Efesiërs 2:1-10
Datum: 25 Oktober 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Antwoord: Drie dinge: Ten eerste, hoe groot my sonde en ellende is; ten tweede; hoe ek van al my sonde en ellende verlos word en ten derde hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees.
Ek weet wat was die heel eerste ding wat jy vanoggend gedoen het nadat jy hier in die kerk kom sit het. Jy het daardie tekens wat jy vanoggend by die deur gekry het, gevat en mooi bekyk. En heel waarskynlik sommer dadelik jou bedenkinge gehad. Ek neem jou nie kwalik nie, want ek het ook nogal gewonder. Dit lyk vir my baie soos die vitamienes wat jy in pil-vorm in ‘n botteltjie koop. Dit gaan net nooit so lekker soos ‘n lekker ryp lemoen wees nie. Maar nou het ek en jy darem al klaar in 2020 aan ‘n wye verskeidenheid goed gewoond geraak wat ons nooit gedink het ons sou kon nie. En ek kan jou darem verseker dat hierdie tekentjies nie giftig is nie. Ons sal hulle darem seker oorleef...
Maar die feit bly staan: dis darem vir seker nie die ware Jakob nie. En ons hou mos nie van “fake” goed nie! Ons het al geleer dat dit nie help jy koop ‘n artikel wat gemaak is om te lyk soos die ware Jakob nie. Tien teen een gaan hy jou net frustreer. Jy gaan nie goeie diens uit hom kry nie. Maar wat vir fisiese goed waar is, is ook van mense waar. Ons hou ook nie van fake mense wat skynheilig is nie. En van leë godsdienstige gebruike en reëls wat doodeenvoudig nie eg is nie. In ons tyd is egtheid die wagwoord: egte oorgawe aan die Here en egte mendemens-wees teenoor ander. Die feit van die saak is, niemand van ons het respek vir ‘n “fake” godsdiens nie.
En ons sou vir seker ook nie self bekend wees as iemand wie se geestelike lewe plastiek is, nagemaak en oneg is nie. Maar nou is die vraag vanoggend: Waarin lê die verskil? Dis maklik om te sien as nagmaaltekens nie regtig plaasbrood en nagmaalwyn is nie. Jy kan dit ongelukkig nie juis mis nie. Maar wanneer is jou geestelike lewe “fake”?
1. Die Heidelbergse Kategismus
En dis waaroor Hervormingsondag gaan. Want die Hervorming is ‘n opstand teen onegte godsdiens, teen ‘n skyn-godsdiens wat geen vrede bring en niemand bevredig nie. Die Hervorming skreeu teen “fake” godsdiens, en kom herinner ons elke jaar hier teen die einde van Oktober dat “fake” ook nie vir God goed genoeg is nie. Daarom vra net die tweede vraag van ons belydenisskrif al die vraag: Wat moet mens weet, dat jou godsdiens eg sal wees...? Of soos dit dan nou letterlik daar staan: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Dis dalk die belangrikste vraag wat jy ooit sal kan vra. Ons weet wat Jesus alles vir jou saligheid gedoen het – maar hoe kry jy regtig deel daaraan? Wat sal jou geestelike lewe regtig voor die oë van God die ware Jakob maak? En die antwoord op hierdie vraag is: Daar is drie dinge wat jy moet weet en wat waar moet word in jou lewe. Daar is drie hoekpilare vir ‘n lewe naby aan God. En dis hierdie drie pilare wat Efesiërs 2 een na die ander aan die orde stel.
A. Die eerste deel gaan oor sonde.
En die eerste werklikheid waarmee die Bybel jou as mens konfronteer, is dié van sonde. Vrede by God begin daar, by ‘n eerlike en harde kyk na jouself. En ook ek en jy, wat saam met die Efesiërs God al vir baie lank dien, ons moet ook vanoggend onthou waar ons vandaan kom, want dit bepaal ons pad vorentoe. Ons moet ons eie geskiedenis baie goed verstaan, om te weet wie ons nou is en waarheen ons op pad is. Paulus gebruik krasse woorde, sodat die Efesiërs mooi sal verstaan waarvan hy praat: Julle was dood, sê hy. Julle lewe was gekaap deur vreemde magte. Hulle het gedink hulle is hulle eie baas, maar hulle hele lewe was onder beheer van die duiwel.
