Johannes 19:28-37

Datum: 7 April 2023 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

  1. Joh 19:30 is die einde van ‘n era.

Teen twaalfuur die middag het die donkerte toegesak oor Golgota. Helder oordag het dit stikdonker geword, en aan die voet van die kruis het die mense ongemaklik na mekaar gekyk, onseker oor wat nou aan die gebeur was. Behalwe vir die Romeinse offisier wat die dag aan diens was. Onwillekeurig het die gedagte in sy gemoed begin roer, so ‘n vae vermoede dat hierdie nie ‘n gewone rebel is, wat hulle daar aan die kruis vasgespyker het nie. En waar hulle eenkant in ‘n groepie saamgedrom het, het Jesus se groepie volgelinge en die klompie vroue verslae in die donker toegekyk. Dit was doodstil op Golgota – so totaal anders as hulle gewoond was by kruisigings, wat die hele tyd krete en vloeke van die kruis af gehoor is. Dit was so stil dat hulle duidelik die skor stem van ‘n totaal ontwaterde Jesus van die kruis af kon hoor sê: “Tetelestai – Dit is volbring”.

 

Dit was asof die tyd gaan stilstaan het. Dit was dan nou die einde van die storie van Jesus, die verhaal wat drie-en-dertig jaar tevore op die ster-verligte velde buite Betlehem begin het. En nou het dit aan sy einde gekom, net soos die engel destyds vir Maria voorspel het, met ‘n swaard wat deur haar binneste sou gaan. En al die ideale, al die drome, al die hoop, het daar geeïndig. Maar natuurlik het die storie eers aangegaan. Eers toe Nikodemus toestemming gaan vra het vir sy begrafnis, en toe Josef van Arimatea wat sy graf aan Hom afgestaan het, en die dissipels wat sy liggaam daar gaan neerlê het. Eers toe het hulle laat die Vrydagaand teruggegaan huis toe. Steeds verslae en verdwaas. Dat dit só moes eindig... Dit moes ‘n verskriklik aaklige Saterdag gewees het, want toe mag hulle op die Sabbat niks doen nie. Hulle moes maar wag...

 

Maar is dit nie presies wat die dood vandag nog doen nie? Die dood bring alles tot stilstand. Ek onthou destyds met my skoonpa se dood het ek die vorige dag nog vir Adri gesê dat ek nie weet hoe ek my draaie moes kry nie. Dit was toe ook die laaste week voor Paasfees, en my dagboek was gelyk vol inskrywings: afsprake en reëlings. En toe kom die oproep. En in ‘n oomblik het die nuus my dagboek skoongevee, en het alles tot stilstand gekom. Want dis wat die dood doen.

 

En vermoed die groepie wat daar om die kruis gestaan het, het min verstaan terwyl  die gebeure van Goeie Vrydag voor hulle oë afgespeel het. Hulle het min verstaan van dit wat daardie dag op die spel was. Hulle sou jou nooit geglo het dat dit eintlik ‘n Goeie Vrydag was nie. Anders as ons, wat met die Bybel grootgeword het en die eindelose voorreg beleef dat die Heilige Gees ons oë oopmaak om te verstaan wat daarin staan en wat die Here vir ons wil sê, kon hulle nie verby die tragiek kyk nie.

 

So lees ons byvoorbeeld nêrens dat een van hulle, sê nou maar Johannes, die ander toe daaraan herinner het dat Jesus gesê het dat dit nie die einde sou wees nie, maar dat Hy weer na drie dae die graf leeg sou laat en uit die dood sou opstaan. Hulle het niks daarvan onthou nie. Hulle was stukkend, want vir hulle was dit alles net oorweldigend, so tragies finaal. Die einde van die pragtige verhaal wat op Kersnag begin het...

 

Vir hulle was dit bloot maar die onregverdige teregstelling van hulle onskuldige Leermeester. Hulle kon nie dink dat wat daardie verskriklike dag voor hulle oë afgespeel het, God se plan vir sy skepping was nie. Hulle kon vir geen oomblik sien dat dit eintlik die begin was, en nie die einde nie. Want dis wat Jesus se laaste kruiswoord beteken het. Nou weet almal teen hierdie tyd dat ek nie gewoonlik Sondagoggende vir julle lesse in Griekse grammatika probeer gee van die kansel af nie, want ek dink nie dis die tyd of plek daarvan nie. Maar van hierdie woordjie wil ek ‘n uitsondering maak. Jesus gebruik hier ‘n werkwoord in ‘n tydsvorm wat ons nie in Afrikaans ken nie. Dit beteken baie meer as net dat iets afgehandel is. Dit beteken dat hierdie daad blywende gevolge het – jy sou dit dalk kon vertaal met “Dit is volbring en dis hoe dit nou in die toekoms gaan bly...”

