Matteus 24:45-51
Datum: 5 Mei 2019 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
Jy het nou seker nog nooit daaroor wakker gelê nie, maar ons dominees het dié tyd van die jaar nogal bietjie van ‘n probleem. Want vir die afgelope maand en ‘n half het jy nooit gewonder waaroor die Here wil hê jy moet preek nie. Dit was lydenstyd en Paasfees. Dis tog vanselfsprekend dat ons sal praat oor wat dit vir Hom gekos het om ons Verlosser en Middelaar te wees. En toe kom Goeie Vrydagoggend, die fokuspunt van weke se prediking, en daarna natuurlik die uitbundigheid van die Paasmôre. En nog so ‘n bietjie uitasem na al die opwinding, moet die dominee homself die week daarna vra: Wat nou? Natuurlik het verlede week se spesiale diens hierdie onafwendbare vraag by ons ‘n week uitgestel. Maar ook net tydelik. Wat nou, na soveel aangrypende drama, soveel passie? Gaan enigiets nie maar net ‘n antiklimaks wees na die grootste verhaal van alle tye nie...?
Waaroor gesels ons met mekaar, noudat Paasfees verby is? Die kerk noem hierdie tyd “Paastyd” - die veertig dae tussen Paasnaweek en hemelvaart. En daarna, na hemelvaartdag, soos julle weet, volg Pinkstertyd.
Wat het in daardie tyd gebeur? Wat het Jesus in die veertig dae sy dissipels geleer, voordat Hy op Hemelvaartdag hemel toe gevaar het? Eintlik begin hierdie fase al voor die kruisiging, met daardie laaste gesprek van Jesus met sy dissipels wat ons “Die Profetiese Rede” noem. En dis natuurlik baie belangrikdat ons sal hoor watter lesse Jesus vir oulaas by sy dissipels ingeskerp het, om seker te maak ons vergeet dit nooit voor Hy weer kom nie. Wat wou Jesus bo alles hê moes hulle onthou?
In ‘n neutedop: Die tyd is besig om uit te loop. Ek en jy moet altyd weet dat alles nie maar net vir altyd so sal aangaan nie. Net soos wat Jesus een helder aand in Betlehem totaal onverwags na ons wêreld toe gekom het, net so kom Hy vir seker weer terug na ons toe. Dis vir seker! Dis hoekom ons die wederkoms elke Sondag bely – sodat ons kan onthou om dit nooit te vergeet en maar net aan te gaan met ons lewe asof alles net om ons draai nie. Voor Jesus weg is, het Hy sy dissipels oor en oor herinner dat Hy vir seker weer kom. Maar niemand weet wanneer nie.
Daarom is die goue woord in Matteus 24 “volhard”. Jesus vra ons om te volhard. Moenie jou skerpheid verloor, jou waaksaamheid verslap en begin inpas by jou omgewing nie. Moenie jou andersheid, jou radikaliteit verloor nie. Want dis mos wat hierdie slaaf gedoen het in Jesus se storie, waaroor sy eienaar vir hom so woedend was. Hy het besluit: dit lyk nie of my eienaar weer kom nie. En dit beteken: dan is ek nou die baas! Ek gaan maak soos ek wil, en nag vir enigiemand anders. Ek gaan na niemand anders meer omsien nie, maar net vir myself lewe. En jy weet hoe die storie toe vir hom geeïndig het...
- Daar is ‘n moontlikheid om ‘n “goeie en getroue slaaf” te wees...
Ten minste is dara iets baie belangriks wat ek en jy uit hierdie verhaal moet haal, en dis dat jy KAN gereed wees vir Jesus se koms! Ja, dit gaan totaal onverwags wees, maar jy kan KAN gereed wees daarvoor! Dis nie nodig dat Jesus se skielike koms vir jou net oordeel en moeilikheid gaan bring nie. Jy KAN reg wees as Jesus weer kom!
Maar natuurlik net op een manier. En dis net omdat dit nie net van onsself afhang nie. Ons is uit genade verlos, en God belowe dat Hy self sy kinders sal vashou tot die einde toe. Gelukkig hang jou volharding nie net van jouself af nie. Gelukkig hoef jy nie jouself te red deur jou volharding nie. Nee, God se genade sal sy kinders vashou. En dis vanoggend die goeie nuus: moenie bang wees vir die wederkoms en die oordeel nie. Moenie in vrees lewe vir daardie skielike openbaring van die Seun van God, wanneer Hy soos weerlig ons hele hemelruim gaan verlig en almal Hom gelyk in al sy heerlikheid gaan sien nie. Hy gaan onweerstaanbaar wees, die Regter en Koning van ons hele wêreld, aan wie God letterlik alle mag gegee het. Maar Hy kom ook as die Een wat gesê het: Ek noem julle van nou af my ‘Broers’.
- Maar tog hierdie dringende waarskuwing!
