Eksodus 16
Datum: 27 September 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Elke nuwe fase bring mos sy eie nuwe woordeskat met hom saam. Twintig jaar gelede het ons almal geleer wat ‘n millennium is. In die meer onlangse tyd het ons geleer van staatskaping, totdat ons regtig later nie meer die woord wou hoor nie. Maar so is daar die afgelope ses maande in die Grendeltyd weer ‘n hele klompie nuwe woorde by ons Afrikaanse woordeskat gevoeg. Soos “grendeltyd”, byvoorbeeld. En “morbiditeit” iets wat ek nooit eers geweet het ek het nie. Maar veral een woord het later regtig besonder ongewild geword. En dis die term “Nuwe Normaal”. Eers het jy dit oral gehoor maar deesdae irriteer dit net almal! Ons wil regtig nie meer hoor van die nuwe normaal nie.
So ek is regtig jammer. Maar ongelukkig kan jy nie eintlik oor Eksodus 16 praat, sonder dat hierdie term weer opduik nie. Want hoe jy ook al daarna kyk, dit is presies waaroor dit hier gaan. Eksodus 16 is ‘n verhaal oor die nuwe normaal, en hoe mense sukkel om daarby aan te pas.
-
Die volk sukkel om aan te pas by die “Nuwe Normaal”.
Want Eksodus 16 vertel vir ons van mense wat baie vreemd is in hulle nuwe omstandighede. Eintlik gaan dit oneindig baie beter met hulle; God het hulle bevry uit Egipte waar hulle vir eeue lank slawe was, en hulle tot sy volk gemaak. Hulle is nou vir die eerste keer weer vry; bevry uit die plek van slawerny, soos Eksodus 20 sê. Die oomblik toe hulle die Rietsee deur is, het daar vir hulle ‘n totaal nuwe era aangebreek. Hulle kon die bedreiging van farao se soldate daar agterlaat, en leer om in hierdie nuwe era as vry mense te lewe.
Maar nou is dit tog interessant dat hulle so sukkel om by hierdie nuwe normaal aan te pas. Kort-kort steek die ou slawementaliteit maar weer kop uit. Kyk net hier in vers 2. In plaas daarvan dat hulle erken dat enigiets beter is as om slawe in Egipte te wees, hunker hulle juis terug soontoe! Hulle verwyt vir Moses omdat hy hulle nie liewer net daar gelos het nie, want dis nie vir hulle lekker in die woestyn nie. Hulle sukkel regtig om hulle vryheid te hanteer en daarby aan te pas. In hulle hart is hulle eintlik nog maar altyd die slawe wat hulle voor die eksodus was...
Ek glo daar is ‘n rede hoekom die Here vir ons vandag juis hierdie vers gee. Want vandag belewe ons gemeente ook ‘n nuwe begin, jy kan maar sê die eerste dag van die res van ons lewe. Maar terwyl ons bly en dankbaar is oor die nuwe begin, moet ek en jy tog net ook nie vergeet wat Jesus sê oor nuwe begin nie. Jesus waarsku sy dissipels baie spesifiek dat jy nie ou wyn in nuwe sakke kan gooi nie. So waarsku Jesus ons dat ‘n werklik nuwe begin beteken dat alles nou splinternuut geword het.
Nuwe wyn hoort in nuwe sakke. As ons as gemeente vandag ‘n nuwe normaal ingaan, en regtig verlang dat dit ‘n nuwe avontuur saam met die Here sal wees, moet ons ons losmaak van dit wat agter lê. As dit van vandag af vir De Eike maar net “business as usual” gaan wees, dan het ons net mooi niks uit die afgelope beproewing geleer het nie... dan was alles verniet, en dit sou tragies wees!
-
“Let nou mooi op...”
Vir my is Eksodus 16 nogal kosbaar. En wat dit so kosbaar maak, is hoe die Here op die weerstand van sy mense reageer. Ek sou vir seker nie so mooi geduldig kon bly nie. In plaas daarvan dat Hy die hele spulletjie summier terugstuur Egipte toe as hulle dan nou so graag daar wil wees, sien ons God se eindelose geduld met sy kinders. Sy eerste woorde aan hulle is: Luister nou net bietjie mooi... God moedig die volk aan om te fokus, want Hy wil vir hulle iets leer. Hy wil hulle leer watter twee goed mens moet onthou op die drumpel van die Nuwe Normaal.
