Jer. 18
Datum: 17 Julie 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
Verlede Sondag het Jeremia die meeste van ons verras, toe ons daar byna woordeliks dieselfde teks gekry het as die een waarmee die kerkraad hulle vereenselwig het in ons soeke na die wil van die Here vir die gemeente se pad vorentoe. Jeremia 17 klink byna presies as Psalm 1, en het ons op die ou end gelei na die gebed waarmee Jeremia die gedeelte afsluit. Die gebed wat ons toe ook ons eie gemaak het. Mag ek julle vanoggend daaraan herinner? “Maak U my gesond, Here, dan sal ek gesond wees. Bevry U my Here, dan sal ek vry wees. Dit is vir U wat ek moet loof...”
Wat ons byna onwillekeurig bring by dieselfde vraag as wat ons verlede week gevra het. Want nadat Jeremia vir ons die lewe van die gelowige geskilder het as ‘n boom wat by die rivierwal geplant staan, wat selfs in droogtetye floreer en vrug dra, het ons vir mekaar gevra: Maar wat maak ons volgende? Wat staan die Jode van Jeremia se tyd te doen, en wat kan ons nou maak, nadat ons ook hierdie gedagte ons eie gemaak het? Die antwoord het vir ons gelê in Jeremia se gebed, wat ons toe ook ons gebed gemaak het. “Maak U my gesond, Here...“ Maar nou is dit al weer ‘n week later, en die idee het darem bietjie kans gehad om by ons in te sink, sodat dit onwillekeurig nou weer daardie selfde vraag na vore roep: Wat volg nou daarop? Wat het toe gebeur, nadat Jeremia van sy knieë opgestaan het? En die antwoord gaan jy in Jeremia 18 kry. Wanneer Jeremia ons saamnooi op ‘n uitstappie na die ateljee van die pottebakker...
- God stuur Jeremia na die pottebakker toe
Want dis wat die Here toe met Jeremia gedoen het. Hy het hom gestuur na die winkel van die pottebakker toe. Dit was heel waarskynlik toe Jojakim, die tweede laaste koning van Juda was. Van hierdie koning sê die Bybel: "Jojakim het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy voorvaders gevolg." En op hulle beurt, het die hele volk weer sy voorbeeld gevolg. In 'n volkskrisis het hulle verkies om eerder op die farao van Egipte te vertrou as op die Here, soos ons verlede week gehoor het. Dis oor hierdie keuse van hulle wat die Here mos toe in Jeremia 17 sê: "Daar rus ’n vloek op die mens wat sy vertroue in mense stel, wat sy krag soek by sterflike mense en van My af wegdraai."
En jy het gedink die fase 6 beurtkrag was ‘n donker tyd. Hierdie was erger. God se mense het hulle rug op die Here gedraai, en so die verbond verbreek wat Hy met hulle gesluit het nadat Hy hulle uit Egipte verlos het. Dit was ‘n baie formele ooreenkoms tussen hulle God, maar nou was die hele ou verbond besig om uit mekaar te val.
En natuurlik nie omdat daar regtig fout met die verbond was nie, want jy kan darem seker self dink dat God nooit 'n minderwaardige verbond met sy mense sou gesluit het nie. Die fout het vir seker nie by God gelê nie – dit was beslis nie Hy wat ontrou geraak het nie. Nee, dit was alles God se mense se skuld – dit was hulle wat ontrou geraak het en Hom die rug toegekeer het. In plaas daarvan om God met oorgawe te dien en tot sy eer te leef, het ander dinge mettertyd vir hulle baie belangriker, baie meer deurslaggewend geraak. Ander dinge het swaarder begin weeg as die wil van God in hulle lewe.
En nou vat die Here Jeremia na die pottebakker se winkel toe. En daar staan hy en kyk hoe die eerste voorwerp wat die pottebakker op sy skyf aan die draai is, totaal misluk. En Jeremia wéét wat dit beteken. Dis eintlik God se mense wat misluk. Wat die ondenkbare gedoen het, die absoluut onnatuurlike. Hulle het die lewende God verlaat vir dinge wat vir hulle geen heil kon bring nie. En jy weet mos, God laat nie met Hom mors nie. Hy het van die begin af gewaarsku dat ontrou aan die verbond tot straf sou lei. Onafwendbaar. "Ek berei vir hulle 'n ramp voor" sê die Here. En toe Jeremia die vormlose hoop klei sien, het hy weer gewéét: God praat nie maar net nie. Die skrif is aan die muur. Daar wag 'n ramp op die ontroue volk.
Voor Jeremia se oë vat die pottebakker daardie mislukte voorwerp, maar anders as wat jy dalk sou verwag het, gooi hy dit nie sommer net weg nie. Hy druk dit inmekaar en begin weer van voor af om dit te vorm. En hierdie slag werk sy poging. Hierdie slag draai hy 'n pragtige voorwerp uit presies daardie selfde klei wat netnou die mislukte stuk opgelewer het. In sy groot genade, skryf God nie die mensdom finaal af, oor hulle ongehoorsaamheid nie. Hy begin weer van voor af...