En tog is dit vir Jesus ontsaglik belangrik dat jy gereed sal wees as Hy weer kom. Dis só belangrik dat dit omtrent al is waaroor Hy hier vir oulaas met sy dissipels praat. Jy moet vanoggend wéét die wederkoms sal totaal onverwags wees. Die Here gaan kom soos ‘n inbreker in die nag. Nou ongelukkig weet jy al te goed hoe dit werk. Geen huiseienaar maak dit vir ‘n inbreker maklik om in te breek nie. As hy weet wanneer die inbreker kom, sal hy reg wees vir hom. Maar die probleem met inbrekers is: jy weet nie wanneer hulle kom nie. Hulle kom gewoonlik totaal onverwags.
Maak seker, sê Jesus vir ons deur hierdie gelykenis, jy is reg op daardie heerlike oomblik wat Jesus weer kom. Maar nou kan jy dalk net wonder: Hoe? Wat beteken dit? Wie gaan gereed wees en nie gevang word deur wederkoms nie? Sy antwoord is: daardie slaaf wat besig is met sy werk wat sy eienaar hom gegee het.
- Wat beteken dit?
En dis die antwoord. As jy die gelukkige slaaf wees wat op die ou end aangestel word oor alles wat die eienaar besit, maak dan seker jy doen wat hy vir jou gevra het voor hy weg is. Moenie op ‘n dwaalspoor gelei word (ge-“side track” word) nie. Moenie so besig raak met ander goed, so betrokke daarby raak, dat jy vergeet wie jy is en dat jy ‘n taak het nie. Jy moet as’t ware elke dag die eienaar se stem in jou ore hoor. Sy finale opdrag moet in jou ore hoor weerklink. En onthou jy nog wat was hierdie opdrag? Wat wil die Here hê moet ons doen as Hy terug kom?
Kom ek neem jou terug na daardie laaste minuut voordat Jesus hemel toe gevaar het. Sy dissipels staan in ‘n kringetjie om Hom daar op die berg. En toe gee Hy vir ons sy laaste opdrag. En soos ons gesang sê, daardie “laaste woorde digby Jereusalem, weerklink deur al die eeue.” Tot vandag toe. Jy hoor dit vanoggend weer, hier op die vyfde dag van die vyfde maand in 2019. “Gaan en maak mense my dissipels” was Jesus se woorde.
Dís waarmee die eienaar ons besig moet vind, as Hy skielik weer kom. Besig om dissipels te maak. Maar nou het ons dikwels ‘n skewe idee wat Hy daarmee bedoel. Ons dink dikwels jy moet ‘n groot herlewingsdiens reël, of minstens ‘n groot toerustingseminaar waarin mense die fyNeré nuanses van dissipelskap en oorgawe geleer kan word. En dis natuurlik ‘n moontlikheid. Maar ons kan tog nie almal seminare reël en reuse saamtrekke hou nie. Nee, so belangrik soos sulke geleenthede is, is dit nie wat van mense dissipels maak nie.
Dis die lewens van gewone gelowiges, wat onder leiding van die Gees lewe en die vrug van die Gees dra, dis wat mense dissipels maak. Met ander woorde, dis jóú “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing” wat van mense dissipels maak. En dis presies die vrugte wat die hemelse eienaar by jou gaan kom soek as Hy weer kom. En nou verstaan jy dalk beter hoekom ons gesê het ons volharding hang nie regtig van onsself af nie. Want jy weet mos jy hoef nie self hierdie vrug voort te bring nie. Jy gaan nooit self hierdie liefde, hierdie vruegde, hierdie blydkap, hierdie gelud kan kweek nie. Daardie hele vrug is die verskil wat God in jou lewe maak. As jy Hom net kans gee. As jy dit net baie spsifiek van Hom vra, en dit nie heeltyd aktief teenwerk nie.
Miskien moet ek ten slotte nog net een vragie vra: As dit dan alles waar is, beteken hierdie gereedheid dan nie dat ons die hemel moet verdien met die manier waarop ons lewe nie? Alles behalwe. Die hele Bybel vertel ons dat ons uit genade gered word, omdat Jesus vir ons sonde betaal het en omdat ons glo in Hom as ons Here en ons Verlosser.
Maar wat hierdie gelykenis wel vir ons sê, is dat verlossing en ‘n lewe tot Gods eer één en dieselfde ding is. Jy kan nie sê jy dien die Here, sonder dat dit sigbaar raak in jou lewe nie. Jy kan nie dink dat jy reg is vir sy wederkoms, sonder dat jy elke dag die getuienis uitdra dat jy die Here ken en dat Hy jou lewe verander het nie. Jy kan nie beantwoord aan sy doel vir jou lewe, as jy nie só oorgegewe lewe aan die Gees, dat jy elke oomblik sy vrug dra nie. En weet jy, ek sien nêrens dat die eienaar eers vir die slaaf gevra het wat is sy verskoning, of vir hom kans gegee het om versagtende getuienis te lewer nie. Want daar is geen verskoning voor nie. As Hy jou Eienaar is, doen jy wat hy vra. Punt.
AMEN