Psalm 116
Datum: 31 Julie 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Van die oomblik af wat ek besef het dat ons vanoggend die Nagmaal gaan vier, spook daar al ‘n vraag by my. Gestel vir een oomblik dit het so gewerk dat ek vanoggend vir julle kon skryfgoed uitdeel en julle ‘n toets laat skryf. Toe maar, ek sal nie – dis net gestel. En gestel ek het julle net een vraag gevra: Wat maak ons vanoggend hier? Goed, ons het kerk toe gekom om die Woord van die Here te hoor. Maar daarby het jy darem ook al teen die tyd agtergekom dat dit vandag Nagmaalsondag is. Na alles was die tekens onmiskenbaar in die portaal uitgestal toe jy ingekom het.
Maar gestel daar sou iemand vanoggend kom inloer wat heeltemal niks van die kerk af weet nie. As hy hier by die deur inloer, gaan hy ons almal sien sit met ‘n flentertjie brood en ‘n vingerhoed vol wyn of druiwesap, en dan gaan hy wonder. Hy gaan dit glad nie verstaan nie. Trouens, hulle vertel dat die mense van die wêreld buite die kerk ook glad nie kon verstaan wat die vroeë Christene doen, as hulle die Nagmaal vier nie. Dit was veral die instellingswoorde van die Nagmaal wat hulle wenkbroue laat lig het. “Die brood wat ons eet, is die liggaam van Christus” het hulle gehoor, en die wyn is sy bloed, wat vir ons vergiet is. Spoedig het daar allerhande gerugte begin rondvlieg, dat die Christene kannibale is, en dat hulle hul met allerhande duistere rituele besig hou.
Vandag dink niemand darem seker meer so nie. Maar die vraag bly: Wat beteken die Nagmaal regtig? Wat beteken die tekens? En die ritueel wat ons bely, Jesus self vir ons ingestel het? En die volgende vraag is: Hoe belangrik is dit vandag regtig vir jou? En ek vra hierdie vraag, omdat dit lyk asof ons baie anders oor die Nagmaal dink as in die verlede. Toe ons kinders was, was die Nagmaal ‘n baie groot ding. Daar is drie dienste oor die naweek gehou: ‘n Voorbereidingsdiens, wat somtyds die week vooraf gehou is, waar die klem hoofsaaklik op sonde geval het, dan die Nagmaalsdiens, waar die sakrament bedien is, en dan was daar nog ‘n Nabetragtingsdiens ook, wat heel dikwels drie-uur die Sondagmiddag gehou is. Dit alles het intussen weggeval. Die dominee sal dalk die vorige Sondag verwys na die Nagmaal volgende Sondag, of in die Akker ‘n paar woorde daaroor skrywe. En dis dit. Verder is dit ook nie meer naastenby die gewyde, ek wil byna sê swaarmoedige diens wat dit vroeër was nie.
Wat natuurlik nie noodwendig net ‘n slegte ding is nie. Maar nou is die vraag tog: Beteken dit nie dan dat die Nagmaal se betekenis vir ons vervaag het, en dat dit nie regtig in 2022 meer ‘n punt tel nie? Is dit so dat die Nagmaal vir ons sy betekenis en waarde verloor het? Wat is die Nagmaal regtig?
- Psalm 116.
Daar is ‘n goeie rede hoekom ek vanoggend vir julle Psalm 116 gelees het. Want jy sien, al staan dit in die Ou Testament, is hierdie Psalm van baie vroeg in die kerk af al, as ‘n Nagmaalspsalm beskou. Dis gereeld gelees by Nagmaalsdienste. En ek reken as jy mooi geluister het, sal dit nogal nie vir jou moeilik wees om te sien waarom nie.
En nou begin Psalm 116 met wat ek net kan beskryf as ‘n aangrypende liefdesverklaring van die digter. Hy sê iets wat ek en jy dalk nie meer vandag heeltemal so maklik op ons lippe neem nie. Hy begin deur te sê: “Ek het die Here lief”. Maar al is dit dalk woorde wat ons vandag met huiwering sou sê, is dit tog presies waaroor dit gaan vanoggend. Dis die kern van wat vanoggend hier gebeur. Miskien kan ons dit vergelyk met ‘n kind wat sy ouerhuis verlaat het – dalk om sy heil oorsee te gaan soek – en nou weer terug is by sy ouerhuis, en vol dankbaarheid sy voete weer onder Pa en Ma se tafel kan insteek.
