Galasiërs 4:1-7

Datum: 3 Desember 2017

Prediker: Hannes Burger

Wie sou kon dink, dat alles by ‘n kindjie sou begin.... Dat God se groot plan vir die redding van die hele wêreld sou begin by die skreeu van ‘n pasgebore babatjie in ‘n krip in Betlehem, en dat veragte skaapwagters, mense wie se getuienis nie eers deur ‘n hof aanvaar is nie, die eerste getuies sou wees, wat die groot nuus sou hoor en die wêreld sou indra? Wie sou kon droom as hy oor die rand van die krip loer en koer vir die klein mensie wat daar in doeke toegedraai lê, dat Hy die Koning van die heelal is, vir wie die engele eendag ‘n Hallelujakoor sou sing? Wie sou kon raai dat God sou kies om dit só te doen?

Maar so verras God die mens. In plaas van ‘n magtige kryger wat die houvas van die duisternis oor ons moet kom breek, stuur Hy ‘n babatjie in ‘n krip. Eintlik maak dit nie sin nie. Net wanneer die stryd teen die duisternis op sy felste is, en die magtige ysterarm van die Romeinse ryk dreig om alles voor hom te vernietig, is dit  God se antwoord? Wie sou dit ooit sien kom het?

Ek kan my voorstel dat Maria die aand voor Jesus se geboorte met groot oë na haar man gekyk het in die stil skermerte van daardie stal, en vir hom gesê het: Ek is bang, Josef. Bang vir die geboorte, maar veral bang om ‘n kindjie in hierdie wêreld in te bring. Ek weet ons het nie eintlik veel sê in die saak gehad nie, maar hoe wys is dit om in hierdie donker wêreld ‘n brose kindjie in bring? Elke dag praat mense van opstand teen die Romeine, terwyl ons almal weet daar is nie eintlik ‘n manier waarop dit goed kan eindig nie. En dan nog daardie verskriklike goed wat die engele gesê het van klein Jesus. Hoe kan Hy, wat ons brose klein babatjie is, die wêreld se sonde op Hom neem? Hy is net ‘n babatjie, Josef...

God se plan maak nie sin nie. Of het Maria dalk glad nie so gesê nie? Het sy onthou van haar loflied nadat die engel haar besoek het, toe sy God geprys het omdat hy vir haar ‘n klein aandeeltjie aan sy groot verlossingsplan gegee het? Het sy terwyl sy niks verstaan nie en nie weet wat wag nie, net bly vertrou dat God nie ‘n fout maak nie, en dat sy plan eindeloos groter is as wat ons ooit sal verstaan? Het sy onthou dat dit eintlik God se seun is wat sy in die wêreld bring?

  1. Waarom is dit “die volheid van die tyd”?

Dit is hopelik vir jou geen verrassing nie, maar dit was nie toevallig of slegte tydsberekening dat Jesus juis dáárdie nag in Betlehem gebore is nie. Die Gees skrywe hier deur Paulus dat dit gebeur het “toe die tyd aangebreek het wat God daarvoor bepaal het”. Die Ou Vertaling het gepraat van “In die volheid van die tyd”. Dit was nie sommer maar net nie. Al kan niemand van ons ooit God se tydsberekening verstaan nie, was dit tog die perfekte oomblik.

Die perfekte oomblik. Het jy geweet dat presies toe daar vir die eerste keer in die geskiedenis ‘n taal was wat almal kon verstaan? alexander se veroweringstogte het van gewone Grieks ‘n wêreldtaal gemaak, wat almal in die Romeinse ryk kon verstaan: in Jerusalem of in Klein-Asië of in Rome kon mense verstaan as Paulus van Jesus vertel. Daarby het die Romeine ‘n wêreldwye netwerk van wonderlike paaie gebou, waarmee die eerste sendelinge maklik die hele Europa kon deurkruis. In vrede, omdat die Romeine die sg Pax Romana in stand gehou het. Dit was die perfekte oomblik vir God se Seun om in Betelehem gebore te word...

Dit alles bevestig maar net dat jy vir God kan vertrou. Selfs al verstaan jy nie altyd sy tydsberekening nie, en maak dit vir jou geen sin nie. Sy plan is groter en wonderliker as wat ons kan verstaan.