 

Jesus se lewenstaak het nie geeïndig die oomblik toe Hy sy asem uitgeblaas het nie. In daardie oomblik breek daar ‘n nuwe era aan. In daardie oomblik is God se plan met sy skepping volbring, sodat dit nou nog volbring is en tot in ewigheid sal wees. Hy het alles gedoen wat nodig is om my en jou met God te versoen, en die gevolge van die sondeval in ons lewe uit te vee. Ons kan lewe, omdat Jesus aan die kruis vir ons gesterf het...

 

Maar nou is daar ‘n woordjie wat ek eintlik lanklaas gehoor het. As iemand die storielyn weggee van ‘n fliek of ‘n program wat hy voor jou gesien het, het ons as kinders altyd gesê “Spoiler alert!” En nou wil ek nie Chris se preek van Sondag vooruit loop nie, maar ek en jy weet mos dat alles toe nie daar geeïndig het nie. Soos Hy gesê het, het Jesus na drie dae opgestaan. Hy het die dood verslaan en die graf leeg agtergelaat. Hy lewe tot in ewigheid. Inderdaad was Goeie Vrydag toe glad nie die einde van die storie nie... dit was juis die begin!

  1. Ook vir ons is dit die einde.

Maar daaroor gaan Chris Sondagoggend gesels. Vanoggend staan ons in die gees stil by die kruis, en hoor ons oorweldig deur dankbaarheid, die woord wat oor Golgota weerklink. “Dit is volbring...”

 

En kom herinner die tekens van die Nagmaal ons daaraan dat ons nie los staan van wat daar gebeur nie. Want die grootste waarheid van die kruis is dat jy niks daarvan verstaan, as jy nog nie verstaan dat jy self daar gekruisig is nie. Dis ook jóú einde wat daar aanbreek, en na daardie oomblik wat Jesus uitroep “Dit is volbring!” kan niks ooit weer vir jou ook dieselfde wees nie. Goeie Vrydag is ook vir jou ‘n streep in die sand. Dáár eindig die ou lewe vir jou ook onherroepelik en finaal. En dis dan op die ou end wat ‘n mens absoluut tot stilstand ruk, hier aan die Nagmaalstafel. Op Golgota sterf die ou jy.

 

  1. ...en die begin!

Maar die kruis is natuurlik nie net die einde nie. Ewe min as wat die maaltyd van die Here ‘n volstop kom plaas in jou lewe. Die Nagmaal staan nie in die teken van die einde van dinge nie. Dis nie ‘n doodsmaal wat ons met smart en swaarmoedigheid geniet nie. Hierdie maaltyd is nie ‘n plek waar dinge eindig nie! Inteendeel. Dis ‘n fees. Dis bedoel om jou te help onthou van alles wat daar op Golgota geeïndig het, jou ook te herinner dat alles juis ook daar begin het. Terwyl ek en jy inderdaad ‘n traan stort oor wat ons eie sondigheid ons Here gekos het, mag ook die bruising van die krag van die opstanding deur ons are voel vloei, wanneer die Gees ons versterk om nou verder vir God te gaan lewe. Om die ou mens opnuut weer vir goed agter te laat daar aan die kruis. En aan te gaan, nuut te begin!

 

Wanneer ek en jy net-nou maar hier opstaan, is dit om die ou mens opnuut weer hier agter te laat. Hy het geen deel verder aan ons lewe nie. Ons laat hom hier met al sy selfsug en eiesinnigheid, met sy liefdeloosheid en opstand teen God. Ons stap van hom weg soos die dissipels daardie aand die rotsgraf agtergelaat het om terug te gaan huis toe. En ons gaan lewe die nuwe lewe onder leiding van die Gees. Dis mos waarvoor Christus aan die kruis gesterwe het – om die verhouding tussen ons en God te herstel sodat ons met oorgawe as kinders van God kan lewe.

 

Hierdie tekens herinner ons aan die einde van ‘n era, en die breek van ‘n nuwe dag. Golgota het gebeur. Dit is alles volbring. Ons is op pad om die Paasmôre te gaan beleef!

 

AMEN