Genesis 17:7–8
Datum: 5 Oktober 2025 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Janse van Rensburg
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar
Ons leef in ’n wêreld waar mense mekaar meet aan wat op ’n CV staan – jou kwalifikasies, jou werkservaring, jou prestasies, selfs jou unieke persoonlikheidseienskappe. Ons voel dikwels net so goed soos die resensies wat ons kry, of die titels wat ons dra. Maar as dit die bron van ons identiteit is, word ons vasgevang in ’n eindelose kringloop van bewys en vergelyk.
Die doop herinner ons: jy is nie jou CV nie. Jy is nie jou prestasies of mislukkings nie. Jy is nie eers die som van jou sterk punte en swakhede nie. Jou ware identiteit lê nie in wat jy doen nie, maar in wat God oor jou sê. En in die doop hoor ons daardie stem weer helder: “Ek is jou God. Jy is my kind.”
Die hart van die verbond – God se belofte
Toe God aan Abraham verskyn in Genesis 17, sê Hy:
“Ek bring 'n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is 'n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag.”
Hier lê die kern van die evangelie: God verbind Homself aan mense. Nie omdat hulle dit verdien nie, nie omdat hulle Hom eerste gesoek het nie – maar omdat Hy uit genade kies om die God van sy volk te wees.
Die kindertjies en Jesus
Toe mense kinders na Jesus bring, wou die dissipels hulle wegwys. Maar Jesus het gesê:
“Laat die kindertjies na My toe kom, moet hulle nie verhinder nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.” (Markus 10:14) God wag nie totdat ’n kind groot genoeg is om te verstaan of gereed is om keuses te maak nie. Hy kom eerste. Hy omhels. Hy seën. Hy sê: “Jy is myne.”
God se beloftes en ons antwoord
God se verbond het altyd twee kante. Hierdie kind wat vandag gedoop word, ontvang God se beloftes in volle erns. Maar die Here roep hom/haar ook om later in geloof daarop te antwoord. Dis waarom ouers en gemeente saam belofte aflê om hierdie kind groot te maak in die geloof – sodat hy/sy kan leer wie sy God is, en uiteindelik self kan sê: “Ja, Here, U is my God, en ek wil U kind wees.”
Wat beteken my doop vir my?
Sê die doop iets van ons? Nee, absoluut niks. Dit sê alles van God. Van God wat uitkies en God wat gee en God wat doen. Dit sê alles van God wat inisiatief neem. Met elke doop hoor ons ook weer opnuut: Hy het ook my gekies en gekies om Hom aan my te verbind. En aan ons kinders. Almal sonder dat een van ons dit verdien. Om die doop werklik te verstaan moet ons elkeen besef: ek het niks wat God nodig het nie. Ek is net ’n ontvanger van genade op genade, en my lewenspad is onherroeplik ingevleg in God se verhaal.
Dit is God se ewige belofte aan ons: “Ek is jou God, en jy is my kind.”
Mag die water van die doop nie net oor die dooplinge se voorkop vloei nie, maar ook ons harte herinner dat ons God se eiendom is. Kom ons leef dan daagliks soos kinders van die Hemelse Vader – geliefd, gekoester, en geroep om Hom te volg.