- Dis nou 26 eeue later...
Natuurlik is dit vanoggend omtrent 26 eeue later. Baie tyd het verloop vandat Jeremia die dag die les in die pottebakker se werkswinkel gekry het. En nou kom stuur God vanoggend ook vir De Eike na dieselfde pottebakkerswinkel toe. Want as jy nou dalk net vanoggend baie rustig teruggesit het en gedink het die hele ou storie van die ongehoorsame Jode het gelukkig tog niks met jou uit te waai nie, en dat ons is darem eintlik beter as hulle, want ons lewe mos darem onder die nuwe verbond en ken vir Jesus, maak jy ‘n fout. God nooi jou nie na die potterbakkerswinkel toe om jou op die rug te klop nie.
Die waarheid is, dat die pottebakkerswinkel ook vir my en jou vanoggend wil waarsku. Selfs in die bekwame pottebakker se hand, kan die kleivoorwerp misluk. Nie omdat die pottebakker so onhandig is nie, maar omdat die klei nie altyd ewe lekker saamwerk nie. En dit sê iets vir ons, selfs al is ons deel van die kerk, en staan ons name opgeskrywe op die lidmaatsregisters van De Eike. Die waarskuwing is dat ons moet oppas dat ons nie presies hierdie selfde fout as Israel maak nie. Dit kan so maklik gebeur dat ons prioriteite deurmekaar raak. Dat ander goed vir ons belangriker raak as die wil van God, en dat ons die sin van ons lewe op ander plekke as by God begin soek.
En dis waarom die pottebakkerswinkel vir jou kom vra: Ons bely dat die wil van God die heel belangikste ding in ons lewe is, wat alles bepaal. Dis immers wat in Psalm 1 staan. Maar hoe belangrik ís die wil van God regtig in jou lewe? Kan jy regtig sê dat dit vir jou so belangrik is, dat niks anders regtig tel nie - nie eens jou eie gerief of jou persoonlike oortuigings nie? Nie eens wat jou maats glo en sê, of die manne by jou werk doen nie? Nie status of geld of enigiets anders nie? Hierdie is nie sommer net ‘n akademiese vraag, die soort van vraag wat dominees nou maar eenmaal vra nie. Dis die belangrikste vraag wat jy al heel week gehoor het. Die belangrikste vraag wat jy as Christen ooit vir jouself kan afvra. Want ongelukkig moet ek vir jou sê, as dit nie van jou waar is nie, is jy ook 'n mislukte voorwerp in die pottebakker se hand. 'n Flop...
- Soos klei in my hand, sê die Here...
Weet jy watter versie van hierdie gedeelte slaan my tussen die oë? Kyk bietjie na vers 4. As die pottebakker die tweede keer die klei vat, en iets nuuts daarvan begin maak, staan daar baie spesifiek dat hy iets anders gemaak het "soos hy dit wou hê..." Soos hy dit wil hê. Die klei het weinig aandeel in die hervorming van die kleipot. Die absoluut deurslaggewende in die hele proses is die wil van God. Dis waaroor dit gaan. Soos die pottebakker vry is om presies met daardie klei te maak wat hy wil, dit selfs weg te smyt as dit nie wou werk nie, so is God vrymagtig om te maak wat Hy wil.
Dis Hy wat in sy vrye wil nasies vestig en vernietig. Dis Hy wat in sy vrye genade menselewens seën sodat dit vol, gelukkige lewens sal wees. Of wat sy hand terugtrek van mense wat Hom nie ken en nie wil dien nie, sodat hulle uiteindelik verlore gaan. Hy is God...
Natuurlik kan ons God se seën nooit verdien nie, anders sou ons vir seker niks daarvan in ons lewens ervaar het nie. Dis ook glad nie wat Jeremia 18 vir ons wil sê, dat die Here van ons vra om goed genoeg te lewe, sodat God ons dalk sal seën nie. God seën sy kinders uit genade. Maar aan die ander kant, moet niemand tog dink dat ons maar kan lewe soos ons wil, sonder om ooit erg te hê aan die wil en die Woord van die Here, en dat ons dan nog altyd op die guns en die seën van God aanspraak kan maak nie. God gee sy seën soos Hy wil, en Hy kies om dit te gee aan sy kinders, aan dié wat Hom dien, wie se lewens werklik aan Hom gewy is. Dié wat Hom gehoorsaam... Hulle is die mense wat is soos ‘n boom wat by waterstroom geplant is, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nooit verwelk nie. Die welgeluksaliges...
En onwillekeurig dink ek aan iets wat Jesus self in Matteus 18:3 sê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie." Dis die sleutel. Jy kan na die wil van God begin lewe, as jy verstaan wat dit beteken om klei in die pottebakkker se hand te wees. Om net één allesoorheersende begeerte te hê, en dit is dat God volle beheer oor jou lewe sal neem. Om alle ander aansprake en alle ander invloede te laat vaar, en Hom toe te laat om ook jóú te vorm tot sy eer. AMEN