Lukas 4:1-13
Datum: 10 Maart 2019 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
Dis ‘n moeilike verhaal om te verstaan.
Daar is verhale in die Bybel wat ek myself nogal maklik kan voorstel. Ek kan my net indink hoe wonderlik dit moes gewees het om daar in die oopte, teen die hange van die berg, te sit ek luister hoe Jesus vir mense vertel van God se nuwe wêreld. Ek kan my indink hoe ek, as ek daar was, aan sy lippe sou gehang het, want Hy het anders gepraat oor God en oor die manier waarop ons die Here moes dien, as wat hulle nog ooit gehoor het. Net so kan ek my voorstel dat ek langs die tafel kon sit toe Jesus die brood gebreek het daardie Laaste Avondmaal, en net so geskok soos die dissipels gehoor het dat een van ons ons geliefde Meester sou verraai. Dis verhale daardie waarmee ek myself maklik kan identifiseer.
Maar dan is daar ander verhale - soos hierdie een. Dis vir my ontsaglik moeilik om my in te dink hoe dit kon gebeur het. Na alles kom knoop die duiwel nie aldag so met ons geselsies aan nie. Buitendien kan ek my sy uiterste vermetelheid nie eens voorstel, dat hy gedink het dat hy die Seun van God met ‘n slap riem kan vang en van koers af dwing nie. Hy het tog presies geweet het wie Jesus is! Daarby kan ek myself moeilik die veertig dae voorstel wat Jesus alleen saam met God in die woestyn deurgebring het. Ek bekommer my nie soveel oor wat Jesus in daardie tyd geëet en gedrink het nie – onthou, God kon na alles vir veertig JAAR lank sorg vir sy mense in die woestyn. Maar probeer jou indink wat daar gebeur het. Die intieme kommunikasie tussen Vader en Seun. Die liefdevolle bemoediging en toerusting vir die taak wat voorlê. Wat ek my wel kan voorstel, is dat Jesus na die veertig dae gefokus uit die woestyn gestap het. Reg vir die taak waarvoor God Hom gestuur het na ons toe. En toe wag die duiwel hom in...
Maar hoe min ek ook al hiervan verstaan, weet ek tog ook dat hierdie verhaal vir seker met 'n doel in ons Bybel opgeteken staan. Dat die Here vir ons daaruit wil leer. Hy wil vir ons iets leer van versoeking, en hoe om dit te hanteer. Want die Here weet, dat die stryd steeds voortgaan, en dat ek en jy daagliks daardeur gekonfronteer word. Die Here wil ons toerus vir die stryd wat ek en jy ongetwfeld weer in hierdie week sal moet stry... want die duiwel gaan jou nie met rus laat nie...
- Wat gebeur dan hier in Lukas 4?
Maar kom ons vra eerste van alles: wat presies gebeur hier? Wat wil die duiwel hier hê? Want een ding is seker: die duiwel doen niks sonder 'n fyn uitgewerkte strategie nie. Hy het ‘n plan. Hy was daar, toe Jesus net voor die woestyntyd in die Jordaan gedoop is. Hy het ook die Gees soos ‘n duif op Jesus sien neerdaal, en hy het ook die stem van God gehoor wat bevestig het dat Jesus sy Seun is. En hy het geweet hier kom moeilikheid. Die dag kom nader wat Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sou val, om Jesus se eie woorde te gebruik.
Hy weet Jesus staan hier op die drumpel van sy bediening op aarde. God het Hom gestuur om mens en God weer te versoen, en die vernietigingswerk van Satan ongedaan te maak. En nou sien hy Jesus gefokus die woestyn agterlaat, en hy weet: dis nou of nooit... As hy nie nóú ingryp nie gaan dit te laat wees.
En Satan doen presies dít wat hy met ons ook probeer: hy probeer Jesus van die spoor af dwing. Hy wil Jesus se lewensdoel verongeluk. Presies wat hy met my en jou ook probeer. Want hy wil ‘n wig tussen jou en God in dryf, sodat jy nie sal kan dit doen waarvoor God jou geroep en hier geplaas het nie. En as hy die Seun van God nie ontsien nie, gaan hy jou beslis ook nie oorslaan, net omdat jy ‘n kind van die Here is nie. Inteendeel! Hy gaan juis al sy aandag fokus op jou.
