1 Samuel 15:34-16:13
Datum: 13 Junie 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Inleidende Kindermoment: Sekere Bybelstories ken ons almal van kleins af. Kyk maar as jy volgende keer jou kleinkind vra wat jy moet lees. Hy vat jou elke keer na dieselfde stories toe terug. Om weer te luister hoe Adam die eerste mens was, of hoe Noag die ark gebou het, of hoe Moses die wet by God gaan haal het. Ons almal ken vir Adam en Noag en Moses. En dan ken ons almal natuurlik ook vir Dawid. Want Dawid is mos die een wat die reus Goliat verslaan het.
Hy was toe nog maar ‘n jong seun, en al wat hy by hom gehad het was sy slingervel en vyf klippies. Maar hy het die magtige Goliat aangevat en verslaan en sy mense gered, want hy het net op God vertrou. En God het hom gehelp. Maar daarvan mag ek nou eers niks verder vertel nie, want anders steel ek oom Chris se preek van volgende week.
Nee, ek wil jou iets anders van Dawid vertel. Jy onthou mos nog dat hy ‘n koning was, en daarby ‘n baie goeie koning was. Vandag wil ek jou vertel van die dag waarop hy koning geword het. Die Here het sy profeet gestuur na ‘n ou wat daar naby Betlehem geboer het, dieselfde Betlehem waar Jesus baie jare later in die stal gebore is. En toe Samuel daar aankom, stel die boer sy agt seuns aan Samuel bekend. Of nee wag, net die oudste sewe. Die jongste was nie daar nie. Hy het sy pa se skape opgepas, en niemand het gedink dis die moeite werd om hom te laat kom nie.
Elia het self ook nie so gedink nie, want die ander seuns was almal groot en sterk. Hulle sou goeie konings maak, maar toe kies die Here nie een van hulle nie. Later moet hulle maar die kleintjie agter die skape loop haal. En toe Dawid inkom, sê die Here dadelik vir Samuel: “Dis die een wat Ek gekies het!”
Nou wil ek jou vanoggend vra: Hoekom dink jy, vat die Here dan nie eerder een van die groot, sterk ouens nie? Hoekom die kleintjie? Jy sien, God het nie groot, sterk ouens nodig om vir hom te werk nie. Ook nie die slimstes, of die mooistes nie. Hy kan enigiets doen, en as jy Hom toelaat, kan Hy deur jou ook werk. Al is jy dalk ook nie die sterkste ou wat jy ken, of die heel mooiste nie. Ook nie die heel slimste, of die heel beste nie. Dit maak vir God niks saak nie. Die vraag is: Wil jy hê God moet jou gebruik? Dan kan jy dit net vir Hom sê. Hy kan deur jou werk, en Hy sal. Kom ons sê dit sommer nou vir Hom!
- Die tragiese koningskap van Saul:
Kom ons gesels nou ‘n bietjie verder. Want jy sien, die gedeelte wat ons gelees het, gaan nie net oor Dawid nie. Hy is nie al koning van wie ons hier lees nie. Om die waarheid te sê, hierdie is eintlik die storie van twee konings. Behalwe vir Dawid, was daar ook nog sy voorganger. Koning Saul.
Saul was self ‘n baie indrukwekkende jong man toe hy koning geword het, en almal was baie opgewonde oor hulle nuwe koning. Hulle het geweldig baie potensiaal gehad, en hulle het groot dinge vir hom voorsien. En aan die begin het dinge nogal regtig baie belowend gelyk. Dit lyk of Saul ‘n briljante koning sou wees – hy was sterk, sê die Bybel, en mooi. “Onder die Israeliete was daar niemand mooier as hy nie” (9:2). Saul was regtig ‘n indrukwekkende figuur, en ‘n baie dapper soldaat. Jy sou met reg kon sê, die ideale koning.
Maar dis nie al nie. Daarby het Saul ook ‘n geestelike kant, want ons lees dat hy selfs deur die Here as ‘n profeet gebruik is, net nadat hy as koning gesalf is! En ons weet mos die Here gaan nie sommer enige ou gebruik nie. Die Here was by hom en het hom ook gehelp om sy mense van hulle vyande te verlos. Op die oog af sou jy vir seker verwag het dat Saul sekerlik ‘n groot koning van God se mense sou word. Maar toe begin dinge skeefloop...
