Lukas 3:1-20
Datum: 16 Desember 2018
Prediker: Chris Barnardo
Ek Vermoed dat elkeen van ons ’n ander verstaan en onthou het van 16 Desember. Dit is vir my ’n dag om te onthou. Sal ek ooit kan vergeet wat op 16 Desember gebeur het? Op hierdie dag, 42 jaar gelede, was daar ’n klop aan ons huis se voordeur. Ek het die deur gaan oopmaak. As 16 jarige seun het ek in die oë van die polisieman vasgekyk. Hy het nuus gebring. My pa is dood. Hoe kan dit wees? Ons het dan nog daardie oggend saam Geloftedag gevier. Saam in die kerk gewees. Saam die Geloofsbelydenis opgesê. Saam gesing en saam gebid. Dis onwerklik. Ek wil met my eie oë gaan sien of dit regtig so is.
Onseker en bang. Wat gaan van ons word? Sal ons sonder ’n pa die mas kan opkom? Hoe gaan ons alleen hierdie pad kan stap.
Baie mense voor ons het al met hierdie vrae arm gedruk. Baie mense na ons gaan ook met hierdie vrae gekonfronteer word. Wat gaan van ons word? Sal ons ooit die mas kon opkom? Sulke vrae skep vrees en wanhoop. Onsekerheid oor die toekoms.
Die mense in die Jordaanstreek het dit ook aan hulle lywe gevoel. Politieke onsekerheid. Magsbeheptheid. Korrupsie, het ook gemaak dat hierdie mense opsoek was na ’n anker. Iets of iemand waaraan hulle kan vasklou terwyl hulle van hulle menswaardigheid van alle kante af, gestroop word.
Dit klink dan nou so naby aan die huis! ESKOM, SABC, VBS, STEINHOFF, SAL. Gulsigheid is ’n morsige besigheid. Ons land is geplunder. Tot op die been. Baantjies vir boeties. Krap my rug en ek krap joune. Dis nie hoe ek gedink het dat dinge na ’94 gaan uitspeel nie. Maar kom ons laat dit vir eers daar.
Die mense in die Jordaanstreek is soekend na oplossings vir die morsige situasie waarin hulle hulleself bevind.Daarom is hulle bereid om vêr te stap en in die snikhete van die dag te gaan sit en luister na die dominee wat die eerste Adventpreek lewer. Johannes die Doper. EN hy draai die doekies om nie. Op ’n ernstige en kwaai manier dra hy die boodskap aan mense oor. As Johannes die Doper vanoggend op hierdie kansel moes staan, is ek oortuig dat daar mense sou opstaan en uitloop. Hierdie dominee Johannes moenie my kom dreig nie. Hy is besig om die boot te skud. En mense hou nie daarvan dat die boot geskud word nie. Kan dit nou goeie nuus wees. Mense word oor hulle vingers getik.
Tog dink ek dat goeie nuus soms in morsige, rowwe klere aangetrek moet word. En dit was die aard van Johannes se benadering. Ek wonder heeltyd waarom so baie mense na Johannes die Doper gaan luister het. Hoekom die moeite doen om vêr te stap en in die warm son te gaan sit en na hom te luister? Was hierdie mense masochiste? Was dit lekker om afgeknou te word? Of het hulle na Johannes geluister en gehoop dat die bure hoor wat hy sê? ’n Preek is mos gewoonlik op my buurman gerig. Hoekom het mense in hulle hordes na Johannes se eredienste gestroom? Ek vermoed dat die mense gevoel het dat as gevolg van sy integriteit in die boodskap, dit ’n geleentheid was waarna hulle al baie lank na verlang het. Sy boodskap was ’n boodskap van oordeel; maar in hierdie oordeel was daar ’n geleentheid gewees. Hierdie geleentheid was toegedraai in die woordjie bekering.
