Psalm 1

Datum: 5 Junie 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

INLEIDING

Die afgelope week het ons luisterend en gehoorsaam gewandel deur God se Woord. Ons het besef dat, om geestelik te groei, ons ’n lewende verhouding met God moet hê. Tydens ons Pinksterreis het ons by 5 bakens gestop waar ons bewus geword het van die vreugde waarmee ons gevul word terwyl die Heilige Gees ons nuut en vars maak.  

WAT WAS DIE VYF BAKENS TYDENS ONS PINKSTERREIS? KAN JY NOG ONTHOU?

  • Luister na My stem sodat ek jou kan huis toe bring. Groei deur die Woord.
  • Egte getuienis begin met hartseer harte. Groei deur getuienis.
  • Wees ’n MODUWANE (Wilgerboom in Suid Sotho), of UMTHI (Koelteboom) in Xhosa. Gee koelte. Groei deur lief te hê.
  • Wees ’n geleier van die hemelse krag. Moenie ’n kortsluiting wees nie. Groei deur diensbaarheid.
  • Hoe word GROEI gestimuleer? Groei deur kleingroepe.

En nou is ons hier! Wat verder?

Dalk wonder jy of die Here dan nog ’n boodskap uit Psalm 1 vir ons kan gee? Is ons dan nie op ge-Psalm 1 nie? Ons wat hier is vanoggend en julle wat luister en kyk na die erediens. Vir ons het die Here vanoggend ’n duidelike boodskap. En dit is nie “play play” nie. As jy die vreugde van ’n lewende verhouding met God wil beleef, kan ons nie sit en ontvang nie.

Kom in beweging en doen soos ek my kinders geleer het: Moenie ophou nie, maak klaar waarmee jy besig is! Hoe moeilik dit mag wees, bly in beweging. Een voet voor die ander. Daar is nog baie om van te leer vanuit God se Woord. Want God se Woord het net mooi alles oor ons ganse lewe te sê.

Maar gewoonlik dink ons aan ’n gelowige mens as iemand wat van alles seker is. Iemand wat veral omtrent God sekerheid het. Ons dink dat ’n gelowige iemand is wat die lewe verstaan en verklaar, iemand wat nooit twyfel oor die verloop van omstandighede nie. As iemand wat altyd blymoedig is en altyd glimlag omdat hy of sy seker is.

En vanoggend vertel PSALM  1 van die pad van ’n gelowige. Dit gaan nie oor twee paaie nie. Die weg van die goddelose is hier maar net die swart agtergrond waarteen die weg van die gelowige uitgebeeld word. Negatief gesien, sê die Psalm, is ongeloof gelyk aan agteruitgang: wandel word staan, staan word sit en uiteindelik word hy of sy soos kaf weggewaai.

Maar dit is nie hoe gelowiges hulle getuienisse uitdra nie. Die gelowige gaan vooruit en bly in beweging: Soos ’n boom by n waterstroom wat floreer en vrugte dra. Sovêr klop die beeld nog met wat ons normaalweg glo.

MAAR WEET DIE GELOWIGE REGTIG ALLES?

Het ’n gelowige sekerheid van alles? Weet die gelowige regtig alles van God af? Dit lyk nie so nie.

Want waarom anders sou hy dag en nag loop en peins? Waarom sou hy die Wet van God oordink? Is dit nie omdat hy nie voetstoots berus nie? Die gelowige is ’n soeker en ’n vraer. Die gelowige vra omdat hy weet dat daar ’n antwoord moet wees.

Die gelowige vra omdat hy ’n adres vir sy vrae het.

Is dit nie bevrydend nie! Ons mag maar vra en dag en nag na antwoorde soek in God se Woord. God neem ons nie kwalik nie.

God weet dat ons op so ’n manier dit werklik deel maak van ons lewe. Dit word in ons wese ingeskryf.

God praat padlangs met ons vanuit Sy Woord.Ons mag maar vra, want God ken die weg van die regverdige. Hy erken die manier van doen. Ons kan gerus maar op hierdie manier ons geloof uitleef.

So word ons miskien ook bome wat vrugte gee op hulle tyd. Net soos De Eike wat ’n nuwe seisoen bereik.

‘N NUWE SEISOEN IN DE EIKE

 

Is dit nie waarmee De Eike tans besig is nie? Ons soek dag en nag na antwoorde op ons vrae oor die nuwe seisoen wat ons tegemoet gaan. Solank ons geplant is langs waterstrome kan ons soekend wees, want ons het ’n adres.

En daardie adres is die lewende almagtige God. Sy Woord is die bron waar ons die antwoorde sal kry.

 

Ons is soos bome waarvan die digter van hierdie Psalm praat. Die Psalmdigter sê dat ’n boom ’n besondere AARD het, met ander woorde:

Bome maak almal van dieselfde wyse gebruik om voeding uit die grond te kry – hulle AARD is om water uit die grond op te neem om te kan groei!

 

Die tweede belangrike ding van ’n boom is dat God bome met ’n DOEL en ’n WAARDE geskep het.

Bome se doel en waarde lê daarin dat hulle VRUGTE dra en KOELTE gee.

 

Net só wil God hê dat dit De Eike se AARD sal wees om God se Woord en Sy wil op te neem – net soos bome, water opneem, sodat ons aan God se DOEL kan beantwoord, sodat ons WAARDE en BETEKENIS as mens tot uiting kan kom: Net soos vrugte dra en skadu gee die doel en waarde van ’n boom is, só lei God se Woord ons om deur gehoorsaamheid aan die Here vir ons medemens koelte te gee en te begelei op dié roete wat vir die Here goed en aanneemlik is!

Vanoggend vra ek myself af: Waar is ek geplant? Is ons langs die Lewende Water geplant. Wanneer ons vanoggend JA, SÊ, moet dit sigbaar in ons lewens wees. Daar moet baie vrugte en daar moet baie koelte in ons lewens sigbaar wees.

SLOT

Moenie nou gaan sit nie. Dan is opstaan en wegloop bitter moeilik. Bly in die Here se naam asseblief net in beweging. Vra vrae. Wees soekend en luisterend, met God se Woord teenaan jou lyf.

Dag in en dag uit. En laat die Heilige Gees toe sodat die hemelse krag deur jou vloei. Moenie ’n kortsluiting wees nie, wees ’n geleier en beleef die vreugde van ’n lewende verhouding met God.

AMEN