Die tragiese van Saul was, dat Saul vir homself al belangriker geraak het, en die Here het vir hom al minder belangrik geraak. Totdat hy op die ou end gereken het dat hy hom nie meer regtig hoef te steur aan God se voorskrifte nie. Hy was immers die koning en hy kon maak net soos hy wil! En dit was die begin van die einde vir Saul. Toe was hy nie meer vir die Here ‘n bruikbare instrument nie, want hy het homself as verhewe bo God beskou. En daarmee was die skrif aan die muur vir Saul. Die Bybel sê selfs vir ons dat God bedroef was oor Saul se koningskap.
- Die koningskap van sy opvolger:
Dit was Saul. Die ander, tweede koning was Dawid. As ek nou eerlik moet wees, was Dawid ‘n heelwat minder belowende koning. Ek meen, sy eie pa het dan nie eens gereken dat hy dalk die een kon wees wat God gekies het nie! Ons lees van Dawid dat hy mooi oë gehad het, en dis nou nie juis ‘n voorvereiste vir ‘n staatsman nie. Ons weet hy was ‘n moedige mannetjie, want hy kon die roofdiere verjaag wat sy pa se skape bedreig het, en daarby kon hy wonderlike gedigte en liedere skrywe en sing. Maar dit maak hom nog altyd nie die ideale koning nie! Op die oog af sou jy eerder reken dat Dawid ‘n digter as ‘n krygsman is!
En ongelukkig is dit ook nie al wat ons van Dawid weet nie. Ek hoef nie vir jou die hele storie van Uria en Batseba te vertel nie. Dit strek hom op geen manier tot eer nie. En daarby was die Here aan die einde van sy lewe ook baie kwaad vir hom oor ‘n sensus wat hy laat opneem het, omdat dit vir hom meer oor sy eie eer as oor die volk van God gegaan het. Dawid was dus regtig ook nie altyd ‘n ideale rolmodel nie.
En tog lees ons aan die einde van sy lewe van hom: “hy het op ‘n hoë ouderdom gesterf, na ‘n vol lewe, ryk en geëerd” (1 Kron. 29:28). Net so ‘n totale antiklimaks soos wat Saul se regering was, net so wonderlik was Dawid se koningskap. Die Here het hom end-uit geseën en vir hom gesorg, en die wonderlikste van alles: die Here het hom selfs belowe dat vir ewig daar ‘n nasaat van hom oor God se mense sou regeer. En ek en jy weet wat veel later in daardie einste dorpie Betlehem gebeur het...
- Wat was dan die verskil tussen die twee konings?
Dis dus die verhaal van die twee konings. Die een, ‘n antiklimaks, ‘n reuse teleurstelling. Die ander, ten spyte van sy foute en sonde, ‘n groot sukses, die grootste van al Israel se konings. En nou bly die vraag: wat het dan nou eintlik die verskil gemaak tussen die twee? Hoekom was Saul ‘n verloorder en Dawid so ‘n reuse sukses?
Ek het nogal baie gewonder daaroor. En die antwoord wat ek op die ou end gekry het, is dat die verskil tussen die twee, in ‘n neutedop, Psalm 51 is. Dis die Psalm wat Dawid geskrywe het na sy sonde met Batseba op die lappe gekom het. Daarin sien ons die magtige koning op sy knieë voor God, in trane. Dan is hy nie groot en magtig nie. Hy is ‘n kindjie... En skielik besef ek dis wat ons die hele Pinkster vir mekaar gesê het. Wat die Here van ons vra, is om Hom soos kindertjies te vertrou. Foutloos sal ons nooit wees nie. Maar wanneer jy klein en afhanklik voor Hom staan, en weet dat jy Hom nodig het en sy genade nodig het, dan raak jy vir Hom bruikbaar. In nuwe testamentiese terme: dan kom die koninkryk van God in jou lewe.
Met al sy gebreke en al sy foute, het Dawid die Here Koning van die koning se lewe gemaak. Kon hy selfs al koning sê: “Die Here is my Herder...” Dis byna soos “ons Vader, wat in die hemel is...”
Amen