En dis van alle mense waar. Ook van ons. Dis jou geskiedenis ook hierdie. Ook jy het gelewe in die moeras van die sonde, stadigaan besig om al dieper daarin weg te sak soos in bedrieglike dryfsand. Die Dood was ons voorland. Net soos die Bybel al op die tweede bladsy vir ons uitspel. Want in Genesis 2:16 waarsku God al die mens presies hierteen. Toe God die mens in die tuin geplaas het, het Hy al vir hom gesê: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”
Ons eie ongehoorsaamheid het ons lewe vernietig. Die dood was ons voorland. Dis wie ons van nature is. Natuurlik het ons verlossing tussen-in gekom. Ek en jy is uitgelig uit die moeras, verlos van die sonde en die dood. Goddank daarvoor. En tog vind Paulus dit nodig om ons telkens daaraan te herinner. Want jy sien, ek en jy mag dit nooit vergeet nie. Want dan vergeet ons wie ons eintlik is, en waar ons vandaan kom. En dan gaan ons God nie met die oorgawe dien wat Hy verdien nie. En daarom moet die kerk steeds vandag nog daaroor praat, want al is ons verlos, kleef die modder steeds aan ons. Die verwoestende patroon bly deel van ons gene. Ons moet altyd onthou waar ons vandaan kom...
B. Die tweede deel gaan oor verlossing.
Dis ‘n morbiede donker prentjie. Maar net wanneer die mineur-klank daarvan vir jou te veel begin raak, gebruik Paulus wat seker een van die belangrikste woordjies in die Bybel is: “Maar...” sê hy. Maar. Maar die liefde van God was groter as dit, groter selfs as die slym van die sonde-moeras. En soos die vader daardie verlore seun se varkhok-lyf styf teen hom vasgedruk het sonder om twee keer te dink, so het God ons omarm. Want “God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief” sê vers 4. God stuit die dolle hellevaart van die mens in Jesus Christus. Hy maak dit vir ons moontlik om verlossing te ontvang, om nuut te kan begin en die moeras agter te laat. Deur sy eindelose liefde maak God dit vir ons moontlik om te lewe.
En dis dan die tweede ding wat elke mens moet weet: Hoe jy verlos kan word. Hoe jy deel kan kry aan hierdie wonder, wanneer God vir die tweede keer lewe in ons skep, en ons red uit genade! En nêrens slaan dit jou asem meer weg, as hier aan sy tafel nie. En jy mag vanoggend in verwondering hier aan sy tafel aansit...
C. Die derde deel gaan oor dankbaarheid.
Wat my dan by die derde pilaar bring. As jy klaar bewus geraak het van hoe groot jou sonde is, en jy het klaar deel gekry aan die heerlike verlossing en die nuwe lewe in Jesus Christus, wat dan? Wat bly dan nog oor?
Net een ding: dankbaarheid. As ‘n mens so uit genade gered is, leer jy dat die lewe nie om jouself draai nie: jy het geen rede tot trots nie, sê Paulus. Jy leer om te vergeet van jouself, wanneer jy agterkom dat die ware sin en betekenis van jou lewe buite jouself lê: in Hom wat jou verlos het. En so word elke asemteug, elke woord en elke daad, ‘n loflied, ‘n toonbeeld van jou dankbaarheid. Dit oorweldig jou totaal.
Ook as jy hier aansit om die nagmaal te geniet. Dalk nie met die egte tekens waaraan jy gewoond is nie. Maar die betekenis daarvan is steeds suiwer en eg. En as jy jou voete onder die Here se tafel insteek, hoor jy die drie vrae van Efesiërs 2 en die Kategismus. En dit kom vra jou: Hoe eg is jou geestelike lewe?
AMEN