  1. Maar dalk moet ons nie al te verbaas staan by die krip nie...

En nêrens sien jy dit beter as op Kersnag in Betlehem nie. Die Kersverhaal kom herinner ons net weer vanoggend daaraan dat God veel verder sien as ons; dat sy plan haarfyn uitgewerk is, vir nasies en volkere – maar ook dat ons elkeen ‘n baie spesiale plekkie daarin het. Daarby herinner dit ons daaraan dat God nie die krag van ‘n mens nodig het, of sy vindingrykheid en oorspronklikheid, om sy plan waar te maak nie. Die skree van die babatjie wat uit die stal opgeklink het, is daarvan klinkklare getuienis.

Want wat daar in Betlehem gebeur het, is God self in aksie. Dis God self wat daar besig om sy mense te verlos. En as jy verder blaai deur die Bybel sal jy gou agterkom dat dit ‘n patroon is, waarvolgens God elke keer weer werk. Dis sy almag wat die verskil maak, en hoe kleiner en hoe swakker jy eintlik is, hoe meer effektief kan Hy jou gebruik. Dit geld vir nasies en kerke, maar dit geld net so vir jou persoonlike lewe ook.

Dalk smag jy na ‘n nuwe begin in 2018, na ‘n lewe gevul met die krag wat vir Jesus uit die dood opgewek het, en die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Sodat dit jou lewe en jou verhoudings weer brand kan steek en die moeite werd kan maak.

Dan moet jy hier sien dat dit nie begin by ‘n fyn uitgewerkte plan, met tien stappe na ‘n nuwe jy nie. Dit begin waar jy die sleutels van jou lewe afgee, en God toelaat om deur jou te werk. En hoe kleiner en swakker jy in daardie oomblik is, hoe meer wonderbaarlik sal Hy deur jou werk. En dit maak nie saak of jy dit vir die eerste keer doen of vir die honderdste keer nie. Dit maak net saak met hoeveel erns jy dit vir God vra. Of jy regtig kans sien vir radikale dissipelskap in 2018.

Onsthou jy daardie dag toe Paulus by die Here gekla het dat daar iets in sy lewe is wat hom ernstig aan die bande lê. Dit maak dat hy nie die Here met naastenby die energie kan dien wat hy graag wil nie, en die Here moet dit asseblief wegvat, het hy gesê. En die Here kan dit so maklik doen. Paulus het Hom oor en oor gevra. Totdat die Here hom toe mos geantwoord het: Hou op vra. Ek gaan nie hierdie doring uit jou vlees wegvat nie. Want  “my krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is...” En kan jou makliker en beter gebruik as jy swak is.

  1. Die wonderwerk...

Dis hoe God werk. En dis hoekom alles begin met ‘n klein babatjie wat in doeke toegedraai in die krip lê. So weerloos en afhanklik van sy mamma soos net ‘n babatjie kan wees. En net so kom werk God op sy eie unieke manier, die wonder ook in ons. God het sy Gees in ons harte gestuur, skrywe Paulus, sodat daardie selfde Gees nou self binne-in ons kan uitroep: Abba! Die kreet van absolute afhanklikheid en verwondering. Die naam waarmee ‘n kleuter sy pa roep. Abba – My pa. Pappa.

En nou is jy nie meer ‘n slaaf nie... jy is ‘n kind. ‘n Erfgenaam! Jy kan sê soos daardie KJA-liedjie van ‘n paar jaar gelede: My Pa is die Koning van die heelal jy weet. Ek hoor nou die dag hoe sing Nannette vir klein Cari om haar rustig te maak terwyl sy haar bad. En glo my, Cari hou nie van bad nie. Sy weet nog nie wat se luukse is dit op die oomblik in die Wes-Kaap nie. En nou weet ek baie ma’s sing vir hulle babas. Maar toe hoor ek dis presies die liedjie wat Nannette vir haar gesing het: My pa is die Koning van die heelal, jy weet... En dis die essensie van die doop. Dis hoekom ons hier voor die kansel by die doopfont kom staan met die kosbaarste wat ons het en kan hê. Ek staan hier om voor die Here, voor die gemeente en voor die hele wêreld te sê: Want my Pa is die Koning van die heelal jy weet.

Amen