Titus 2:11-14

Datum: 25 Desember 2018

Prediker: Chris Barnardo

INLEIDING

Goeie vriende van ons en hulle gesinne hou gewoonlik in hierdie tyd saam vakansie op Stilbaai. Dit is ’n wonderlike samekoms vol pret en heerlike kuier. Gewoonlik word ek en Carina dan na die groot saameet-geleentheid genooi waartydens die vakansie op ’n hoë noot afgesluit word. Hulle het ’n tradisie deurdat elke gesin jaarliks ’n beurt kry om ’n legkaart Stilbaai toe te bring. Duisend stukke word op ’n groot tafel uitgegooi en dan begin die vakansie. Niemand drom saam om die tafel sodat hierdie legkaart in een dag gebou moet word nie. Hulle ry fiets EN SLAAP, stap langs die see EN SLAAP, swem in die rivier EN SLAAP, braai en eet en SLAAP en wanneer jy by die tafel verbystap gryp jy ’n stukkie van die legkaart en plaas dit op sy plek. En dan, uiteindelik, na ’n lekker vakansie-fees is die legkaart voltooi nadat daardie laaste stukkie van die legkaart inglip en mens kan terugstaan en daarna kyk. Die lewe is ’n lied!

 

Behalwe daardie tyd, wanneer die vakansie sy einde bereik, en daar een stukkie van legkaart weg is. Dit het al gebeur! Niemand gee mekaar ’n klop op die skouer vir die 999 stukkies wat alreeds op hulle plek is nie. Nee, dis daardie laaste verlore stukkie van die legkaart wat ons so irriteer. Die manne en vroue en self die kinders is mismoedig en die volgende dag moet hulle met lang gesigte die lang pad Gauteng toe aandurf.

OORGANG1

Soms kyk ek na die die verhaal van Jesus se geboorte op die dieselfde manier- een groot legkaart. En meeste van die tyd pas al die stukkies pragtig inmekaar.

Soos hierdie stukkie. Die baba. God word mens. Immanuel. Ek weet hoekom God mens moes word. God wil ’n verhouding met ons hê, Hy wil deel van ons lewens wees. En ook die feit dat Jesus die volle straf vir ons sonde op Hom geneem het. Hierdie stukkie van die legkaart pas. Ek besef dit.

Of die Bethlehem stukkie. Die profeet Miga vertel dat die Messias van Bethlehem af sal kom. Die Messias moet uit Dawid se familie kom. Hierdie stukkie pas ook.

Die stukkie oor die sensus pas ook. Josef en Maria het in Nasaret gewoon. Daar was geen rede om Bethlehem te besoek nie. Maar hulle was beveel om daarheen te gaan sodat die mense getel kon word.

Ek verstaan ook waarom Maria inpas. Gehoorsaam, gelowig. Sy het verstaan. Dit pas.

Josef pas ook. Versorgend, verantwoordelik en vol begrip. Die stukkie pas ook.

Selfs Titus se diep teologiese verstaan waarom Jesus aarde toe moes kom – om ons te verlos van alle sonde. Hierdie stukkie van die legkaart pas verseker.

Dan ook hierdie vaal stukkie van die legkaart. Die eenvoudige gesin sonder titels en kwalifikasies pas ook.

So kan ek vanoggend aangaan ek elke keer sal ons sien dat elke stukkie van die legkaart ’n plek het. Van die begin af het God elke stukkie van die legkaart perfek laat pas sodat Sy Seun aarde toe moes kom. 999 Stukkies is in plek. Dit behoort ’n tyd te wees om fees te vier!

Maar daar is ’n opening, ’n gaping, kan jy dit sien? ’n Verlore stukkie van die legkaart. Soos Lukas skryf : Daar was nie plek vir hulle in die herberg nie. Dit is waar dit begin het. ’n Lewe van verwerping. Dit begin nie op Golgota toe Jesus geskreeu het: My God, my God, waarom het u my verlaat nie? Dit was nie daar waar Judas Hom verraai het of Petrus gemaak het of hy vir Jesus nie ken nie.

Dit het by die herberg al gebeur. Van die herberg af tot hier vanoggend , in die harte van mense, wat steeds nie plek wil maak vir Jesus in hulle lewens nie. Verwerp deur die mense na wie Hy gestuur is om hulle te red. Verwerp deur ’n wêreld wat lief is vir die donkerte. Verwerp deur hulle wat geen plek of tyd vir Jesus het nie. Mense wat vir Jesus nie nodig het in hulle lewens nie. Geen plek nie. Nêrens is daar plek vir Jesus nie. Het Jesus ooit ’n huis gehad? Van sy geboorte af het, het Jesus nie ’n plek in mense se lewens gehad nie. Vanaf die stal tot aan die kruis. Mense was hard op Hom. En tog, stel Jesus Homself bloot aan al die gevare in hierdie wêreld.

