Openbaring 21: 1-8
Datum: 15 Mei 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
‘N DUBBELE HERINNERING
Van die vroegste tye af kom Christene weekliks bymekaar sodat hulle hoop en verwagting lewend gehou kan word. By hierdie samekomste staan die Bybel sentraal en word ons daaraan herinner dat Jesus, die gekruisigde en opgestane Here is. Ons weet dat Christene van die vroegste tye af blootgestel word aan versoekings. Een daarvan is om ons geloof in Jesus wat regeer, in te ruil vir hoop in die “glitter en glatter” van die lewe. Vervang die verwagting van ‘n nuwe hemel en ’n nuwe aarde en die roeping om Jesus te volg, met die strewe na status, welvaart en die bou van ons eie koninkrykies. Daarom was en is hierdie weeklikse byeenkomste onontbeerlik. Samekomste waar ons, aan dit wat was, en dit wat kom, herinner word. Jesus se lyding, kruisdood en opstanding sowel as die nuwe hemel en aarde, word weekliks in herinnering opgeroep. So ook word Christene in die Bybel daaraan herinner, soos wat ons in Hebreërs 11:17 lees dat: Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.”
Ongelukkig kan dit gebeur dat hierdie samekomste net ’n goeie gewoonte word vir sommige Christene. Die kerk word as ’n heilige gebou beskou, die enigste plek waarin God teenwoordig is. Die weeklikse afspraak word samekomste waar skuldgevoelens gesus word en waar vriende mekaar raakloop en heerlik na die diens by die motors gesels tot ’n volgende keer. Ai dit is lekker by die kerk en dit is so lekker om mekaar te sien en na die diens te kuier. ........En skielik word die mat onder Christene se voete uitgeruk. Ons kry die verrassing van die lewe!
VERRAS
Sonder genoeg vooraf waarskuwing word hierdie weeklikse samekomste uit ons lewens verban. Die kerkgebou staan week in en week uit dolleeg agter slot en grendel. Predikante skarrel rond en begin veerkragtig en kreatief in die pastorieë planne maak sodat die weeklikse samekoms kan voortgaan, alhoewel op ’n ander manier. Skielik sit jy in jou huis, in jou motor, langs die see, alleen of saam met die gesin en kyk op jou selfoontjie, rekenaar of televisie terwyl die Woord bedien word. Ek hoef nie Sondagoggend in die kerk te sit nie. Ek kan self besluit wanneer ek na die diens wil kyk. Vir ’n rukkie gaan dit onder omstandighede goed met ons. Maar toe begin die verlange knaag. Wanneer kan ons weer kerk toe gaan? Ons verlang na ons kerk en ons mense. En toe word ons een Sondagaand deur die President verras. Ons kan weer kerk toe gaan, alhoewel daar sekere beperkings en protokolle nagekom moet word. En weer begin ons vrae vra en kla. Hoekom moet ek vooraf bespreek? Waarom word my naam in die portaal afgemerk, en hierdie toue tussen die kerkbanke laat my rooi sien. En maskers, dit is ’n alewige frustrasie om die ding te onthou.
Liewe vriende, mis ons nie dalk die punt nie? As ek vanoggend se teks reg verstaan word ons geroep om die kerk te wees. Dit is dalk tyd dat ons die “reset button” druk sodat die kerk waarlik kerk kan wees. Kerk is nie hierdie gebou nie. God is nie in hierdie kerkgebou opgesluit nie. Op ’n vreemde manier het die grendeltyd-eredienste die nabyheid van die hemel in ons lewe en ons huise ingedra. Die heiligheid van die kerkgebou was meteens nie meer beperk tot die liturgiese ruimte as ’n plek nie. Ons het aanbid in ons huise, in woonkamers, eetkamers, TV-kamers, slaapkamers, daar waar ons ’n selfoon kon vashou, waar ook al. Hierdie ruimtes het deur hulle konneksie met die kerk nuwe liturgiese ruimtes geword, heilige plekke. Natuurlik het Christene nog altyd geweet elke plek is ’n moontlike ruimte vir ontmoeting met God. Maar op ’n besonderse, onverwagte manier het ons saam onder die indruk gekom van God se teenwoordigheid in ons daaglikse bestaan. Juis toe daar soveel onsekerheid, vrees, teleurstelling, verlies en hartseer was, en toe ons oorweldig gevoel het. Dalk het die grendeltyd-eredienste ons gehelp om ’n brug te sien tussen dit wat in ons liturgiese ruimtes en ons gewone, daaglikse lewe gebeur. Die woonplek van God is immers nou by die mense. God is nie ver weg nie. As ons iets uit die COVID-tyd kan leer is dit die volgende: Die Here is oral teenwoordig. Ons is nie beperk tot die kerkgebou nie. Ons is die kerk en ons moet hiervandaan gaan en waarlik kerk wees. Ons word herinner dat ons geroep word om ’n stukkie hemel na mense te neem.
