloot ‘n “tantrum” van Moses nie, dis ‘n simboliese daad wat hy doen. Want toe Moses die spulletjie in die kamp sien, het hy dadelik besef dat hy in sy hande die skriftelike bewys van sy mense se kontrakbreuk hou, die dodelike getuienis teen die volk, en hy wou net so gou moontlik daarvan ontslae raak.
Kontrakbreuk is ‘n lelike woord. Dit wys ‘n totale gebrek aan integriteit. Dit sê dat jy nie vertrou kan word nie, dat jou woord niks werd is nie. En dis presies wat gebeur as ons begin dink ons kan God aanbid soos ons self wil... Ons pleeg kontrakbreuk met God. Ons oortree die reëls van sy verbond.
En nou is ons weer terug by Eksodus 16. Onthou jy, dat Moses ook daar vir hulle ingetree het? En onthou jy dalk die Here daar vir hulle gesê het: Luister nou mooi. Ek vra van jou net twee dinge: Ek vra van jou om My te vertrou. Moenie paniekerig raak en dinge in jou eie hande begin neem nie. Vertrou My, dat Ek sal sorg. Vetrou my tot so ‘n mate, dat jy My ook volkome sal gehoorsaam. Moenie self besluit hoe jy My wil dien nie. Jy maak nie die reëls nie. Naas volkome vertroue, vra Ek ook van jou volkome gehoorsaamheid.
Niks anders is vir God aanneemlik nie.
AMEN