Die volk moet twee goed leer as hulle nie vir altyd slawe wil bly nie. Daar is twee lesse wat hierdie “Nuwe Normaal” vir hulle regtig nuut, radikaal anders maak.
2.1. Hulle moet leer om regtig te vertrou.
En die eerste ding wat hulle moet leer, is om die Here regtig te vertrou. Het jy opgemerk dat die volk nie daardie aand al met vol mae gaan slaap het nie? Hulle het wel die belofte gehad dat God in die môre vir hulle sou voorsien, maar daar was nog geen waarborge, geen tasbare bewys nie. En toe hulle dit die volgende oggend vol verwagting buite waag, het hulle geen benul gehad wat die vreemde wit goed daar buite op die grond nie. Hulle het verstom na mekaar gekryk en net gesê: “Manna – Wat op aarde is dit?”.
En ook toe hulle mae vol geëet was, het hulle nog steeds geen waarborge gehad behalwe die beloftes van God nie – en onthou, die onherbergsame woestyn het nog wyd voor hulle gelê, terwyl hulle nie die vaagste idee gehad het hoe die pad daardeur sou loop nie.
Maar skielik het alles moontlik geraak omdat hulle vertrou het; omdat hulle ‘n God gedien het wat kán en wíl voorsien en sorg. Die uitdagings van die nuwe normaal kon vir hulle ‘n avontuur word, as hulle net op God sou vertrou.
2.2. Hulle moet leer om regtig te gehoorsaam.
Maar daar is nog tweede ‘n geweldige groot les wat die volk moes leer, om regtig nuut te kon begin. Hulle moes leer om onvoorwaardelik te vertrou, maar hulle moes ook leer om onvoorwaardelik te gehoorsaam. In hierdie nuwe bedeling wat vir hulle wag, kon hulle God vertrou, maar jy kan Hom nie op jou eie voorwaardes volg nie. Hulle sou moes leer om presies te maak soos Hy sê. En dan kon hulle weet dat Hy vir seker wete sál sorg!
Dis regtig uiters naïef om te dink die Almagtige sal vir jou sorg op die pad vorentoe, in die nuwe normaal, maar dan te reken jy kan maar net aangaan soos altyd. So asof God vir jou werk. Asof Hy op die pad vorentoe in jou diens gaan wees. Want Hy bly God. En ek en jy is ongelooflik bevoorreg om die pad saam met hom in te gaan, maar dit sal elke tree op sy voorwaardes wees. Of glad nie. Maar as jy kies om in sy voetspore te loop, en Hom te gehoorsaam, raak jou woestyntog ‘n avontuur.
-
En ons?
Maar dis dan die storie van die Jode en hulle “nuwe normaal”. Maar wat van ons? Vandag is ook vir De Eike ‘n nuwe begin, wat minstens ‘n klompie van ons vir die eerste keer weer in die kerkgebou kan bymekaarkom, en wat kleingroepe ook die afgelope week kon begin byeenkom. Maar wat nou vorentoe? Gaan ons nou maar net aangaan asof niks ooit gebeur het nie? Gaan ons maar tevrede daarmee wees om ou patrone van die verlede maar net voort te sit, asof ons niks geleer het nie? Of is dit regtig tyd vir ‘n nuwe begin?
Die kernvraag is: Hoe? Hoe kan ons maak dat hierdie “Nuwe Normaal” regtig ‘n nuwe begin sal wees, dat ons voortaan regtig kerk van die Here Jesus sal wees, in elke faset van ons bestaan, sodat ons ook sy sorg en seën en leiding sal ervaar? Die antwoord is nog altyd presies dieselfde as in Eksodus 16. Vir ‘n ware nuwe begin is daar steeds twee voorwaardes: Vertroue en gehoorsaamheid. Jy moet self besluit of jy reg is daarvoor...
AMEN