Oorweldig deur vreugde en dankbaarheid, om net naby die Here te mag wees. En wat presies is dit dan nou wat hom in hierdie oomblik so oorweldig? Jy gaan die antwoord daarop in sy belydenis van vers 5 kry. Daar staan 3 dinge, wat hy van die Here bely:
- Die Here is genadig.
- Die Here is regverdig.
- Die Here is barmhartig.
In die eerste plek, is die Here genadig. Genade is wanneer ‘n meerdere aan ‘n mindere guns betoon, sonder dat hy dit verdien. Genade is wanneer God ingryp en sondaarmense red en seën, al verdien hulle dit glad nie. Regverdig weer, as God getrou bly aan die beloftes wat Hy in sy verbond met ons gemaak het, en daaraan trou bly ten spyte van die feit dat ons self Hom so teleurstel. En daarby is Hy natuurlik ook die Barmhartige, wat ons nood raaksien en Hom oor ons ontferm. Dis wie God is. En dis presies waarom hierdie digter sy Psalm begin met die woorde: Ek het die Here lief...
En as jy so hierna luister, en vir ‘n oomblik daaroor nadink, begin jy verstaan hoekom hierdie ‘n Nagmaalspsalm is. Want is dit nie presies die storie wat hierdie tekens van die Nagmaal ook vir ons vertel nie? Praat dit nie ook van God se eindelose genade, van sy trou, en van sy barmhartige sorg oor ons nie?
- Ons reaksie.
Maar dan praat hierdie Psalm nie net oor God, en hoe wonderlik Hy is nie. Dit praat ook oor ons. Want dit alles wat ek en jy nou al vanoggend gehoor het, roep tog die onwillekeurige vraag op: Wat maak ek en jy nou? As dit waar is dat God só met ons werk, wat gaan nou ons reaksie daarop wees?
Dit laat hierdie Psamdigter oor sy eie lewe nadink, en oor alles wat nog met hom gebeur het. En dan breek die dankbaarheid oor hom soos ‘n brander. Hy word só oorweldig daardeur, sprakeloos gelaat deur soveel genade, trou en barmhartigheid wat hy ervaar het en nog daagliks ervaar, dat hy in verwondering uitroep: Hoe sal ek die Here vergeld vir al sy weldade aan my? Wat maak ‘n mens, nadat die Here só goed was vir jou? Wat sou die gepasde reaksie op sóveel liefde wees?
En dis hierdie vraag wat vanoggend in die lug bly hang, ook hier waar ek en jy kyk na die tekens hier voor op die tafel, en daar voor jou op die bank. Here, hoe kan ek antwoord op sóveel liefde? Hoe kan ek die Here vergoed vir al sy goeie dade aan my? Wat maak ek nou?
- “Ek het die Here lief...”
Onwillekeurig dink ek aan ‘n storie wat ek een oggend oor die radio gehoor het, wat sedertdien by my spook, en by heelwat ander van ons mense ook, as ek moet oordeel aan hoeveel keer ek dit sedertdien gehoor het. Jy ken dit ook – die storie van die satanis wat iewers sy saak gaan stel het. En toe hy uitloop kom daar een van die dames in die geselskap na vore en gee vir hom ‘n stywe druk – byna soos dié wat ds Chris ook so graag uitdeel. Dit het die wind totaal uit sy seile gehaal. In daardie oomblik het hy, die satanis, soveel liefde ervaar soos nog nooit in sy lewe nie. En daar was geen manier waarop hy dit maar net kon agterlaat en ignoreer nie. Dit het gemaak dat hy begin soek het na die Bron van soveel onvoorwaardelike liefde, en so het hy tot bekering gekom...
Want niemand is mos bestand teen liefde nie. Ook nie ek en jy nie. En wanneer ek en jy hierdie tekens in ons mond neem en dit proe, en registreer wat dit beteken, dan kom hierdie stamelende reaksie ook uit my mond uit: “Ek het die Here baie lief...” Soos Petrus ook later gesê het: Here, U weet alles. U ken my foute, al my ontrou, al my skandalige gebrek aan toewyding. U weet alles. Maar U weet ook dat ek U liefhet... juis en soveel te meer ook omdat U my eerste liefgehad het.
Die Nagmaalstafel is ‘n plek van toewyding. Waar ek weer herinner word aan die Here se liefde vir my, en waar ek my in antwoord ook weer opnuut aan Hom verbind. Dis ‘n plek van liefdesverklaring. Ek het die Here lief...
Nagmaal.