Vanaf ’n stinkende vuil stal tot die houtkruis vasgesktker, vir een rede -nie om vir Homself ’n tuiste te soek nie. Hy het nie een nodig gehad nie.  Jesus het gekom om vir ons ’n tuiste te bied. Hy kies die minste sodat ons die meeste kan hê. Hy kies die kruis sodat jy ’n plek aan die tafel kan hê. Hy kies om te sterf sodat jy nooit in die koue hoef te wees nie. Dit is die verlore stukkie van die legkaart. Vir soveel redes verwerp ons vir Jesus. Nie ’n plek in die herberg nie, nie ’n plek vir Jesus in my lewe nie, geen plek vir Jesus in my jaarprogram nie, geen plek in my prioriteite nie. En tog, verwerp Jesus ons verwerping en sê Hy met genade onbeskryflik groot.

Joh. 14In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

Sien jy, dit is die verlore stukkie van die legkaart. Dit is hoe God dit sien. Hierdie is nie ons huis nie. Dit is tydelik. Ons is nie hiervoor gemaak nie. Ons is gemaak vir die hemel. Ons weet dat wanneer ons aardse woning wat maar net ’n tent is afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het. Dan pas die stukkie van die legkaart. Die legkaart word dan voltooi.

OORGANG2

Nou, wat van jou legkaart? Is daar enige openinge in jou legkaart. Die prentjie wat jy het van ’n perfekte familie, die perfekte beroep, die perfekte lewe, die perfekte Kersfees? Wat van jou legkaart?

Is dit voltooi? Of is daar steeds een stukkie weg? Soos ’n legkaart, is jou 999 stukke mooi in plek. Vir die meeste van die tyd lyk dit goed en aanvaarbaar. Maar dit is daardie opening wat ons daaraan herinner dat die legkaart nie voltooi is nie. Dis nie perfek nie. Dis nie reg nie. Daar is ’n gat in jou lewe. Voel jy dit?

Alles in vandag se lewe herinner ons daaraan dat ons besiger is as voorheen. Meer moet gedoen word as voorheen. Meer geld moet gemaak word as voorheen. En ons is meer ongelukkig vandag as ooit tevore. Hoekom? Dit is nie die 999 stukke van die legkaart wat in plek is nie. Dit is daardie een opening. ’n Opening wat ons probeer vul  met meer aktiwiteite, meer geld, meer plesier – maar dit kan net gevul word waaroor ons hier is vanoggend. Met hierdie Een wat die wêreld verwerp het. Hierdie Een het nie die wêreld verwerp nie. Net soos ons dit vanoggend uit Titus vers 14 gelees het. . 14Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.

 

OORGANG3

Dit is die stukkie van die legkaart wat weg is. Jesus die verwerpte een wat vanoggend by jou kom staan sê: Ek weet dat daar nie plek was in die herberg nie. Julle het ook nie plek vir my in julle lewens gehad nie. Geen plek vir my in julle besige skedule nie. Geen plek vir my in julle gesinne nie, in julle beroepe, of julle toekoms nie. Die enigste plek wat daar vir my ’n plek was, was die kruis. Maar juis vir daardie rede het ek aarde toe gekom volgens my Vader se perfekte plan. Om daardie verlore stukkie in jou legkaart te vul, om die skuld oor jou sonde uit te vee. Om die vrees vir die dood met ’n belofte te verwyder – Ek gaan om vir julle ’n plek gereed te maak. Sodat waar ek is  - julle ook sal wees, een dag, saam met my in my Vader se huis.Dit is die verlore stukkie in die legkaart – jou legkaart. Is dit nie so nie?

SLOT

Wat sê ons vanoggend vir mekaar? Ons sê vir mekaar dat:Om vir Jesus terug te plaas in Kersfees beteken nie dat ons onsself nou moet onttrek van alle kersinkopies, verkeersknope en warm besige kombuise nie. Dit beteken dat ons Jesus in ons inkopies, midde-in verkeersknope en warm kombuise sal sien. Jesus is saam met ons tydens ons inkopies en saam om die etenstafel. In alles wat ons doen, in ons alledaagse lewe, is Jesus teenwoordig. In die goeie tye en die slegte tye,...die op en die af tye...Jesus is daar....as ons net sal toelaat dat Hy daardie laaste stukkie van die legkaart in ons lewens mag plaas, in ons harte....Jesus Christus is gebore.Hou daardie legkaartstukkie  in jou hand en word stil vanoggend. Neem die legkaart huis toe, kyk elke keer daarna en maak plek vir Jesus in jou lewe.

AMEN