Psalm 119:105 en 2 Timoteus 3:16-17
Datum: 31 Augustus 2025 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar
INLEIDING
Inleiding. Vandag vier ons Bybelsondag! ’n Herinnering dat God se Woord nie bloot ’n ou boek is nie. Dit is meer as bladsye met ink – dit is God se stem wat vandag nog fluister en roep. Dit is ’n dag om dankie te sê vir hierdie onskatbare gawe, en om onsself weer toe te wy aan die lees, leef en deel van die Skrif.
Die Bybel is God se openbaring. God maak Homself aan ons bekend deur sy Woord. Daar is ‘n goue draad van begin tot einde wat vertel van God se pad met Sy mense.
Die Bybel is ’n lamp en ’n lig. Psalm 119:105 sê: “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad.” Sonder lig struikel ons, ons raak verdwaal, ons is onseker.
Die Bybel is kragtig en lewend. 2 Timoteus 3:16 leer ons dat die Skrif nie net geïnspireer is nie, maar ook nuttig vir ons daaglikse lewe. Dit leer ons die waarheid, wys ons waar ons verkeerd is, help ons om weer op koers te kom wanneer ons op lewenspaaie verdwaal en lei ons om reg te leef. Maar waar laat dit vir ons op hierdie Bybelsondag?
Ons roeping op Bybelsondag. Ons kan nie net die Bybel besit nie, ons moet die Bybel gebruik. Ons word geroep om dit self te lees, dit met ons kinders te deel, dit in die gemeente te verkondig, en dit met die wêreld te deel.
Slot. Die Bybel is die lewende Woord van God – ons lig, ons rigting, ons troos, ons hoop. Dit is die stem van God wat nog altyd praat. Bybel oop – hemel oop! Die Woord leef, daarom leef ek.