In daardie oomblik is hy Jesus se grootste vyand. En daarom ook ons grootste vyand. Hy wil Jesus se lewe verongeluk, soos hy vandag nog jóú lewe ook probeer verongeluk. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu op soek na wie hy kan verslind, vertel Petrus. Hy loop en soek ‘n opening, iemand wat weggedwaal het van die Here af, wat hy eenkant kan kry, soos vir Jesus hier.
- Kyk mooi hoe doen hy dit
En kyk bietjie mooi hoe doen hy dit. Eerste van alles wil hy by ons twyfel saai oor God en sy motiewe vir ons. Jy dink God gee om, vertel hy jou. Hy bely Hy sorg vir jou. Jy sê dis mos wat Hy belowe het. Dis mooi, maar hoe is dit dan nou, dat jy alleen hier in die woestyn ronddwaal en honger ly? Waar is God en sy beloftes nou? Is dit nie dalk tyd om eerder die saak in eie hande te neem, en vir jouself te begin sorg nie? Jy kan net sowel self besluit, self kies, want dit lyk regtig nie vir my asof God vir jou sorg nie...
Dis presies wat hy in jou oor ook kom fluister, as dinge nie lekker loop by die werk, of met jou gesondheid, of in jou verhoudinge nie. Want hy weet, as hy daarin kan slaag om ‘n wig tussen jou en God in te dryf, staan jy alleen. En as jy alleen staan, is jy weerloos. ‘n Maklike prooi.
En hy ken ons so goed. Hy weet presies wat is ons swak plek. Hy kom lei Jesus nie in ‘n versoeking deur ‘n mooi skamel geklede meisie Hom te laat inwag nie, want hy weet dit sal nie met Hom werk nie. Hy is te gefokus daarvoor. Maar hy weet Jesus is honger. Hy is mens soos ek en jy, en hy het lanklaas geëet. En net so ken hy ook jou Achilleshiel. Hy ken jou swak punte en hy gee nie ‘n oomblik om om vuil te speel en daarop in te zoem nie...
En hy weet wat is enige mens se grootste swak punt: ons wil so graag self god wees. Dis hoekom Adam en Eva al vir sy stories geval het: hy het hulle belowe dat hulle net soos God sou wees as hulle van die vrugte eet. En dis wat ek en jy ook tog so graag wil wees. Ons wil self in beheer wees, self die besluite neem en self kies wat die beste is. Ek hoor dit daagliks, selfs onder ons mees getroue kerkmense. Dis die kern van sonde, die essensie van elke oortreding. Ek wil self kies, self besluit, my nie laat voorskryf nie. En daarom lok hy hier vir Jesus ook uit, om God uit te daag. Spring af van die tempeldak af – dink net watter opskudding jy sal veroorsaak! Dan sal almal na jou luister. En God sal maar net vir jou moet help – Hy is mos jou Vader en Hy is almagtig.
En laastens belowe hy ons mag. God hou jou terug, sê hy. Vergeet God se plan. Skaar jou by my. Ek sal jou die wêreld gee. En baie, baie later besef jy eers dit was ook maar net ‘n leuen, net soos al sy ander stories. Want die wêreld behoort nie aan hom nie. Dis nie syne om weg te gee nie!
- Maar onthou Jakobus 4:7
Op die ou end kan jy al hierdie versoekings in een sinnetjie saamvat: Satan kom bied Jesus ‘n alternatief op die kruis aan, ‘n alternatief op die pad wat God vir Hom uitgestippel het. Maar Goddank is Jesus opgewasse teen sy lis. Jesus laat Hom nie vang nie, maar gaan gefokus voort op die pad wat God Hom geroep het. Goddank, want anders het ek en jy vandag geen verlosser gehad nie...
En jy? Weet jy dat Jakobus een keer gekrywe het: Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. Jy kan presies doen wat Jesus hier in Lukas 4 gedoen het. Jy kan nee sê, en kies om God se pad te loop, en aan jou lewensdoel te beantwoord. Jy kan dit weliswaar nie alleen doen nie. Maar jy hoef ook nie. God is deur sy Gees in jou. Hy help jou kies, help jou vas staan. Moenie dat ‘n reeds verslane vyand jou van koers dwing en jou lewe verongeluk nie. En maak net seker dat jy nooit alleen is nie. Want dis presies wat die brullende leeu wil hê. Naby aan die Here, is jy veilig. Daar kan jy aan jou lewensdoel beantwoord, en ‘n gelukkige, heel mens wees.
AMEN