GEROEP
Ek herinner jou aan dit wat was. Jesus se lyding, kruisdood en opstanding. Ons eerste herinnering. En dit roep ons om werklik kerk te wees. Kerk gebeur wanneer ek langs Joan van Schalkwyk, Blommeland se eienares se rolstoel kniel en vir haar ’n gebed doen terwyl sy krampagtig my hand vashou en huil. Kerk gebeur wanneer ek by Esther Bedeker gaan sit en haar herinner, Jesus is die hande wat haar vashou as sy gly, die liefde wat haar optel as sy val, die arms wat haar stut as sy broos is. Kerk gebeur wanneer Jo Geyer en Hester Carstens vir Christene Myburgh aan huis gaan kuier. Kerk gebeur wanneer huwelikspaartjies Woensdagaande saamkom en daaraan herinner word dat die huwelik heilig is. Kerk gebeur wanneer broers en susters besluit om kos te maak vir hierdie paartjies wat Woensdagaande saam kuier tydens die “Date Night”. Kerk gebeur wanneer kerkraadslede een vir een opstaan en sê: Die Here het die volgende teks uit Sy Woord vir my gegee. Kerk gebeur wanneer ’n kerkraad saam besluit dat Psalm 1 De Eike se ANKERTEKS sal wees. Kerk gebeur nie net in hierdie gebou terwyl ek sommige mense inspireer en klaarblyklik baie mense frustreer nie. Kerk gebeur daar waar ons ’n stukkie hemel na mense neem sodat hulle ook bemoedig en inspireer kan word. Dit is wat my inspireer. Die nuwe hemel en die nuwe aarde is op hande en dit inspireer my.
INSPIREER
Die nuwe hemel en nuwe aarde is ’n werklikheid. God beloof ons dat dit gaan gebeur (vers 6). Moenie daaroor twyfel of wonder nie. En nog meer, God gaan tussen ons bly. Geen kerk of kapel sal sy woonplek wees nie. God is tussen sy mense. En nog meer! Daar sal geen intensiewe sorgeenhede wees nie, geen chemo en bestraling-terapie sal plaasvind nie. Hannes, Johan, Frannie, ons gaan nie ’n werk hê nie want God gaan tussen Sy mense wees en self die trane afdroog! Joan van Schalkwyk sal weer kan praat. Esther Bedeker sal kan loop. Sorgeenhede vir Verswakte Bejaardes sal daar nie meer wees nie. Paarlskool, Jan Krielskool en Alta du Toitskool se dae sal getel wees. Ons kinders sal lag en uitbundig speel en leef. Depressie sal nooit weer vastrapplek in ons lewens kry nie. En dit is nie ’n vae leë belofte soos waaraan ons in hierdie land gewoond is nie. Dit is werklik waar! Soos wanneer die kerkdeure oopgaan en die bruid staan daar. Sprokiesmooi! So sal dit wees. Ons gaan na ons asems snak. God self belowe dit en as jy nie hierdeur inspireer word nie is daar ’n baie groot fout.
SLOT
Kom ons leef soos mense wat weet aan wie ons behoort. En wanneer ons vanoggend die broodjie en die wyn in ons hande neem en ons herinner word aan Sy liggaam wat gebreek is en Sy bloed wat gevloei het ter wille van ons, weet dan dat ons deel sal kan hê aan die nuwe hemel en die nuwe aarde wanneer God tussen ons kom woon.
GAAN DOEN WAT SAAK MAAK, DIS MAKLIK: HERINNER , VERRAS, GEROEP, INSPIREER
AMEN