1. JOHANNES SE BOODSKAP VAN OORDEEL EN GELEENTHEID
Dit was Johannes se boodskap. ’n Boodskap van hoop “Bekeer julle. Voordag enigiets gebeur moet jy jouself regruk. Moenie vinger wys nie, want drie wys terug. Julle moet verander. Dit was Johannes se inleiding.
Vriende, ons word nie gevange gehou deur ons verlede, ons foute, ons mislukkings of ons onbevoegdheid nie. Ons kan daarvan af wegdraai. Ons kan verander. Ons kan bely. Ons kan van die verlede ontslae raak. Ons kan oor begin. Ons KAN van koers verander. Ons kan terugkom op die spoor. Dit sou so finaal gewees het as ons in ’n wêreld geleef het waar bekering nie deel was van ons woordeskat nie. Dan sou dit hel op aarde gewees het. Geen uitweg nie, geen kans om ontslae te raak van al ons persoonlike gemors in ons lewens nie. Geen oor begin nie.
Bekering beteken dat jy iets kan doen aan die gemors waarin jy jouself bevind. Bekering beteken dat jy van rigting kan verander. ’n Nuwe koers inslaan. ’n Nuwe roete. Verby Golgota tot anderkant die leë graf.
En dit was Johannes die Doper se boodskap aan die mense. Hulle was broos en ontvanklik daarvoor. Johannes maak aan die mense ’n deur van hoop oop. Jy kan jouself bekeer.. Daar is ’n weg uit die gemors waarin jy jouself bevind.
Maar Johannes maak die moeilik vir die mense. Hy merk op dat daar sommige mense teenwoordig is wat dit as ’n vinnige uitweg sien. ’n Geloofspleistertjie wat geplak word en dan is dinge weer klopdisselboom!
“Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 9Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. Moenie terugval op die verlede en staatmaak op jou herkoms nie. Dra liewer vrugte. Vat dit of los dit, is Johannes se uitgangspunt. Maar moenie met God se genade mors nie. Die Here is nie jou speelmaatjie nie. Dit was Johannes se styl. Ek het ’n geleentheid wat ek jou aanbied, sê hy, en jy beter dit wat na jou kant toe aankom, aangryp.
Maar liewe vriende. Ons moet meer doen as net JAMMER sê.
Bekering het ook aksie nodig. En hier help Johannes ons op ’n praktiese manier. Johannes die doper is spesifiek op die mens af. Wanneer die mense vir hom vra wat hulle moet doen, gee hy aan hulle ’n reël vir reël pastorale antwoord. “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”
Wanneer die manne van die Inkomstediens hulle hande in die lug steek en ook vra wat hulle moet doen sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”
So ook aan die manne in uniform sê hy: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”
Johannes verval nie in clichés van: Bid daaroor of soek na die wil van die Here nie of beywer jou vir ’n regverdige sosiale bestel nie. Hy praat direk met die wêreld waarin die mense leef. Daar in hulle werksplek. Johannes vra nie dat die mense hulleself moet isoleer en dieper in die grot inklim of landuit moet vlug nie. Hy wil hê dat die mense hulle geloof in hulle beroepe en persoonlike omstandighede moet uitleef.
Daar is gelowe wat aandring dat mense hulself van die wêreld waarvan hulle deel is moet isoleer.
Om die waarheid te sê....Sommige mense sal die belastingaarders en manne in uniform adviseer om te bedank. Dit gaan moeilik wees om jou geloof in die werksplek uit te leef.
Dis nie wat Johannes aanbeveel nie. Leef jou geloof voluit in die werksplek. Maak daar ’n verskil in mense se lewens.
Natuurlik gaan die nie maklik wees nie. Maar dit is die regte ding om te doen.
Gaan maak ’n verskil daar waar die Here jou geplaas het.
Maar hoe gaan ons Johannes die Doper se boodskap vir vandag vertaal? Ons is tans die meerderheid in die land as ek na die statistieke kyk. Sewentig plus persent van die bevolking is Christene. Hoekom staan ons nie saam nie? Hoekom trek die Christene van hierdie land nie ’n streep in die sand nie? Ek sal jou sê hoekom nie? Want dit is makliker om stil te bly en agter ses voet heinings en binne sekureiteitskomplekse te leef asof niks besig is om te gebeur nie. Ons leef nie die Goeie Nuus nie. Ons oorweldig nie die mense wat spoorloos is met die Goeie Nuus nie.
Wat sê ons vir mense wat met rekenaars werk, huise bou en huise verkoop, verpleegsters, finansiële adviseurs, onderwysers ons boere en mense wat kinders moet grootmaak in ons land? Wat beteken die Evangelie vir ’n trokdrywer en ’n dokter? Daar moet vir ons almal ’n Evangelie wees wat ons na die werksplek kan neem. As dit nie so is nie, is ons Evangelie te klein. Dit ’n goeie ding om briewe in die Burger te skryf of om ’n skrywe te rig aan ons President., maar dis beter om Christus te eer op alle terreine van ons lewens, selfs in die werkplek. Ons word geroep om ons geloof in die besonder by die werkplek uit te leef. Dit was Johannes die Doper se boodskap aan sy mense; en dieselfde boodskap word aan ons gerig.
Maar Johannes het meer as bekering aan die mense gebied. En die mense het aangevoel dat daar meer moet wees as waaroor Johannes preek. Is hy die Messias, het hulle vir mekaar gevra. Is hy die Christus waarvan die profete gepraat het?
2. Die Geleentheid Van Bekering.
Johannes se antwoord op die mense se vraag was in die beste Advent tradisie. “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.
Johannes het vir niemand teruggestaan nie. Nie eers vir die mense wat in beheer van die land was nie. Maar tog, wanneer hy oor sy geloof in Jesus praat, buig hy laag, baie laag. Ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie.
Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”
Daar is nog tyd om om te draai. Bekering is die deur waardeur Jesus in ons lewens inloop. Genade op genade. Om vir Jesus in te laat, om die deur oop te maak, word al die opgehoopte gemors in jou lewe weggevee en word ons lewens met God se liefde gevul.
Soms kyk ek na die verwaarloosde plekke in my eie lewe en in die lewens van ander mense en dan wonder ek. Moet almal nie net begin doen wat Johannes die Doper gepreek het nie.
Bekeer julleself. Draai na God en kom terug op die regte spore.
Kom ons wees eerlik met mekaar vanoggend. Ons land is in die gemors. BLF uitsprake, EFF dreigemente, ‘n onskuldige kind wat as gevolg van ‘n dwaalkoeël sterf en onskuldige mense wat in kruisvuur sterf wanneer bendes mekaar wil uitmoor. Plaasmoorde en plaasaanvalle. Motorkapings, treine en eiendom wat uitgebrand word omdat mense ongelukkig is oor swak dienslewering. Brutaliteit en geweld. Magsbeheptheid. Is ons nog veilig? Is dit wat ons in gedagte gehad het vir die reënboognasie? Maak hierdie dinge jou bang? Onrustig? Dalk kwaad? Nee woedend. Voel jy magteloos?
Ek was al daar, maar toe onthou ek uit die bloute dat die pad van Jesus ook bloedbesmet was – sy eie. Sy aardse pad het letterlik doodgeloop teen n houtkruis in Jerusalem. Genadiglik het Hy dwarsdeur die dood en anderkant uit gestap. Hy is my hoop. En joune ook. En elke ander gelowige s’n wat wat al n bitter beker moes leegdrink. Of wat steeds daaruit drink. Nee, Jesus is nie net n vinnige Pleister vir ons pyn nie. Hy is die Heer. Selfs al dra ons sy dood saam in ons eie liggaam soos wat 2 Kor. 4 leer, weet ons Hy loop saam. Al die pad. Vir altyd.
AMEN